Waarom moet ons ons met sagmoedigheid beklee?
DIT word bewonder en op prys gestel. Dit help ons om onenigheid te vermy. Dit word dikwels met swakheid verwar, maar dit is baie sterker as staal. Dit is sagmoedigheid!
In die Bybel word sagmoedigheid met nederigheid, ootmoed, geassosieer. Die Griekse uitdrukking daarvoor slaan op ootmoed, ‘sagte en tere vriendelikheid; die teenoorgestelde van ongepoetstheid, humeurigheid, kortgebondenheid en bruuskheid’. Sagmoedigheid word egter baie makliker deur dade gedemonstreer as deur woorde gedefinieer.
Maar waarom moet ons ons met sagmoedigheid beklee? En hoe kan dit ons help?
Waarom dit so belangrik is
Christene moet sagmoedigheid openbaar, want dit behaag Jehovah God. Die Bybel vermaan ons om “met alle nederigheid en sagmoedigheid” te wandel. Christinne moet hulle beklee met “die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God” (Efesiërs 4:1-3; 1 Petrus 3:3, 4). En die apostel Paulus spoor medegelowiges gepas aan: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12.
Dit is voordelig om ons met sagmoedigheid te beklee, want hierdie skutkleding kan ons teen kwaad beskerm. As ons met sagmoedigheid beklee is wanneer ’n potensieel ontplofbare situasie ontstaan, kan ons die woede van die gekrenkte persoon afwend en vrede bewerkstellig. Waarlik, “’n sagte antwoord keer die grimmigheid af” (Spreuke 15:1). Sagmoedigheid help ons boonop om lastige, alledaagse probleme die hoof te bied, verlig gespanne situasies by die werk of by die skool, bevorder vrede en eenheid en help ons om ’n kalmer, gesonder en gelukkiger lewe te lei (Spreuke 14:30). Daar is derhalwe goeie redes waarom ons ons met sagmoedigheid moet beklee.
Hoe dit gedoen kan word
Dit lyk miskien moeilik om sagmoedigheid te toon, maar ons kan hierdie hoedanigheid openbaar as ons wil. Waarom? Wel, God het ons eerstens na sy beeld geskape (Genesis 1:26). Jehovah is die beliggaming van sagmoedigheid. Sy sagmoedigheid blyk duidelik uit sy handelinge met die sondige mensdom. “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.”—Psalm 103:10.
Sagmoedigheid is deel van die vrug van God se heilige gees (Galasiërs 5:22). As ons meen dat ons sagmoedigheid kortkom, kan ons om die heilige gees bid wat ons sal help om ’n sagmoedige gesindheid en geaardheid aan te kweek en te openbaar.—Lukas 11:13.
Aangesien sagmoedigheid ’n vrug van God se gees is, is dit ’n noodsaaklike aspek van die Christelike persoonlikheid. Trouens, dit moet ’n deel uitmaak van die kleding wat ons as Christene kenmerk. Ja, ons kan en moet ‘ons beklee met sagmoedigheid’, ’n gawe van Jehovah as gevolg van sy gees en seën.
Sagmoedigheid is prakties
Jesus Christus, wat vasstaan vir geregtigheid, openbaar nietemin sagmoedigheid. Hy het sagmoediges gelukkig verklaar. Jesus het ook die beginsel geleer om ‘die ander wang te draai’, om nie met gelyke munt terug te betaal wanneer ’n mens uitgelok word nie (Mattheüs 5:5, 39; 21:5). Party sê dat dit in vandag se mededingende wêreld onprakties is. Maar dit is ’n fout om te dink dat Christelike sagmoedigheid lafhartigheid of ’n swak persoonlikheid beteken. Sulke sagmoedigheid gaan gepaard met sterk geloof, liefde vir Jehovah en waardering vir sy regverdige weë. Dit is gevolglik baie kragtig.
Dwarsdeur die Bybelgeskiedenis het Godvresende manne en vroue uitstekende voorbeelde van sagmoedigheid gestel. Byvoorbeeld, “Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). Maar wie sou sê dat hy ’n swakkeling of ’n lafaard was?
Wanneer sagmoedigheid met “die werke van die vlees” vergelyk word, is dit voortrefliker (Galasiërs 5:19-22). Sagmoedigheid is byvoorbeeld prakties wanneer dit met onbeheerste woede vergelyk word. Die Romeinse digter Horatius het gesê: “Woede is kortstondige waansin, gevolglik moet jy jou drif beheer of dit sal jou beheer.”
