Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 10/1 bl. 12-16
  • Die prag van Jehovah se soewereiniteit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die prag van Jehovah se soewereiniteit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DOMINANTE EIENSKAPPE VAN JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT
  • DIE “GOEIE NUUS” HOU VERBAND MET GOD SE SOEWEREINITEIT
  • WAAROM ONS ONS AAN JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT MOET ONDERWERP
  • DIEN BEHOORLIK ONDER GOD SE SOEWEREINITEIT
  • JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT WERK BLYDSKAP EN LOF IN DIE HAND
  • Ondersteun Jehovah se soewereiniteit!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Jehovah se soewereiniteit en die Koninkryk van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Moenie die groot geskil vergeet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Jehovah is ons Soewereine Heer!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 10/1 bl. 12-16

DIE PRAG VAN JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT

“Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.”—Ps. 27:4.

1. Waaraan word daar gedink wanneer die woord “soewereiniteit” gemeld word?

WAT beteken die woord “soewereiniteit” vir jou? Jy dink ongetwyfeld aan oppermag, veral die oppermag van ’n heerser—regeringsmag. Heerskappy of oorheersing kan wreed of onbuigsaam wees, en genadeloos volle reg streng volgens die wet laat geskied; of dit kan party voortrek en ander verdruk. Min mensgemaakte heerskappye tree op uit ware liefde vir hulle onderdane.

2. Watter reg het Jehovah om soewereiniteit uit te oefen?

2 Die Bybel praat van God as “Soewerein” en “Soewereine Heer” (Hand. 4:24, “Rotherham”; “Revised Standard Version”; “The New English Bible”; “New World Translation”). Wat gee hom die reg om soewerein te wees? Openbaring 4:11 antwoord: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”

3. Hoe het koning Dawid Jehovah se soewereiniteit beskrywe?

3 Watter soort soewereiniteit oefen Jehovah uit? Verskil dit van ander vorms van heerskappy? Koning Dawid, wat onder Jehovah se soewereiniteit oor die koninkryk van eertydse Israel geheers het, het gesê: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles.”—1 Kron. 29:11.

DOMINANTE EIENSKAPPE VAN JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT

4. Hoe gee Psalm 89:15 en Exodus 34:6, 7 ons ’n beeld van Jehovah se soewereiniteit?

4 Jehovah se soewereiniteit het gevolglik heerlikheid, roem en majesteit. Die psalmis skryf: “Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit” (Ps. 89:15). Toe Moses versoek het om God se heerlikheid te sien, is hy meegedeel dat hy nie God se aangesig kan sien nie, want geen mens kan God aanskou en lewe nie (Ex. 33:18, 20). God het nietemin in ’n wolk op die berg Sinai neergedaal en vir Moses gesê: “[Jehovah, Jehovah], barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.”—Ex. 34:6, 7.

5. (a) Watter van sy eienskappe het Jehovah by die berg Sinai eerste onder Moses se aandag gebring? (b) Waarom word ’n oortreder gestraf, al is Jehovah barmhartig, en hoe voel Jehovah oor die toediening van straf?

5 Let op dat die eerste dinge wat Jehovah onder Moses se aandag gebring het barmhartigheid, genade, lankmoedigheid, goedertierenheid, trou en vergewensgesindheid was. Hy sê op ’n ander plek dat hy “[Jehovah] is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae” (Jer. 9:24). Wanneer iemand egter teen God sondig, kan hy nie die gevolge van die reeks gebeure wat hy aan die gang gesit het, vryspring nie, selfs al word sy sonde vergewe. Byvoorbeeld, iemand wat owerspel pleeg, raak ander na aan hom. Sy hele gesin sal gewis die uitwerking waarneem. En diegene wat van God afvallig word, of wat sy soewereiniteit verwerp, sal gestraf word. Toe opstandige manne begin het om die toring van Babel te bou, het God ’n speek in die wiel gesteek deur hulle taal te verwar. Hulle het toe oor die aarde versprei en hulle afstammelinge beïnvloed, sodat die afgodedienaars geword het en ook baie slegte dinge gedoen het (Gen. 11:1-9). Maar God skep nie behae in die straf of lyding van diegene wat verkeerd doen nie. Hy sê: “Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, . . . Bekeer julle dan en lewe.”—Eseg. 18:32.

