“Dienaars van onse God” en hulle helpers vandag
1. Wat is die grootste openbare diens wat vandag aan die mensdom gelewer word, en wat word diegene wat daaraan deelneem profeties genoem?
GOD SE geestelike herstellings- en rehabilitasiewerk is die grootste openbare diens wat vandag aan die mensdom gelewer word. Diegene wat hy as sy openbare dienaars in hierdie werk gebruik, is nie politici nie, maar diegene aan wie profeties die benaming “dienaars van onse God” gegee is (Jes. 61:6). Hulle Leier en Voorbeeld was die vernaamste Openbare Dienaar van Jehovah God. Hy was Jesus Christus, wat, toe hy negentien eeue gelede op aarde was, ’n verbasende rehabilitasiewerk in belang van die hulpbehoewende mensdom gedoen het.
2. Waarom het Jesus en sy apostels nie deelgeneem aan ’n omgewingsrehabilitasie van die land Palestina nie?
2 Die openbare bediening van Jesus Christus en sy apostels het nie destyds die omgewingsherstelling van die land Palestina, waar hulle die goeie nuus van God se koninkryk verkondig het, teweeggebring nie. Dit sou tevergeefs gewees het om hulle vir so iets te beywer, daar die gesalfde Jesus sy apostels geleer het dat “die dag van wraak aan die kant van onse God” oor die Jode sou kom. Dit het ook, in 70-73 G.J. deur middel van die Romeinse leërs, en die provinsie Judea is in ’n verwoeste toestand gelaat. Die fort Masada aan die Dooie See was die laaste Judese vesting wat deur die Romeine ingeneem is. Maar wat van die geestelike rehabilitasiewerk wat deur Jesus aangevoor en deur sy apostels voortgesit is? Dit het steeds vooruitgegaan dwarsdeur daardie beproewende tydperk en daarna, totdat die voorspelde “afval” of opstand ná die dood van die apostels ingetree het.—2 Thess. 2:3.
3. Wie, is volgens Jesaja 61:1-4 die simboliese “groot bome van geregtigheid” en watter werk word aan hulle opgedra?
3 In die profesie van Jesaja, hoofstuk 61, is die geestelike rehabilitasiewerk met die rehabilitasie van ’n langverlate land en sy verwoeste stede vergelyk. Nadat daar beskryf is hoe die Soewereine Heer Jehovah “verheerlik” sou word deur “groot bome van geregtigheid” in ’n geestelike paradys te laat groei, gaan Jesaja se profesie soos volg voort: “En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag” (Jes. 61:4). Die herbouers wat hier gemeld word, is diegene na wie daar in die drie voorafgaande verse verwys word wat vertroosting en godsdienstige vryheid ontvang en wat in die guns en “welwillendheid” van Jehovah herstel word. Aan hulle word die herstellingswerk opgedra.
4. Het Jesus die vervulling van Jesaja 61:4 op die provinsie Judea ná die Babiloniese gevangenskap toegepas, en oor hoe ’n lang tydperk strek die profesie se vervulling?
4 Die provinsie Judea en Jerusalem, waar Jesus Christus en sy apostels die koninkryk van God ywerig verkondig het, is lank tevore, na hulle vrylating uit Babiloniese gevangenskap in 537 v.G.J. en hulle terugkeer na hul vaderland, reeds deur die getroue Joodse oorblyfsel gerehabiliteer. Maar het die gesalfde Jesus die profesie van Jesaja 61:4 op daardie prestasie van die verlede in die letterlike land Juda toegepas? Nee! Toe hy die eerste twee verse van Jesaja hoofstuk 61 in die sinagoge van Nasaret aangehaal het, het hy daarop gewys dat die vervulling van daardie hoofstuk by hom begin, in sy dag. Hy het getoon dat dit ’n geestelike betekenis het en het dit nie op ’n herstelling van die natuurlike, fisiese omgewingstoestande van die volk toegepas nie. Die vervulling van die profesie strek dus tot in ons twintigste eeu, tot in ons dag.
