“Die brood van die lewe” is vir almal beskikbaar
“Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”—JOHANNES 6:51.
1. Voor watter tragiese situasie het die mensdom vandag te staan gekom?
DIE mensdom lewe al lank van brood, die algemeenste voedsel op die aarde. Daar is gepas gesê dat die mens nie sonder brood kan lewe nie. Maar ’n honger na brood het vandag ’n tragiese geskil geword. Honger en hongersnood raak nou ’n kwart van die aarde se bewoners. The Globe and Mail van Toronto, Kanada, het onlangs gesê: “Hongersnood, soos oorlog, ken geen grense nie.” Die koerant het ’n bestuursamptenaar van VV-noodverrigtinge in Afrika aangehaal wat gewaarsku het dat Afrika op die randjie is van “een van die grootste menslike tragedies, een van die grootste menslike uitdagings, waarvoor ons ooit te staan gekom het”.
2, 3. (a) Van watter teken is hongersnode ’n deel? (b) Hoe sal voedselprobleme opgelos word? (c) Wat anders is nodig, en watter verblydende versekering bied Jesaja 25:8?
2 Jesus het voorspel dat hongersnode ’n deel van die teken van sy teenwoordigheid in Koninkryksmag sou wees (Mattheüs 24:3, 7, 32, 33; 25:31, 32; Lukas 21:11). Hoe bly kan ons tog wees dat sy Koninkryk ophande is! Hierdie roemryke Koning sal binnekort alle vyande van die mensdom verslaan en die politieke en ekonomiese onregverdigheid wat sulke wrede lyding veroorsaak uit die weg ruim. Dan sal alle mense hulle daarin verheug dat hulle hul daaglikse brood ontvang.—Mattheüs 6:10, 11; 24:21, 22; Daniël 2:44; Spreuke 29:2.
3 Onder ’n regverdige regering sal ons goeie aarde ’n oorvloed voedsel kan voortbring, genoeg om baie meer as die huidige wêreldbevolking te bevredig (Psalm 72:12-14, 16, 18). Jehovah sal “’n feesmaal” van goeie dinge vir sy volk berei (Jesaja 25:6, NAV). Maar nog iets is nodig. Sal mense nog siek word en sterf met die verloop van jare? Gelukkig sê Jesaja 25:8 verder van Jehovah: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee.” Hoe sal dit gebeur?
Jehovah se liefdevolle voorsiening
4. Watter liefdevolle voorsiening het Jehovah in Egipte gemaak?
4 Toe Josef voedseladministrateur in Egipte was, was daar volop koring. Dit was omdat Josef, wat deur Farao aangestel is, verstandig vir die voorspelde sewe jaar van hongersnood voorberei het, en Jehovah het liefdevol sy seën bygevoeg (Genesis 41:49). Daar was meer as genoeg vir almal. Toe Josef se vader Jakob, Josef se broers en hulle gesinne hulle by Josef in Egipte kom aansluit het, het hulle grootliks baat gevind by daardie goddelike voorsiening. Daardie Israeliete het hier ongetwyfeld ook baie gewoond geraak aan koringbrood wat met suurdeeg gemaak is, aangesien dit blykbaar in Egipte ontstaan het.
5. (a) Hoe het Jehovah voedsel in die woestyn voorsien? (b) Wie het saam met Israel in hierdie seën gedeel, en waarom?
5 Later het Jehovah nog ’n liefdevolle voorsiening vir sy volk gemaak. Dit was toe die miljoene Israeliete Egipte verlaat het om deur die woestyn Sinai te trek. Hoe kon hierdie groot menigte in daardie onherbergsame, onvriendelike woestyn voedsel vind? Hoewel hulle gebrek aan geloof Jehovah se toorn gewek het, het hy “die deure van die hemel oopgemaak; en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee”. Hy het 40 jaar lank “sy volk met brood uit die hemel versadig” (Psalm 78:22-24; 105:40, NAV; Exodus 16:4, 5, 31, 35). En moenie vergeet dat nie net die Israeliete manna geëet het nie. “’n Menigte mense van gemengde bloed”, nie-Israeliete, het geloof in Jehovah getoon en by hulle in die uittog uit Egipte aangesluit. God het vir hulle ook manna voorsien.—Exodus 12:38.
6. (a) Watter groter behoefte het die mens, en waarom? (b) Wat het Israel se offerandes beklemtoon, en wat het dit afgeskadu?
