Waak teen die misbruik van mag
“Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ’n slegte wandel en ’n huigelagtige mond haat ek.”—SPREUKE 8:13.
1. Wat is een manier waarop die onvolmaakte mensehart bedrieglik kan wees?
DIE selfsugtige misbruik van mag is ongetwyfeld een van die slegte weë wat Jehovah God haat. Sy Woord waarsku ons teen hierdie neiging van onvolmaakte mense, want hy verstaan die mensehart. Ons lees: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die HERE, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.”—Jeremia 17:9, 10.
2. Wat kan mag die besitters daarvan laat doen?
2 Dit is met goeie rede dat God se Woord ons teen die misbruik van mag waarsku. Daar is so ’n tendens om mag te misbruik dat ’n Engelse geleerde opgemerk het: “Mag is geneig om te verderf, en absolute mag verderf absoluut.” Hy het ook gesê: “Van al die oorsake wat die mens verlaag en demoraliseer, is mag die blywendste en die aktiefste.” Soos ons in die vorige artikel gesien het, het mag natuurlik nie noodwendig ’n verderflike invloed nie, maar die gevaar daarvan bestaan wel.
3. In watter menseverhoudinge kan mag misbruik word, en waarom kan dit gebeur?
3 Wie moet teen magsmisbruik waak? Feitlik almal! In amper elke menseverhouding is daar situasies waar die een persoon die voordeel bo ander het as gevolg van rykdom, geleerdheid, liggaamlike krag, posisie, fisieke sjarme, ensovoorts. Hoe groter die voordeel, des te groter die versoeking om dit selfsugtig te gebruik. Waarom? Want “die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Ja, die onvolmaakte mensehart is “bedrieglik”, vals of verraderlik, en het ’n bose neiging.—Jeremia 17:9.
Christen- ouere manne
4. Watter goeie raad het Jetro vir Moses gegee wat ’n bewustheid toon van die versoekings wat met mag en gesag gepaard gaan?
4 Beskou eerstens die ouere manne, die opsieners in die Christengemeente. Wanneer ons aan hulle kwalifikasies dink, onthou ons Jetro se woorde aan Moses in verband met die kiesing van manne oor duisend, honderd, vyftig en tien: “Kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat” (Exodus 18:21). Toesig kon aan sulke manne toevertrou word. Hulle sou nie die voordele uitbuit wat met ’n posisie van toesig gepaard gaan nie, want die vrees van God beteken dat die kwaad gehaat moet word. Sulke manne sou waarlik “onregverdige wins haat” in plaas van dit na te jaag of lief te hê.
5. Waarom is die raad in 1 Petrus 5:2, 3 so gepas, en hoe kan dit toegepas word?
5 Die apostel Petrus was bewus van die gevaar van magsmisbruik deur ouere manne, en daarom vermaan hy opsieners in die Christengemeente: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:2, 3). Dit sou ’n misbruik van mag wees om met die oog op vuil gewin as herders oor die kudde toesig te hou. Om oor die kudde te heers, sou insgelyks beteken dat ’n persoon selfsugtige voordeel trek uit sy mag. Byvoorbeeld, ’n ouere man het miskien vaste menings oor hoe sy gesin moet aantrek. Maar hy moet versigtig wees dat hy nie sulke persoonlike beskouings aan die kudde probeer opdring nie; as hy dit doen, sou hy oor hulle heers.
6. Wat is nepotisme, en hoe kan ouere manne hulle daaraan skuldig maak?
6 Tensy ouere manne versigtig is, kan hulle hulle aan nepotisme skuldig maak, wat ook ’n misbruik van mag sou wees. Nepotisme? Ja, dit is ’n woord wat uit Latyn kom en “neefs” beteken. Dit is gesmee weens die bekende gebruik van pouse en ander kerkamptenare om godsdienstige en stoflike gunste aan hulle familielede en in die besonder aan hulle broers- of susterskinders te skenk. Pous Nikolaas III was selfs bekend as “die patriarg van pouslike nepotisme”. Tensy Christen- ouere manne baie versigtig is, kan familiebande in plaas van geestelike beginsels hulle uitermate beïnvloed. Een ouere man was baie sterk van mening dat sy seun as ’n opsiener aanbeveel moes word, hoewel die res van die ouere manne dit nie met hom eens was nie. Toe het die vader na ’n ander gemeente verhuis. Jare later was die seun nog steeds nie ’n ouere man nie. Die vader het klaarblyklik toegelaat dat bloedverwantskap hom beïnvloed.