6. Wat is dus party van die dominante aspekte van Jehovah se soewereiniteit, en hoe vergelyk dit met menseheerskappye?

6 Uit die voorafgaande Skriftuurplase blyk dit dus dat goedertierenheid, barmhartigheid, geregtigheid en onpartydigheid in die gereg onder die dominante aspekte van God se soewereiniteit is. Wanneer ons dus Jehovah se soewereiniteit beskou, word ons gedwing om anders daarna te kyk as na dié van menseheerskappye. Sou dit nie wonderlik wees indien jy ook die regering waaronder jy lewe, kon beskou as een wat louter liefde en barmhartigheid vanaf sy hoofstad na almal uitstraal nie?

DIE “GOEIE NUUS” HOU VERBAND MET GOD SE SOEWEREINITEIT

7. Hoe hou die “goeie nuus” regstreeks verband met God se soewereiniteit, en wat bevorder die verkondiging van die “goeie nuus” dus?

7 Die goeie nuus van die Koninkryk hou regstreeks verband met God se soewereiniteit. Die apostel Paulus het aan Christene in Rome geskryf: “Ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer [waaraan, NW] julle oorgelewer is.” Diegene wat met ’n goeie hart hoor en gehoorsaam is, word nie hier meegedeel dat die “goeie nuus” aan hulle oorgelewer is nie, maar dat hulle ‘aan daardie vorm van die leer oorgelewer is’, naamlik die evangelie of goeie nuus van die Koninkryk. Hulle is nou gewillige onderdane en ondersteuners van God se soewereiniteit. Wanneer hulle op hulle beurt die “goeie nuus” verkondig, word die ontvangers aan daardie leer oorgelewer. Wat bevorder dit op aarde? Geregtigheid, goedertierenheid en barmhartigheid. Want in plaas van hulle eertydse onreinheid en wetteloosheid, ‘stel hulle nou hulle lede diensbaar aan die geregtigheid’.—Rom. 6:17-19.

WAAROM ONS ONS AAN JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT MOET ONDERWERP

8. Wat is die beweegrede om aan God se soewereiniteit onderdanig te wees?

8 Wat is die beweegrede vir onderdanigheid aan God se soewereiniteit? Dit is liefde vir God weens al sy goddelike eienskappe, en ook liefde vir wat reg en goed vir die hele skepping is. Die een wat begryp wat Jehovah se soewereiniteit beteken, verkies dit bo alle ander soewereiniteite. Trouens, diegene wat God se heerskappy steun, verkies dit bo volkome onafhanklikheid, indien dit moontlik sou wees. Waarom? Omdat hulle weet dat hulle baie gelukkiger onder God se soewereiniteit sal wees as wat hulle sou wees indien hulle kon doen net wat hulle wou. Hulle besef dat God se wysheid, liefde, kennis en mag soveel groter as hulle s’n is dat daar geen vergelyking is nie. Mense kan hulleself nie vir ewig aan die lewe hou nie, hulle kan ook nie vrede, geregtigheid en reg dwarsoor die aarde laat geskied nie. “[Dit behoort] nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie”, het Jeremia, ’n getroue ondersteuner van Jehovah se soewereiniteit, gesê.—Jer. 10:23.

9. Hoe doen God ’n beroep op diegene wat nie sy soewereiniteit erken nie?

9 Jehovah se gesindheid teenoor diegene wat nie sy soewereiniteit erken nie, is een van groot vriendelikheid. Sy profeet het gesê: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik. Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”—Jes. 55:7-9.

