Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 7/15 bl. 14-18
  • Kan jy ’n intieme verhouding met God hê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy ’n intieme verhouding met God hê?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • CHRISTUS SE DOOD EN OPSTANDING DIE GRONDSLAG
  • GOD TREK MENSE NA CHRISTUS TOE
  • DIE INDIWIDU SE WIL IS BY DIE SAAK BETROKKE
  • ’N NUWE STATUS BY GOD
  • AAN CHRISTUS SE SORG TOEVERTROU
  • Help ’n verhouding met God ons nou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Jou maker gee baie vir jou om
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Waarom moet ons “die Christus” volg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hoe afhanklik is ons van Jesus Christus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 7/15 bl. 14-18

Kan jy ’n intieme verhouding met God hê?

“DIE HEREERE not alternate size neem die wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.”—Ps. 25:14, “Die Blye Boodskap”.

1. Watter verhouding het God met alle mense?

AS SKEPPER het God ’n sekere verhouding met alle mense. In Athene het die apostel Paulus aan ’n groep filosowe gesê dat “Hy self aan almal lewe en asem en alles gee” (Hand. 17:25). Maar diegene wat aanhoudend goddeloos is, kan nie intiem met hom omgaan nie (Spr. 3:32). Hy laat hulle nietemin toe om kinders te hê, die goeie dinge van die aarde te geniet en bied hulle die geleentheid om berou te toon, indien hulle wil.—Hand. 14:16, 17.

2. Wat is nodig om God se guns te verkry, en kan mense aan hierdie vereiste voldoen?

2 Maar ’n hegter verhouding as bloot die van ’n skepsel van God is nodig om sy guns te geniet en om hom as vriend en intieme metgesel te hê. Harmonie met hom en sy voornemens is onontbeerlik as ’n mens hoop om ewige lewe te verkry. Die wonderlike ding is dat enigiemand hierdie verhouding kan verkry nadat hy die geleentheid gebied is, indien dit werklik sy begeerte is, want die apostel Paulus het vir die Atheners gesê dat God ook bepaal het dat mense “die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie”.—Hand. 17:27.

3. Watter skeidsmuur moet alle persone wat hoop om God te nader beset dat daar tussen hulle en God bestaan?

3 Wat behels ’n soeke na God? En hoe tree hy op teenoor die opregte soeker? Die hindernis in ons weg wanneer ons God wil nader, is menslike sondigheid. Ons sondes kan kommunikasie verhoed net soos ’n digte wolk dit kan doen. (Vergelyk Klaagliedere 3:44.) Dit kan selfs die begeerte om tot God te nader, onderdruk; dit kan ons onrein en onwaardig laat voel om hom te nader. Maar indien ons nie erken dat ons almal sondaars is wat elke dag dinge doen wat selfs deur ons eie gewetens veroordeel word nie, is ons nie in ’n posisie om God te nader nie, en God sal nie na die gebede luister van diegene wat nie hierdie feit, wat universeel op alle mense van toepassing is, erken nie.—1 Pet. 3:12.

CHRISTUS SE DOOD EN OPSTANDING DIE GRONDSLAG

4. Hoe het God die eerste stap gedoen om die skeidsmuur in die weg van kommunikasie en intimiteit met hom af te breek?

4 God het in werklikheid self die eerste stap gedoen om ’n verhouding met hom moontlik te maak deur ’n reëling te tref om hierdie skeidsmuur in die weg van kommunikasie en intimiteit te verwyder. Wat is hierdie reëling? Die apostel Paulus antwoord: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Christus was ’n volmaakte, sondelose man toe hy op aarde was, maar hy het die straf van alle sondaars op hom geneem net asof hy die sondaar was. Hoewel hy onskuldig was, het hy die volle straf vir die mensdom se sondes verduur. Die apostel Petrus sê vir ons: “[Hy] wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het . . . deur wie se wonde julle genees is” (1 Pet. 2:24). Dit is wat God hom eeue tevore voorgeneem het, soos die profeet Jesaja voorspel het: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel” (Jes. 53:5). Jesus Christus se optrede om vir die mensdom in te staan het opgeweeg teen al die eise van geregtigheid vir die sondes wat begaan is en die grondslag gelê vir die verwydering van veroordeling van almal wat hulle eie sondes erken en geloof in God se reëling betoon.—Rom. 8:1.

