Vertroosting van die God van vrede
“Hou derhalwe aan om mekaar met hierdie woorde te vertroos.”—1 THESSALONICENSE 4:18, NW.
1. Watter versoeke van Paulus toon sy belangstelling in vrede?
PAULUS, die apostel, wou baie graag hê dat die Christengemeente vrede moes geniet. Altesaam 13 van sy briewe, wat vir ons in die geïnspireerde Skrif bewaar is, begin dus met ’n versoek dat diegene wat aangespreek word vrede van God af mag geniet. Aan die jong gemeente in Thessalonika het Paulus byvoorbeeld geskryf: “Genade vir julle en vrede van God.” Teen die einde van dieselfde brief versoek hy: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”—1 Thessalonicense 1:1; 5:23.
2. (a) Watter soort besorgdheid het Paulus teenoor die gemeente geopenbaar? (b) Hoe kan Christen- ouere manne vandag Paulus se voorbeeld navolg?
2 Paulus en sy metgeselle het geen “arbeid en inspanning” onder daardie nuwe gelowiges ontsien nie. Paulus het gesê: “Ons was vriendelik onder julle soos ’n pleegmoeder haar kinders koester. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.” Kan ons die intieme besorgdheid, die opregte, innige liefde wat Paulus vir daardie gemeente gehad het in daardie woorde aanvoel? Dit is inderdaad ’n patroon van die soort liefde wat Christen- ouere manne vandag in meer as 50 000 gemeentes van Jehovah se Getuies rondom die aarde openbaar.—1 Thessalonicense 2:7-9; Johannes 13:34, 35; 15:12-14.
3. (a) Hoe kon Timotheüs die gemeente in Thessalonika tot voordeel strek? (b) Waarmee kom dit vandag oor een?
3 Die Verleier, Satan, het daardie Christene in Thessalonika met verdrukking besoek. Daarom het Paulus Timotheüs na hulle gestuur ‘om hulle te versterk en hulle te bemoedig in hulle geloof’. Timotheüs het na Paulus in Athene teruggekeer met ’n verslag waarin hy hulle loof vir hulle getrouheid en liefde. Almal is grootliks vertroos toe hulle van mekaar se geloof en onkreukbaarheid verneem het, en hulle het voortgegaan om God te smeek om die dinge wat ontbreek, aan te vul (1 Thessalonicense 3:1, 2, 5-7, 10). Dit weerspieël ook die hedendaagse teokratiese reëling waar reisende opsieners die gemeentes versterk, selfs waar Jehovah se Getuies onder ’n verbod of bittere vervolging dien.—Jesaja 32:1, 2.
‘By sy teenwoordigheid’
4, 5. (a) Watter versoek rig Paulus hier, en waarom moet dit nou vir ons van besondere belang wees? (b) Waarom is ons dag van besondere betekenis?
4 Die apostel Paulus sluit hierdie deel van sy brief af met die versoek: “Mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is, sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.”—1 Thessalonicense 3:12, 13.
5 Paulus het hier ver in die toekoms ingekyk, na die tyd van Jesus se “koms [“teenwoordigheid”, NW] en van die voleinding van die wêreld” wanneer “die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom”. Ons hemelse Koning het in 1914 gekom. Van sy heerlike, onsigbare troon af oordeel Jesus nou die nasies en volke van die aarde en skei hy nederige, sagmoedige mense af sodat hulle deur die “groot verdrukking” bewaar kan word en die ewige lewe op ’n paradysaarde kan ontvang.—Mattheüs 24:3-21; 25:31-34, 41, 46.
Bevele vir ons beswil
6. Op watter vermaning van Paulus moet ons nou ag slaan?
6 Streef jy daardie doelwit, die ewige lewe, na? Dan moet jy ag slaan op wat Paulus hier aan die Thessalonicense skryf: “Verder dan, broeders, vra en vermaan ons julle in die Here Jesus dat julle, soos julle van ons geleer het hoe julle moet wandel en God behaag, nog oorvloediger mag wees. Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het” (1 Thessalonicense 4:1, 2). Wat is sommige van die “bevele” wat Paulus hier beklemtoon?
7. (a) Watter belangrike ‘bevel’ word hier gegee? (b) Waarom moet ons nooit, nadat ons God se gees ontvang het, ons waaksaamheid laat verslap nie?
