Jou maker gee baie vir jou om
“God [is] geen aannemer van die persoon nie, maar in elke nasie [is] die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig.”—Hand. 10:34, 35.
1. Hoe groot is God se liefde vir die mensdom, en wat kan ons ons dus nouliks voorstel?
DIE Allerhoogste het alreeds sy voortreflike liefde vir die mensdom getoon. Hoewel hy sy eniggebore Seun innig liefhet, het Jehovah God sake so gereël dat hierdie een ten behoewe van ons gesterf het sodat ons met Hom versoen kan word en uiteindelik die ewige lewe in volmaaktheid kan geniet (Joh. 3:16; Rom. 5:6-8). Kan ons ons met die oog hierop voorstel dat God mense maar net as ’n massa anonieme persone sal beskou, of dat hy ’n sekere groep sal kies om hulle te begunstig en dan eenvoudig die res ignoreer?
2. Hoe beskou Jehovah elke persoon?
2 Dit kan nooit gebeur nie! God erken elke persoon as ’n afsonderlike indiwidu. Hy “wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:4). Toe die apostel Petrus sien dat God nie-Jode in die Christengemeente aanvaar, het hy uitgeroep: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie [nie partydig is nie, NW], maar dat in elke nasie die een [die indiwiduele persoon] wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is”!—Hand. 10:34, 35.
3. Hoe kan ons vol vertroue wees dat elke indiwidu onder Christus se Koninkryksbewind aandag sal kry?
3 Jesus Christus is deur God gestuur om homself te gee as “’n losprys vir almal” (1 Tim. 2:6). Hy het ‘vir elkeen die dood gesmaak’ en die hele mensdom gekoop (Hebr. 2:9). Sal dit dan logies wees dat God se Seun ongeërg is en in werklikheid sê: ‘Ek het my lewensbloed vir almal gegee, maar hoeveel saak maak hierdie een persoon tog? Ek gee nie om of hy sy lewe verloor of nie’? Nooit! Onder sy koninkryk sal elke indiwidu vir wie sy losprys geld, aandag kry met die geleentheid om die lewe te verkry.
4. Wat leer ons in die Bybel omtrent die bestendigheid van God se liefde?
4 Gevolglik is Jehovah altyd gewillig en bereid om enigeen wat in hom glo te help en lief te hê. Die intensiteit en bestendigheid van sy liefde is baie groter as dié wat ons aan ander kan betoon. Let op God se liefde vir Abraham, Isak en Jakob, wat onvolmaakte manne was, maar wat hom heelhartig gedien het. Eeue later was Jehovah se liefde vir hulle so sterk soos altyd. Moses het vir die nasie Israel gesê: “Aan julle voorvaders het Jehovah geheg geraak deur hulle lief te hê” (Deut. 10:15, NW). Weens hierdie liefde het hy eeue lank die nasie se hardnekkigheid geduld.—Mal. 3:6.
5. Wil Jehovah net aan enkele uitgesoektes liefde betoon?
5 Jehovah se liefde vir diegene wat hom vandag dien, is net so groot en standvastig. Hy is as ’t ware voortdurend aan die soek na ’n geleentheid om ‘geheg te raak’ aan enigeen wat hom in opregtheid en waarheid aanroep. Die Bybel sê: “Die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kron. 16:9). “Sy ore [is] tot hulle gebed.”—1 Pet. 3:12.
6. Wat toon dat God nie na foute soek nie?
6 Wanneer Jehovah na die aarde kyk en sien hoeveel smarte mense verduur, voel hy innig jammer vir die mensdom. Hy wil elkeen van hulle help. Hoewel hy oortreding nie ‘deur die vingers sien’ nie, soek hy nie na mense se tekortkominge nie, maar na hulle goeie eienskappe. Die psalmis het gesê: “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan?” Wanneer Jehovah na ons kyk, onthou hy eerder dat ons almal “stof is”.—Ps. 130:3; 103:14.
7, 8. (a) Hoe het Jesus getoon dat hy werklik mense wou help? (b) Wat moet die tere gevoel van God en Christus vir die mensdom ons beweeg om te doen?