6 Maar die mensdom het nog altyd ’n groter behoefte as dié aan letterlike “brood uit die hemel” gehad. Selfs diegene wat geëet het van die manna wat wonderdadig voorsien is, het oud geword en gesterf, want die mens se oorgeërfde sondige toestand maak die dood onvermydelik, ongeag sy dieet (Romeine 5:12). Israel se offerandes was ’n middel waardeur ’n goeie verhouding met God gehandhaaf kon word, maar daardie offerandes het ook die nasies se sondigheid beklemtoon. Hulle kon tog nooit die sondes wegneem nie. Daarbenewens het daardie offerandes Jesus se “een slagoffer”, waardeur sondes vir altyd weggeneem kan word, afgeskadu. Jesus kan nou in sy verhewe posisie in die hemel die waarde van daardie offerande toepas.—Hebreërs 10:1-4, 11-13.
“Die ware brood uit die hemel”
7. (a) In watter nuwe verband moet Jesus se woorde in Johannes hoofstuk 6 beskou word? (b) Waarom het Jesus die skare bestraf?
7 Kom ons blaai nou na Johannes hoofstuk 6. Jesus se woorde hier is nie ’n voortsetting van wat in Joh hoofstuk 5 opgeteken is nie. Die verband is anders, want nog ’n jaar het verstryk. Dit is nou 32 G.J. Die agtergrond is nie meer onder die selfvoldane Jode in Jerusalem nie, maar onder die gewone mense in Galilea. Jesus het kort tevore 5 000 manne wonderdadig gevoed met vyf garsbrode en twee vissies. Die volgende dag volg die skare Jesus, want hulle verwag nog ’n gratis maal. Jesus sê dus vir hulle: “Julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe.” Jesus is deur sy Vader gestuur om sulke voedsel te voorsien aan almal wat geloof in hom beoefen. Dit sou “die ware brood uit die hemel” wees, met blywender gevolge as die letterlike manna wat die eertydse Israeliete geëet het.—Johannes 6:26-32.
8. Hoe kan ’n mens die ewige lewe kry?
8 Jesus verduidelik verder watter voordele daardie “spys” of voedsel inhou en sê vir hulle: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. . . . En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”—Johannes 6:35-40.
9, 10. (a) Hoe verskil “die brood van die lewe” van manna? (b) Vir wie het Jesus volgens Johannes 6:42-51 sy vlees gegee? (c) Hoe ‘eet hulle sy vlees’?
9 Daardie materialistiese Jode is dit nie eens met hierdie woorde nie. Hulle beskou Jesus as niks meer as ’n seun van Josef en Maria nie. Jesus waarsku hulle: “Moenie onder mekaar murmureer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Toe herhaal hy: “Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”—Johannes 6:42-51.
10 Dit was gevolglik vir “die lewe van die wêreld”—die hele wêreld van afkoopbare mensdom—wat Jesus sy vlees gegee het. En “iemand” van die mensewêreld wat simbolies van daardie “brood” eet deur geloof in die soenkrag van Jesus se offer te toon, mag die weg tot die ewige lewe betree. Die “menigte mense van gemengde bloed” wat saam met die Israeliete die manna in die woestyn geëet het, skadu hier die groot menigte van Jesus se “ander skape” af wat, saam met die gesalfde oorblyfsel van “die Israel van God”, nou Jesus se vlees in ’n figuurlike sin eet. Hulle doen dit deur geloof in sy offer te beoefen.—Galasiërs 6:16; Romeine 10:9, 10.
11. Watter verdere woorde van Jesus het die Jode geskok, en waarom?
11 In Galilea is talle van Jesus se toehoorders geskok deur sy woorde. Terwyl hy nog op die onderwerp van sy vlees is, gaan hy dus selfs ’n stap verder en sê vir hulle: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank” (Johannes 6:53-55). Inderdaad skokkend! Dit is nie net die gedagte van kanabalisme wat vir daardie Jode weersinwekkend is nie, maar die Wet in Levitikus 17:14 het die eet van “die bloed van enige vlees” onomwonde verbied.
12. (a) Wat beklemtoon Jesus hier? (b) Watter tekste toon dat dit nie tot Jesus se mede-erfgename beperk is nie?