7 Die eerste ‘bevel’ staan in verband met goeie sedes. Paulus sê reguit: “Dit wil God, die heiliging van julle, dat julle jul onthou van hoerery; dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiligheid en eer van sy eie vat besit te verkry, nie in hebsugtige seksuele begeerte, soos ook die nasies wat God nie ken nie.” Gelukkig het ons God en sy Seun, Jesus Christus, leer “ken” en streef ons na die ewige lewe. Hoe skandelik sou dit tog wees indien ons onsself laat terugsleep in die wêreldse modderpoel van onsedelikheid! Dit is ongelukkig so dat sommige persone jare lank in konsentrasiekampe en tronke volhard het of ’n leeftyd in ywerige sendingwerk deurgebring het, maar dan toegelaat het dat die Verleier hulle later onverhoeds vang waar dit by sedes kom. Mag ons, nadat ons God se heilige gees ontvang het, dit nooit deur seksuele wangedrag “bedroef” nie!—1 Thessalonicense 4:3-8, NW; Johannes 17:3; 1 Korinthiërs 10:12, 13; Efesiërs 4:30.
8, 9. (a) Wat is “broederliefde”? (b) Hoe kan ons sulke liefde aankweek, en watter voordeel hou dit in?
8 Paulus se volgende ‘bevel’ staan in verband met fil·a·del·fiʹa, “broederliefde” (1 Thessalonicense 4:9, 10). Dit is ’n besondere openbaring van beginselvaste liefde, aga’pe, wat Paulus hier in vers 9 asook in hoofstuk 3, vers 6 en 12, hartlik aanbeveel. Fil·a·del·fiʹa is ’n baie intieme geneentheid, soos klaarblyklik tussen Jesus en Petrus en tussen Dawid en Jonatan bestaan het (Johannes 21:15-17; 1 Samuel 20:17; 2 Samuel 1:26). Dit kan by a·gaʹpe gevoeg word om ’n hegte kameraadskap op te bou, soos byvoorbeeld gesien word in die wedersydse omgangsvreugde wat baie van Jehovah se Getuies saam in die pionierbediening en ander teokratiese aktiwiteite smaak.
9 Paulus sê: “Lê julle nog meer daarop toe” (NAV). Ons kan altyd ons broederliefde verruim. Hierdie goeie eienskap is veral oorvloedig wanneer ouere manne en bedieningsknegte die leiding in ywerige Koninkryksdiens gee. Wanneer almal in die gemeente hulle besig hou deur ‘eers die Koninkryk te soek’, word onenigheid weens menslike onvolmaaktheid, persoonlikheidsverskille en soortgelyke probleme minder belangrik. Laat ons altyd ons oë op die doelwit hou!—Mattheüs 6:20, 21, 33; 2 Korinthiërs 4:18.
10. Hoe kan ons as Christene “welvoeglik” wandel?
10 Paulus meld hier ’n ander ‘bevel’—dat ons ons dit ten doel moet stel om rustig te lewe, ons met ons eie sake te bemoei en met ons hande te werk. As ons aldus ‘welvoeglik wandel’ in ons daaglikse lewe en beginselvaste liefde sowel as broederliefde openbaar, sal daar in al ons behoeftes voorsien word.—1 Thessalonicense 4:11, 12; Johannes 13:35; Romeine 12:10-12.
Vertroos deur die opstandingshoop
11. (a) Waarom bring Paulus nou die opstanding te berde? (b) Hoe moet hierdie raad van Paulus ons raak?
11 Die apostel praat vervolgens van die wonderlike opstandingshoop. Maar waarom sou Paulus hierdie onderwerp te berde bring? Hy wou sy broers versterk om die vervolging wat vir hulle voorgelê het te verduur. Hulle was in lewensgevaar. Dit blyk dat sommige destyds ontslaap het. Medegelowiges het troos nodig gehad (1 Thessalonicense 2:14-20). Omdat hulle gedink het dat Christus se “teenwoordigheid” ophande is, het hulle gewonder wat sou gebeur met die wat reeds gesterf het. Die dinge wat Paulus nou skryf, bied nie alleen troos vir diegene wat Christendierbares verloor het nie, maar ook aansporing om te volhard totdat Jehovah se “dag” aanbreek. Paulus se raad behoort ons almal te help om geestelike bestendigheid aan die dag te lê terwyl ons voortgaan om die goeie nuus te verkondig in afwagting van die algehele einde van hierdie stelsel.—2 Thessalonicense 1:6-10.