5. Waarom was daar na die Eerste Wêreldoorlog ’n behoefte aan ’n geestelike herstellingswerk onder Jehovah se volk, en wanneer het dit begin?
5 Die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 het ’n verwoestende uitwerking op die gesalfde oorblyfsel van Jehovah se toegewyde, gedoopte knegte gehad. Hulle aardse organisasie is in talle opsigte feitlik lamgelê. Toe daardie eerste totale oorlog geëindig het, het ’n aantal gesalfde Christene wat die leiding in die diens en aanbidding van Jehovah God geneem het hulself nog steeds in die gevangenis bevind waar hulle besig was om lang vonnisse uit te dien. Maar in 1919 het daar vrylating gekom, nie net van letterlike gevangenskap nie, maar, nog belangriker, van Babilon die Grote (met inbegrip van die afvallige Christendom). Daar is sonder versuim met herstellingswerk van ’n geestelike aard begin.
6. Van watter feit het die byeenkoms in 1919 te Cedar Point die wêreld in kennis gestel, en wat het Jehovah toe vir sy gesalfde oorblyfsel geskep?
6 Die eerste byeenkoms van die Internasionale Bybelstudentevereniging in 1919 te Cedar Point, Ohio, was van betekenis. Dit het die wêreld in kennis gestel van die feit dat die oorblyfsel ware Christene wat met die gees van die Soewereine Heer Jehovah gesalf is, weer lewendig was, asof hulle uit die dood opgestaan het. Hulle is in sy guns herstel en was weer eens openlik bedrywig in die ‘verkondiging van hierdie evangelie van die Koninkryk tot ’n getuienis vir al die nasies’, soos in Mattheüs 24:14 voorspel is. Die uitwerking van daardie baanbrekerswerk op die gebied van geestelike rehabilitasie is selfs vandag nog aardwyd te sien. Jehovah God het ’n geestelike paradys vir sy geesgesalfde oorblyfsel geskep, tot sy eie lof.
Wie benoem die “dienaars van onse God”?
7. Hoeveel aandag sou die geestelike rehabilitasie van die gesalfde oorblyfsel volgens Jesaja 61:5-7 wek?
7 Vreemd soos dit miskien sal klink, sou die geestelike rehabilitasie van Jehovah se geestelike oorblyfsel internasionale aandag trek. Jesaja se profesie het dit voorspel. Nadat ons Jesaja 61:4 bespreek het, lees ons verder: “Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees. Maar júlle sal priesters van [Jehovah] genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle heerlikheid [rykdom] julle beroem. In plaas van julle skande ontvang julle ’n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel [hul lot]. Daarom sal hulle in hul land ’n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet.”—Jes. 61:5-7, vgl. NW, RS.
8. Wanneer en hoe het die voorspelde teenspoed gekom, en wie het dit aangestig?
8 Laat ons die volgende feit nie oor die hoof sien nie: Diegene op wie hierdie bemoedigende profesie vervul word, moet eers oneer en vernedering verduur; hulle “deel” sal hulle ontsê word. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah se gesalfde oorblyfsel wel sulke onaangename, ongeregverdigde dinge deurgemaak, selfs uit die hand van die oorlogsugtige Christendom. Ja, die geestelikes van die valse Christendom hou tot vandag toe vol om oneer en vermeerdering oor die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israeliete te bring.
9. Waar sou die gesalfde oorblyfsel nie langer oneer en vermeerdering verduur en ’n gebrek aan voorsienings ly nie, en hoe het hulle daar gekom?
