“Maak dissipels . . . leer hulle”
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Matt. 28:19, 20.
1. Waarom moet die bevel om ‘dissipels te maak en hulle te leer’ as baie ernstig beskou word?
DIE bevel om dissipels te maak is nie van mense en ook nie van engele afkomstig nie. Dit is gegee deur die verrese Seun van God wat van homself kon sê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Matt. 28:18). As “Koning van die konings en die Here van die here” is hy deur sy Vader gemagtig om “alle heerskappy en alle gesag en mag”, sigbaar en onsigbaar, wat in verset teen regverdige beginsels staan, te vernietig (1 Kor. 15:24-26; Openb. 19:16). Die gesag van Jesus Christus is nie tot die lewendes beperk nie. Hy is ook die Regter van die dode en weens sy opwekkingsvermoë kan hy almal in die grafte voor hom oproep (Joh. 5:26-28; Hand. 10:42). Die bevel van iemand wat met sulke ontsagwekkende gesag beklee is, moet tog seker as van die hoogste belang bejeën word deur diegene op wie dit van toepassing is.
2. Watter woorde van Jesus Christus toon dat die bevel ‘om dissipels te maak’ nog steeds geld?
2 Daar het alreeds meer as negentien eeue verstryk vandat Jesus Christus gesê het: “Maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Beteken die feit dat daar al soveel jare verstryk het dalk dat hierdie bevel nie langer geld nie? Nie in die minste nie. Nadat hy dit gesê het, het Jesus Christus die versekering bygevoeg: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:19, 20). Aangesien die voorspelde einde nog nie gekom het nie, geld die bevel om dissipels te maak nog steeds.
3. Op watter wyse is Jesus Christus vandag met sy gemeente, en wat bewys dat dit die geval is?
3 Hoewel Jesus Christus nie persoonlik by sy dissipels is nie, is hy in die gees met hulle en lei en rig hy die werk van sy gemeente. Dit blyk uit die feit dat daar in hierdie “laaste dae” meer ware dissipels van Jesus Christus gemaak is as in enige ander tydperk in die geskiedenis. Die Seun van God is inderdaad met die gemeente van sy dissipels soos hy meer as negentienhonderd jaar gelede beloof het.
WAT DIT BETEKEN OM DISSIPELS TE MAAK
4. Wat beteken dit om dissipels te maak?
4 Wat beteken dit eintlik om dissipels te maak? Dit beteken om ander te leer wat Jesus Christus geleer het en om hulle te help om alles te onderhou wat hy beveel het. ’n Ware Christen maak nie dissipels van homself en laat die wat geleer word na hom opkyk nie. Nee, wat ook al sy deel is om ander te help, besef hy dat sy rol die van ’n kneg of slaaf van God en van Jesus Christus is.
5. Wat leer ons uit 1 Korinthiërs 2:4, 5 en 3:5-7 oor die voorbeeld wat die apostel Paulus gestel het om dissipels te maak?
5 Die voorbeeld van die apostel Paulus lig goed toe watter gesindheid Christene moet hê wanneer hulle deelneem aan die werk om dissipels te maak. In sy eerste brief aan die Korinthiërs het die apostel daarop gewys dat hy nie ander met oorredende woorde probeer beïndruk het nie, maar dat hy wou hê dat sy hoorders hulle geloof nie op die mens se wysheid nie, maar op Christus Jesus moet grond, en dat daardie geloof deur God se gees en krag opgebou moes word (1 Kor. 2:4, 5). Later het Paulus, toe hy sy rol en dié van Apollos bespreek, geskrywe: “Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei” (1 Kor. 3:5-7). Ja, Paulus het al die eer vir die groei van die Christengemeente aan Jehovah God gegee en homself nederig as ’n kneg, dienaar of slaaf beskou wat werk om dissipels te maak, nie van homself nie, maar van Jesus Christus. Net soos Paulus moet die Christen wat aan dieselfde werk deelneem, die aandag van diegene wat geleer word nie homself nie maar op Jehovah God en die Here Jesus Christus as die werklike onderrigters vestig.
6. Wat omtrent die inhoud van ’n mens se onderrigting moet in gedagte gehou word, en hoe was die apostel Paulus in hierdie opsig ’n goeie voorbeeld?
6 Bowendien is dit nodig om op die inhoud van ’n mens se onderrigting ag te gee. ’n Persoon kan homself afvra: Leer ek hulle waarlik alles wat Christus beveel het? Ook in hierdie opsig is die apostel Paulus ’n voorbeeld wat navolgenswaardig is. Hy het die ouere manne van die gemeente in Efese daaraan herinner dat “ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie . . . Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.”—Hand. 20:20, 27.