12 Jesus beklemtoon natuurlik hier die feit dat enigiemand wat die ewige lewe wil verkry dit moet doen deur geloof te beoefen in die offer wat Jesus later gebring het deur sy volmaakte menseliggaam op te offer en sy lewensbloed uit te stort (Hebreërs 10:5, 10; 1 Petrus 1:18, 19; 2:24). Hierdie voorsiening is nie tot Jesus se mede-erfgename beperk nie. Dit moet ook die “groot menigte” insluit wat “die groot verdrukking” oorleef, want “hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam”. Hulle geloof in Jesus se offer, wat ook getoon word deurdat hulle “heilige diens” voor God verrig, lei tot hulle behoud deur die aarde se grootste tyd van benoudheid. Ragab is eweneens regverdig verklaar en het dit oorleef toe Josua Jerigo vernietig het.—Openbaring 7:9, 10, 14, 15, vgl. NW; Josua 6:16, 17; Jakobus 2:25.
“Lewe in julleself”
13. (a) Wat merk ons op as ons Johannes 5:26 en Johannes 6:53 met mekaar vergelyk? (b) Watter algemene Griekse sinsbou help ons om Johannes 6:53 te verstaan? (c) Wat beteken dit dus om “lewe in julleself” te hê, en op wie is hierdie woorde van toepassing?
13 In Johannes 6:53, 54 stel Jesus “die ewige lewe” gelyk met die besit van “lewe in julleself”. In hierdie verband het die uitdrukking “lewe in julleself” dus skynbaar ’n ander betekenis van wat Jesus in Johannes 5:26 gesê het. Uitdrukkings met dieselfde sinsbou as “lewe in julleself” verskyn elders in die Griekse Skrifte. Byvoorbeeld: “Julle moet sout in julle hê” (Markus 9:50) en ‘in hulleself die noodwendige vergelding ontvang’ (Romeine 1:27).a In hierdie voorbeelde slaan die uitdrukking nie op die mag om aan ander sout te gee of hulle te vergeld nie. Dit dui eerder innerlike volkomenheid of volheid aan. Volgens die verband van Johannes 6:53 sou “lewe in julleself” hier dus beteken dat iemand uiteindelik die volheid van die lewe betree. Die “klein kuddetjie” Koninkrykserfgename ervaar dit by hulle opstanding tot hemelse lewe. Die “ander skape” ervaar dit na die einde van die duisend jaar wanneer hulle beproef en regverdig verklaar word vir die ewige lewe in die paradysaarde.—1 Johannes 3:2; Openbaring 20:4, 5.
14. Wie anders sal by die “brood uit die hemel” baat vind, en hoe?
14 Ander kan ook by die “brood uit die hemel” baat vind. Jesus het van die een gesê wat ‘sy vlees eet en sy bloed drink’ maar wat sterf: “Ek sal hom opwek in die laaste dag.” Daar word verstaan dat ontslape gesalfde Christene opgewek word wanneer “die laaste basuin” weerklink, wat gedurende die “verskyning” van Jesus Christus in Koninkryksheerlikheid plaasvind (1 Korinthiërs 15:52; 2 Timotheüs 4:1, 8). Maar wat van die voornemende “ander skape” wat sterf? Martha se woorde ten tye van Lasarus se dood is hier van belang, want Godvresende Jode het toe geen ander hoop as ’n aardse opstanding gehad nie. Martha se geloof is in hierdie woorde geopenbaar: “Ek weet dat [Lasarus] sal opstaan in die opstanding in die laaste dag” (Johannes 11:24). Ons wat nou gedurende Christus se teenwoordigheid lewe, kan derhalwe hoop dat getroues van die “groot menigte” wat sterf ’n aardse opstanding hier op die aarde sal hê, sodat hulle weer eens van die “brood uit die hemel” kan gebruik met die ewige lewe in die vooruitsig. Wat ’n wonderlike hoop is dit tog, ’n hoop wat verseker is deurdat Jesus self uit die dood opgewek is!—1 Korinthiërs 15:3-8.
“In eenheid met Christus”
15. Op wie is Jesus se woorde “in eenheid met Christus” van toepassing, en waarom antwoord jy so?
15 Jesus sê voorts: “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, bly in eenheid met my, en ek in eenheid met hom” (Johannes 6:56, NW). Dit geld dan vir “iemand” wat geloof in Jesus se offer beoefen, met die vooruitsig om ‘lewe in homself’ te hê. Almal wat sulke geloof toon, kan “in eenheid met” Jesus kom. Die “groot menigte” wat aardse verwagtinge het, is natuurlik nie “in eenheid met Christus” in die sin dat hulle mede-erfgename saam met hom is en lede van sy bruid is wat ’n hemelse opstanding soos hy ontvang nie (Romeine 8:1, 10, NW; 1 Korinthiërs 1:2; 2 Korinthiërs 5:17; 11:2; Galasiërs 3:28, 29; Efesiërs 1:1, 4, 11; Filippense 3:8-11). Maar almal met aardse verwagtinge kan, en moet, net soos die “klein kuddetjie”, in algehele harmonie met die Vader en die Seun wees deur die “volmaakte wil van God” te ken en te doen.—Romeine 12:2; vergelyk Johannes 17:21, vgl. NW.