12. Watter ware troos kan ons hê wanneer ’n dierbare sterf, en uit watter bron?
12 Paulus sê: “Broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thessalonicense 4:13). Watter troos en gemoedsrus bied die opstandingshoop tog nie! Sowat vyf jaar later het Paulus sy tweede brief aan die Christene in Korinthe soos volg ingelei: “Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus. Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word.”—2 Korinthiërs 1:2-4.
13, 14. (a) Waarom wou Paulus hê dat Christene goed ingelig moes wees oor die betekenis van die dood? (b) Wat toon die Skrif is die toestand van die dode?
13 Die apostel wou nie hê dat ons onkundig moes wees met betrekking tot die toestand van die dode nie. Mettertyd sou ’n groot afval onder naamchristene intree sodat hulle na Babiloniese en Griekse filosofieë sou terugkeer. Sulke afvalliges sou die Platoniese leer oor die inherente onsterflikheid van die siel aanneem—nou ’n basiese leerstelling dwarsdeur die wêreldryk van valse godsdiens. Die geheimsinnigheid wat verbonde is aan die “hiernamaals”, hetsy dit in die hemel, die vaevuur of ’n plek van ewige foltering sou wees, bied geen ware troos nie. Boonop weerspreek inherente onsterflikheid die opstandingsleer, want hoe kan iemand weer lewend gemaak word as die siel nie sterf nie?
14 Paulus skryf hier oor “die ontslapenes”. Ja, die wat ‘slaap’. Iemand wat slaap, is van niks bewus nie en kan geen take verrig nie. (Vergelyk Prediker 9:5, 10.) By een geleentheid gedurende Jesus se bediening het hy gesê dat Lasarus “slaap” en dat hy, Jesus, hom ‘wakker sou maak’. Toe Christus se dissipels daardie woorde nie verstaan het nie, “sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.” Lasarus se susters, Martha en Maria, is deur die opstandingshoop vertroos, en Jesus het hulle verder vertroos. Maar hoe moes dit tog nie hulle geloof versterk het toe Jesus sy vriend, wat reeds vier dae dood was, uit die doodslaap opgewek het nie!—Johannes 11:11-14, 21-25, 43-45.
15. (a) Hoe word ons hoop op die opstanding versterk? (b) Wat kan ons help om ons by die dood van ’n dierbare aan te pas?
15 Daardie wonderwerk, tesame met Jesus se ander opstandingswerke, en by uitstek Jehovah se opwekking van Jesus self—al hierdie goed gedokumenteerde gebeurtenisse versterk ons vertroue in die wonderlike opstandingshoop (Lukas 7:11-17; 8:49-56; 1 Korinthiërs 15:3-8). Die dood bring weliswaar droefheid en trane mee, en dit is moeilik om ’n mens by die afwesigheid van ’n dierbare aan te pas. Maar watter troos en krag put ons tog uit die versekering dat die Soewereine Heer Jehovah “die dood vir ewig [sal] vernietig, en . . . die trane van alle aangesigte [sal] afvee”! (Jesaja 25:8; Openbaring 21:4). Een van die beste rate vir droefheid is om besig te bly in die diens van die God van vrede deur die hartverblydende Koninkrykshoop wat ons self so dankbaar aangeneem het na ander te bring.—Vergelyk Handelinge 20:35.
Die opstandingsorde
16, 17. (a) Hoe sal “die laaste vyand” vernietig word? (b) Watter opstandingsorde verduidelik Paulus nou?
16 Ons glo vas dat Christus, die “eersteling” van die opstanding wat nou aan God se regterhand in die hemele op die troon geplaas is, Jehovah se heerlike Koninkryksvoornemens tot voltooiing sal voer (Hebreërs 6:17, 18; 10:12, 13). Dit is soos Paulus in ’n ander brief gesê het: “Hy [Jesus Christus] moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.” Hoe? Deels deur die opstanding en die uitwissing van die gevolge van die Adamitiese dood. Die apostel het dit pas tevore soos volg verduidelik: “Aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms [“teenwoordigheid”, NW]” (1 Korinthiërs 15:20-26). Dit is van hierdie opstandingsorde dat Paulus vervolgens in sy eerste brief aan die Thessalonicense praat wanneer hy sê:
17 “As ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.”—1 Thessalonicense 4:14-16.