HOE EN WAT OM TE LEER
7. (a) Wat moet vermy word wanneer ons “die hele raad van God” oordra? (b) Watter les kan ons uit Jesus se woorde in Johannes 16:12 leer?
7 Dit is egter duidelik dat ons as dissipels van Jesus Christus nie “die hele raad van God” op een slag kan aanbied nie. Eers moet harte voorberei word om waarhede te aanvaar wat strydig met plaaslike vooroordele of ingewortelde gewoontes is. Ons moet die mense se beperkings in aanmerking neem en nie geskille maak van sake wat aanvanklik miskien vir hulle moeilik is om te begryp nie. Dit kan dinge soos die heiligheid van bloed, die Christelike standpunt oor wêreldlike vakansiedae, die soorte werk wat Bybelbeginsels skend, Christelike neutraliteit en die vermyding van alle besoedelende gewoontes insluit. ’n Mens kan gerus dink aan die voorbeeld wat Jesus gestel het toe hy die beperkings van sy dissipels in aanmerking geneem het. Volgens Johannes 16:12 het hy vir sy getroue apostels gesê: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.” Aangesien die Seun van God so bedagsaam was teenoor diegene wat reeds sy dissipels was, kan sy ware dissipels vandag gerus diegene wat hulle probeer leer met dergelike bedagsaamheid bejeën.
8. Waarom behels die onderrigting van wat deur Jesus Christus beveel is meer as die weerlegging van valse leerstellings? Lig dit toe.
8 Nog ’n faktor wat in gedagte gehou moet word, is dat om te leer wat Jesus beveel het meer as net die weerlegging van valse leerstellings behels. Daar kan byvoorbeeld vir ’n persoon gewys word dat die Drie-eenheidsleerstelling onskriftuurlik is (Joh. 14:28; 1 Kor. 11:3; 15:24-28). Maar dit is nie genoeg vir hom om God en Christus werklik te ken nie. Die tekste wat gebruik kan word om die Drie-eenheidsleerstelling te weerlê is nie met daardie doel opgeteken nie. Die student moet dus gehelp word om te sien wat daardie besondere Skrifgedeeltes eintlik aangaande Jehovah God en Jesus Christus leer, ’n Persoon kan klaarblyklik nie geloof bou as hy net weet wat Jesus Christus nie geleer het nie. Hy moet eerder alles weet wat die Seun van God wel geleer en beveel het.
9. Noem van die belangrike punte aangaande God se morele vereistes wat by die Bybelstudente ingeskerp moet word.
9 Net so is dit, wat morele vereistes betref, nie genoeg dat die persoon wat geleer word, weet dat Jehovah God hoerery, diefstal, afpersing, hebsug, lastering, toorn en dergelike dinge veroordeel nie (1 Kor. 6:9, 10; Ef. 4:25-5:5). Sy aandag moet ook gevestig word op die voordele wat ’n mens kry as jy volgens die Bybel se rigsnoere handel. Hy moet gehelp word om te besef dat die bevele in die Skrif bewys dat Jehovah ’n God is wat die mensdom innig liefhet en wat wil hê dat hulle nou die beste lewenswyse asook ’n ewige, gelukkige toekoms moet geniet.—1 Tim. 4:8.
10. Hoe kan jy seker maak dat die Bybelstudent werklik die Skriftuurlike gebruik van sleuteluitdrukkings verstaan? Lig dit toe met die uitdrukking “hoerery”.
10 As die een wat geleer word ooreenkomstig God se morele vereistes wil lewe, moet hy natuurlik weet wat die sleutelterme wat in die Bybel gebruik word, beteken. Miskien is die onderwerp wat behandel word die Skriftuurlike beskouing van hoerery (Matt. 19:9; 1 Kor. 6:9, 10; Jud. 7). Hoe kan jy seker maak dat die student verstaan wat hoerery is? Jy kan miskien iets soos die volgende sê: “Baie mense weet nie wat die Bybel aangaande hoerery leer nie en hulle verstaan ook nie hoe die uitdrukking in die Skrif gebruik word nie. Sê nou jy moet aan iemand anders verduidelik hoe hierdie uitdrukking verstaan moet word, wat sal jy dan sê?” Uit die manier waarop die student antwoord, sal jy kan bepaal of hy die onderwerp verstaan of nie. As jy dan sien dat sy begrip in die een of ander opsig onvolledig is, sal jy in ’n beter posisie wees om verklarende inligting te verstrek wat in sy behoeftes voorsien.