7 Toe hy op aarde was, was God se Seun gretig om sy krag te gebruik om mense te help. Toe ’n melaatse vir hom gesê het: “As U wil, kan U my reinig”, het Jesus “vir hom innig jammer gevoel en die hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: Ek wil, word gereinig!” en hom genees.—Mark. 1:40, 41.
8 Jesus het innig jammer gevoel vir die mense wat na hom gekom het vir hulp en wat hy dan genees het. Net so is Jehovah God en sy Seun vandag besorg oor en lief vir enigeen wat tydens die gejaag van die alledaagse lewe stilgestaan het om aandag te skenk aan die “goeie nuus” oor God se voorneme. Ondersoek jy op die oomblik God se Woord op ’n waarlik deeglike manier om meer omtrent Hom te leer? Indien wel, dan is dit op sigself ’n bewys dat hy in jou belangstel. Hoe kan dit met sekerheid gesê word?
9. Wat doen Jehovah vir iemand wat Sy Woord opreg ondersoek?
9 Daardie stelling is waar omdat God iets goeds sien in die hart van elkeen wat sy Woord opreg ondersoek. Gevolglik open hy daardie persoon se verstand om dinge te verstaan. Jesus het gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Joh. 6:44). Dit is vir jou onmoontlik om die voorneme van God te verstaan sonder die hulp van God se gees. Indien jy van God se voorneme leer, kan jy daarvan seker wees dat hy jou help.
GOD SE WAARDERING—’N VOORBEELD
10. Wat toon dat Jehovah sy dienaars waardeer?
10 Wanneer hy op hierdie wyse reageer op jou poging om insig te verkry, toon God ’n ander goeie eienskap teenoor jou. Dit is waardering. Jy het en spreek ongetwyfeld waardering uit vir die meeste goeie dinge wat ander vir jou doen en jy sê moontlik ‘Dankie’ of maak ’n gebaar. Maar die waardering wat mense toon, is nie naastenby so groot en innig as God se waardering vir diegene wat geloof in hom betoon en wat sy Woord respekteer nie. Hy verheug hom oor hulle. Jesus het selfs gepraat van vreugde in die hemel oor een sondaar wat berou toon of verkeerde dinge die rug toekeer om God te behaag (Luk. 15:10). Jesus het dan selfs gesê dat ’n persoon wat net ’n glas kouwater gee aan iemand wat hy as ’n kneg van God herken het, gewis beloon sal word (Matt. 10:42). En Jehovah se beloning is altyd verreweg groter as die waarde van die aanbidding of diens wat hy van ’n persoon ontvang. Jehovah sien en waardeer elkeen wat sy naam eerbiedig en sy volk goed behandel. Sy hart gaan dus uit na daardie persoon en hy help hom.
11. Hoe openbaar Markus 14:3-9 dat Jesus ook waardering gehad het?
11 Toe ’n vrou in die huis ingekom het waar Jesus ’n maaltyd genuttig het en welriekende olie op sy hoof uitgegooi het, het Jesus dit so waardeer dat hy gesê het: “Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ’n gedagtenis aan haar.” En sy woorde was waar, want alhoewel hierdie vrou se daad klein was, is dit in die Skrif opgeteken en is dit onder die aandag van miljoene gebring.—Mark. 14:3-9.
12. Watter uitwerking moet die Vader en Seun se gees van waardering op ons hê?
12 Ons moet weer tereg waardering betoon vir God se goedheid deur ons te help om van sy voorneme te leer en vir ons die geleentheid te bied om die ewige lewe te verkry. ’n Persoon moet dankbaar wees dat God dit goedgevind het om toe te laat dat hy soos die mense is vir wie Paulus in Antiochië in Klein-Asië gepreek het. Daar het Jode wat voorgegee het dat hulle God dien die waarheid teëgestaan. Maar die verslag sê: “Toe die heidene [van die geleentheid om deur God aangeneem te word] hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys, en daar het gelowig geword almal [wat die regte gesindheid gehad het vir die ewige lewe]” (Hand. 13:48, vgl. NW). Daardie mense het God se goedheid waardeer. Hierdie waardering het hulle gehelp om die soort mense te wees wat God met graagte aanneem.