5. Waarom is nie alleen Jesus se dood nie, maar ook sy opstanding, vir ons onontbeerlik?

5 Daarbenewens waarborg die feit dat Christus nie dood gebly het nie, maar opgewek is en nou lewe, sy immerteenwoordige hulp, sodat ’n persoon ’n hegte verhouding met God kan geniet. Die Skrif verseker ons dat hy aan lyding en die dood “oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking” (Rom. 4:25). Hy het in God se teenwoordigheid verskyn om die waarde van sy offerande aan te bied. Vandag is hy die verheerlikte Jesus wat Johannes in ’n gesig tussen sewe goue kandelaars, wat die Christengemeente voorstel, gesien het met sewe sterre, of die liggaam gesalfde opsieners, in sy regterhand (Openb. 1:12-16). Van hom as ons lewende Hoëpriester staan daar geskrywe: “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.”—Hebr. 7:25.

6, 7. Hoe is dit dat Christus “met betrekking tot sonde” gesterf het maar “met betrekking tot God” lewe?

6 Gevolglik kan die persoon met geloof in Christus lewe, nie soos een wat geestelik dood is weens sy sondes en wat verhinder word om met God te kommunikeer nie, maar soos een wat lewe en God op ’n positiewe, opbouende wyse dien, daadwerklik God se gebooie gehoorsaam en ander opbou. Hieromtrent sê die apostel aan die “heiliges” in Rome: “Ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy [met betrekking tot] die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy [met betrekking tot] God. So moet julle ook reken dat julle wel [met betrekking tot] die sonde dood is, maar lewend is [met betrekking tot] God in Christus Jesus.”—Rom. 1:7; 6:9-11, vgl. NW.

7 Hier wys die apostel daarop dat Christus na die aarde gekom het met die spesifieke doel om klaar te speel met daardie onrein, afskuwelike ding—sonde—iets wat deur God sowel as Christus gehaat, ja, verafsku word (Hebr. 1:9). Hoewel Christus altyd behae daarin geskep het om sy Vader se wil te doen, is sonde ’n vyand, en om van sonde ontslae te raak, moes Jesus talle onsmaaklike en onaangename dinge verduur. Net voordat hy gesterf het, het hy gesê: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Hy het dus met betrekking tot sonde gely en gesterf—om ontslae te raak van sonde. Maar nou “leef hy met betrekking tot God”. Hy is vir ewig by God in die hemel verheerlik, want sy offerande hoef nie herhaal te word nie. Aangesien dit volbring is, kon hy met ’n opbouende werk begin om mense weer in ’n intieme verhouding met God te bring en om God se wil te laat geskied in die geval van almal wat lewe wil hê.—Hebr. 7:25; 8:1; 9:28.

GOD TREK MENSE NA CHRISTUS TOE

8, 9. Hoe trek God persone na Christus?

8 Jehovah God het groot liefde en onverdiende goedheid aan mense betoon deur hierdie reëling te tref. En dit is nie al nie; God doen iets omtrent sy voorneme. Dit is God wat persone met die regte hartsgesindheid na Christus trek. Jesus het gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie.” Hy het gesê dat sy apostels deur die Vader aan hom gegee is.—Joh. 6:37, 39, 44.

9 Hoe trek God ’n persoon? Dit word beslis nie willekeurig of met partydigheid gedoen of deur die persoon te dwing nie. Die wil van die hardnekkige, sondige mens is nie geneig om ditself natuurlik, uit sy eie, aan God te onderwerp nie. Maar God kan ’n verandering in die persoon se wil teweegbring. Hy weet wat diep onder in ’n persoon se hart is. Hy kan dan nie alleen sorg dat hy van Christus en die weg van redding hoor nie, maar hom ook ’n begrip van die reëling gee. Hy kan blinde oë open. Die manier waarop God manne en vroue trek om tydens hierdie stelsel van dinge in Christus te glo, al sou hulle dit nooit uit hul eie gedoen het nie, is deur ’n kennis van die voortreflikheid van Christus, die wonderlike voordeel van eenheid met hom, in hulle harte te kry.