11. Hoe kan ’n Bybelstudent gehelp word om te besef hoe belangrik dit is om wat hy geleer het aan ander mee te deel?
11 ’n Dissipel van die Seun van God hou nie net aan om te leer nie, maar is iemand wat ander help om Christene te word. Dit moenie uit die oog verloor word wanneer ’n mens tuis-Bybelstudies hou nie. Studente moet geleidelik bygestaan word om bekwaam te word om ander te leer. Dit kan toegelig word. Gestel jy bespreek die identiteit van God. Jy kan dan vra: “Hoe verskil wat ons aangaande God geleer het van wat baie mense in hierdie gemeenskap glo? Watter tekste kan hulle help om die ware God te leer ken? Hoe kan hulle by hierdie kennis baat vind?” Sulke vrae kan die student miskien help om daaraan te begin dink om die materiaal wat bestudeer word te gebruik om ander te help.
12. Wat moet ’n Bybelstudent geleer word om te besef aangaande die gedrag van diegene wat aan openbare getuieniswerk deelneem, en hoe kan dit gedoen word?
12 Verduidelik terselfdertyd vir die student dat die een wat ander leer ooreenkomstig Bybelbeginsels moet lewe (Rom. 2:21-24). Dit kan gedoen word kort nadat ’n persoon die Bybel begin bestudeer. Julle bespreek miskien die tekste in die hoofstuk “Waarom dit verstandig is om jou godsdiens te ondersoek” in die boek “Die waarheid wat lei tot die ewige lewe”. Wanneer jy die materiaal hersien, kan jy vra: “Hoe moet ons gedrag wees as ons vir ander sê dat ons knegte van God is? Noem dinge op waaraan selfs kerklede hulle skuldig maak maar wat deur ware Christene vermy moet word.”
13. Hoe speel die gemeente as ’n geheel ’n rol daarin om ’n persoon te help om ’n dissipel van Jesus Christus te word? (Rom. 12:4-8; 1 Kor. 12:14-26).
13 Die ernstige verantwoordelikheid wat verbonde is aan die werk om dissipels te maak rus nie alleen op die persoon wat ’n Bybelstudie hou nie. Almal in die gemeente kan, deur woord en voorbeeld, diegene wat die Bybel bestudeer, help om dissipels van Jesus Christus te word. Hoe so? In die gemeente kan daar baie uitmuntende hoedanighede gesien word. Daar is voortreflike voorbeelde van Christelike goedheid, vrygewigheid, innige besorgdheid, geestelike insig, waardering, ensovoort. Namate ’n Bybelstudent verskillendes ontmoet, hulle ondervindinge hoor en hulle voorbeeldige gedrag waarneem, het dit ’n heilsame uitwerking op hom en word hy aangespoor om ’n Christeliker lewe te lei. Daarom kan diegene wat Bybelstudies hou gerus belangstellende persone met ander in die gemeente laat kennis maak. Aldus kan hierdie medegelowiges hulle deel doen om Bybelstudente te help om dissipels van Jesus Christus te word.
’N PERSOONLIKE VERHOUDING MET JEHOVAH
14. (a) Wie moet al die eer vir vordering kry? (b) Hoe kan ons Bybelstudente help om ’n persoonlike verhouding met Jehovah te hê?
14 In die finale ontleding hang ’n persoon se vordering as ’n dissipel van Jesus Christus egter van Jehovah God af (1 Kor. 3:6, 7). Die Seun van God het gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh. 6:44). Dit is dus van die grootste belang om Bybelstudente te help om hulle verhouding met Jehovah ’n persoonlike te maak. Hoe kan dit gedoen word? Bybelstudente moet aangespoor word om die Bybel te lees, om na te dink oor wat dit sê en dit in hulle lewens toe te pas (Jak. 1:22-25). Die belangrikheid van gebed moet prominent voor hulle gehou word. Wanneer ’n persoon spesifiek in sy gebede is, word hy dieper bewus daarvan hoe God sy gebede verhoor. Dit trek hom nader aan sy hemelse Vader en dra grootliks tot sy geestelike ontwikkeling by.—1 Joh. 5:14, 15.