9 Daardie geestelike Israeliete is egter nie meer gevangenes en godsdiensslawe in die land van Babilon die Grote nie. In die noordelike lente van 1919, toe die Babiloniese geestelikes van die Christendom nie meer oorlogvoerende nasies gehad het om as handlangers te gebruik nie, het Jehovah sy getroue gesalfde oorblyfsel vrygestel. Hy het hulle herstel in wat Jesaja se profesie “hul land” noem. In daardie Godgegewe land sou hulle nie meer oneer en vernedering hoef te verduur en ’n gebrek aan geestelike voorsienings hoef te ly nie. Dit sou ’n geestelike paradys wees, waarin hulle ’n “dubbele deel” sou hê.
10. Wat is vir die gesalfde oorblyfsel van belang wat betref die benamings wat hulle enersyds van godsdiensteenstanders en andersyds van Jehovah ontvang?
10 Die geestelikes van die afvallige Christendom en haar wêreldlike minnaars het natuurlik nog steeds hulle eie benaming vir die herstelde oorblyfsel as ’n bestaande godsdiensliggaam. Maar wat het Jesaja se profesie gesê sou die herstelde gesalfde oorblyfsel genoem word? Die woorde in Jesaja 61:6 is aan die herstelde oorblyfsel gerig en lui: “Maar júlle sal priesters van [Jehovah] genoem word; en aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet.” Wat Jehovah sy gesalfde oorblyfsel noem, is wat vir hulle van belang is, nie wat godsdiensteenstanders hulle noem nie.
11. Wie was in eertydse Israel by die priesterdom ingesluit, maar aan wie is die profesie oor priesters in Jesaja 61:6 gerig?
11 Die profesie van Jesaja 61:6 kon nooit in die nasie van die profeet Jesaja en van Jesus Christus vervul word nie. Waarom nie? Omdat alleenlik die bevoegde manlike lede uit die geslag van Aaron, die broer van Moses, as priesters gesalf is. Die res van die stam van Levi het by die tempel gedien as helpers van die Aäronitiese priesters. Die ander twaalf stamme van Israel het hulle slagoffers en brandoffers vir die Aäronitiese priesters gebring en is ook deur die tempel-Leviete bygestaan. Het daardie twaalf stamme gedink dat hulle die slagoffers van diskriminasie was omdat hulle die priesterdom en Levitiese dienste belet is? Nee! Hulle het hulle onderwerp aan diegene wat deur die Soewereine Heer Jehovah benoem is. Onder die Mosaïese wet kon Israel dus nooit ’n priestervolk, ’n volk wat geheel en al uit priesters bestaan, word nie. In die geval van Christus se gesalfde dissipels word daar egter aan die hele Christelike Israel, wat deur hulle uitgemaak word, gesê: “Júlle sal priesters van [Jehovah] genoem word.”
12. Hoeveel is priesters in geestelike Israel, en wie is die Hoëpriester?
12 Al die lede van hierdie geestelike Israel is “priesters” uit hoofde van die feit dat Jehovah hulle benoem het. Jesus Christus, hulle Pionier, is Jehovah se Hoëpriester onder wie die volk van “priesters” God dien.
13. Hoe het die apostels Petrus en Johannes bevestig dat hierdie reëling van Jehovah op die gesalfde dissipels van die Hoëpriester Jesus Christus van toepassing is?
13 Die profeet Jesaja is geïnspireer om hierdie feit te voorspel. Later het die geïnspireerde apostels van Jesus Christus bevestig dat hierdie reëling van die Soewereine Heer Jehovah op die gesalfde dissipels van die hemelse Hoëpriester Jesus Christus van toepassing is. Aan sulke dissipels skryf die apostel Petrus: “Laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:5, 9). Verder het die apostel Johannes aan die geliefdes van Jesus Christus geskryf: “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!”—Openb. 1:5, 6.
14. Hoe word hierdie feit in Openbaring 5:9, 10 herhaal?
14 Later berig Johannes die toejuiging waarmee die Lam van God, Jesus Christus, in die hemel begroet is, en wat met die priesterdom verband hou, met die volgende woorde: “U . . . het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak.”—Openb. 5:9, 10.