16. (a) In watter lewensbelangrike opsigte is diegene wat geloof in Christus se offer beoefen “in eenheid met” Jesus? (b) Waaruit blyk hulle eenheid van voorneme en inspanning?
16 Die offerwaarde van Christus se vlees en bloed is gevolglik vandag vir almal beskikbaar wat geloof beoefen, en almal wat dit benut, kan in lewensbelangrike opsigte “in eenheid met” Jesus wees. Almal sal lede van die universele gesin van Jehovah God word. In hierdie kritieke “laaste dae” geniet hulle wêreldwye eenheid van geloof, doel en bedrywigheid. Omdat hulle geloof in Jesus beoefen, kan hulle “groter werke doen”, omvangryker werke, as dié wat Jesus hier op aarde gedoen het. En dit is opmerkenswaardig dat die miljoene van die “groot menigte” nou 99,7 persent uitmaak van diegene wat Jehovah se werk gedurende hierdie tyd uitvoer (Johannes 14:12; Romeine 10:18). Hierdie eenheid van voorneme en inspanning blyk uit die wonderlike wêreldwye getuienis en gewillige ondersteuning van die Wagtoringgenootskap se bouprogramme (Psalm 110:3). Hoeveel van die mensdom nog sal glo en in hierdie kosbare eenheid sal deel, sal ons maar moet sien. ’n Onlangse rapport toon dat daar 3 024 131 bedrywige Getuies is.
17. Watter gedagtes moet almal wat die Gedenkmaal bywoon, waardeer?
17 Ons hoop dat talle belangstellendes ook die Gedenkmaalviering vir 1986 sal bywoon. Miljoene “ander skape” sal teenwoordig wees, saam met die kwynende duisende van die “klein kuddetjie”—almal met diepe waardering vir Jehovah se liefdevolle voorsiening deur Christus en met die besef van hoe belangrik die vlees en bloed van Christus is. Almal moet egter duidelik onderskei waar hulle staan. Die gebruik van die Gedenkmaalembleme bring nie die ewige lewe voort nie. Dit is simbole van Jesus se offer, wat eerstens toegepas word ten opsigte van die “nuwe verbond”. Die gesalfdes met wie daardie verbond gesluit is, en slegs hulle, gebruik gepas die embleme. ’n Persoon is òf in daardie nuwe verbond òf hy is nie (1 Korinthiërs 11:20, 23-26). Diegene wat nie in die nuwe verbond is nie en met wie Jesus nie ’n verbond vir ’n koninkryk gesluit het nie, gebruik nie die Gedenkmaalembleme nie, maar hulle moet steeds besef hoe belangrik Jesus se geofferde vlees en bloed vir hulle is (Lukas 22:14-20, 28-30). Hierdie offer is die middel waardeur hulle die ewige lewe op aarde kan verkry.
18. Watter vreugde bring dit mee wanneer iemand duidelik besef wat Jesus se offer alles beteken?
18 Laat ons derhalwe hierdie Gedenkmaal nader met ’n duidelike besef van wat Jesus se offer alles vir die mensdom beteken. Laat die “klein kuddetjie” hulle roeping koester, en laat die toenemende menigte “ander skape” hulle verheug in die vooruitsig om volmaakte aardse ‘lewe in hulleself’ te hê, terwyl hulle die eenheid wat hulle nou geniet met die Vader, die Seun en die kwynende getal van die gesalfde oorblyfsel nog op aarde diep waardeer. Hoe bly is ons tog dat “die brood van die lewe” nou vir almal beskikbaar is!
[Voetnote]
a Kyk ook Mattheüs 3:9; 9:3; 13:21; Markus 5:30; 6:51; Lukas 7:39, 49; 12:17; 18:4; Johannes 5:42; 11:38; Handelinge 10:17; 2 Korinthiërs 1:9.
Vrae ter hersiening
◻ Van watter twee soorte manna het Jesus in 32 G.J. gepraat, en vir wie is dit voorsien?
◻ Vir wie nooi Jesus om ‘sy vlees te eet en sy bloed te drink’, en hoe doen hulle dit?
◻ Wat beteken dit om “lewe in julleself” te hê, en hoe en wanneer word dit bereik?
◻ Aan watter vreugde kan almal nou ten opsigte van “die brood van die lewe” deel hê?