’N HOORDER VAN GEBED
13. Deur wie moet gebede aan God gerig word, en waarom moet ons nie bang wees dat hy nie sal luister nie?
13 Ons weet dat God sy voorneme aan ons bekend gemaak het. Kan ons op ons beurt ons diepste gedagtes en innigste begeertes aan God bekend maak? Ja. Dit is deur gebed. Jy hoef nie bang te wees dat God nie na jou sal luister nie. Sy enigste vereiste is dat ’n mens ’n opregte hart moet hê en moet erken dat jy ’n sondaar is wat hulp nodig het. Iemand wat hom aanroep, sal getoon word wat om te doen. So ’n persoon sal leer dat gebede wat aan God gerig word deur Jesus Christus as God se aangestelde Hoëpriester gedoen moet word. Die apostel het geskryf: “Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”—Hebr. 4:15, 16.
14-16. Waarvoor kan ons tereg bid, en waarom?
14 Wat is behoorlike onderwerpe vir gebed? Enigiets wat ’n mens se verhouding met God raak; enigiets wat ’n mens se geestelikheid raak. Die apostel Johannes het gesê “dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil”.—1 Joh. 5:14.
15 “Volgens sy wil” sal beteken dat ons nie sal bid vir dinge wat bloot selfsugtige belange bevorder nie, dinge soos rykdom, ’n hoër posisie as ons medemens, wraak, selfsugtige genot en dies meer. Maar ’n ongetroude persoon wat graag wil trou, kan byvoorbeeld vir God vra om hom te help om ’n geskikte maat te vind of om ’n gebalanseerde en nuttige ongetroude lewe te lei indien so ’n maat nie dadelik beskikbaar is nie. Egpare kan bid vir kinders, of vir wysheid om hulle kinders groot te maak. Ons het die voorbeelde van Hanna, wat tot God gebid het vir ’n kind, en van Simson se ouers, wat om raad gevra het om hulle seun groot te maak (1 Sam. 1:10-17; Rigt. 13:8-14). Ons kan ook bid vir harmonie in ons huwelik en hom vra om ons pogings om ’n sukses van ons huwelik te maak te seën. Selfs verhuising of ’n verandering van werk kan ’n onderwerp vir gebed wees, want ’n mens se gesin kan ekonomies asook geestelik daardeur geraak word.
16 Hoewel sulke sake baie intiem is, raak dit bepaald ons lewens en vereis aanpassings waarin ons God se wysheid nodig het. God stel in sulke gebede belang en is bly as ons so tot hom bid. Ongeag wat dit is, die hoofsaak is om God se wil te leer ken en te doen. Elke persoon het natuurlik sy eie omstandighede wat van ander s’n verskil, en dit sal die dinge raak waaroor hy bid.
17. Watter vertroue gee Psalm 32:8 ons wat betref die wyse waarop God ons gebede verhoor?
17 ’n Mens kan vol vertroue verwag dat God se antwoord die vorm sal aanneem van wyse voorligting wat by die persoon se indiwiduele geval pas. God beloof: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.’’—Ps. 32:8.
18. Wat kan optrede ooreenkomstig ons gebede insluit?
18 Nadat hy gebid het, moet die indiwidu natuurlik konsekwent wees en optree in harmonie met sy gebed. Hy moet na raad oor sy probleem soek, eerstens in die Bybel. Die psalmis het gesê: “Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar” (Ps. 119:145). Omdat God vooraf van ons probleme geweet het, het hy toegesien dat raad oor alle menseprobleme in sy geïnspireerde Woord opgeteken is. Die persoon kan ook ander raadpleeg wat hom kan help om te sien wat die Bybel oor die saak sê, en hulle selfs vra om vir hom te bid. Hy moet aanhoudend oor die saak bid totdat hy ’n duidelike begrip verkry wat die verstandige weg is om in te slaan. Indien hy dit nie doen nie, sal hy nie vir God toon dat hy geloof het of dat hy werklik graag ’n antwoord van God wil kry nie. Dit was die les van Jesus se gelykenis van die weduwee wat volgehou het om versoeke tot die regter te rig om verligting totdat hy dit uiteindelik toegestaan het.—Luk. 18:1-8; Jak. 1:5-8.