15. Wat sê die 1977-uitgawe van “The Encyclopedia Americana” oor die “Priesterdom bestaande uit alle gelowiges” soos deur hervormers geleer is?
15 Gedurende die Middeleeue het die Protestantse Hervormers hierdie woorde op hulle godsdiensgemeentes toegepas. Op bladsy 681 van Deel 22 van “The Encyclopedia Americana” (kopiereg 1977) lees ons die volgende onder die tussenhofie priesterdom bestaande uit alle gelowiges”:
“’n Vername leerstelling van die Hervorming was die priesterdom bestaande uit alle gelowiges. Daar hulle geglo het dat redding ’n vry genadegawe van God was wat in geloof aanvaar word, het die Hervormers aangevoer dat geen professionele geestelikes nodig is om redding deur prediking en die sakramente te bemiddel nie. Enige gelowige kan soos ’n priester optree, die goeie nuus van redding verkondig, en die hoorder kan in geloof gehoor gee. Aangesien goeie werke diens aan ’n mens se naaste behels, word enige werk wat die gemeenskap tot voordeel strek boonop as ’n Christelike roeping beskou. Die sogenaamde ‘Protestantse werketiek’ het voortgespruit uit die beskouing dat daaglikse werk die vernaamste gebied is waarin God gedien moet word.”
16. Wat het Martin Luther in sy boek aan “die Christelike Adel van die Duitse Volk” oor die universele priesterdom gesê?
16 In Deel 17 van “The Encyclopedia Americana” (kopiereg 1927, 1929) lees ons bo-aan bladsy 753 onder “Luther”:
“Twee belangrike boeke het nou uit Luther se pen verskyn en sy gesindheid omskryf: ‘Aan die Christelike Adel van die Duitse Volk’ en die ‘Babiloniese gevangenskap’. In die eerste verkondig hy die universele priesterdom en spreek hy hom uit teen enige spesiaal ingestelde priesterorde. Hy betwis ook die reg van die Pous om die Bybel te vertolk, iets wat hy sê die reg van almal is.”
In sy boek ‘aan die Adel’ het Martin Luther byvoorbeeld geskryf: “Ons word almal ingeseën om priesters te wees wanneer ons gedoop word. . . . Die feit dat die Pous of die biskop ’n persoon salf, tonsureer, orden, inseën en aantrek om hom van die lekedom te onderskei, maak heel moontlik van hom ’n huigelaar of ’n gek, maar dit sal nooit van hom ’n Christen of ’n geestelike mens maak nie.”
17. Waarom het die eerste-eeuse Christene nie vir hulleself die titel priester toegeëien nie, en wat van Jesus Christus toe hy op aarde was?
17 Soos die oorspronklike Christene van apostoliese tye eien die lede van die hedendaagse gesalfde oorblyfsel nie vir hulle die titel priester toe nie. Waarom sou hulle? Is hulle nie almal lede van die een geestelike priesterdom en as sodanig nie van mekaar te onderskei nie? Ja! Die geïnspireerde Christelike Griekse Skrifte toon dat die Hoëpriesterdom van Jesus Christus die hoofsaak is waaraan die geesgesalfde gemeente aandag moet skenk (Hebr. 3:1-6). Nie eens Jesus Christus het na homself as ’n priester verwys toe hy op die aarde was nie, al het hy destyds as die teenbeeld van Israel se eerste hoëpriester, Aaron, die broer van Moses, gedien.
18. (a) Word priesters deur mense georden, net soos ouere manne, opsieners en bedieningsknegte deur mense aangestel word? (b) Waar in Jehovah se geestelike tempel is die gesalfde oorblyfsel vandag, en wat doen hulle daar?
