Streef eensgesind die lewe as doelwit na
“Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—JOHANNES 17:3.
1. (a) By watter geleentheid het Jesus vir die eerste keer van “die ewige lewe” gepraat? (b) Wie kan hierdie doelwit bereik?
HY KOM stilletjies, ongesiens, in die donkerte van die nag. Dit is Nikodemus. Die tekens wat Jesus gedurende die Pasgatyd van 30 G.J. in Jerusalem gedoen het, het hom beïndruk. Dit is teenoor hierdie Fariseër dat die Seun van God sy eerste opgetekende opmerking omtrent “die ewige lewe” maak, en hy voeg hierdie aangrypende woorde by: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:15, 16). Wat ’n wonderlike geleentheid gaan nou vir die wêreld van afkoopbare mensdom oop! Selfs ’n trotse Fariseër kan hom verootmoedig ten einde die doelwit te bereik.
2. a) Onder watter omstandighede het Jesus weer van “die ewige lewe” gepraat? (b) Vir wie is lewegewende water beskikbaar?
2 Kort daarna reis Jesus van Jerusalem na Galilea. Hy wag by ’n put in Samaria terwyl sy dissipels voedsel gaan koop. ’n Vrou kom skep water. Jesus sê vir haar: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Johannes 4:14). Waarom hou Jesus so ’n kosbare hoop aan hierdie vrou voor, aangesien die Jode die Samaritane verag? Soos Jesus weet, het hierdie vrou boonop vyf mans gehad en lewe sy nou onsedelik saam met ’n man wat nie haar eggenoot is nie. Maar soos Jesus hier sê, sal lewegewende water van waarheid beskikbaar gemaak word selfs vir die veragte lede van die mensdom, as hulle hulle maar net sal bekeer en hulle lewe sal regstel.—Vergelyk Kolossense 3:5-7.
3. (a) Watter soort “voedsel” beveel Jesus aan? (b) Hoe is Johannes 4:34-36 vervul?
3 “Die ewige lewe”! Jesus voer hierdie tema verder toe sy dissipels terugkeer en hom aanspoor om te eet. Hy sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Wat is daardie werk? Jesus sê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe.” So ’n insameling was in die vooruitsig, selfs onder die nederige Samaritane, en soos die verslag toon, het dit ’n vreugdevolle werklikheid geword (Johannes 4:34-36; Handelinge 8:1, 14-17). Insameling vir die ewige lewe duur tot vandag toe voort, maar die veld is nou die wêreld. Dissipels van Jesus Christus het nog baie om in hierdie werk van die Here te doen.—Mattheüs 13:37, 38; 1 Korinthiërs 15:58.
‘Die lewe as ’n gawe’
4. Hoe antwoord Jesus die Jode oor Sabbatsheiliging?
4 ’n Jaar verstryk. Nou is dit die Pasga van 31 G.J. Soos dit sy gebruik is, is Jesus in Jerusalem vir die fees. Maar die Jode vervolg hom omdat hy liefdevolle genesingsdade op die Sabbat verrig. Hoe antwoord Jesus hulle? Hy sê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Hulle probeer hom dus om die lewe bring.—Johannes 5:17, 18.
5, 6. (a) Watter kosbare eenheid beskryf Jesus nou? (b) In watter opsig het Jesus “lewe in homself”?
5 Jesus gaan egter voort en beskryf ’n uiters kosbare eenheid—die eenheid wat tussen hom en die Vader bestaan. Hy sê vir daardie Jode: “Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees.” Hy toon dat die Vader buitengewone mag aan hom toevertrou het en sê: “Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.”—Johannes 5:20, 24.
6 Ja, selfs diegene wat in God se oë “dood” is weens hulle oorgeërfde sonde kan ‘die stem van die Seun van God hoor’ en lewend word. Maar hoe? Jesus verduidelik: “Want net soos die Vader lewe het in Homself, so het hy aan die Seun ook gegee om lewe in homself te hê.” Daardie woorde “lewe in homself” kan ook weergegee word met “lewe in homself as ’n gawe” (Johannes 5:25, 26, NW-naslaanbybel, voetnoot). Jesus kan mense dus ’n goeie posisie voor God gee. Daarbenewens kan hy diegene wat ontslaap het, opwek en lewe gee.—Johannes 11:25; Openbaring 1:18.
7. (a) Wat vertel Psalm 36:6, 10 ons omtrent God? (b) Hoe het Jehovah sy Seun wat onkreukbaarheid gehandhaaf het, beloon?