19. Hoe kan ons God beter leer ken?
19 Die persoon wat bid en optree met geloof in God kan daarvan seker wees dat hy gelei sal word om die voordeligste weg in te slaan. Hy sal God werklik leer ken, want Hy beloof: “Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees” (Ps. 25:14). God se handelinge met hom sal ’n werklikheid wees en hy sal besef dat hy ‘met God wandel’, deur God onderskraag en gelei word en dat God hom liefhet. Die vrees van God wat in die psalm gemeld word, is nie ’n morbiede vrees nie, maar ’n gesonde eerbied vir God. As jy God liefhet, sal jy jou probleme na hom wil neem en jy sal nie vrees dat jou versoek geweier of verwerp sal word nie. Van so ’n stremmende vrees het die apostel Johannes geskryf: “Die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees [lê ’n beperking op].”—1 Joh. 4:18, vgl. NW.
20. Waarom moet ons nie bang wees om met enige probleem na Jehovah te gaan nie?
20 Jy moet nooit bang wees of aarsel om die intiemste sake, wat dit ook al is, met Jehovah te bespreek nie—jou sondes inkluis. Hy sal jou probleem nie as dwaas beskou of dalk soos mense vir jou lag nie. “Hy gee mildelik aan almal sonder om te verwyt.” “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”—Jak. 1:5, NW; 1 Joh. 1:9.
’N BELONER
21. Hoe wil Jehovah hê dat ons moet voel oor die feit dat hy ’n beloner is, en watter uitwerking moet dit op ons hê?
21 Daarbenewens is dit heeltemal reg en nie selfsugtig nie om na God te kyk, nie alleen om ons gebede te verhoor nie, maar ook om ons te beloon vir getrouheid aan hom. Jehovah wil hê dat ons moet uitsien na die beloning van lewe as iets wat hy graag gee, wetende dat ons dit waardeer en op die regte manier sal gebruik. Jehovah wil hê dat ons moet weet dat hy die soort God is wat diegene beloon wat hom liefhet. Hy is nie soos talle wêreldse persone wat geen waardering of agting het vir diegene wat dinge uit liefde of getrouheid doen nie. En ’n god wat nie getrouheid waardeer nie en wat nooit sy knegte beloon nie, is nie werd om aanbid te word nie. Maar Jehovah God is getrou; hy is goedhartig en smee hegte bande met sy vriende. Vir diegene wat aan hom glo, belowe hy: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”—Hebr. 13:5.
22. (a) Watter beloning geniet ons selfs nou as ons God dien? (b) Watter seëninge wag daar nog in die toekoms?
22 As ’n mens dus ’n intieme vriend van God word, een wat met hom kommunikeer en wandel, is daar nou ’n groot beloning. En daar is ’n groter beloning om na uit te sien, dinge wat ons grootste verwagtinge oortref. As ons aan God getrou bly, bied dit ons eerstens nou ’n beter lewe, een met ’n doel, en groot vryheid van die probleme en bekommernisse wat hierdie wêreld het (Ef. 3:20). Dan is daar die vooruitsig om ’n deel van die “fondament” van die “nuwe aarde” te wees. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om te help met die “grondwerk” om die aarde in ’n paradys te omskep! Hoe wonderlik sal dit tog nie wees om byderhand te wees om mense tydens die opstanding terug te verwelkom en hulle te leer, te help en op te lei nie! Daar wag ’n opwindende toekoms op ons—’n goeie doel in die lewe wat voorlê!
23. Waarom is dit belangrik dat mense nie talm om hulle standpunt aan God se kant in te neem nie, en wat behels dit?
23 Maar moenie die wonderlike geleentheid wat jy het om God nou te dien geringskat nie. Want dit is die laaste keer dat mense die geleentheid sal hê om hulle standpunt in te neem aan God se kant van die geskil oor universele heerskappy te midde van ’n hele wêreld mense wat nie van God se voorsienings weet nie. Daarbenewens is dit die laaste geleentheid om die “goeie nuus” tydens teenstand aan hierdie mense te verkondig. Wat ’n wonderlike manier om te bewys dat jy aan God getrou is! As ’n mens dit doen, bring dit die grootste beloning mee. Dit is nou die geleentheid om saam te werk met “die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid” deur die goeie nuus van die Koninkryk aan ander te verkondig.—1 Tim. 3:15.
[Prent op bladsy 18]
As egpare saam Jehovah se leiding in gebed vra, kan dit hulle help om ’n harmoniese huwelik te hê