18 Die apostels, soos Paulus en Barnabas, het weliswaar bevoegde manne as ouere manne of opsieners en bedieningsknegte in die Christengemeentes aangestel, maar hulle het nooit “priesters” aangestel of georden nie (Hand. 14:23; Filip. 1:1). Jehovah is die een wat sy priesters deur Jesus Christus aanstel of orden. Ondanks die feit dat hulle nie vir hulle titels toeëien nie, bevind die gesalfde oorblyfsel van vandag hulle in wat deur die “voorhof van die priesters” in die tempel te Jerusalem voorafgeskadu is. In so ’n figuurlike voorhof in die geestelike tempel van Jehovah bring hulle aan hom “geestelike offers” deur Jesus Christus die Hoëpriester.—1 Pet. 2:5.
19. (a) Wat sê Jesaja 61:6 is die lede van geestelike Israel nog? (b) Beteken die Hebreeuse woord wat daar gebruik word meer as om bloot ’n “kneg” te wees?
19 As ons nou na Jesaja 61:6 teruggaan, merk ons dat dit ook die volgende aan die gesalfde lede van geestelike Israel sê: “Aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God!” In die Hebreeuse teks is die woord wat hier “dienaars” vertaal word m’sharethʹ (in die meervoud), nie ‘obed, wat “kneg” beteken, soos in Jesaja 65:13 nie. Die Hebreeuse woord m’shareth’ en ander vorme van die werkwoord sharathʹ word dikwels met betrekking tot die priesters van Israel gebruik. Joël 2:17 gebruik die uitdrukking “die priesters, die dienaars van die HERE” (EX. 28:35, 43). In die eerste vertaling van die Hebreeuse Skrifte in ’n vreemde taal het die Griekse vertalers die verskil tussen die twee Hebreeuse woorde ‘obed en m’sharethʹ erken, en in hulle vertaling van Jesaja 61:6 in die Griekse “Septuaginta”-vertaling het hulle dus die Griekse woord leitourgos’ vir m’sharethʹ gebruik.
20. (a) Wat is die basiese betekenis van die Griekse woord leitourgos’? (b) Hoe word dit in die Christelike Griekse Skrifte met verwysing na mense en engele gebruik?
20 Die woord leitourgosʹ beteken basies “’n openbare werker”, dit wil sê, ’n openbare amptenaar of dienaar, soos ’n magistraat (Rom. 13:6, vgl. NW). Dit kan na iemand in ’n gewyde amp verwys, soos toe die apostel Paulus van homself gepraat het as “’n [openbarea] dienaar van Jesus Christus onder die heidene . . . ’n dienaar van die evangelie van God” (Rom. 15:16). Jesus Christus, as God se Hoëpriester, word ’n “[openbare] bedienaar van die heilige dinge en van die ware tabernakel” genoem (Hebr. 8:1, 2). In die geval van ’n openbare figuur soos koning Dawid se vorstelike seun Amnon sou sy persoonlike lyfbediende as ’n openbare dienaar beskou word (2 Sam. 13:18). Hemelse engele word as openbare dienaars beskou, want die apostel Paulus haal Psalm 104:4 soos volg aan: “En van die engele sê Hy [God] wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy [openbare] dienaars vuurvlamme” (Hebr. 1:7). In Hebreërs 1:14 praat Paulus ook van die engele as “dienende geeste wat vir [openbare] diens uitgestuur word”.
21. Wat word God se leërskare in Psalm 103:21 genoem?
21 Die woorde in Psalm 103:21 word aan Jehovah se hemelse “leërskare” gerig, en daar word hulle “sy dienaars” genoem. Alles in ag genome, verwys die woord “dienaars” soos ons dit in Jesaja 61:6 aantref na meer as om net ’n kneg te wees of om heilige diens te verrig.
22. (a) Wie se openbare diens is oortref deur dié wat Jesus Christus aan God gelewer het? (b) Hoe verwys Paulus in Filippense 2:17 na die Christelike bedrywigheid aldaar?