DIEN BEHOORLIK ONDER GOD SE SOEWEREINITEIT

10. Wat is ’n vereiste om behoorlik onder God se soewereiniteit te dien?

10 Om behoorlik ten behoewe van God se soewereiniteit, of daaronder, te dien, moet ’n persoon Jehovah God en sy Seun Jesus, die Koning van die koninkryk van God, leer ken. “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh. 17:3). Om God te ken beteken om ’n noue verwantskap met hom te verkry, om ’n intieme vriend te word van hom en sy Seun, wat gesê het: “Niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar” (Matt. 11:27). Iemand wat God ken, ken sy wonderlike eienskappe, en met die hulp van God se gees, kweek hy hierdie eienskappe aan sodat hy die beeld van God al hoe beter kan weerspieël (2 Kor. 3:18). Indien ’n indiwidu nie die vrug van die gees aankweek nie, het hy God nie leer ken nie. Die apostel Johannes sê byvoorbeeld: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.”—1 Joh. 4:8.

11. Hoe tree ’n persoon op as hy God se soewereiniteit erken? Meld voorbeelde.

11 Hoe tree die persoon op wat God se soewereiniteit erken? Sy dominante eienskappe sal liefde, barmhartigheid, simpatie, vriendelikheid en weldade aan sy medemens wees. Indien hy ’n ouere man in ’n gemeente is of oor enige bedrywigheid van sy Christenbroers of ander toesig hou, sal hy nie baasspelerig of veeleisend wees nie. Die apostel Paulus, wat meer gesag van God ontvang het as enige man wat vandag op aarde lewe, het aan die gemeente in Rome gesê: “Ek [smeek] julle dan, broeders, by die ontferminge van God” (Rom. 12:1, vgl. NW). Toe hy in Rome was, het Paulus ’n man met die naam Onesimus teëgekom wat die “goeie nuus” geglo het. Toe hy ontdek dat Onesimus ’n slaaf is wat weggeloop het van sy heer Filemon, ’n Christen in die stad Kolosse in Klein-Asië, het Paulus Onesimus vermaan om na sy heer terug te keer. Toe het hy aan Filemon geskryf en hom aangespoor om Onesimus te vergewe en hom nou as ’n broer te aanvaar. Gee ag op Paulus se vriendelike versoek: “Al het ek baie vrymoedigheid in Christus om jou te beveel wat betaamlik is, pleit ek liewer ter wille van die liefde.” “In vertroue op jou gehoorsaamheid het ek aan jou geskrywe, omdat ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek sê.”—Fil. 8, 9, 21.

12. (a) Waarom was Paulus se woorde van vertroue aan Filemon ’n behoorlike gesindheid vir opsieners? (b) Hoe het Christus sy vertroue in Paulus en Timotheüs getoon?

12 Filemon sou beslis nie meen dat hy onder dwang verkeer nie en dus sou hy met graagte inwillig. Hy sou opreg bereid wees om Paulus se versoek toe te staan en ook meer verplig voel om dit te doen, want Paulus het soveel vertroue in hom gestel. Die ouere man of opsiener wat ander aanspoor en broers vertrou wanneer hy ’n taak aan hulle opdra, sal eweneens baie meer uitrig as die opsiener wat bevele uitvaardig of wat meen dat niemand ’n taak so goed soos hy kan verrig nie. Vertroue in ’n broer dra by tot ’n groter betoning van inisiatief asook inspanning deur die broer. So ’n opsiener verteenwoordig God se soewereiniteit behoorlik en volg Christus se voorbeeld. Christus het Paulus so behandel. Paulus het met waardering gesê: “Ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat hy my getrou geag en in die bediening gestel het” (1 Tim. 1:12). Paulus het op sy beurt getoon dat God, Christus en hyself vertroue gestel het in Timotheüs se getrouheid en vermoë om sy dienstoewysing uit te voer toe hy geskryf het: “O Timotheüs, bewaar jou pand [dit wat aan jou toevertrou is, NW].”—1 Tim. 6:20.

13, 14. (a) Hoe sal ’n Christen God se soewereiniteit behoorlik verteenwoordig wanneer hy saam met belangstellendes studeer? (b) Watter belangrike plig van opsieners word getoon deur die apostel Paulus se woorde aan Timotheüs en aan die ouere manne van die stad Efese?

