Christus lei sy gemeente daadwerklik
“Die God van onse Here Jesus Christus . . . [het] Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee.”—EFESIËRS 1:17, 22.
1. Hoe sal sommige lidmate van die Christendom se kerke antwoord op die vraag: ‘Wie is julle leier?’, maar hoe antwoord Jehovah se Getuies?
JEHOVAH SE GETUIES erken geen man as hulle leier nie. Hulle organisatoriese struktuur het geen ekwivalent van die pous van die Rooms-Katolieke Kerk, die patriarge van die Oosters-Ortodokse Kerke of die leiers van ander kerke en sektes van die valse Christendom nie. Hulle gee hulle trou aan Jesus Christus, die Hoof van die Christengemeente, wat gesê het: “Een is julle Leier: die Christus.”—Mattheüs 23:10, NAV.
2. Waarom erken Jehovah se Getuies Christus as die Hoof van die Christengemeente, maar watter vrae kan gestel word?
2 Op Pinkster het die apostel Petrus getuig: “Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het” (Handelinge 2:34-36). Is dit moontlik dat ons, hoewel ons erken dat Jesus in 33 G.J. Here en Hoof van die gemeente gemaak is, geneig is om te dink dat hy passief aan Jehovah se regterhand gesit het terwyl hy op sy inhuldiging in 1914 gewag het? Is ons ten volle bewus van die feit dat Christus sy gemeente reg uit die staanspoor daadwerklik gelei het?
Goddelike middele vir daadwerklike bestuur
3. Wat het Jesus beloof om aan sy dissipels te stuur, en hoe weet ons dat hy nie van ’n persoon gepraat het nie?
3 Die aand voor sy dood het Jesus vir sy getroue apostels gesê: “Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur” (Johannes 16:7). Hy sou nie ’n persoon stuur nie, maar ’n werkende krag. Hy het dit duidelik gestel net voor sy hemelvaart, toe hy vir sy vergaderde dissipels gesê het: “Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”—Lukas 24:49, NAV.
4. Hoe is die heilige gees van Pinkster af gebruik?
4 Jesus se getroue dissipels het tot Pinkster in die omgewing van Jerusalem gebly. Soos beloof, is hulle daardie dag “vervul met die Heilige Gees”. Petrus het getuig: “Nadat Hy [Jesus] dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort, wat julle nou sien en hoor” (Handelinge 2:4, 33). Sodoende het Jehovah hierdie vroeë Christene as sy geestelike seuns verwek (Galasiërs 4:6). Jesus het ook die gees van sy Vader ontvang as ’n middel om sy gemeente op aarde daadwerklik vanuit sy hemelse posisie aan God se regterhand te bestuur.
5, 6. (a) Wat is nog ’n middel wat aan Christus gegee is wat hom in staat stel om sy gemeente op aarde te bestuur? (b) Verstrek spesifieke voorbeelde van hoe Jesus hierdie middel gebruik het ten behoewe van sy dissipels en ter bevordering van die predikingswerk.
5 Die apostel Petrus het daarbenewens aangaande Jesus geskryf: “[Hy] wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is” (1 Petrus 3:22). Engele is gevolglik nog ’n middel wat Jehovah ter beskikking van Christus gestel het om die Christengemeente daadwerklik te lei.
6 Wanneer ons derhalwe in die boek Handelinge lees dat “’n engel van die Here” of “’n engel van God” ter bevordering van die Christelike predikingswerk opgetree of ter wille van lede van die Christengemeente ingetree het, bestaan daar alle rede om te glo dat sulke engele onder die toesig van Christus Jesus opgetree het (Handelinge 5:19; 8:26; 10:3-7, 22; 12:7-11; 27:23, 24). As “Migael, die aartsengel”, het Christus engele tot sy beskikking, en hy het hulle gebruik om die Christengemeente in die eerste eeu daadwerklik te lei.—Judas 9; 1 Thessalonicense 4:16.