22 Hebreërs 10:11 sê dat elke priester van eertydse Israel “dag vir dag [gestaan het] om die [openbare] diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring”. (Kyk ook Lukas 1:23.) Van God se Seun, wat hoër as engele is, sê Hebreërs 8:6: “Nou het Hy ’n voortrefliker [openbare] bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond.” In die gemeente in Antiochië, Sirië, het sekere Christenprofete en -leraars, met inbegrip van Paulus en Barnabas, ‘Jehovah in die openbaar gedien’ (Hand. 13:1, 2, NW). Paulus, wat die gemeente in Filippi, Macedonië, gestig het, verwys na hulle spesiale bediening en sê: “Al word ek as ’n drankoffer uitgegiet oor die offer en [openbare] bediening van julle geloof, verbly ek my” (Filip. 2:17). Al daardie gesalfde Christene het dus as God se openbare dienaars opgetree.—Jes. 61:6.
23. Hoe het “Zion’s Watch Tower” in sy uitgawe van Junie 1882 die aandag gevestig op die openbare diens wat deur lede van die geestelike liggaam van Christus gelewer word?
23 Die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israeliete lewer eweneens vandag ‘openbare diens’ aan God as die “getroue en verstandige dienskneg”-klas (Matt. 24:45-47). “Zion’s Watch Tower” het vroeg reeds, in sy maandelikse uitgawe van Junie 1882, bladsy 7, paragraaf 5; in ’n artikel met die titel “Menseonderrigters nodig”, die aandag op so ’n klas openbare dienaars van God gevestig. Daarin het die uitgewers gesê: “ . . . En hoewel ons glo dat elke geordende lid van die liggaam van Christus in die een of ander opsig ’n DIENAAR is, en dat almal ‘gesalf is om die blye tyding te verkondig’, is daar tog verskeie lede wat vir verskillende dele van die werk aangelê is, net soos daar verskillende lede en werkinge in die menslike liggaam is, wat Skriftuurlik gebruik word om die liggaam van Christus—die Kerk—te illustreer.” Die hele gesalfde oorblyfsel van die geestelike liggaam van Christus word dus tereg “dienaars van onse God” genoem en as sodanig beskou.—Jes. 61:6.
Die wêreld neem van hulle kennis
24, 25. Hoe kan die “dienaars van onse God” beroof en onregverdig behandel word, maar wie beloof om sake op sy bestemde tyd reg te stel?
24 “Dienaars van onse God” moet hulle verantwoordelikhede nakom en hulle gedra op ’n wyse wat hulle posisie voor God eer. Mense oor die algemeen sal hulle miskien verkeerd verstaan, hulle as onregverdig beskou en dink dat hulle verkeerd handel. Hulle kan van hulle goeie naam beroof word of hulle kan regmatige erkenning en verdiende konsiderasie ontsê word (2 Kor. 6:8-10). Maar die Opperste Regter, wat almal oordeel, sal sake regstel op die presiese tydstip dat dit sy doel pas. Hy glo aan die reg. In Jesaja 61:8, 9 sê hy aan diegene wat sleg behandel word:
25 “Want Ek, [Jehovah], het die reg lief; Ek haat die roof met onreg, en Ek sal hulle getrou hul loon gee en ’n ewige verbond met hulle sluit. En hulle nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle ’n geslag is wat [Jehovah] geseën het.”—Vgl. NW.
26. Hoe het die oorblyfsel van geestelike Israel onder nasies en volke bekend geword, en hoe het laasgenoemdes die ‘geslag wat Jehovah geseën het’, erken?
26 Om “bekend” te word, moes die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israel onder nasies en volke uitkom. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog, ja, ook gedurende die Tweede Wêreldoorlog, was hulle die slagoffers van internasionale “roof”. Omdat hulle deur hulle godsdiensvyande en dié se ondersteuners vals beskuldig en verkeerd voorgestel is, het hulle kwaai vervolging verduur. Hulle is die “loon” ontneem wat hulle inderdaad verdien het weens hulle inspanning en bedrywighede in Jehovah se openbare diens. Deur hulle sy getuies en verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk te maak, het Jehovah getoon wie hy self goedgekeur het (Matt. 24:14; Jes. 43:10, 12). Deur sy heilige gees het hy hulle die krag gegee om vir die hele wêreld te getuig. So het die nasies die ‘geslag wat Jehovah geseën het’, leer ken.—Jes. 61:9.
