God se naam en joune
JY stel tereg in jou naam belang en dit is vir jou belangrik. Wanneer dit gemeld word, spits jy jou ore. Maar buiten jou voornaam—hetsy dit Otto, Nancy, Carlos of ’n ander is—kan jou “naam” ook jou reputasie beteken. Uit hierdie standpunt verteenwoordig jou naam jou as ’n persoon en wat dit blyk dat jy is.
Diegene wat na aan jou is, noem jou waarskynlik nie by jou van nie, maar by jou voornaam. En jy is op jou gelukkigste as hulle jou beskou as iemand met ‘’n goeie naam’ (Spr. 22:1). Ons het almal rede om oor ons naam besorgd te wees.
Indien dit die geval met mense is, geld dit gewis selfs nog meer van die Skepper van die heelal. Hy het verkies om homself aan mense te openbaar as iemand met ’n persoonlike, betekenisvolle naam wat hom identifiseer as die Vervuller van sy voornemens en beloftes. God kan dus passend na sy naam Jehovah as sy “gedenknaam” verwys (Ex. 3:14, 15; Hos. 12:6; Ps. 135:13). Daardie naam staan in verband met alles wat hy gedoen het en nog voornemens is om te doen.
Moet ons dus nie God se naam gebruik en waardeer nie? Ken God ons bowendien by ons naam—by ons eienaam sowel as by ons posisie as ’n persoon wat hy goedkeur?
Die neiging onder die meeste godsdiensleiers, en selfs in baie Bybelvertalings, om God se onderskeidende naam te negeer of te kleineer, maak dat persone verhinder word om so by hom aangeskrewe te staan. Waar hy oor die weglating van die goddelike naam uit party Bybels skryf, het dr. Walter Lowrie in die Anglikaanse “Theological Review” gesê:
“In menseverhoudinge is dit uiters belangrik om die eienaam, die persoonlike naam, te ken van die een wat ons liefhet, met wie ons praat, of selfs van wie ons praat. Presies net so is dit met die mens se verhouding met God.
’n Man wat God nie by sy naam ken nie, ken hom nie werklik as ’n persoon nie, ken hom nie as iemand om mee te praat nie (dit is wat met gebed bedoel word), en hy kan hom nie liefhê as hy hom net as ’n onpersoonlike krag ken nie.”
Daardie skrywer het veral die feit in gedagte gehad dat die goddelike naam slegs vier keer in ’n onlangse vertaling van die Bybel voorkom. Ja, hoewel baie van die geestelikes hulle kudde geleer het om te bid: “Laat u Naam geheilig word”, het hulle nie die voorbeeld gestel deur daardie naam te gebruik of deur daarop aan te dring dat dit in Bybels ingesluit word nie.—Luk. 11:2.
Dink byvoorbeeld aan die “Common Bible” (1973) wat vir gebruik deur Protestante sowel as Rooms-Katolieke goedgekeur is. Die Voorwoord daarvan sê reguit dat dit nie die voorbeeld van die American Standard Version” (1901), wat God se naam duisende keer gebruik het, volg nie. Waarom daardie naam verwerp? Een rede wat aangevoer is, was die uiteenlopende menings oor die uitspraak daarvan. Die tweede was: “Die gebruik van ’n eienaam vir die een en enigste God, asof daar ander gode was van wie Hy onderskei moes word, is voor die Christelike tydperk in Judaïsme gestaak en is geheel en al onvanpas vir die universele geloof van die Christelike Kerk.”—BI. vii.
Maar soos ons gesien het, is daar al hoe meer getuienis dat Jode omstreeks die tyd van Christus sowel as die vroeë Christene wel die goddelike naam gebruik het. En as die God van die hemel self sê dat hy by sy “gedenknaam” bekend wil staan, moet ons sy besluit aanvaar, nie waar nie?
SY NAAM—EN ONS NAAM
Maar kennis van God se naam behels baie. Dit beteken nie bloot dat ’n mens weet dat die Skepper se eienaam “Jehovah”—of ’n wisselvorm daarvan—is nie. Ons moet ook die Persoon ken wat deur die naam verteenwoordig word—sy voornemens, bedrywighede, hoedanighede en vereistes soos dit in die Bybel openbaar word (Neh. 9:10; 1 Kor. 8:41-43). Toe Jesus dus gesê het: “Ek het u Naam . . . bekend gemaak”, het hy meer bedoel as dat hy eenvoudig net daardie naam gebruik het (Joh. 17:26). Christus het dit sekerlik gedoen toe hy die Hebreeuse Skrifte wat God se naam bevat hardop voorgelees het. Maar daarbenewens het Jesus die voornemens wat aan daardie naam verbonde is, bekend gemaak en hom daarop toegelê om dit te bevorder. Diegene wat van Jesus geleer het, het ’n groter waardering vir Jehovah gekry en groter versekering gehad dat God se “ewige voorneme” vervul sal word.—Joh. 14:10; 6:38; Ef. 3:11.
As ons Jehovah in daardie sin leer ken, sal ons ook deur hom geken word (Joh. 17:3). Hy sal ons met goedkeuring erken; ons sal ’n goeie naam by hom hê (Pred. 7:1). As ons God en sy naam ken, kan dit dus daartoe aanleiding gee dat hy ons naam ken en ons erken. Maleagi 3:16 lig dit toe:
“Toe het die wat [Jehovah] vrees, met mekaar gespreek; en [Jehovah] het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat [Jehovah] vrees en sy Naam eer.”
God se naam en joune behoort dus gewis van belang te wees. Ons moet daarin belang stel om daardie naam te ken, te gebruik en te eer. Dit verg dat ons lewe op ’n manier wat in ooreenstemming is met die voornemens waaraan sy naam verbonde is.
Maleagi het byvoorbeeld gemeld dat ‘persone wat Jehovah vrees’ met mekaar gespreek het. Hulle het dus persone wat ook daarin belang gestel het om God se naam te eer as hulle gereelde metgeselle gekies. Ons kan ons afvra: ‘Neem ek, wanneer ek my vriende kies, in aanmerking of hulle indiwidue is wat Jehovah ken en met sy voornemens saamwerk? Raak my begeerte om God te ken en om deur hom geken te word selfs sulke aspekte van my daaglikse lewe?’
En gestel ons kom in die gewone loop van ons lewe—by die werk, in die buurt, by die skool—persone teë wat Jehovah nie ken nie. Is ons dan wakker om passende geleenthede te gebruik om van Hom te praat? Is ons bowenal ywerig om ‘God se naam bekend te maak’ deur ten volle deel te neem aan die grootse werk wat Jesus vir ons dag voorspel het toe hy gesê het: “Hierdie evangelie van [God se] koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies”? (Joh. 17:6, 26; Matt. 24:14). As ons dit met blydskap doen, toon dit dat die naam Jehovah vir ons nie maar net ’n naam is wat uit letters bestaan nie. Dit is ’n deel van ons lewe.
Die volgende artikel, “Laat God se naam geheilig word”, behandel ander voortreflike maniere waarop ons kan toon dat ons God se naam ken en graag wil hê dat hy ons by name moet ken.
As ons ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah het, hom as ’n werklike Persoon ken en sy naam aan ander bekend maak, sal dit tot gevolg hê dat hy ons in gedagte hou, tot ons ewige welsyn. Soos Maleagi gesê het, sal dit wees asof Hy ons name in ’n “gedenkboek” geskrywe het, met die ewige lewe as die beloning.—Joh. 17:3.