15. Hoe kan die belangrikheid van Bybellees, bepeinsing en gebed voorgehou word aan diegene saam met wie ons studeer?
15 Net een bespreking oor die waarde van Bybellees, bepeinsing en gebed is natuurlik nie genoeg om ander te help om geestelike persone te word nie. Dit is dinge hierdie waarvan daar telkens wanneer dit gepas is melding gemaak moet word. Hulle kan gedurende die loop van die Bybelstudie in die bespreking ingebring word. ’n Mens kan die nut daarvan beklemtoon deur illustrasies te gebruik, ondervindinge (ons eie en die van ander) te vertel en ook deur die Skrif te gebruik. En jy moet oppas dat jy nie dieselfde ding oor en oor sê nie, want dit kan die Bybelstudent eerder verveel as bemoedig.
16. (a) Waarom is dit belangrik om die hart met ons onderrigting te bereik? (b) Hoe kan ons die Bybelstudent help om die Skrif te gebruik wanneer hy verduidelik wat hy glo?
16 Wanneer hy onderrig, moet die Christen probeer om die hart van die leerling te bereik. As sy hart bereik word, sal dit hom tot optrede aanspoor. Jesus Christus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek [die] mond” (Luk. 6:45). Ja, wanneer ’n persoon se hart met die goeie nuus bereik word, sal hy beweeg word om vir ander daarvan te vertel. Maar sal hy in staat wees om vir hulle te wys wat hy uit God se Woord geleer het? Hy sal dit kan doen as hy geleer is hoe om die Skrif te gebruik. ’n Voortreflike geleentheid om ’n Bybelstudent te leer om dit te doen is wanneer jy met hom hersien wat hy geleer het. Jy kan hom byvoorbeeld vra om vir jou uit die Bybel te wys wat dit oor ’n sekere onderwerp sê en hom dit laat verduidelik. Iets dergeliks kan by die gemeenteboekstudie gedoen word, want dit sal belangstellendes verder help en ’n goeie voorbeeld stel vir almal wanneer hulle tuis-Bybelstudies hou.
17. Watter verantwoordelikheid het die gemeente teenoor pasgedoopte dissipels, en waarom?
17 Die gemeente se verantwoordelikheid teenoor ’n indiwidu eindig nie wanneer hy ’n gedoopte dissipel van Jesus Christus geword het nie. Hy is nog steeds ’n geestelike babatjie en het hulp nodig om tot rypheid in sy verhouding met Jehovah te groei en om ’n bekwame onderrigter van God se Woord te word (Ef. 4:11-16). Sal dit nie in ooreenstemming met die gees van Christelikheid wees om aan te hou om saam met hom te studeer en vir almal in die gemeente om hom met opbouende geestelike geselskap te bemoedig nie? Dit sal ook vir hom nuttig wees om saam met ervare lede van die gemeente aan openbare getuienis- en onderrigtingswerk deel te neem.
18. Waarom is dit ’n vreugdevolle sowel as ’n ernstige werk om dissipels te maak?
18 Dit is ’n ernstige werk om dissipels te maak, want lewens is op die spel. Maar dit is ook ’n bedrywigheid wat veel vreugde verskaf. Ja, dit het groot geluk ten gevolge wanneer ’n persoon van homself ten behoewe van ander gee (Hand. 20:35). Aangesien lewens daarby betrokke is, moet diegene wat onderrig, sorg dat hulle “die hele raad van God” oordra. Nalatigheid in hierdie opsig kan daartoe bydra dat die persoon wat geleer word homself aan ernstige oortredinge skuldig maak. Dit was omdat die apostel Paulus niks wat ander moes weet, teruggehou het nie dat hy aan die ouere manne van die gemeente in Efese kon sê: “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal.”—Hand. 20:26, 27.
19. Wat moet alle dissipels van Jesus Christus hulle voorneem in verband met die predikingswerk en die werk om dissipels te maak? Waarom?
19 Mag ons almal wat dissipels van Jesus Christus is, vasbeslote wees om getrou te wees in die werk om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. In verband met hierdie lewensbelangrike bedrywigheid kan ons die raad van 1 Timotheüs 4:16 op onsself toepas: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.” Gehoorsaamheid aan Christus se bevel om ‘dissipels te maak en hulle te leer’ is noodsaaklik vir ons redding en vir die van ander. Dit lei nou tot heerlike seëninge in die vorm van vreugde en tevredenheid omdat ons weet dat ons God se medewerkers is. Dan hou dit ook die belofte van die ewige lewe in God se nuwe orde in (2 Pet. 3:13). Ons het dus alle rede om ywerig te wees om dissipels te maak en hulle te leer.