As ons “sagmoedigheid wat by die wysheid hoort” aan die dag lê, beteken dit dat ons in ooreenstemming met Jehovah se persoonlikheid, handelinge en weë optree (Jakobus 3:13, NW). ’n Man wat bekwaam is om medegelowiges te onderrig, moet byvoorbeeld vriendelik, vredeliewend en kalm wees, nie bars, verwaand en eiewys nie (1 Timotheüs 1:6, 7; 2 Timotheüs 2:24, 25). Maar sagmoedigheid kan ook vir ons in ander lewensaspekte van groot nut wees.
Hoe sagmoedigheid in die daaglikse lewe help
Sagmoedigheid kan ons help indien probleme met ons medemens sou ontstaan. Dit het vir Cathy gehelp. Tydens ’n piekniek saam met vriende by haar huis het een van die kinders op ’n buurman se netjiese stapel vuurmaakhout geklim. Die kind het ’n deel van die houtstapel omgestamp net toe die buurman by sy venster uitkyk. Hy het briesend na buite gestorm en met sy bure, die skuldige seun en dié se ouers geraas. In plaas van te redekawel, het die gasheer en -vrou egter alles in hulle vermoë gedoen om hulle ontstoke buurman se woede te stil. Hulle het sagmoedig geantwoord. Die volgende dag het Cathy brood vir haar gesin gebak en twee ekstra brode vir die buurman en sy vrou gebak. Wel, hierdie mensliewende gebaar, sonder ’n woord oor die voorval wat met sagmoedigheid gehanteer is, was al wat nodig was om die spanning te verlig en goeie verhoudinge te herstel.
Daar word gesê dat ’n goeie opsiener minder erkenning ontvang as wat hom toekom wanneer dinge goed verloop en meer van die skuld op hom neem as wat hy verdien wanneer dinge skeef loop. Don, wat toesig hou oor ’n bouspan, volg daardie sagmoedige beleid. Dit werk vir hom. By een geleentheid was die opsiener van ’n bouprojek ontsteld oor die manier waarop iets gebou was. Hy het geëis: “Wie is hiervoor verantwoordelik?” Hoewel ’n ander werker nie Don se bevele gehoorsaam het nie, het Don geantwoord: “Dit was my skuld. Ek het dit nie goed genoeg verduidelik vir my manne om te verstaan hoe dit gebou moet word nie.” Wanneer ander Don prys vir bouwerk wat goed gedoen is, antwoord hy andersyds: “Hierdie manne verdien die erkenning.” As gevolg van Don se saggeaardheid en sterk persoonlikheid het sy meerderes en sy manne hom lief en respekteer hulle hom.
Hierdie selfde beginsels geld wanneer Jehovah se Getuies in die veldbediening hulle medemens besoek. Party mense waardeer nie hierdie besoeke nie en word selfs kwaad. Maar sagmoedigheid help die besoekende Getuies om nie slegte beweegredes aan die huisbewoners toe te skryf of hulle kras te oordeel nie. Het die besoek, hoewel Jehovah se Getuies goeie beweegredes het, miskien iets onderbreek wat die huisbewoner geniet het? Het dit hom wakker gemaak? Sagmoedigheid maak dit vir ’n persoon moontlik om sulke situasies met bedagsaamheid te hanteer.—1 Petrus 3:15.
Wanneer ’n persoon ‘’n misstap begaan voordat hy daarvan bewus is’, help sagmoedigheid Christen- ouere manne eweneens om gebalanseerd te bly terwyl hulle hom raad gee. Hulle doel is nie om so ’n man te straf nie, maar om hom te “herstel”, soos wanneer ’n dokter ’n been wat uit lid is sagkens herstel. Diegene met geestelike kwalifikasies moet inderdaad nooit vergeet dat hulle die oortreder “in ’n gees van sagmoedigheid” moet probeer herstel nie.—Galasiërs 6:1, NW.
Hou aan om sagmoedigheid na te streef
Sagmoedigheid kan vergelyk word met grond waarin ander vrugte van God se gees makliker gekweek en geopenbaar kan word. As ons sagmoedig is, sal ons die leiding van Jehovah se gees geredelik volg. En as ons sagmoedigheid openbaar, sal God ons seën, want hy het die ootmoediges en sagmoediges lief.—Jesaja 29:18-21; 61:1.
Mense het na Jesus gestroom omdat hy “sagmoedig en nederig van hart” was (Mattheüs 11:28, 29). Daardie soort geaardheid trek opregte mense aan net soos ’n herberg met ’n gloeiende kaggel moeë reisigers op ’n koue nag lok. ’n Ootmoedige, sagmoedige persoon is ongetwyfeld ’n gesogte metgesel. Hoe gepas dan tog dat ons “sagmoedigheid” nastreef! (1 Timotheüs 6:11). Ja, laat ons ons met sagmoedigheid beklee.
[Prent op bladsy 7]
Jesus Christus het sagmoedigheid geopenbaar. Openbaar jy dit?