’n Sigbare bestuursliggaam
7. Watter ander middel het Christus gebruik om sy gemeente te lei, en watter tekste praat van hierdie “opsienersamp”?
7 Die Skrif toon ook dat Jesus Christus ’n groep manne as ’n bestuursliggaam gebruik het om leiding aan sy gemeente op aarde te gee. Hierdie bestuursliggaam het aanvanklik blykbaar uit net die 11 apostels bestaan. Toe hulle wou vasstel wat Jehovah se wil is ten opsigte van ’n plaasvervanger vir Judas Iskariot het Petrus Psalm 109:8 aangehaal wat sê: “Laat ’n ander sy amp neem.” In hulle gebed tot Jehovah het Petrus en sy metgeselle God toe gevra om die man aan te wys wat “hierdie bediening en apostelskap [moet] verkry, waarvan Judas afgewyk het”. Matthias is aangestel om “saam met die elf apostels” te dien.—Handelinge 1:20, 24-26.
8. Watter twee vroeë voorbeelde toon hoe Christus lede van die sigbare bestuursliggaam gebruik het?
8 Die eerste aangetekende geval waar die 12 apostels in hierdie “opsienersamp” as ’n bestuursliggaam opgetree het, was toe hulle geestelik bekwame manne aangestel het om hulle broers in die vroeë gemeente te dien (Handelinge 6:1-6). Die tweede geval was toe Filippus begin het om Christus aan die Samaritane te verkondig. “Die apostels in Jerusalem” het gevolglik “Petrus en Johannes na hulle gestuur”. Dit was slegs nadat hierdie verteenwoordigende lede van die bestuursliggaam die Samaritane die hande opgelê het dat hulle begin het om ‘die heilige gees te ontvang’.—Handelinge 8:5, 14-17.
Christus se persoonlike leiding
9. Het Christus altyd deur middel van engele of die bestuursliggaam opgetree? Verstrek ’n voorbeeld.
9 Reg van die begin van die Christengemeente af het Christus dus die heilige gees, engele en ’n sigbare bestuursliggaam tot sy beskikking gehad om sy dissipels op aarde daadwerklik te lei. Soms het hy selfs persoonlik opgetree. Christus het Saulus van Tarsus byvoorbeeld persoonlik bekeer (Handelinge 9:3-6). Drie dae later het Jesus regstreeks met “’n dissipel” met die naam van Ananias gepraat. Jesus het die drieledige sending wat hy vir Saulus in gedagte gehad het aan hom openbaar deur te sê: “Hy is vir My ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel” (Handelinge 9:10-15). Christus het Saulus vir ’n bepaalde werk geroep. Saulus het sodoende ’n apostel geword, of een wat uitgestuur is, en staan beter bekend as die apostel Paulus.
10. Hoe het Christus persoonlik oor die predikingswerk toesig gehou?
10 Christus het persoonlik oor die predikingswerk toesig gehou. Deur middel van die heilige gees wat hy van sy Vader Jehovah ontvang het, het hy Paulus se sendingreise van stapel gestuur en persoonlike belangstelling daarin getoon. Ons lees: “Die Heilige Gees [het] gesê: Sonder nou Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het. . . . So het hulle dan, deur die Heilige Gees uitgestuur, afgegaan na Seleucië en daarvandaan weggevaar” op die eerste sendingreis (Handelinge 13:2-4). Die heilige gees, Jehovah se werkende krag, kon natuurlik nòg iets ‘sê’ nòg iemand uit sy eie ‘uitstuur’. Dit was klaarblyklik Christus, die Hoof van die gemeente, wat die gees gebruik het om sake te rig.
11. Wat het gedurende Paulus se tweede sendingreis gebeur, en hoe toon dit duidelik dat Jesus die gees gebruik het om die predikingswerk te rig?
11 Hierdie gebruik van die gees deur Jesus terwyl hy die vroeë Christene daadwerklik gelei het, word duidelik getoon in die verhaal van Paulus se tweede sendingreis. Nadat Paulus en sy reisgenote gemeentes in Likaonië (’n gebied van Klein-Asië) wat gedurende die eerste sendingreis gestig is weer besoek het, het hulle hulle skynbaar voorgeneem om weswaarts deur die Romeinse provinsie Asië te gaan. Hoekom het hulle nie hulle plan deurgevoer nie? “Omdat die Heilige Gees hulle verhinder het om in Asië die woord te verkondig” (Handelinge 15:36, 40, 41; 16:1-6). Maar wie het van Jehovah se heilige gees gebruik gemaak om hulle te lei? Die volgende vers antwoord. Dit toon dat toe hulle rigting gekies het na die noorde, met die doel om in Bithinië te preek, ‘die Gees van Jesus hulle dit nie toegelaat het nie’ (Handelinge 16:7, NAV). Ja, Jesus Christus het die gees wat hy van sy Vader ontvang het, gebruik om die predikingswerk daadwerklik te rig. Hy en sy Vader Jehovah wou hê dat die goeie nuus na Europa moes uitbrei, en daarom het Paulus ’n gesig te dien effekte gehad.—Handelinge 16:9, 10.