13 ’n Goeie Christen sal God se soewereiniteit behoorlik verteenwoordig wanneer hy saam met ander studeer deur ’n poging aan te wend om alles wat hy kan aan hierdie mense te leer, soos Jesus beveel het: “Maak dissipels . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). Indien hy ’n opsiener is, sal hy nie sy kennis jaloers bewaak of bang wees dat iemand anders hom dalk in die skadu sal stel omdat die meer weet of groter vermoë verkry nie. Die apostel het Timotheüs beveel: “Wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.”—2 Tim. 2:2.

14 Die opsiener moet alles wat hy weet aan ander rondom hom leer sodat hulle in staat sal wees om die werk te doen. Sodoende help hy hulle nie alleen nie, maar hulle raak ook bekwaam om sake te hanteer indien hy afwesig is. Sodoende toon die opsiener dat hy waarlik besorg is oor die welsyn en vooruitgang van die gemeente, en nie net aan homself dink nie. Gestel hy word siek of sterf of verhuis. Wat dan? Paulus het aan die opsieners in Efese gesê: “Ek [het] niks agtergehou . . . van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise.” Hy het hierdie manne teëgekom tydens sy openbare getuieniswerk. Hy het hulle nie net geleer totdat hulle gedoop is nie. Hy het eerder aan hulle “grondige getuienis afgelê” totdat hulle ’n ware begrip gehad het van God se voorneme, sy soewereiniteit wat deur Christus uitgeoefen word en hulle posisie ten opsigte daarvan. Hy het ook vir hulle gesê: “Ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.”—Hand. 20:20, 21, 27.

JEHOVAH SE SOEWEREINITEIT WERK BLYDSKAP EN LOF IN DIE HAND

15. Watter atmosfeer moet heers waar God se soewereiniteit behoorlik erken word?

15 Indien elke Christen die uitmuntende eienskappe van God se soewereiniteit in gedagte hou, sal hy blydskap bevorder. Van Jehovah word daar gesê: “Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en blydskap is in sy woonplek” (1 Kron. 16:27). Sonder blydskap, wat ’n vrug van God se gees is, heers daar moedeloosheid, apatie, selfs wanorde. Vir die Christene in Galasië wat geestelik swak geword het, het die apostel gevra: “Waar dan is daardie geluk wat julle gehad het [toe julle aanvanklik die goeie nuus geglo het]?” (Gal. 4:15, NW). ’n Atmosfeer van blydskap is die atmosfeer wat God se soewereiniteit skep onder almal wat God liefhet en wat hom heelhartig dien. Die psalmis het gesing: “Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig. In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef. Want U is hulle magtige sieraad.”—Ps. 89:16-18.

16. Wat sal Jehovah se soewereiniteit op die aarde bewerkstellig?

16 Van die sterbesaaide hemele wat ‘die eer van God vertel’, tot die aarde self, is dit duidelik dat God se skepperskap groots en pragtig is (Ps. 19:2). Daar is vrede, orde en lieflikheid in die heerlikheid van die hemelliggame, en die aarde, met lewe daarop, het geen gelyke wat prag betref nie, behalwe waar die mens skade aangerig het. Stel jou voor wat ’n wonderlike plek die aarde sal wees wanneer die mens weer eens in harmonie met God se soewereiniteit gebring is! Nie net die materiële prag van die hemele en die aarde nie, maar veral die belangriker en wonderliker eienskappe van die Allerhoogste, wanneer ‘die kennis van Jehovah die aarde sal vul soos die waters die seebodem oordek’, sal beslis almal wat dan lewe van die prag van God se soewereiniteit laat sing.—Jes. 11:9; Ps. 150.

17. Hoe moet die “goeie nuus” ons vandag aanspoor?

17 Laat ons, in afwagting van daardie heuglike tyd, ons ook nou, gedurende die sterwensdae van hierdie “bose wêreld”, bestee om die “glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” bekend te maak aan almal wat sal luister. Want Jehovah alleen moet geloof word as “Soewereine Heer, . . . die Een wat die hemel en die aarde en die see en alle dinge daarin gemaak het.”—Hand. 4:24, NW; Gal. 1:4; 1 Tim. 1:11, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel