Laat GOD SE NAAM geheilig word
“Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.”—Matt. 6:9.
1. Wat is die belangrikste ding waarvoor ons moet bid?
Elkeen wat bely dat hy ’n Christen is, het al die gebed gehoor of gelees wat Jesus as ’n skets gegee het toe sy dissipels vir hom gevra het: “Here, leer ons bid.” Die belangrikste ding waarvoor ons moet bid, was volgens Jesus: “Vader . . . laat u Naam geheilig word.”—Luk. 11:1, 2
2. Vir watter dinge staan die naam van Jehovah?
2 Van al die name in die heelal munt die naam van die Vader, Jehovah, uit in glans, waardigheid en aansien. Hy is nie alleen die Skepper, almagtig en met onbeperkte kennis, wat volmaakte geregtigheid laat geskied nie, maar sy goedertierenheid en barmhartigheid laat sy naam die grootste eer en lof, ja, eerbied, toekom. Toe Moses gevra het om God se heerlikheid te sien, is hy beveel om teen die berg Sinai op te klim, en “[Jehovah] het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van [Jehovah] uitgeroep. En toe [Jehovah] by hom verbygaan, het Hy geroep: [Jehovah, Jehovah], barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.”—Ex. 33:18-23; 34:4-7.
3. Wat is God se hoofeienskappe, en waarom sê hy dat hy mense nie ongestraf sal laat bly nie?
3 Hier word daar getoon dat Jehovah se liefde en barmhartigheid van sy hoofeienskappe is. Maar die Allerhoogste sal nie toelaat dat die kwaaddoener sy barmhartigheid misbruik as ’n verskoning vir volgehoue moedswilligheid nie. Anders kon hy nie die heelal ten bate van diegene wat reg wil doen, regeer nie. Een van Christus se apostels sê van sekere manne: “Omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid” (Rom. 1:28, 29). Hulle lewenswyse, met sy afgodediens en losbandigheid, het natuurlik ’n uitwerking op hulle nakomelinge gehad (Rom. 1:21-23). Maar selfs hierdie kinders kan God se barmhartigheid ontvang as hulle hulle tot hom wend om hulp.—Eseg. 18:21, 22.
DIE DOEL VAN ONS LEWENS
4. Wat moet ons, as Jehovah se Getuies, ons werklike skat en trots maak?
4 Vir ons as mense beskrywe Jehovah dus wat ons ons werklike skat moet maak. Hy sê: “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek [Jehovah] is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek ’n behae.”—Jer. 9:23, 24.
5. Hoe het Jesus gesorg dat die heiliging van Jehovah se naam altyd die eerste plek in sy hart beklee?
5 Jehovah se naam en alles waarvoor dit staan, moet derhalwe die eerste plek in ons harte inneem. Toe Jesus op die aarde was, was die ding wat hom die seerste gemaak het die smaad wat God se naam aangedoen is, veral deur God se eie volk, die Jode. Hy het gesê: ‘Ek doen altyd wat God welgevallig is’ (Joh. 8:29). In sy beproewing in die tuin van Getsemane was die ding waaroor hy hom die meeste bekommer het nie die feit dat hy moes sterf nie. Hy het na die aarde toe gekom en is as mens gebore juis om ’n offerdood te sterf, en hy het onwrikbaar met daardie doel voor oë gewandel. Maar wat daardie laaste nag voor sy dood so ’n las op hom geplaas het, was die smaad wat sy dood, op aanklag van laster teen God, Jehovah se naam sou aandoen—hy, die Seun van God en God se verteenwoordiger, wat op hierdie smadelike manier voor die hele wêreld sterf. Aangaande hom is dit geskrywe: “Die smaadhede van die wat U smaad, het op My geval.”—Rom. 15:3.
6. Watter uitwerking moet die verklaring in Romeine 15:3 op ons as Christene hê, soos getoon deur die apostel Paulus?
6 Die apostel Paulus gebruik hierdie verklaring om Christene aan te spoor om aan iets anders benewens hulle eie begeertes te dink—dat hulle bereid moet wees om moeite te doen om ander te help (Rom. 15:1, 2). Dit was waarvoor Christus geleef en gesterf het, naamlik om al die smaad op hom te neem sodat die mense die regte beskouing van sy Vader sou hê, en sodat hulle God kon leer ken en hom kon loof. Waar hy met Christene praat, bid Paulus: “Mag God . . . aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.”—Rom. 15:5, 6.