7, 8. Watter voorbeelde toon dat nepotisme ’n groot gevaar vir ouere manne kan inhou?
7 Nog ’n misbruik van mag in die vorm van nepotisme is wanneer ouere manne versuim om stappe te doen wanneer hulle familielede oortree. (Vergelyk 1 Samuel 2:22-25, 30-35.) ’n Paar jaar gelede was daar skokkende gevalle van oortreding in sekere gemeentes in die sentrale deel van die Verenigde State. In onlangser tye het dit in sekere Europese gemeentes ontstaan. Talle jongmense het hulle skuldig gemaak aan hoerery, dwelmmisbruik, en dies meer. Baie van hulle was kinders van ouere manne, waarvan party blykbaar die slegte gedrag van hulle kinders deur die vingers gesien het. Toe die feite aan die lig gekom het, is ’n aantal van hierdie ouere manne afgesit weens hulle misbruik van hulle voorregte as ouere manne, of meer spesifiek, weens hulle versuim om hulle mag reg te gebruik.
8 Soms wil dit voorkom of daar ’n neiging in hierdie rigting is wanneer ’n ouere man of ’n bedieningskneg dele tydens die vergaderinge behartig wat gehoordeelname behels. Hy moet partydigheid noulettend vermy. Die lede van sy gesin kan in hierdie opsig saamwerk deur wakker te wees om kommentaar te lewer wanneer ander terughoudend is en nie te gretig te wees om te antwoord wanneer baie ander hulle hande opsteek nie.
Reisende verteenwoordigers
9. Wat is die magsmisbruik wat as simonie bekendstaan, en waarom word dit so genoem?
9 Christene in verantwoordelike posisies, veral reisende verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap, moet oppas dat hulle hulle nie, wetend of onwetend, skuldig maak aan wat as simonie bekendstaan nie. Die woord kom van die Simon wat in Handelinge 8:9-24 gemeld word en wat vir die apostels geld aangebied het vir die gawe om die heilige gees aan ander te kan gee deur die oplegging van sy hande. Lukas skryf: “Petrus sê vir hom: Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie. Bekeer jou dan van hierdie boosheid van jou, en bid God of die gedagte van jou hart jou miskien vergewe mag word.” Dit was ook ’n welbekende gebruik onder Rooms-Katolieke kerkamptenare in vervloë jare. Een ensiklopedie berig dat “hierdie misdaad gedurende die 11de en 12de eeu baie algemeen in die Kerk geword het”.
10, 11. Hoe kan ouere manne deur simonie verstrik word?
10 Hoe kan knegte van Jehovah in hierdie opsig oortree? Tensy hulle baie versigtig is, kan hulle geneig wees om ’n ouere man vir ’n deel op die kringbyeenkoms- of die streekbyeenkomsprogram aan te beveel as gevolg van die gulle gasvryheid of milddadige geskenke wat hulle van hom ontvang het. Trouens, daar was seldsame gevalle waar ’n ouere man milddadige geskenke gegee het en terselfdertyd die moontlikheid geopper het om ’n spesiale voorreg te ontvang. Sulke persone was blykbaar nie tevrede om hulself as ‘minderes’ te gedra en dit aan die heilige gees oor te laat om die in verantwoordelikheidsposisies te beweeg wat teokratiese aanstellings betref nie (Lukas 9:48, NW). Onder daardie omstandighede is sulke geskenke van die hand gewys, en so is ’n goeie voorbeeld gestel van die vermyding van magsmisbruik. Alle sodanige voorvalle toon hoe versigtig vooraanstaande ouere manne moet wees om die smet van simonie te vermy!