Christus het lede van die bestuursliggaam gesteun
12, 13. Wat het ten tyde van Paulus se eerste besoek aan Jerusalem as ’n Christen gebeur wat getoon het hoe Christus die besluite van die verantwoordelike broers in daardie stad gesteun het?
12 Toe die apostel Paulus die eerste keer met die dissipels in Jerusalem probeer kontak maak het, was hulle uiteraard huiwerig om hom te ontmoet. “Maar Barnabas het hom geneem en na die apostels gebring”, (Handelinge 9:26, 27). Paulus het 15 dae saam met die apostel Petrus deurgebring. Hy het ook Jesus se halfbroer Jakobus ontmoet wat teen daardie tyd een van die ouere manne van Jerusalem se gemeente was (Galasiërs 1:18, 19). Latere gedeeltes in Handelinge toon dat die Jerusalemse ouere manne lede van die bestuursliggaam van die vroeë Christengemeente geword en saam met die 12 apostels gedien het.—Handelinge 15:2; 21:18.
13 Gedurende sy verblyf van twee weke in Jerusalem het Paulus vir Griekssprekende Jode getuig, maar “hulle het probeer om hom dood te maak”. Lukas voeg by: “Toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Cesarea afgebring en hom na Tarsus weggestuur” (Handelinge 9:28-30). Maar wie was agter hierdie verstandige besluit? Jare later, toe Paulus dieselfde voorval in sy lewe beskryf het, het hy gesê dat Jesus aan hom verskyn en hom beveel het om Jerusalem gou te verlaat. Toe Paulus beswaar gemaak het, het Jesus bygevoeg: “Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die heidene” (Handelinge 22:17-21). Christus het sake van bo-af fyn dopgehou en het opgetree deur middel van die verantwoordelike broers in Jerusalem sowel as deur regstreeks met Paulus te praat.
14. Watter vergelyking tussen die verslae in Handelinge en Galasiërs toon dat Christus sake in verband met die bestuursliggaam se vergadering oor besnydenis gerig het?
14 As ons die Skrif aandagtig lees, is dit eweneens duidelik dat Christus agter die belangrike vergadering van die bestuursliggaam was wat gehou is om die vraag of dit vir nie-Joodse Christene nodig was om hulle te laat besny en die Wet van Moses te hou of nie op te klaar. Die boek Handelinge sê dat toe die geskil ontstaan het “hulle [ongetwyfeld die verantwoordelike lede, of ouere manne, van die gemeente in Antiochië] besluit [het] dat Paulus en Barnabas en nog ’n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk” (Handelinge 15:1, 2). Maar waar Paulus die omstandighede beskryf wat daartoe aanleiding gegee het dat hy na Jerusalem gegaan het om die besnydenisgeskil te laat oplos, sê hy: “Ek het opgegaan op grond van ’n openbaring.” (Galasiërs 2:1-3; vergelyk 1:12.) As die aktiewe Hoof van die gemeente wou Christus hê dat hierdie belangrike leerstellige saak deur die hele sigbare bestuursliggaam opgelos moes word. Deur middel van die heilige gees het hy die verstande van daardie toegewyde manne gelei toe hulle hulle besluit geneem het.—Handelinge 15:28, 29.
’n Buitengewone besluit
15, 16. (a) Wat het die bestuursliggaam van Paulus vereis om te doen nadat hy van sy derde sendingreis teruggekeer het? (b) Waarom lyk hierdie instruksie buitengewoon, en waarom het Paulus hom daaraan onderwerp? (c) Watter vraag ontstaan?
15 Nog ’n interessante voorbeeld van Christus se daadwerklike bestuur van sake vanuit die hemel is wat plaasgevind het na Paulus se derde sendingreis. Lukas vertel dat Paulus met sy terugkeer na Jerusalem volledig verslag gelewer het aan die lede van die bestuursliggaam wat aanwesig was. Lukas het geskryf: “Paulus [het] saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig. En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het” (Handelinge 21:17-19). Nadat die vergaderde liggaam na Paulus geluister het, het hulle hom duidelike instruksie gegee en gesê: “Doen dan wat ons vir u sê.” Hulle het hom beveel om na die tempel te gaan en in die openbaar te toon dat hy nie “al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie”.—Handelinge 21:20-24.
