Vrae van lesers
▪ Hoe werk die heilige gees saam met die hedendaagse Bestuursliggaam in die aanstelling van ouere manne?
Die apostel Paulus het vir Christen- ouere manne van Efese gesê: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.”—Handelinge 20:28.
Paulus het nie haarfyn verduidelik hoe God se gees in sulke aanstellings gefunksioneer het nie. Ons kan egter insig verkry uit wat gebeur het toe die eerste-eeuse bestuursliggaam ’n vraag omtrent besnydenis bespreek het. Ter opsomming van hulle beslissing het hulle geskryf: “Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge” (Handelinge 15:28). Hoe het God se gees, sy onpersoonlike werkende krag, bygedra tot die bindende beslissing wat destyds bereik is?
Handelinge hoofstuk 15 toon dat Paulus en Barnabas eers die kwessie beskrywe het. Toe het ’n bespreking plaasgevind. Die apostel Petrus het verduidelik wat tot die doop van die onbesnede nie-Jood Cornelius en sy huisgesin gelei het. Petrus het verduidelik dat ‘God getuienis gegee het deur aan hulle die heilige gees te skenk net soos aan ons’ (Handelinge 15:7, 8; 10:9-48). Daarna het Paulus en Barnabas vertel van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het’ (Handelinge 15:12). Die heilige gees het dus deur sy werking op Petrus, Cornelius, Paulus en Barnabas getoon dat dit nie vir nie-Jode nodig was om besny te word nie.
Maar die gees was ook werksaam op ander maniere toe daardie besluit deur die bestuursliggaam geneem is. Ons kan aanneem dat hulle om die leiding van die gees op hulle bespreking gevra het. Sodanige leiding kon die dissipel Jakobus beweeg het om die profesie in Amos 9:11, 12 te onthou en die toepassing daarvan in te sien. Daardie profesie is natuurlik onder die inspirasie van die heilige gees geskryf (Handelinge 15: 13-20) Daarbenewens was “die apostels en ouderlinge in Jerusalem”, wat die bestuursliggaam uitgemaak het, Christene wat deur heilige gees gesalf was en wat bewys gelewer het van die werking daarvan in hulle lewens, soos deur die vrugte daarvan voort te bring.—Handelinge 15:2; Romeine 8:14-17; 1 Korinthiërs 7:40; Galasiërs 5:22.
Sonder dat daar dus ’n hoorbare voorskrif uit die hemel oor die besnydeniskwessie was, kon die lede van die bestuursliggaam met juistheid sê dat “die Heilige Gees” hulle in hulle besluit gelei het.
Dit is vandag ook die geval met die aanstelling van Christenmanne as ouere manne, of opsieners, in die gemeentes. ’n Groep ouere manne (waarskynlik met inbegrip van ’n reisende opsiener van die Genootskap) kom van tyd tot tyd bymekaar om broers as opsieners aan te beveel. Dié in die groep is self as ouere manne aangestel en hulle lewens toon dat hulle die gees het. Hulle bespreking word geopen met gebed vir die gees se leiding. Gedurende die vergadering ontleed hulle dan of elke broer wat oorweeg word, voldoen aan die vereistes vir ouere manne soos uiteengesit in die Bybel, wat onder die leiding van die heilige gees opgeteken is (1 Timotheüs 3:2-7; Titus 1:5-9). Hulle bespreek ook of die broer deur sy lewenswyse toon dat hy “vol van die Heilige Gees en wysheid” is (Handelinge 6:3). As hulle dit eens is dat dit die geval is en dat hy in ’n redelike mate aan die vereistes voldoen, stuur hulle hulle aanbeveling aan die geesaangewese Bestuursliggaam of sy gekose verteenwoordigers. Later kan die gemeente ingelig word dat die broer aangestel is.
Die aangestelde ouere man is natuurlik steeds onvolmaak en het moontlik beperkinge. Maar die apostels was onvolmaak, toe Jesus hulle gekies het asook later toe hulle op die bestuursliggaam gedien het (Lukas 9:46, 54; 22:54-62; Galasiërs 2:11-14). Maar hulle het beslis God se gees gehad en is onder die leiding daarvan aangestel. Broers en susters kan eweneens die vertroue hê dat ‘die heilige gees die opsieners aangestel het as herders om die gemeente te versorg’ (Handelinge 20:28). Dit is aangaande sulke manne wat die raad gegee is: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.”—Hebreërs 13:7.