VOOR PERSONE WAT NABY EN VER IS
7. Hoe kan die Christen God se naam (a) privaat, (b) in sy gesin en (c) in die gemeente heilig?
7 Hoe kan die Christen oor wie Jehovah se naam uitgeroep is, seker wees dat hy altyd God se naam heilig? Hy doen dit natuurlik selfs privaat deur God se naam as iets heiligs in sy hart en gedagte te hou. Hy doen dit in sy gesin deur oor regte dinge te praat en deur ’n liefdevolle besorgdheid oor elke lid te toon en hoedanighede aan die dag te lê wat God teenoor sy gesin toon. Hy heilig God se naam onder sy broers in die Christengemeente deur hulle by elke geleentheid te help en die swakhede van die wat nie so sterk soos hy is nie te dra (Gal. 6:10). Omdat Jehovah se naam oor hom uitgeroep is, weet hy dat wat hy sê en doen die goddelike naam in ’n goeie of slegte lig sal stel.
8. Hoe kan ’n persoon God se naam in die oë van buitestaanders heilig, en watter gesindheid van God moet ons hê?
8 Hoe heilig hy God se naam in die oë van mense aan die buitekant? Deur God na te volg en ander te laat weet waarom hy dit doen. Hy moet hulle dus liefhê net soos God hulle liefhet. God kon die hele mensdom as nikswerd, selfsugtige, walglike sondaars beskou het. Hy kon tereg slegs ’n meerderwaardigheidsgevoel geopenbaar het en op hulle onrein en ontaarde toestand, hulle domheid en hulle dwase gebruike neergesien het. God het egter nie hierdie houding aangeneem nie. Hy het hierdie laakbare dinge gesien. Maar “so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). En Christus het vir ons gesterwe “toe ons nog swak was, . . . toe ons nog sondaars was . . . terwyl ons nog vyande was”.—Rom. 5:6-10.
9. Hoe kan die Christen God se naam heilig wanneer hy met ander praat wat nie in die waarheid is nie?
9 Een van die mees regstreekse maniere om God se naam te heilig is deur vir ander te vertel van God se voorsiening vir die mensdom deur Christus. Wanneer die Christen met hierdie persone praat, moet hy altyd die heiliging van Jehovah se naam in gedagte hou of hulle nou belang stel of nie. Dit beteken dat ons gedrag en spraak sodanig moet wees dat dit, indien moontlik, die persoon aanspoor om ’n vriendeliker standpunt teenoor God te hê. Ons moet in gedagte hou dat die persoon met wie ons praat sake nie in dieselfde lig as ons beskou nie. Hy neem ons hoflikheid en ons vriendelike, behulpsame, opregte gesindheid makliker waar as ons woorde. As hy nie hierdie dinge sien nie, sal hy nie luister na wat ons sê nie.
10. Wat wil ons vermy en wat wil ons beklemtoon wanneer ons met buitestaanders praat?
10 Dit sal gevolglik goed wees as ons ’n positiewe benadering het wanneer ons van huis tot huis gaan. Dit sal die huisbewoner nie help as ons die dinge wat hy glo of doen, veroordeel nie. Ons moet probeer om hom te help om te sien dat wat ons hom in Jehovah se naam aanbied goed is. Dit moet by hom ingang vind as iets beters, of iets wat sal help, nie as iets wat hom veroordeel nie.
11. (a) Moet ons dink dat ons beter as mense buite die gemeente is net omdat ons die waarheid het? (b) Wat sê die apostel Paulus oor die doel van Christus se optrede teenoor hom toe hy so ’n sondaar was?
11 Ons gesindheid teenoor hom, en teenoor alle persone in die wêreld, moet ook die gesindheid wees wat deur die apostel Paulus getoon is. Net omdat hy begunstig was om die waarheid te hê, het hy nie gedink dat hy, as, ’n onvolmaakte mense-skepsel, enigsins beter is as diegene vir wie hy gepreek het nie. Hy het gesê: “Ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie” (Rom. 7:18). Hy het vir sy metgesel Timotheüs gesê: “Ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het, my wat vroeër ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof. En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is. Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ’n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe.”—1 Tim. 1:12-16.
VOOR FAMILIELEDE
12. Watter situasie kan in ’n familie bestaan as een lid een van Jehovah se Getuies word?
12 ’n Groot deur wat vir die meeste van ons oop is om Jehovah se naam te heilig, staan in verband met ons familielede wat nie Jehovah se Getuies is nie. Ons bied dalk die waarheid opreg aan, maar ons betoon miskien nie die nodige bedagsaamheid teenoor ons familielede wat Bybelse aangeleenthede nie soos ons ken of verstaan en aanvaar nie.
13. Watter weg kan ’n vrou byvoorbeeld inslaan wanneer sy voor haar man en familielede tot ’n kennis van die waarheid kom?
13 Byvoorbeeld, ’n vrou kom dalk tot ’n kennis van die waarheid en sien dan dat party van haar eie, haar man en haar familielede se gebruike verkeerd is. Haar man en haar familielede sal haar waarskynlik as ’n dweepsieke beskou as sy probeer om haar idees aan hulle op te lê. Sy kan met alles uitkom en reguit vir hulle sê dat al hierdie gebruike, soos om sekere vakansiedae te hou, verkeerd is, en hulle moontlik hulle ore laat toestop. Wat kan ’n beter manier wees?