11 Daarbenewens is dit dalk vir ’n reisende bedienaar soms nodig om ’n ouere man ferm raad te gee. Maar as die reisende bedienaar herhaaldelik geskenke van daardie ouere man ontvang het of sy gasvryheid geniet het, sal hy dit moontlik moeilik vind om hom reguit raad te gee. Sal selfsugtige oorwegings hom daarvan weerhou om sy verpligtinge na te kom om die nodige raad te gee? Sal hy sy broers se geestelike belange bo sy eie materiële voordele stel? Ja, sal hy God of mense probeer behaag?—Galasiërs 1:10.
Die gesinskring
12. Om watter rede moet mans wakker wees om mag reg te gebruik?
12 In die gesinskring is dit ook vir elke lid nodig om teen die misbruik van voordeel of mag te waak. ’n Man kan, omdat hy die hoof is, of omdat hy liggaamlik sterker is, of omdat hy die broodwinner is, arbitrêr, selfsugtig, gevoelloos optree en ’n gebrek aan empatie openbaar. Paulus lê groot nadruk daarop dat vroue aan hulle mans onderdanig moet wees. Terselfdertyd sê hy vir mans dat hulle hulle vroue soos hulle eie liggame moet liefhê en bereid moet wees om vir hulle te sterf, net soos Christus vir die Christengemeente gesterf het (Efesiërs 5:25-33). Sulke raad behoort ’n man daarvan te weerhou om sy mag of voordeel te misbruik. Nadat die apostel Petrus vroue vermaan het om aan hulle mans onderdanig te wees, spoor hy mans aan: “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.” Ja, mans moet daarop let dat hulle hulle mag reg gebruik as hulle ’n goeie verhouding met Jehovah God wil hê.—1 Petrus 3:7.
13. (a) Watter vroulike eienskap buit mans soms uit? (b) Hoe het selfsugtige vroue mag misbruik, en watter Skriftuurlike gebod word daardeur oortree?
13 Daar is al gesê dat die huweliksmaat wat dieper liefhet, oorgelewer is aan die genade van die een wat minder liefhet. Dit lyk of daar iets in steek. Vroue het oor die algemeen inniger lief as hulle mans—liefde is vir hulle belangriker—en talle mans buit dit selfsugtig uit. Aan die ander kant is vroue soms teësinnig om die huweliksplig na te kom wanneer daar nie aan hulle wense voldoen word nie. Trouens, party vroue het die huweliksplig selfs heeltemal geweier. Ongelukkig het dit soms daartoe gelei dat die man hom aan owerspel skuldig maak. Alle sodanige versuim om Paulus se raad in 1 Korinthiërs 7:3-5 te gehoorsaam, is eweneens ’n selfsugtige misbruik van mag.
14. Wat bewys dat sommige ouers hulle mag oor hulle kinders misbruik?
14 Die feit dat kinders hulle ouers in eendrag met die Here moet gehoorsaam, gee hulle ouers, veral hulle vaders, mag oor hulle. Hoe sal hulle hierdie mag gebruik? Onbedagsaam, gevoelloos, sonder empatie? Dit is presies wat talle wêreldse vaders, en sommige moeders, doen, en dit lei daartoe dat die “beseerde kindsindroom” algemeen voorkom. Volgens World Health, Januarie/Februarie 1984, “is daar mishandelde kinders in elke gemeenskap” en “lyk dit of al hoe meer kinders deesdae mishandel, uitgebuit, geslaan of verlaat word, en geen wêrelddeel spring dit vry nie”. ’n Ander berig sê dat kindermishandeling in die Verenigde State in die afgelope tien jaar meer as verdubbel het. Dit alles is gewis ’n misbruik van mag. Selfs ’n Christenouer wat nie daaraan sou dink om ’n kind ernstig te mishandel nie, kan aan ’n soort kindermishandeling skuldig wees. Paulus se raad toon wat dit is: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn [“irriteer”, NW] nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie.”—Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21.
15, 16. Hoe kan kinders aan magsmisbruik skuldig wees, en wat vereis dit van ouers?