27. Wie onder die volke en nasies het wel die verskuldigde erkenning aan die oorblyfsel se posisie verleen, en waar en saam met wie wou hulle woon en God dien?
27 Volke en nasies as sodanig het nie aan Jehovah se gesalfde oorblyfsel die verskuldigde erkenning gegee nie. Maar indiwidue het wel. Liefhebbers van die reg, geregtigheid en waarheid het na vore gekom. Veral sedert die noordelike lente van 1935 het hierdie persone hulle aan die kant van die gesalfde oorblyfsel geskaar omdat hulle die “dienaars van onse God” is. Hierdie mense wat nie geestelike Israeliete is nie, ‘die geslag wat Jehovah geseën het’, het sedertdien ’n “groot menigte” geword. By die byeenkoms van Jehovah se Getuies wat in 1935 in Washington, D.C., gehou is, is die byeenkomsgangers meegedeel dat hierdie ongetelde “menigte”, bestaande uit persone wat nie geestelike Israeliete is nie, ooreenstem met die profetiese prentjie wat in Openbaring 7:9-17 geskilder word. Omdat hulle nie geestelike Israeliete is nie, was hulle vir die gesalfde oorblyfsel “vreemdelinge” en “uitlanders” (Jes. 61:5). Hulle het gesien dat die oorblyfsel in ’n geestelike paradys woon, een wat deur “groot bome van geregtigheid” gekenmerk word, en dat hulle stede in die vorm van gemeentes het. Hulle wou ook in so ’n geestelike paradys wees om God daar te dien.—Kyk “U Kan Armageddon Oorlewe in God se Nuwe Wêreld in”, ble. 297-299, pare. 14-16; bl. 369, nr. 30.
28. Deur watter handelwyse van die “groot menigte” sien die gesalfde oorblyfsel hoe die woorde van Jesaja 61:5 op hulle vervul word?
28 Met die volle besef van die implikasie van hulle besluit en handelwyse het hulle die besoedelde, verrottende wêreldorganisasie verlaat. Hulle het hulle met Jehovah se sigbare organisasie vereenselwig. Hulle kon hom natuurlik nie as geestelike Israeliete dien nie, maar hulle het werklik ’n begeerte gehad om die gesalfde oorblyfsel met die verkondiging van die goeie nuus van Jehovah se koninkryk deur Christus te help. Hulle het hul dus laat doop as toegewyde navolgers van Jesus Christus. Hulle het saam met die geestelike Israeliete aktiewe diens begin verrig. Die gesalfde oorblyfsel is gevolglik verheug om te sien hoe die woorde van Jesaja 61:5 op hulle vervul word: “Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees.”
29. Wat doen die nederige “groot menigte” met graagte ten behoewe van die “dienaars van onse God”, en wat is die gevolg daarvan?
29 Die “groot menigte” ag dit nederig ’n eer en ’n voorreg om saam met diegene wat Jesaja 61:6 “priesters van Jehovah” en “dienaars van onse God” noem in die geestelike paradys te dien. Hulle besef dat die gesalfde Christene wat deur Jehovah God aldus benoem is, hulle in sy geestelike tempel op geestelike sake moet toelê. Hulle is dus bly dat hulle deur hulp en samewerking die gesalfde oorblyfsel se las ligter kan maak sodat hulle hulle op die belangriker geestelike sake kan toelê. Dit alles help om die geestelike paradys te verfraai en vrugbaar te maak, tot God se verheerliking.
30. Watter dienste verrig hierdie “vreemdelinge” en “uitlanders” volgens die profesie in Jesaja 61:5, maar hoe verwys Openbaring 7:14, 15 na hulle diens?