18. Wanneer is die gesalfdes wat “ontslaap het”, opgewek?
18 Na 1914, gedurende Jesus se “teenwoordigheid” in Koninkryksmag, vaardig hy, as die aartsengel, die hemelse bevel uit vir diegene “in Christus” om te vergader. In die geval van die gesalfdes wat “ontslaap het”, lei hierdie basuinagtige oproep tot hulle geestelike opstanding tot in die hemele. Die Wagtoring huldig al lank die beskouing dat hierdie opstanding van gesalfde Christene in 1918 begin het.
19. Wanneer en hoe sal die wat oorbly “in wolke weggevoer word”, en met watter doel?
19 Maar wat van die oorblywende gesalfde Christene op aarde, ’n slinkende groep wat nou minder as 10 000 tel? Hulle moet ook hulle aardse lewe in getrouheid voltooi. Asof hy saam met hulle gedurende Christus se teenwoordigheid leef, skryf Paulus: “Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” (1 Thessalonicense 4:17; vergelyk Openbaring 1:10.) So sal al 144 000 mettertyd opgewek word om as priesters en konings saam met die Lam, Jesus Christus, op die hemelse berg Sion te dien. “Dit is die eerste opstanding” (Openbaring 14:1, 4; 20:4, 5). Maar wat wag op die miljarde lede van die mensdom wat nou in hulle grafte is?
20, 21. (a) Wat lê voor vir die miljarde lede van die mensdom wat in hulle grafte is? (b) Watter groep sal nooit hier op die aarde hoef te sterf nie, en waarom nie? (c) Watter salige vooruitsig het individue in hierdie groep indien hulle wel sou sterf?
20 Hoewel Paulus hulle nie spesifiek in sy eerste brief aan die Thessalonicense meld nie, verseker Openbaring 20:12 ons dat “die dode, klein en groot”, opgewek gaan word om voor God se oordeelstroon te staan. (Kyk ook Johannes 5:28, 29.) Maar “’n groot menigte” wat miljoene tel, is vandag reeds voor daardie troon vergader. As ’n groep sal hulle deur die naderende “groot verdrukking” heen bewaar word. Die Lam pas hulle soos ’n herder op en lei hulle na “lewende waterfonteine” sodat hulle nooit hier op die aarde hoef te sterf nie. Maar weens bejaardheid of ’n onvoorsiene gebeurtenis kan sommige van hulle gedurende die Here se “teenwoordigheid” sterf (Openbaring 7:9, 14, 17; Prediker 9:11). Wat van hulle?
21 Al sulke “ander skape” het die vreugdevolle hoop op ’n vroeë opstanding (Johannes 10:16). Hulle geloof en werke, soos dié van Abraham van die ou tyd, het reeds vir hulle vriendskap met God verkry. Net soos daardie manne en vroue van geloof wat in Hebreërs hoofstuk 11 beskryf word, het hierdie hedendaagse “ander skape” beproewinge verduur. Dit is logies dat hulle ook “’n beter opstanding” sal kry, ongetwyfeld vroeg in die tydperk na Armageddon (Hebreërs 11:35; Jakobus 2:23). Elkeen wat in geloof ‘Jesus se vlees geëet en sy bloed gedrink het’, sal inderdaad deel in die vervulling van sy belofte: “Hy . . . het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”—Johannes 6:54; Romeine 5:18, 21; 6:23.
22. Hoe kan ons mekaar vertroos?
22 Nadat Paulus die heerlike opstandingshoop bespreek het, vermaan hy: “Hou derhalwe aan om mekaar met hierdie woorde te vertroos” (1 Thessalonicense 4:18, NW). Dan bespreek hy nog lewensbelangrike sake met betrekking tot “die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van onse Here Jesus” (1 Thessalonicense 5:23). Wat is hierdie dinge? Kyk die artikel “Vrede van God af—Wanneer?”
Ter opsomming—
◻ Watter versoeke rig Paulus ten behoewe van Christene?
◻ Watter “bevele” gee die apostel vir ons beswil?
◻ Hoe vertroos God se Woord ons met betrekking tot die dode?
◻ Watter opstandingsorde beskryf Paulus?