Jesus se lewe en bediening
’n Gewenste bomenslike heerser
TOE Jesus die duisende mense wonderdadig voed, is hulle verwonderd. “Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom”, sê hulle. HuIle kom nie alleen tot die gevolgtrekking dat Jesus daardie profeet is wat groter as Moses is nie, maar ook dat hy ’n uiters gewenste heerser sal uitmaak. Daarom beplan hulle om hom met geweld te neem en hom koning te maak.
Maar Jesus is bewus van wat hulle beplan. Daarom vertrek hy sonder versuim om te voorkom dat hy met geweld deur hulle benoem word. Hy stuur die skare weg, dring by sy dissipels daarop aan dat hulle in hulle skuit klim en na Kapernaüm terugkeer, en gaan toe opsy na die berg om te bid. Daardie nag is Jesus heeltemal alleen daar.
Skuins voor dagbreek kyk Jesus van sy hooggeleë uitkykpunt uit en sien hoe golwe deur ’n sterk wind op die see veroorsaak word. In die lig van die maan wat byna vol is, want die Paasfees is naby, sien Jesus die boot met sy dissipels wat sukkel om teen die golwe te roei. Die manne roei met al hulle mag.
Toe Jesus dit sien, klim hy van die berg af en begin om oor die golwe heen na die boot te loop. Na omtrent vyf of ses kilometer bereik hy sy dissipels. Maar hy loop aan asof hy by hulle wil verbygaan. Toe hulle hom sien, skreeu hulle: “Dit is ’n verskyning!”
Jesus antwoord hulle gerusstellend: “Dit is Ek! Moenie vrees nie.”
Maar Petrus sê: “Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.”
“Kom!” antwoord Jesus.
Toe klim Petrus van die skuit af en loop op die water na Jesus toe. Maar toe Petrus die sterk wind sien, word hy bang en toe hy begin sink, roep hy uit: “Here, red my!”
Jesus steek dadelik sy hand uit, gryp hom en sê: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?”
Nadat Petrus en Jesus in die skuit teruggeklim het, gaan lê die wind, en die dissipels is verwonderd. Maar moet hulle wees? As ‘hulle die betekenis van die brode’ verstaan het deur te begryp watter groot wonderwerk Jesus ’n paar uur vroeër verrig het toe hy duisende mense met slegs vyf brode en twee vissies gevoed het, sou dit nie so verstommend gelyk het dat hy op water kon loop en die wind kon laat bedaar nie. Maar nou val die dissipels voor Jesus neer en sê: “Waarlik, U is die Seun van God!”
Na ’n kort rukkie bereik hulle Gennésaret, ’n pragtige, vrugbare vlakte naby Kapernaüm. Daar anker hulle die skuit vas. Maar wanneer hulle aan wal gaan, herken die mense Jesus en gaan in die hele omtrek rond om die wat siek is te vind. Wanneer hierdie siek mense op hulle beddens gebring word en net die soom van Jesus se kleed aanraak, word hulle heeltemal gesond gemaak.
Die volgende dag ontdek die skare wat die wonderdadige voeding van die duisende mense gesien het dat Jesus vertrek het. Toe daar dus klein bootjies van Tiberias aankom, klim hulle daarin en vaar na Kapernaüm om Jesus te soek. Toe hulle hom vind, vra hulle: “Rabbi, wanneer het U hier gekom?” Jesus se antwoord sal baie insiggewend wees. Johannes 6:14-25; Mattheüs 14:22-36, vgl. NW; Markus 6:45-56, vgl. NW.
◆ Wat wil die mense met Jesus doen nadat hy duisende mense wonderdadig gevoed het?
◆ Wat sien Jesus van die berg af waarheen hy alleen gegaan het, en wat doen hy dan?
◆ Waarom moet die dissipels nie so verwonderd wees oor hierdie dinge me?
◆ Wat gebeur nadat hulle aan wal gaan?
[Volbladillustrasie op bladsy 9]