7 Jehovah het altyd lewe in homself gehad. Daar is van hom geskrywe: “By U is die fontein van die lewe” (Psalm 36:6, 10). Maar nou het die Vader sy Seun wat onkreukbaarheid gehandhaaf het uit die dood opgewek as ‘die eersteling van die wat ontslaap het’. Aangesien Jesus “lewe in homself as ’n gawe” het, is hy die mag gegee om sondes te vergewe, te oordeel en die dode op te wek met die ewige lewe in die vooruitsig.—1 Korinthiërs 15:20-22; Johannes 5:27-29; Handelinge 17:31.
’n Vreugdevolle eenheid
8, 9. (a) Hoe kan ons die ewige lewe as doelwit in die oog hou? (b) Wat reël God ten opsigte van die ewige lewe? (c) Wie deel in hierdie seëninge, en hoe?
8 Jesus se dissipel Judas vermaan ons dus: “[Bewaar] julleself in die liefde van God . . . , terwyl julle die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 21). Wat ’n kosbare doelwit—die ewige lewe! En dit sal lewe in volmaaktheid wees, volgens die wil van ons volmaakte Skepper en die reëling wat hy deur sy Seun gemaak het. Dit sal sonder die geswoeg wees wat so dikwels die stryd om oorlewing in die huidige stelsel kenmerk. In die komende stelsel sal droefheid, siekte, wetteloosheid, verdorwenheid, selfs die dood, nie meer daar wees nie!—Miga 4:3, 4; 1 Korinthiërs 15:26.
9 Wie sal in die verwesenliking van hierdie beloftes deel, en waar? Dit is diegene wat geloof in Jesus se offer beoefen en wat godvrugtige werke by daardie geloof voeg. Hulle word in die eenheid van die geloof harmonies saamgevoeg met mede-Christene wêreldwyd.—Jakobus 2:24; Efesiërs 4:16.
10. (a) Wat doen God se “bestuur” allereers? (b) Wat doen die “bestuur” vervolgens?
10 Volgens sy welbehae het God hom voorgeneem om “[’n bestuur] te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Efesiërs 1:8-10, vgl. NW). Dit is God se huishoudelike reëling wat begin met die insameling van Christus se 144 000 mede-erfgename. Hulle is “gekoop . . . uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam [Jesus Christus]”. Hulle het deel aan “die eerste [die hemelse] opstanding” sodat hulle duisend jaar lank saam met Christus as konings en priesters kan dien. Vervolgens versamel God se bestuur ‘die dinge op die aarde’ en begin dit met ’n ontelbare “groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Hierdie knegte van God sal uit “die groot verdrukking” kom met die vooruitsig om die ewige lewe op “’n nuwe aarde” te kry.—Openbaring 14:1, 4; 20:4, 6; 7:4, 9-17; 21:1, 4.
11. (a) Van watter kosbare “eenheid” praat Efesiërs 1:11? (b) Wat beteken Johannes 15:4, 5 vir diegene in hierdie “eenheid”?
11 Die geesgesalfde seuns van God, wat ‘die dinge in die hemele’ is, geniet ’n baie intieme verhouding met Jesus en met die Vader. Hulle word “aangestel as erfgename” van die Koninkryk saam met Jesus (Efesiërs 1:11, NW). Jesus het hulle aangespoor om in eenheid met hom te bly, net soos lote deel van ’n wingerdstok bly sodat dit veel vrug kan dra. Tensy hierdie kosbare eenheid met Christus Jesus gehandhaaf word, kan die lote “niks doen nie”.—Johannes 14:10, 11, 20; 15:4, 5; 1 Johannes 2:27.
“Ander skape” het nou ’n deel
12. (a) Wat is die verhouding tussen die “ander skape” en die “klein kuddetjie”? (b) Hoe is 1 Johannes 2:1-6 op albei hierdie groepe van toepassing?
12 Maar wat van die miljoene “skape” wat oor die afgelope 50 jaar van die wêreldse “bokke” afgeskei is? (Mattheüs 25:31-40). Hulle is nie lede van Jesus se “klein kuddetjie” aan wie die Koninkryk gegee word nie, maar as “ander skape” sluit hulle by hulle aan as ’n deel van ’n groter kudde wat in eenheid met die Vader en die Seun dien (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Die apostel Johannes gee die versekering dat Jesus Christus “’n versoening [is] vir ons sondes [dit wil sê, dié van die “klein kuddetjie”], en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld”. Hierdie “ander skape”, wat uit die mensdom versamel word, kan derhalwe ook ’n kosbare eenheid, of eendrag, met God en Christus geniet. Dit kom ooreen met wat Johannes verder sê: “Elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in [eenheid met] Hom is.” Eers kom die “klein kuddetjie” en dan die “ander skape” onder die verpligting om te wandel net soos Jesus gewandel het.—1 Johannes 2:1-6, vgl. NW.