30 Die teenbeeldige “vreemdelinge” en “uitlanders” van vandag staan die oorblyfsel by sodat hulle uitvoering kan gee aan die pligte wat op hulle kom omdat hulle met Jehovah se gees gesalf is. In Jesaja 61:5 word die werk van die helpers afgebeeld as vee-oppassery, landbouery of ploegwerk en wynboerdery. Maar in die Openbaringgesig van die uitlanders uit alle nasies en stamme en volke en tale word daar van hulle gesê: “Hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel.”—Openb. 7:14, 15.
31. Wat is die “groot menigte” vir die God wat op die troon sit, ongeag hoe die wêreld hulle beskou?
31 Persone wat die “groot menigte” uitmaak, word dus voorafgeskadu as persone wat vir die Soewereine Heer van die heelal wat op die troon sit heilige diens verrig. Hulle is Sy dienaars, ongeag hoe die wêreld hulle beskou!
32. Hoe sal Jesaja 61:5, 6 gedurende die millennium op ’n letterliker wyse met betrekking tot die oorblyfsel en die “groot menigte” vervul word?
32 Daardie “groot menigte” bestaande uit “vreemdelinge” en “uitlanders” sal die komende “groot verdrukking” oorlewe. Hoe pragtig beskryf Jesaja 61:5 tog wat hulle daarna, gedurende die duisendjarige bewind van Christus, sal doen! Gedurende daardie tyd sal die “priesters van Jehovah” wat die “dienaars van onse God” is saam met die Hoëpriester Jesus Christus in die hemele verhef word. Daar bo sal hulle meer as ooit tevore met priesterlike diens ten behoewe van die hele mensdom besig hou (Openb. 20:6). Maar die “groot menigte” sal hier op die gereinigde aarde agtergelaat word, ’n aarde wat in ’n letterlike paradys omskep sal word. Wie sal dan die pioniers wees in die werk om God se aardse voetbank te herstel en te verfraai? Niemand anders nie as die “groot menigte” oorlewendes van die verdrukking wat saam met die gesalfde oorblyfsel in die geestelike paradys gebly het.
33. Hoe sal die “groot menigte” dan in menslike behoeftes voorsien en hulle aptyte bevredig, en vir wie sal hulle pioniers in Jehovah se diens en aanbidding wees?
33 Sal daar dan klere wees om te maak? Die wol van die kuddes wát die “groot menigte” sal oppas, sal oorvloedig wees vir hierdie doel. Is brood en ander produkte van die land nodig? Die “landbouers” sal sorg dat gesonde aptyte bevredig word. Die wynbouers sal die beste wyne kan voorsien om die mense se harte bly te maak. Die vordering wat die “groot menigte” gemaak het om die paradys op aarde te herstel, sal ’n blye gesig wees vir almal wat uit die dood opstaan en sal toon watter liefdevolle voorbereiding daar getref is vir al sodaniges wat deur die Hoëpriester verlos is. Ten spyte van dit alles sal die “groot menigte” nie hulle gereelde heilige diens aan Jehovah God deur Jesus Christus in die aardse voorhof van God se geestelike tempel verwaarloos nie. Hierin sal hulle die leiding gee en vir almal wat uit die dood opstaan ’n uitmuntende voorbeeld stel.—Luk. 23:43, NW.
[Voetnoot]
a Vergelyk die “New World Translation of the Holy Scriptures” waar daar dikwels na “openbare dienaars” verwys word.
[Prent op bladsy 15]
Die hedendaagse “dienaars van onse God” is besig met ’n geestelike rehabilitasiewerk wat deur die profeet Jesaja voorspel is en deur Jesus aangevoer is. Die gees van die Soewereine Heer Jehovah gee hulle die krag om die goeie nuus van die Koninkryk aan al die sagmoediges van die aarde te verkondig.