Moet die naam gebruik word?
BAIE mense voel nie op hulle gemak wanneer hulle God se heilige naam gebruik nie. Vroom Jode sien hierdie naam in hulle Bybels, maar hulle meen dat dit nie uitgespreek moet word nie. Talle ander godsdienstige persone huiwer om dit te gebruik.
Maar die hele nasie Israel het eenkeer gehoor hoedat God sy naam uitspreek. Hulle het gehoor hoedat dit korrek uitgespreek word. By die berg Sinai het hulle dit agt keer in die Tien Woorde, of Tien Gebooie, gehoor wat uit die hemel gespreek is.—Exodus 20:2-17.
Indien die vertaler van jou eksemplaar van die Bybel God se naam gebruik het waar dit in die oorspronklike Hebreeus voorkom, sal jy sien dat daardie gebooie begin met die verklaring: “Ek is Jehovah jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” The Living Bible gee dit soos volg weer: “Ek is Jehovah jou God . . . Jy mag geen ander God buiten my aanbid nie” (Exodus 20:2, 3). Indien die vertalers van jou Bybel nie God se naam gebruik het nie, het hulle moontlik die woord “HERE” met hoofletters gespel om te toon dat Die Naam in die oorspronklike teks voorkom?
Daar is niks in die Skrif wat sê dat hierdie naam nie gebruik mag word nie. God het gesê dat sy naam nie “ydellik” of “onverskillig” gebruik moet word nie. Maar dit beteken nie dat ons nie die naam mag gebruik nie. Dit beteken eerder dat knegte van Jehovah nie dinge moet doen wat sy naam oneer aandoen nie.—Exodus 20:7.
Moses, wat gebruik is om hierdie gebod in die Bybel neer te skryf, het nie verstaan dat dit beteken dat God se naam nie gebruik moet word nie, want hy het daardie naam honderde kere in die Pentateug, die eerste vyf boeke van die Bybel, neergeskryf. In plaas daarvan om nie die naam te gebruik nie, het Moses gesê: “Hoor, Israel, [Jehovah] onse God is ’n enige [Jehovah]. Daarom moet jy [Jehovah] jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.”—Deuteronomium 6:4, 5.
Die Bybel toon dat hierdie naam nie verborge of onuitgesproke gebly het nie. Dit toon eerder dat dit oor ’n tydperk van baie eeue algemeen gebruik is. Die Bybel haal Eva aan waar sy dit gebruik (Genesis 4:1). Moses sê dat regverdige Abraham dit gebruik het en dat Abraham “die Naam van [Jehovah], die ewige God, aangeroep” het, hoewel daardie feit in talle hedendaagse Bybelvertalings verborge is.—Genesis 21:33.
Abraham het Jehovah se naam gebruik toe hy met die koning van Sodom gepraat het. Sara het dit in gesprekke met Abraham gebruik. Abraham se dienaar het dit gereeld gebruik. Jakob, sy vrou Ragel en haar vader, Laban, het almal God se naam gebruik.—Genesis 14:22; 16:2; 24:35, 42, 44; 28:16; 30:24, 27, 30.
Moses is beveel om God se naam te gebruik. Moses en Aáron het dit gebruik toe hulle met ongelowige Farao gepraat het, en Farao het dit gebruik toe hy hulle geantwoord het. Hy het gesê: “Wie is [Jehovah] na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek?”—Exodus 5:1-3; 3:15.
Eeue later het die mense nog steeds nie Jehovah se naam as onuitspreekbaar beskou nie. Hulle het dit gebruik toe hulle met Samuel gepraat het, en hy het dit in sy antwoord gebruik (1 Samuel 12:19, 20). Regverdige koning Dawid het dit in die openbaar uitgesing: “Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys. Julle wat [Jehovah] vrees, prys Hom!”—Psalm 22:23, 24.
Die groot profeet Jesaja het nie gemeen dat hierdie naam geïgnoreer moet word nie. Hy het dit meer as 400 keer gebruik in die Bybelboek wat sy naam dra.
Jesaja het nie vir sy Joodse lesers gesê dat hulle nie God se naam moet gebruik nie. Hy het eerder gesê: “Dank [Jehovah], roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is! Psalmsing tot eer van [Jehovah], want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde.”—Jesaja 12:4, 5.
Klink dit asof hierdie magtige naam verberg moes word? nie gebruik moes word nie? deur ’n ander woord vervang moes word? Vertalers wat God se naam uit sy eie boek weglaat, het klaarblyklik nie die waardering vir hierdie naam wat Godvresende Abraham, Sara, Jakob, Moses, Aaron, Samuel, Dawid en Jesaja gehad het nie. Die latere profete het ook nie hierdie naam verberg omdat hulle dit as te heilig beskou het of gemeen het dat vroeëre Bybelskrywers verkeerd was en dat hierdie naam deur ’n ander woord vervang moet word nie. Hulle boodskappe was vol uitdrukkings soos: “Hoor die woord van [Jehovah].” “So spreek [Jehovah] van die leërskare, die God van Israel.” “So spreek die Here [Jehovah].”—Jeremia 2:4; 19:15; Esegiël 21:28.