13. (a) Waarvoor bid Jesus in Johannes 17:20, 21? (b) Wat toon dat hierdie versoek nie tot Christus se mede-erfgename beperk is nie?
13 Vandag is beide die hemelse en die aardse groep derhalwe ‘in eenheid met die Vader en met die Seun’—in volle eendrag met hulle in die volbrenging van God se werk. Jesus het gebid: “Dat hulle almal [in eenheid] mag wees, net soos u, Vader, in eenheid met my is en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons mag wees”. Hierdie eenheid is nie beperk tot mede-erfgenaamskap nie, want Jesus se dissipels word duidelik nie lede van enige ‘liggaam van Jehovah’ of ‘mede-erfgename saam met Jehovah’ nie. Hulle is “in eenheid” in sover dat hulle saamwerk, dit in hart en verstand met Jehovah sowel as Christus eens is terwyl hulle vir die mensdom getuig.—Johannes 17:20, 21, NW.
14. Op watter besondere manier is die hemelse klas in eenheid met Christus, en wat maak hulle hiervan bewus?
14 Die lede van die gesalfde hemelse klas geniet daardie eenheid egter nou op ’n besondere manier, daar hulle regverdig verklaar is vir die lewe deur die toepassing van die verdienste van Christus se offer. Hulle kan gevolglik deur die gees verwek word met die vooruitsig om mede-erfgename saam met Christus Jesus te word. Hulle erken hulle aanneming as seuns en sê: “Die Gees self [God se verwekkende werkende krag] getuig saam met ons gees [oorheersende geestesgeneigdheid] dat ons kinders van God is.”—Romeine 3:23, 24; 5:1; 8:15-18.
15. Wat hou die hede en die toekoms vir die met aardse lewensvooruitsigte in?
15 Wat diegene met aardse lewensverwagtinge betref, hulle word nou regverdig verklaar ten opsigte van vriendskap met God, net soos Abraham, Ragab en ander van vervloë tye. Gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy sal hulle geleidelik tot menslike volmaaktheid verhef word sodat die skepping na ’n finale toets “self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:19-21; Jakobus 2:21-26). Gehoorsame mense sal dus regverdig verklaar word vir die ewige lewe op aarde.—Vergelyk Johannes 10:10; Jesaja 9:6; 11:1-9; 35:1-6; 65:17-25.
16. (a) In watter opsigte is die “klein kuddetjie” en die “ander skape” in “eenheid” met mekaar? (b) Maar waarom is Johannes 3:3-5 slegs op die “klein kuddetjie” van toepassing?
16 As individue toon die lede van die “klein kuddetjie” en die talryke menigte “ander skape” dieselfde vreugdevolle ywer vir God se diens (Lukas 12:32; Johannes 10:16; Titus 2:13, 14). Die meeste van die oorblywende gesalfdes is moontlik baie ouer en het veel meer Christelike ervaring, maar albei groepe openbaar die Christelike persoonlikheid en die vrugte van die gees (Efesiërs 4:24; Galasiërs 5:22). Daar is egter ’n verskil, soos Jesus vir Nikodemus getoon het selfs voordat hy van die ewige lewe gepraat het. Hy het gesê: “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3-5). Daardie gedoopte Christene wat deur God geroep word om mede-erfgename saam met Jesus in sy Koninkryk te wees, ondergaan derhalwe ’n geestelike wedergeboorte (1 Korinthiërs 1:9, 26-30). Die “ander skape” het nie so ’n wedergeboorte nodig nie, want hulle doelwit is die ewige lewe in die herstelde aardse Paradys as onderdane van die Koninkryk.—Mattheüs 25:34, 46b; Lukas 23:42, 43.
Die Gedenkmaal—en die nuwe verbond
17. (a) Waarom moet almal wat die lewe as doelwit het op 24 Maart saam met God se volk vergader? (b) Wat merk ons op omtrent die Gedenkmaalviering in 1985?