15 Hoe vreemd dit ook al aanvanklik mag lyk, kinders kan hulle ook skuldig maak aan magsmisbruik. Hoe so? Kinders kan hulle ouers teen hulle beterwete laat optree as gevolg van hulle ouers se liefde vir hulle. ’n Kind, wat weet dat hy ’n pak verdien, kan so droewig huil dat sy moeder dit net nie oor haar hart kan kry om hom die verdiende pak te gee nie. ’n Suksesvolle vrouefinansier spog met haar vermoë om kliënte te manipuleer en sê: “Vroue word daarmee gebore. Jy moet sien hoe my dogter haar vader manipuleer.”
16 Volgens een koerantberig “is daar in Noord-Amerika ’n onrusbarende toename in die aantal ‘magsugtige kinders’ wat hulle ouers se lewens beheer en manipuleer”. Die oplossing lê nie by die teregwysing van die kinders nie, maar lê by die ouers. Die ouers moet ’n verenigde posisie voor hulle kinders handhaaf. Kinders sien gou verdeeldheid raak en speel een ouer teen die ander uit om te kry wat hulle wil hê. Ouers moet ook ferm wees vir wat reg is, maar terselfdertyd hulle kinders altyd van hulle liefde verseker. Soos Jehovah, pas Christenouers dissipline uit liefde toe.—Hebreërs 12:5, 6.
In ander verhoudinge
17. Hoe kan mag in die verhouding tussen werkgewer en werknemer misbruik word?
17 Die verhouding tussen werkgewer en werknemer bied ook versoekings om mag te misbruik. Hiermee in gedagte het Paulus slawe-eienaars, wat enigermate met hedendaagse werkgewers, opsieners, base ooreenkom, vermaan: “Eienaars, . . . hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie” (Efesiërs 6:9, NAV; Kolossense 4:1). Christene wat in sekulêre sake toesig het, moet oppas dat hulle nie hulle mag misbruik nie. Boas van ouds kan gemeld word as iemand wat ’n goeie verhouding met sy werkers gehad het.—Rut 2:4.
18. Waarvoor moet ongetroude broers en susters oppas sodat hulle hulle nie aan magsmisbruik skuldig maak nie?
18 Ons wil nog net een terrein meld waarop Christene teen magsmisbruik moet waak, en dit is die kwessie van geslagsattraksie. Die blote natuur van jong susters wek by talle van hulle ’n begeerte om te trou en kinders te baar. Gevolglik kan dit soms vir broers maklik wees om met susters se gevoelens te speel. Dit is beslis ’n misbruik van mag. Paulus het Timotheüs gemaan: ‘Behandel bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.’ Christinne word andersyds gemaan om “hulle [te] versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid”. Hetsy getroud of ongetroud, hulle moet altyd sorg dat hulle ‘reine wandel’ handhaaf.—1 Timotheüs 2:9; 5:2; 1 Petrus 3:2.
19. In die gebruik van watter ander hoedanigheid, benewens die openbaring van wysheid, geregtigheid en liefde, moet ons belangstel?
19 Daar is al baie in ons Bybellektuur gesê oor die feit dat Christene deur goddelike wysheid gelei moet word, geregtigheid in al hulle handelinge moet openbaar en deur beginselvaste liefde, aga’pe, beweeg moet word. Die voorgaande toon dat al Jehovah se knegte ook besorg moet wees oor die eienskap, hoedanigheid of besit van mag. Hulle moet dit nooit misbruik nie, maar dit altyd reg gebruik. God se Woord openbaar waarlik goddelike wysheid in die raad wat dit in hierdie opsig gee. As ons nougeset op sulke raad ag slaan, sal ons Jehovah se naam vereer, ’n seën vir ander wees en God se goedkeuring wegdra.
Watter raad onthou jy?
◻ Waarom kan daar gesê word dat ons ’n inherente neiging tot magsmisbruik het?
◻ Waarom moet ouere manne oppas dat hulle nie hulle mag misbruik nie?
◻ In watter opsigte moet mans en vroue nie hulle mag in hulle verhouding met mekaar misbruik nie?
◻ Wat behoort ouers sowel as kinders ten opsigte van magsmisbruik in hulle verhoudinge te vermy?
[Prent op bladsy 15]
Simon het Petrus met sy rykdom probeer beïnvloed. Watter lesse kan ons uit hierdie verslag leer?
[Prent op bladsy 17]
Misbruik jou kind mag om jou te manipuleer?