This article comes from 1978_01_01
Wat het die wyse man bedoel?
WAT IS DIE WYSHEID WAT TEL?
NA ’N deeglike ondersoek van die hele bestek van menseaangeleenthede het koning Salomo sy bevindinge op skrif gestel. Van sy pogings om ander te help om by sy navorsing baat te vind het hy geskryf: “Behalwe dat die Prediker ’n wyse man was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel. Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid.”—Pred. 12:9, 10.
Die Griekse “Septuaginta”-vertaling van Prediker 12:9 en 10 lui: “En bowendien, omdat die prediker wys was, omdat hy die mensdom wysheid geleer het; sodat die oor wat bevallig is uit gelykenisse kan vind, het die prediker naarstig gesoek om welgevallige woorde en ’n skrywe van korrektheid—woorde van waarheid—te vind.” (Thomson; 1 Kon. 4:29-34; kyk ook “The New English Bible” en “Ginsburg’s Commentary”.) In sy geskrifte het hy probeer om die lesers met welgevallige woorde en met interessante onderwerpe wat werklik die moeite werd is, te bereik. Aangesien hy deur God se gees gehelp is, kan ons vandag Salomo se bevindinge aanvaar sonder om daaraan te twyfel. Hulle het buitendien die toets van die tyd deurstaan.
Wat was Salomo se gevolgtrekking oor al die lektuur wat in sy dag bestaan het? Hy skrywe: “Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee. En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.”—Pred. 12:11, 12.
Die nuttigste geskrifte is dus die wat die wysheid van die “enige Herder”, Jehovah God, weerspieël. Oormatige aandag aan ander bronne van onderrigting kan ’n persoon egter onnodig vermoei, sonder dat hy veel van werklike en blywende waarde vind. Veral wanneer sulke geskrifte die produk van wêreldlike denke en strydig met godvrugtige wysheid is, is hulle ongesond en geloofvernietigend. Daarenteen sal die woorde van diegene wat godvrugtige wysheid besit, soos prikkels die luisteraars of lesers prikkel om ooreenkomstig die verklaarde wysheid te vorder. Ook is diegene wat hulleself besig hou met versamelings sinne, dit wil sê, wyse gesegdes wat waarlik die moeite werd is, soos spykers. Dit is miskien omdat hulle goeie woorde, wat die wysheid van Jehovah God weerspieël, die hoorders bestendig kan maak en kan ondersteun.
Ter opsomming van sy hele ondersoek sê Salomo: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: “Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Pred. 12:13, 14). ’n Heilsame vrees of agting vir die Skepper sal ons daarvan weerhou om ’n roekelose lewensweg in te slaan wat eindelose moeilikheid vir ons kan meebring. En as ons ook besef dat niks die Skepper ontgaan nie, kan dit dien as ’n aansporing om sy gebooie te hou. Die Allerhoogste sal alles oordeel, insluitende die dinge wat vir mense verborge is. Is dit, daar sy gebooie bedoel is om ons blywende welsyn te bevorder, nie reg en waarlik wys om aan hulle gehoorsaam te wees nie?