17 Op 24 Maart na sononder sal Jehovah se Getuies wêreldwyd die Herdenking van Jesus se dood vir 1986 vier. Die aandag sal gevestig word op Jesus se offer van sy volmaakte menseliggaam en lewensbloed ter regverdiging van sy Vader se naam en voorneme en ten behoewe van die sondige mensdom (1 Korinthiërs 11:23-26). Almal wat die lewe (hetsy in die hemel of op die aarde) as doelwit het, sal gevolglik wêreldwyd vir hierdie vreugdevolle geleentheid saam met God se volk wil bymekaarkom. In 1985 het ’n groottotaal van 7 792 109 persone Jesus se dood herdenk. Maar slegs 9 051 het die Gedenkmaalbrood en -wyn, wat Jesus se menseliggaam en bloed simboliseer, gebruik. Waarom so min?
18, 19. (a) Van watter verbonde praat Jesus in Lukas hoofstuk 22? (b) Wat is die doel van elk van die verbonde? (c) Hoe dien Jesus as die “een Middelaar” soos afgeskadu deur Moses?
18 Wel, wat het Jesus gesê daardie aand toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het? Nadat hy die brood vir sy dissipels aangegee het, het hy die wyn op dieselfde manier aan hulle gegee en gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat ten behoewe van julle vergiet sal word.” Later het hy uitgewei oor die rede waarom hulle in die nuwe verbond geneem is en gesê: “Dit is julle wat deur my beproewinge steeds by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle in my koninkryk aan my tafel mag eet en drink, en op trone mag sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.”—Lukas 22:19, 20, 28-30, NW.
19 Die profeet Jeremia het die nuwe verbond voorspel en gesê dat Jehovah daardeur die ongeregtigheid en sonde van sy volk sou vergewe sodat hulle Jehovah in ’n baie intieme verhouding sal kan “ken” (Jeremia 31:31, 34). Net soos Moses “middelaar” van die Wetsverbond met natuurlike Israel was, so word Jesus “middelaar van [hierdie] dienooreenkomstig beter verbond” wat God met die geestelike “Israel van God” sluit. Dit is om diegene los te koop wat geroepe is om Koninkrykserfgename saam met Christus te word. Hulle ontvang dus “die belofte van die ewige erfenis” (Galasiërs 3:19, 20; 6:16; Hebreërs 8:6, NW; 9:15; 12:24). Dit is veral in hierdie Bybelse sin dat Christus Jesus as die “een Middelaar tussen God en die mense” dien.—1 Timotheüs 2:5, 6.
20.(a) Wie gebruik gepas die Gedenkmaalembleme? (b) Waarom?
20 Wie kan dan tereg die Gedenkmaalembleme, naamlik die brood en die wyn, gebruik? Dit is slegs die groep wat God opneem in die nuwe verbond wat oor Jesus se offer gesluit is (Psalm 50:5). Die doel van hierdie verbond is om eers Jesus se 144 000 mede-erfgename tot menselewe te regverdig, sodat hulle hierdie lewensreg kan opoffer en in die hemelse Koninkryk opgeneem kan word (Romeine 4:25; 2 Timotheüs 2:10, 12). Maar wat van die “ander skape”?
21.(a) Hoe vind die “ander skape” daarby baat wanneer hulle die Gedenkmaal as waarnemers bywoon? (b) Waarop vestig die Gedenkmaalviering die aandag, en watter vraag ontstaan?
21 Die “ander skape”-klas is nie in die nuwe verbond nie en gebruik dus nie die embleme nie. Maar hulle almal vind grootliks daarby baat om die Gedenkmaalviering as eerbiedige waarnemers by te woon. Hulle waardering vir geestelike sake word verskerp in ooreenstemming met die woorde van Jesus se gebed aan sy Vader: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Onthou dat die Gedenkmaalviering die aandag op Jesus se vlees en bloed vestig. Christus se geofferde vlees en bloed is lewensbelangrik vir almal wat die ewige lewe as doelwit nastreef. In watter opsig geld dit vir die “ander skape”, wat nie in die nuwe verbond opgeneem en dus nie die Gedenkmaalembleme gebruik nie? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe het Jesus die vooruitsig op die ewige lewe gaandeweg duidelik gemaak?
◻ Hoe het God met sy “bestuur” te werk gegaan?
◻ Waarom kan daar gesê word dat die “ander skape” “in eenheid” met die Vader, die Seun en Christus se broers is?
◻ Waarom gebruik slegs gesalfde Christene die Gedenkmaalembleme?
[Prent op bladsy 13]
Die “klein kuddetjie” en die “ander skape” is “in eenheid”—hulle doen God se werk soos Jesus dit gedoen het