Rede om bly te wees en in God te juig
1. Waarom ken die blydskap van die oorblyfsel van geestelike Israeliete vandag geen perke nie, ter vervulling van Jesaja 61:10?
DIT verskaf aan ’n persoon onuitspreeklike vreugde wanneer hy uit gevangenskap in Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, vrygestel word. Hy het rede om te juig omdat hy in die guns en welwillendheid van die God van ware godsdiens herstel is. Wanneer die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israeliete vandag nadink oor hoe Hy hulle verlos en herstel het, ken hulle blydskap geen perke nie. Die geïnspireerde profeet Jesaja lê die woorde in hulle mond wanneer hy sê: “Ek is baie bly in [Jehovah], my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel—soos ’n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ’n bruid wat haar versier met haar juwele.”—Jes. 61:10, vgl. NW.
2. Dra die gesalfde oorblyfsel nog steeds die “klere van heil”, en waarom sal hulle nooit uit die geestelike paradys verban word nie?
2 Sedert die naoorlogse jaar 1919 het Jehovah vir die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israeliete “heil” of verlossing bewerkstellig deur hulle van Babilon die Grote en haar wêreldlike minnaars vry te maak. Ten spyte van al die godsdiensvervolging wat hulle sedertdien moes verduur, is die gesalfde oorblyfsel steeds “met die klere van heil” beklee. Die oorblyfsel is vasbeslote om hierdie identifiserende klere aan te hou dra totdat Babilon die Grote en haar onsedelike minnaars in die komende “groot verdrukking” vernietig word. Omdat hulle dit doen, sal hulle nooit uit die geestelike paradys waarin Jehovah hulle sedert 1919 gebring het, gedryf en verban word nie.
3. Waarom het die behoefte ontstaan dat die gesalfde oorblyfsel in ’n “mantel van geregtigheid” gewikkel word?
3 ’n “Mantel van geregtigheid” word bygevoeg by “die klere van heil” waarmee Jehovah sy herstelde oorblyfsel uitgedos het. In die oë van die wêreld, en veral as gevolg van wanvoorstelling deur die valse Christendom se geestelikes, het die oorblyfsel van geestelike Israeliete op godsdiensgebied onregverdig voorgekom. Hulle is as ketters, valse profete, valse Christusse, bedrieërs en kinders van die Duiwel gebrandmerk. Die feit dat hulle die skyf van wêreldwye vervolging gemaak is, het sulke aanklagte teen hulle oënskynlik bevestig, veral in die valse Christendom. Maar hoe het Jehovah hulle beskou?
4. Hoe het Jehovah getoon dat hy die berouvolle oorblyfsel wat na nom gesoek het as regverdig beskou, en hulle so in die gelyk gestel?
4 Die groot Regter wat almal oordeel, het hulle nie veroordeel en met tronkklere beklee en hulle aldus uit sy organisasie verban nie. Omdat hulle hom gesoek en sy Woord bestudeer het, het hy die berouvolle oorblyfsel in sy guns teruggeneem. Hy het aan hulle die eervolle voorreg gegee om sy Getuies, sy ambassadeurs, te wees en om “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld” te verkondig en sodoende ’n internasionale getuienis te lewer voordat hierdie goddelose stelsel van dinge aan sy einde kom. Hy het sy naam, Jehovah, oor hulle laat uitroep (Matt. 24:14; Jes. 43:10). Daarna het hy hulle op ’n kragtige wyse gebruik om sy naam en voornemens tot in die uithoeke van die aarde bekend te maak. Vir die oorblyfsel het dit regverdiging beteken!
5. Watter verandering van uitrusting het die oorblyfsel dus figuurlik gesproke gehad, en met die blydskap by watter geleentheid word hulle blydskap vergelyk?
5 Die oorblyfsel is hierdeur in die gelyk gestel, voor die hele wêreld regverdig verklaar. Figuurlik gesproke is hulle hierdeur in “die mantel van geregtigheid” gewikkel. Sodoende is hulle uitrusting verander, van vuil tot sierlike klere (Jes. 52:1, 2). Hulle blydskap hieroor is vroeg reeds gepubliseer in die hoofartikel van ses bladsye met die titel “Die gewaad van geregtigheid” (gegrond op Jesaja 61:10, “Authorized Version”) in die “Watch Tower” van 1 Februarie 1925. Hulle blydskap was soos dié van ’n bruidegom en sy bruid op hulle huweliksdag!
6. Hoe blywend was hierdie vreugde van die geregverdigde oorblyfsel, en wie verheug hulle saam met hulle, en hoe gee hulle prakties daaraan uiting?
6 Wat vreugde betref, was die vroeëre woorde in Jesaja se profesie inderdaad waar: “[Hulle sal] ewige vreugde geniet” (Jes. 61:7). Vandag, 43 jaar na 1935 G.J., verheug die verloste en geregverdigde oorblyfsel hulle inderdaad nog steeds. Maar wat meer is, die “groot menigte”, hulle helpers, is saam met hulle vreugdevol. Hulle het die Bybel se standpunt aanvaar en beskou ook nou die gesalfde oorblyfsel as die “priesters van Jehovah” en die “dienaars van onse God”. Hulle besef dat daardie gesalfde klas “met die klere van heil” beklee en “in die mantel van geregtigheid” gewikkel is. Hulle gee uiting aan hulle eie blydskap hieroor deur Jehovah God saam met hierdie goedgekeurde oorblyfsel van priesterlike, openbare dienaars te dien. Al word die “groot menigte” as “vreemdelinge” en “uitlanders” geklassifiseer en met herders, landbouers en wynboere vergelyk, het hulle ontsaglik baie gedoen om die taak van die gesalfde oorblyfsel te vergemaklik en hulle by te staan. Hulle teenwoordigheid het tot die voorspoed van die geestelike paradys bygedra.—Matt. 25:31-46.
7. Waarom moes hierdie wonderwerk van die twintigste eeu plaasvind, net soos die lente gereeld in Palestina kom?
7 Hierdie wonderwerk van die twintigste eeu moes ter vervulling van Bybelprofesie plaasvind, net so seker as wat lente gereeld in die land Palestina moet kom. Die profesie van Jesaja 61:11 kon onmoontlik misluk: “Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ’n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here [Jehovah] geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.”—Vgl. NW.
8. Waarom kon Jehovah sake nooit so laat sonder om dit reg te stel nie, en in watter mate het hy reeds aan sy knegte hulle “loon” gegee?
8 Hoe het Jehovah God tog sy eie woord gestand gedoen! Hy kon sake nooit so laat sonder om dit reg te stel nie. Hy is die God wat ‘die reg liefhet en die roof met onreg haat’ (Jes. 61:8). Op die betaaldag moes hy aan sy hardwerkende dienaars “getrou hul loon gee”. Hy het die beloofde “nuwe verbond” met sy gesalfde dienaars gesluit, iets waarby die “groot menigte” ook baat vind (Jer. 31:31-34). Hy het sy Christengetuies reeds geregverdig as sy goedgekeurde dienaars en sal hulle verder regverdig “voor die oog van al die nasies”. Dit sal sy eie geregtigheid laat uitspruit sodat die ganse heelal dit kan sien. Dit sal ook strek tot sy ewige lof van die lippe van alle liefhebbers van waarheid, geregtigheid en ware aanbidding.
9. Met watter mantel moet ons onsself identifiseer?
9 Weg dan met “die neerslagtige gees”! Laat ons ons altyd met “die mantel van lof” identifiseer en in Jehovah God juig, deur sy gesalfde Hoëpriester, Jesus Christus.—Jes. 61:1-3.