16 ’n Mens kan die wysheid van hierdie instruksie bevraagteken. Soos ons reeds gesien het, het Jakobus, en moontlik ander ouere manne wat by albei geleenthede aanwesig was, Paulus jare tevore uit Jerusalem weggestuur omdat sy lewe deur “Griekssprekende Jode” bedreig is (Handelinge 9:29). Paulus het hom desondanks aan die bevel onderwerp, ooreenkomstig met wat hy reeds in 1 Korinthiërs 9:20 gesê het. Maar soortgelyke oorsake het soortgelyke gevolge. “Jode van [die Romeinse provinsie] Asië” het ’n oproer veroorsaak en Paulus om die lewe probeer bring. Dit was slegs die vinnige optrede van Romeinse soldate wat voorkom het dat hy gelynch is (Handelinge 21:26-32). Waarom het Christus, daar hy die aktiewe Hoof van die gemeente is, die bestuursliggaam laat vereis dat Paulus in die tempel moes ingaan?
17. Hoe het dit geblyk dat hierdie buitengewone besluit ’n bestiering was, en wat toon dit?
17 Die antwoord blyk uit gebeure gedurende die tweede nag na Paulus se inhegtenisname. Hy het ’n goeie getuienis gelewer aan die gepeupel wat hom om die lewe probeer bring het en, die volgende dag, aan die Sanhedrin (Handelinge 22:1-21; 23:1-6). Hy is ’n tweede keer byna gelynch. Maar daardie nag het Jesus aan hom verskyn en gesê: “Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig” (Handelinge 23:11). Onthou die drieledige sending wat Christus vir Paulus voorspel het (Handelinge 9:15). Paulus het Christus se naam voor “nasies” en voor “die kinders van Israel” gedra, maar nou het die tyd aangebreek vir hom om vir “konings” te getuig. As gevolg van daardie besluit van die bestuursliggaam was Paulus in staat om vir Romeinse prokuratore Felix en Festus, vir koning Herodes Agrippa II en, eindelik, vir Romeinse keiser Nero te getuig (Handelinge, hoofstukke 24–26; 27:24). Wie kan daaraan twyfel dat Christus agter al hierdie dinge was?
Christus lei sy gemeente nog steeds daadwerklik
18. Wat het Jesus Christus voor sy hemelvaart gesê?
18 Voordat Jesus Christus sy dissipels verlaat en na sy Vader se regterhand opgevaar het, het hy gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Mattheüs 28:18-20.
19. Hoe het Christus sy Godgegewe gesag in die eerste eeu uitgeoefen, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Die boek Handelinge, wat die geskiedenis van die vroeë jare van die Christelike godsdiens verhaal, toon buite alle twyfel dat Christus sy gesag gebruik het deur sy gemeente op aarde daadwerklik te lei. Hy het dit gedoen deur middel van die heilige gees, die engele en die bestuursliggaam wat bestaan het uit die 12 apostels en die ouere manne van die gemeente in Jerusalem. Jesus het gesê dat hy met sy dissipels sou wees tot aan die voleinding van die stelsel, waar ons ons nou bevind. In die volgende artikel sal ons sien hoe hy nog steeds die aktiewe Hoof van die Christengemeente is en hoe hy sy “skape” vandag lei.
Punte om te onthou
◻ Waarom erken Jehovah se Getuies nie enige man as hulle leier nie?
◻ Hoe het Christus die heilige gees gebruik om die vroeë Christengemeente te lei?
◻ Hoe het Christus engele gebruik om die eerste-eeuse Christene te lei?
◻ Hoe het Christus ’n sigbare bestuursliggaam gebruik om sy gemeente op aarde te rig?
◻ Hoe het Christus sake soms persoonlik gerig?
[Kaarte op bladsy 12]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Paulus se tweede sendingreis
Antiochië
Seleucië
CILICIË
Tarsus
Derbe
KAPPADOCIË
PAMFILIË
GALASIË
Listre
Ikonium
Antiochië
LICIË
ASIË
BITHINIË EN PONTUS
Troas
MACEDONIË
Filippi
Thessalonika
[Prent op bladsy 10]
Christus het sy gemeente ook deur middel van ’n sigbare bestuursliggaam gelei