Hierdie naam is ook nie net in verband met godsdiensaangeleenthede gebruik nie. Dit is ook nie net deur leraars gebruik. Die Bybel sê dat Boas vir sy arbeiders op die landerye gesê het: “Mag [Jehovah] met julle wees!” Hulle het geders op die landerye gesê het: “Mag [Jehovah] met julle wees!” Hulle het geantwoord: “Mag [Jehovah] u seën!”—Rut 2:4.
Argeoloë het bevestiging gekry vir die Bybel se verklarings dat die mense hierdie naam gebruik het. In die dertigerjare van hierdie eeu het hulle die Lagis-briewe ontdek, potskerwe wat vermoedelik uit die dae van die Babiloniese verowering in die sewende eeu v.G.J. dateer. Hulle gebruik herhaaldelik uitdrukkings soos: “Mag JHWH [Jahweh, of Jehovah] my heer vandag nog goeie tyding laat hoor!”
Selfs nie-Israeliete het God se naam geken en gebruik. Die Gibeoniete het vir Josua gesê: “U dienaars kom van ’n baie ver land af, vanweë die Naam van [Jehovah] u God; want ons het die gerug van Hom gehoor, en alles wat Hy in Egipte gedoen het” (Josua 9:9). In die tiende eeu voor ons Gewone Jaartelling het Israel se vyand Mesa, koning van Moab, die naam op die Moabitiese Steen laat skryf. Hierdie steen is in 1868 herontdek en word nou in die Louvremuseum in Parys vertoon.
Hierdie feite behoort ons nie te verbaas nie. In plaas daarvan om te kenne te gee dat dit ’n private, geheime naam is wat nie gebruik moet word nie, het Moses vir die volk gesê: “En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van [Jehovah] oor jou uitgeroep is” (Deuteronomium 28:10). Hoe sou dit moontlik wees as selfs aanbidders nie sy naam gebruik het nie?
Die naam was nie onuitspreekbaar nie, maar liewer geëer, gelief en gerespekteer. Dit is gebruik wanneer daar aan plekke en selfs aan mense name gegee is. Abraham het die plek waarheen hy gegaan het om Isak op te offer “Jehovah-jireh” genoem (Genesis 22:14, NW). En die volgende is van die bekende Bybelname waarvan Jehovah, of Jah, die korter, digterlike vorm van Jehovah se naam, deel uitmaak: Hiskia, Jesaja, Josia, Nehemia, Obadja, Sagaria en Sefanja. Mense gebruik selfs God se naam wanneer hulle vandag name aan hulle kinders gee. Trouens, God se wonderlike naam kan deel van jou naam wees! Ken jy iemand met die naam Joel? Sy naam beteken “Jehovah is God”. Wat van Jonatan? Dit beteken “Jehovah het gegee”. Josua beteken “Jehovah is redding”. En enigiemand met die algemene naam Johannes het ’n naam wat beteken “Jehovah is genadig”.
Ondanks sommige mense se opvatting dat God se naam te heilig is om uitgespreek te word, en ander se opvatting dat dit geïgnoreer behoort te word, kan dit onmoontlik nie uit die Bybel weggelaat word nie. Dit is deel van al hierdie Bybelse name wat gebruik is gedurende die talle eeue dat mense nie alleen God se heilige naam JEHOVAH geken het nie, maar dit in gebed, aanbidding en gewone gesprekke gebruik het.
Maar wat van die Christelike Skrifte, dikwels die Nuwe Testament genoem? Die naam Jehovah is deel van die name Jesus en Johannes, en van die woord “Halleluja”. Maar waarom kom dit nie meer in daardie Skrifte voor nie? Die antwoord op daardie belangrike vraag word vervolgens bespreek.
[Venster op bladsy 5]
Hoe word die naam uitgespreek?
Omdat dit nie meer in godsdienskringe gebruik is nie, het die oorspronklike uitspraak van die Hebreeuse woord יחוה verlore geraak. Sommige geleerdes verkies om te sê “Jahweh”, maar daar is geen manier om uit te vind watter uitspraak korrek is nie.
Name word egter dikwels op verskillende maniere in verskillende tale uitgespreek. ln Afrikaans noem ons die eerste Christen wat vir sy geloof gesterf het Stefanus, maar die Franse noem hom Étienne. Jesus is in Hebreeus Ye·shuʹaʽ of Yehohshuʹaʽ genoem, in Grieks l·e·sousʹ.
Die feit dat ons nie Jesus se naam—of die naam van enige ander persoon—presies uitspreek soos dit in die oorspronklike taal uitgespreek is nie, laat ons nie ophou om daardie naam te gebruik nie. Ons sê dit bloot soos dit in ons taal uitgespreek word.
Die boek “Aid to Bible Understanding” sê dus: “Aangesien dit nie nou moontlik is om met sekerheid vas te stel wat die uitspraak was nie, bestaan daar geen rede om die bekende Engelse vorm ‘Jehovah’ ten gunste van ’n ander voorgestelde uitspraak te verwerp nie. . . . ln Engels identifiseer die naam ‘Jehovah’ die ware God en dra dit vandag hierdie gedagte op ’n bevredigender wyse oor as enige van die voorgestelde plaasvervanger.”—Bladsy 885.
[Prent op bladsy 6]
HULLE HET GOD OP DIE NAAM GENOEM
Abraham
Sara
Ragel
Dawid
Samuel