10. Watter uitwerking het die feit dat God die opregte indiwidu trek op hom?

10 Die indiwidu begeer dan op sy beurt uit die hart om Christus te volg en met hom verenig te raak, net soos mense begeer om ’n goeie persoon te nader en sy vriend te word wanneer hulle waarlik sien en besef hoe goed hy is. ’n Voorbeeld van hoe God harte kan trek, word gevind in die mense van eertydse Israel in die dae van Dawid die seun van Isai. God het die koninkryk aan Dawid belowe. Toe die tyd vir God aanbreek om die koninkryk aan Dawid te gee, het hy die harte van die mense na Dawid getrek sodat hulle gewillig onder hom gedien het (2 Sam. 2:4; 3:36; 5:1-3). Net so trek God die harte van mense na Christus.

DIE INDIWIDU SE WIL IS BY DIE SAAK BETROKKE

11. Watter rol speel die wil van die indiwidu in die proses om na Christus te kom, en hoe word die wil van die oningeligte persoon verander?

11 Dit is nie ’n geval dat die wil van die indiwidu niks met die saak te doen het nie. Hoewel hy aanvanklik moontlik nie die wil het om daadwerklik na Christus te kom nie, kan daardie wil verander wanneer hy leer—wanneer die ‘oë van sy verstand’ geopen word (Ef. 1:18). Jesus het uit die profesie van Jesaja aangehaal in verband met diegene wat tydens hierdie stelsel van dinge die kinders van Jehovah se hemelse vrou, Sion, word en gesê: “Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe” (Joh. 6:45; Jes. 54:1, 13). Wanneer die persoon sien en begryp, verander hy sy wil. Indien hy dit nie wil doen nie, word hy nie gedwing om te verander nie. Begrip bring geloof voort, en die indiwidu se geloof beweeg God en sy Seun om daardie persoon te aanvaar, net soos Jesus later vir sy volgelinge gesê het: “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hom sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. . . . As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.”—Joh. 14:21-23.

12. Hoe bring Christus op sy beurt die persoon nader aan God?

12 Aangesien die Vader nog altyd vir mense onsigbaar was, openbaar hy homself deur Christus, want toe Jesus op aarde was, het hy die voortreflike persoonlikheid van God geopenbaar sodat hy kon sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9). Wanneer hulle na Christus kom, leer ken gelowiges die Vader al hoe intiemer namate Christus die diepte en voortreflikheid van God se eienskappe aan hulle harte openbaar.

13. Watter beskouing moet ’n persoon van homself hê om God op ’n aanneemlike wyse te nader?

13 Wat is dus die stappe wat die indiwidu moet doen om tot God te nader en ’n intieme verhouding met hom te verkry? ’n Persoon moet die gevoel hê dat iets ontbreek, ’n gevoel dat nie alles in sy lewe volkome bevredigend is nie. Hy moet homself as onvolmaak sien, as iemand wat nie selfonderhoudend is nie, erken dat hy ’n sondaar is en besef hoe tevergeefs sy situasie is. Indien iemand nie ten volle besef hoe behoeftig hy is nie, sal ’n ondersoek van die Wet wat God deur Moses aan Israel gegee het hom daarvan oortuig dat hy deur en deur ’n sondaar is. Die doel van die Wet was om te toon dat geen mens regverdig is nie en ook om die opregte soeker te laat besef dat hy ’n vrykoper nodig het.—Gal. 3:19, 24.

14. Watter verdere stappe is nodig van die kant van die indiwidu wat ’n verhouding met God wil hê?

14 Omdat hy van hierdie behoefte bewus is, sal die reggeaarde persoon die Bybel opreg en ernstig ondersoek en God se weg deur Christus leer ken. Wanneer hy besef dat hy hoegenaamd geen verhouding met God het nie, is hy ook oortuig van die ware boosheid van sonde en wat dit aan hom gedoen het. Hy sien dat hy inderdaad ’n vyand van God is. Dan wil hy verander (Rom. 5:10). Gevolglik toon hy berou en vra hy om vergifnis. Hy moet aldeur besef dat dit nie sy eie voortrefliker insig of goedheid is nie, maar dat dit God is wat hom trek. Die indiwidu het gevind dat hy hierdie vergifnis op die grondslag van Christus se soenoffer kan kry. Omdat hy God se voorneme leer ken en waardeer het, spreek hy die begeerte en besluit uit om ’n volkome toegewyde kneg van God te word en gee hy ’n blyk van hierdie geloof en besluit voor ander deur te versoek om in water gedoop te word.