14. Wat is die regte gesindheid en optrede van een van Jehovah se Getuies teenoor sy familielede wat nie in die waarheid is nie?
14 Beoefen geduld, bedagsaamheid en empatie! Dink aan die tyd wat jy bestee om vreemdelinge by hulle huise te besoek, die tyd wat jy saam met hulle studeer, hulle sorgvuldig help om ’n goeie fondament te kry voordat jy probeer om hulle sover te kry om hulle weë, hulle omgang, ensovoort, te verander. Waarom dan oorhaastig wees en pogings aanwend om jou beskouing op jou familielede af te dwing? Voordat jy jou omgang met hulle verbreek of hulle hulle aan jou laat onttrek, kan jy gerus die aangeleentheid beskou as een manier om God te dien terwyl jy nog steeds net so vriendelik, liefdevol, behulpsaam en inskiklik soos tevore is. Op hierdie manier sal jy die eienskappe van God toon en sy naam heilig sodat wanneer jy wel ’n geleentheid het om die goeie dinge van God se voorsieninge onder hulle aandag te bring, hulle dalk bereid is om na jou te luister, omdat hulle God se hoedanighede in jou sien.
MOENIE TE VEEL VAN JOUSELF DINK NIE
15, 16. Watter onverstandige ding het Moses in die woestyn Sin gedoen?
15 In die geval van diegene wat nie in die waarheid is nie, moet ons, net soos in die geval van ons Christenbroers, altyd eers dink: Stel ek, in wat ek doen of wat ek op die punt staan om te doen, die heiliging van God eerste? Dit is maklik om ongeduldig en vererg te raak of om ’n bietjie eiegeregtig te raak en te vergeet om geheel en al op Jehovah te vertrou. Dit is onverstandig. Moses het een maal hierdie baie slegte fout begaan. Die Israeliete was baie opstandig en lastig vir Moses. In die woestyn Sin het hulle met Moses begin twis omdat daar nie water was nie. Jehovah het toe vir Moses gesê om die rots aan te spreek om water te gee. Maar Moses het vir die volk gesê: “Hoor tog, julle wederstrewiges, moet ons vir julle water uit hierdie rots laat vloei?” In plaas daarvan om met die rots te praat, het hy dit twee maal geslaan nadat hy aldus die aandag op homself gevestig het en die volk “wederstrewiges” genoem het, en daar het water uitgekom.—Num. 20:1, 2, 7-11.
16 Moses het daarin geslaag om water vir die volk te kry. Maar wat het Jehovah gesê?—“Omdat julle in My nie geglo het om My voor die oë van die kinders van Israel te heilig nie, daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.”—Num. 20:12.
WORD ’N DEELGENOOT VAN DIE GOEIE NUUS
17. (a) Is ons as Jehovah se Getuies enigiets aan mense aan die buitekant verskuldig? (b) Ontleed wat die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 9:19-27 gesê het en pas die beginsel op Jehovah se Getuies toe.
17 Deur ons met ’n kennis van die waarheid te begunstig het God ons inderdaad onder verpligting teenoor mense buite sowel as teenoor ons broers geplaas. Die apostel Paulus het die saak soos volg aan Christene in Rome gestel: “Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke [uitlanders], teenoor wyse sowel as onverstandige [ongeleerde] mense is ek ’n skuldenaar. Vandaar die verlange van my kant om ook aan julle wat in Rome is, die evangelie te verkondig” (Rom. 1:14, 15). Paulus het ook gesê: “Want alhoewel ek van almal vry was, het ek my aan almal diensbaar gemaak om soveel van hulle as moontlik te win. Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. Vir die wat sonder wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win; vir die swakkes het ek soos ’n swakke geword om die swakkes te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. En ek doen dit ter wille van die evangelie, sodat ek ’n deelgenoot daarvan kan word.” Paulus wou nie verwerp word en die seëninge van die “evangelie” verloor nadat hy vir ander gepreek het nie.—1 Kor. 9:19-27.
18. Hoe kan ons in ooreenstemming met ons gebed om ‘God se naam geheilig te laat word’, handel?
18 Wanneer ons dus bid: “Vader . . . laat u Naam geheilig word”, vra ons God om ons te help om alle ander dinge opsy te skuif sodat wat ons doen altyd sy naam sal verheerlik en meebring dat dit as heilig beskou word. Ons sal dan in ooreenstemming met ons gebed handel deur te probeer om nie iets voor ander te plaas wat hulle laat struikel in hulle soeke na die waarheid nie. Ons sal sorg dat ons meer liefdevol en minder krities is. Ons sal altyd in gedagte hou dat ons doel nie is om te oordeel nie, maar om saam met ander ‘’n deelgenoot van die evangelie en die seëninge daarvan te word’.
[Prent op bladsy 18]
Omdat hy versuim het om Jehovah se naam te heilig het Moses ’n groot guns verloor