’N NUWE STATUS BY GOD

15. Wat is die “goeie gewete” wat die dopeling versoek?

15 Deur sy doop versoek die persoon God om ’n goeie gewete (1 Pet. 3:21). ’n “Goeie gewete” beteken dat die skuldgevoel oor sondes van die verlede nie langer op sy gewete rus nie. Dit beteken ook dat hy ’n nuwe verhouding met God en Christus as sy vriende het (Joh. 15:14, 15). Dit is omdat sy geloof in Christus se offerande vir hom vergifnis van sy sondes van die verlede meebring en selfs meer as dit doen.

16. Watter goeie posisie beklee so ’n persoon nou voor God, en hoe kan hy daardie posisie behou?

16 Byvoorbeeld: Kwytskelding deur ’n wêreldse gesag wis ’n misdadiger se misdade van die verlede uit. Maar die misdadiger is dan slegs waar hy oorspronklik was. Hy het geen troos of versekering dat hy in die toekoms hulp gaan ontvang of dat die oortredings wat hy dalk in die toekoms sal begaan nie teen hom gehou sal word nie. Maar die persoon wat in Christus glo, word as ’n vriend deur God aanvaar, as iemand wat God voortgaan om as ’n intieme metgesel te behandel, nou en in die toekoms, totdat daardie persoon eindelik volmaak is (1 Pet. 5:10). Solank hy daardie selfde geloof en getrouheid behou, kan hy om vergifnis vir sy daaglikse sondes bid en daardie intieme verhouding bewaar. Hy moet natuurlik nie ‘die genade van God tevergeefs ontvang nie’ (2 Kor. 6:1). Hy kan nie met reg dink dat hy van daardie intimiteit misbruik kan maak en steeds sy goeie posisie voor God kan behou nie.

AAN CHRISTUS SE SORG TOEVERTROU

17. Wat doen Christus vir ’n persoon nadat God die persoon na Christus getrek het?

17 Wat is ’n persoon se situasie wanneer God hom (of haar) na Jesus Christus getrek het? Jesus het erken dat alle persone aan die Vader behoort en dat diegene wat Jehovah trek aan Christus gegee word sodat hy vir hulle kan sorg en na hulle Christelike groei kan omsien (Joh. 17:9, 10). Deur die profeet Jesaja het God aangaande Christus beloof: “Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word” (Jes. 53:11). Jesus Christus het dus na God gekyk vir vrug op sy arbeid en offerande. Jesus het ook gesê dat God hom mag oor alle vlees gegee het (Joh. 17:2). Deur hierdie mag uit te oefen, kan hy diegene beskerm wat God na hom trek en hulle bewaar teen die bose, wrede teenstanders van die waarheid. Van die wat aan hom gegee is, het Jesus gesê: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie” (Joh. 10:28, 29). Gevolglik moet die Christen geen vervolging, siekte, ontberings, teenstand of enigiets anders, selfs die dood, vrees nie.—Rom. 8:38, 39.

18. Wat is die uitslag vir die persoon wat die Goeie Herder getrou volg?

18 Onder Jesus Christus, die Goeie Herder, is diegene wat hom getrou volg verseker van ewige lewe. Jesus het gesê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Joh. 3:16.

19, 20. Wat is dus die waarde van ’n intieme verhouding met God?

19 Ewige lewe! Selfs al sou ’n persoon sterf, vervaag sy hoop nie. Want Jesus het beskryf hoe permanent en onverbreeklik die goeie verhouding van die Seun is met diegene wat die Vader as lede van die “klein kuddetjie” van sy skape na hom bring toe hy gesê het: “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.”—Luk. 12:31, 32; Joh. 6:37.

20 In die sorg van die Goeie Herder kan diegene wat na hom kom gevolglik hulp en leiding op elke terrein van die lewe verwag, met die hoop op ewige lewe in die toekoms. Wat kan dus beter wees as om ’n goeie verhouding met God en sy Seun te verkry? Maar hoe is daardie goeie verhouding in die daaglikse aangeleenthede van die lewe ’n werklikheid—’n hegte, innige, veilige verhouding?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel