Dit is dodelik om hierdie wêreld se “lug” in te asem!
“Julle het Hy [God] lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het . . . volgens die owerste van die mag van die lug.”—EFESIËRS 2:1, 2.
1. Hoe het lugbesoedeling vir mense dodelik geword?
’N VARS luggie! Hoe verkwikkend is dit tog nadat ’n mens in ’n bedompige vertrek was! Maar besoedeling is vandag selfs in die uitgestrekte ooptes ’n groot probleem. Die konsentrasie van gifstowwe wat in die atmosfeer vrygelaat word, is in baie lande onrusbarend. Giftige dampe, radioaktiewe stof, siekteverwekkende kieme en sekere virusse word almal deur die lug vervoer. Die lewensonderhoudende lug, wat so vrygewig deur ons liefdevolle Skepper voorsien word, word al hoe dodeliker vanweë die mens se hebsug en onverskilligheid.
2. Watter besoedelde “lug” is gevaarliker as die besoedelde lug wat ons dalk inasem?
2 Ofskoon lugbesoedeling gevaarlik is, is daar ’n selfs dodeliker vorm van besoedelde “lug”. Dit is nie besoedelde lug van die kernongeluk in Tsjernobil (USSR) of rookmisgevulde lug van Los Angeles, Kalifornië (VSA), nie. Nee, ons loop gevaar om baie dodeliker “lug” in te asem. Die apostel Paulus het dit genoem toe hy vir mede-Christene gesê het: “Julle het Hy [God] lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die [stelsel] van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk.”—Efesiërs 2:1, 2, vgl. NW.
3, 4. (a) Wie is “die owerste van die mag van die lug”? (b) Waarom is die “lug” wat in Efesiërs 2:1, 2 gemeld word nie die woonplek van die demone nie?
3 Wat is hierdie “lug”? Paulus sê dat dit “mag” het en dat daar ’n “owerste” daarvan is. Dit ly geen twyfel wie hierdie owerste is nie. Hy is Satan die Duiwel, die een wat deur Jesus Christus “die owerste van hierdie wêreld” genoem is (Johannes 12:31). Sommige Bybelgeleerdes besef dit en meen derhalwe dat Paulus hier by Joodse of heidense bronne geleen en van die lug gepraat het as die woonplek van die demone waaroor die Duiwel beheer het. Baie Bybelvertalings gee dit so weer. Maar hierdie “lug” is nie dieselfde as “die hemelse plekke” waar “die bose geeste” woon nie.—Efesiërs 6:11, 12, vgl. NW.
4 Toe Paulus aan Christene in Efese geskryf het, was Satan en die demone nog in die hemel, hoewel hulle nie God se guns geniet het nie. Hulle moes nog na die aarde neergewerp word (Openbaring 12:7-10). Daarbenewens hou lug meer verband met mense as met geesskepsele. Gevolglik sou die mensegemeenskap die gevolge ervaar wanneer die laaste skaal van God se toorn op “die lug” uitgegooi word.—Openbaring 16:17-21.
5. Watter “lug” word hier bespreek, en watter uitwerking het dit op mense?
5 Dit wil dus voorkom asof Paulus die letterlike lug, of atmosfeer, gebruik om die algemene gees, of oorheersende gesindheid van selfsug en ongehoorsaamheid, wat weerspieël word deur mense wat van God vervreemd is, toe te lig. Dit is dieselfde as “die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” en “die gees van die wêreld” (Efesiërs 2:2; 1 Korinthiërs 2:12). Net soos die letterlike lug oral is, reg om ingeasem te word, is “die gees van die wêreld” immer teenwoordig. Van die wiegie tot die graf deurdrenk, beïnvloed en vorm dit mense se denk- en handelwyse terwyl hulle probeer om hulle begeertes, verwagtinge en ambisies te vervul.
6. (a) Hoe word die invloed van hierdie wêreld se “lug” versterk en hoe oefen dit “mag” uit? (b) Hoe kan ’n mens beweeg word om die Duiwel se opstandige weg te volg as jy hierdie “lug” inasem?
6 Hierdie gees van sondigheid en opstand voer die botoon in die onvolmaakte mensegemeenskap. Terwyl hierdie “lug” ingeasem word, word die dodelike invloed daarvan deur portuurdwang en ’n immer toenemende begeerte na singenot versterk. Dit het dus merkbare “mag” oor mense. (Vergelyk Romeine 6:12-14.) Die Duiwel is natuurlik die skepper van alles wat boos is (Johannes 8:44). Hy beïnvloed mense derhalwe om sy eie opstandige handelwyse na te volg en inspireer, vorm en beheers sodoende hierdie gemeenskapsgees, of “lug”. As die “owerste” van hierdie boosaardige “mag”, of gesag, gebruik Satan dit om mense se denke te beheers. Die elemente daarvan is ontwerp om mense so besig te hou met die vervulling van vleeslike begeertes en die nastrewing van wêreldse belange dat hulle nie die tyd of begeerte het om God te leer ken en hulle aan sy heilige gees, “die Gees wat lewend maak”, te onderwerp nie (Johannes 6:63). Hulle is geestelik gesproke dood.
7. (a) Hoe was Christene vroeër “kinders van die toorn”? (b) Hoe het ons verander toe ons Christene geword het?
7 Christene was ook onder die “mag”, of beheer, van hierdie besoedelde “lug” voordat hulle die waarheid van God se Woord geleer en begin het om hulle na sy regverdige standaarde te skik. “Onder wie [die wêreldse mense] ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” Maar toe ons Christene geword het, het ons opgehou om die dodelike “lug” van hierdie wêreld in te asem. Ons ‘het die ou persoonlikheid afgelê wat met ons vroeëre lewenswandel ooreengekom het en het ons met die nuwe persoonlikheid beklee wat na God se wil geskape is in ware regverdigheid en lojaliteit’.—Efesiërs 2:3; 4:22-24, NW.
8. Hoe kom ons situasie vandag ooreen met dié van die nasie Israel in die woestyn?
8 Die gevaar bestaan nou dat ons, nadat ons aan hierdie wêreld se besoedelde atmosfeer ontsnap het, verlei kan word om weer daarna terug te keer. Ons bevind ons nou diep in “die tyd van die einde” en op die drumpel van die nuwe wêreld (Daniël 12:4). Ons wil dit tog seker nie verbeur deur in dieselfde slagysters as die Israeliete te trap nie. Nadat hulle wonderdadig uit Egipte verlos is en by die grens van die Beloofde Land aangekom het, is duisende “neergeslaan in die woestyn”. Waarom? Omdat sommige afgodedienaars geword, ander hulle aan hoerery skuldig gemaak en nog ander Jehovah deur hulle murmurering en klaery op die proef gestel het. Paulus stel ’n sterk punt deur te sê: “Al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”—1 Korinthiërs 10:1-11.
9. (a) Hoe kan ons in die wêreld wees en tog geen deel daarvan wees nie? (b) Wat moet ons wees sodat ons nie in die dodelike atmosfeer van die wêreld teruggetrek word nie?
9 Jesus het aangaande sy dissipels gebid: “Hulle [is] nie van die wêreld . . . nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:14, 15). Jehovah sal ons beskerm, maar hy plaas nie “’n omheining” om ons en beskut ons nie wonderdadig teen hierdie wêreld se “lug” nie (Job 1:9, 10, NW). Die uitdaging wat aan ons gestel word, is dus om in Satan se wêreld te wees en tog geen deel daarvan te wees nie, om deur die besoedelde “lug” daarvan omring te word, maar dit nie in te asem nie. Wanneer ons wêreldlike publikasies lees, televisie kyk of na vermaaklikheidsplekke gaan, sal ons waarskynlik aan die wêreld se “lug” blootgestel word. Hoewel ’n mate van kontak met wêreldse mense onvermydelik is—by die werk, op skool en andersins—moet ons waaksaam wees sodat ons nie in die dodelike atmosfeer van hierdie wêreld teruggetrek word nie.—1 Korinthiërs 15:33, 34.
10, 11. (a) Hoe kan ons posisie in Jehovah se geestelike paradys vergelyk word met wanneer jy in ’n gedeelte sit waar “rook verbode” is? (b) Watter stappe moet ons doen as ons dampe van hierdie wêreld se “lug” gewaar?
10 Ons situasie is soos om in ’n restourant met gedeeltes vir rokers en nie-rokers te sit. As Christene in Jehovah se geestelike paradys is ons gepas in die gedeelte waar “rook verbode” is, weg van die gees van hierdie wêreld. Ons sal tog sekerlik nie opsetlik in die gedeelte vir “rokers” sit nie. Dit sal dwaas wees. Maar wat gebeur dikwels wanneer ons in die gedeelte van ’n restourant sit waar “rook verbode” is? Wel, die rookgevulde, vuil lug trek oor, en ons kry dampe daarvan! Is die besoedelde lug vir ons aanloklik wanneer dit gebeur? Of gee ons nie eerder so gou moontlik daarvandaan pad nie?
11 Maar wat doen jy wanneer dampe van hierdie wêreld se “lug” in jou rigting trek? Tree jy onmiddellik daadwerklik op om van hierdie vuil invloed weg te kom? As jy daar bly en dit inasem, kan jy daarvan seker wees dat jou denke beïnvloed sal word. Hoe langer jy hierdie “lug” inasem, hoe verdraagsamer word jy daarteenoor. Boonop is die reuk naderhand nie walglik nie, maar aanloklik, bedwelmend, begeerlik vir die vlees. Dit kan die een of ander geheime begeerte wat jy probeer onderdruk, versterk.
12. Wat is nodig om te voorkom dat ons beïnvloed word deur die aspekte van hierdie wêreld se “lug” wat nie maklik gewaar kan word nie?
12 Sommige dodelike besoedelstowwe van hierdie wêreld se “lug” kan nie maklik gewaar word nie, net soos besoedelstowwe in die letterlike lug, soos koolstofmonoksied, reukloos en smaakloos is. Die gevaar bestaan dus dat ons die ‘dodelike’ dampe dalk nie sal gewaar totdat dit ons oorval het nie. Ons moet dus op ons hoede wees dat hierdie wêreld se permissiewe gesindhede of ongehoorsaamheid aan God se standaarde van regverdigheid ons nie in ’n dodelike val lei nie. Paulus het sy mede-Christene aangespoor om “mekaar elke dag [te vermaan] . . . sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie”.—Hebreërs 3:13; Romeine 12:2.
Waaruit bestaan hierdie wêreld se “lug”?
13. (a) Wat is een vorm van hierdie wêreld se “lug” waarteen ons moet waak? (b) Hoe is dit duidelik dat hierdie “lug” sommige van Jehovah se volk beïnvloed het?
13 Watter algemene gesindhede kan ons weens die sterk invloed van hierdie wêreld se “lug” begin aanneem, selfs voordat ons dit besef? Een gesindheid is die neiging om met onsedelikheid te speel. Hierdie wêreld se opvattinge omtrent seks en sedelikheid omring ons. Baie sê: ‘Dit is in orde om jou aan hoerery skuldig te maak, buite-egtelike kinders te hê en homoseksualiteit te beoefen. Ons doen eenvoudig wat normaal en natuurlik is.’ Het hierdie “lug”, of wêreldse gees, Jehovah se volk beïnvloed? Ongelukkig moes 37 426 in die 1986-diensjaar uit die Christengemeente uitgesit word, die meeste van hulle weens geslagsonsedelikheid. En dit sluit nie die selfs groter getal in wat weens onsedelikheid tereggewys maar nie uitgesit is nie, omdat hulle opreg berouvol was.—Spreuke 28:13.
14. Waarom raak sommige Christene sedelik op ’n dwaalweg, en watter Skriftuurlike raad verwerp hulle?
14 Wat gebeur in die geval van diegene wat voor geslagsonsedelikheid swig? Wanneer die feite aan die lig kom, word daar dikwels bevind dat hulle weer die dodelike “lug” van hierdie wêreld begin inasem het. Hulle het toegelaat dat wêreldse gesindhede hulle hulle standaarde laat verlaag. Hulle begin dalk om na rolprente te kyk waarvoor hulle jare vantevore sou uitgestap het. Nog erger, hulle kyk dalk tuis na videorolprente wat ongetwyfeld nie vir ’n Christen geskik is nie. Om so met onsedelikheid te speel, is lynreg in stryd met die Skriftuurlike opdrag: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies . . . nie.”—Efesiërs 5:3, 4.
15. Hoe kan die versoeking om met geslagsonsedelikheid te speel op ’n terloopse manier begin?
15 Jy verwerp dalk onmiddellik ’n openlike voorstel om jou aan hoerery skuldig te maak. Maar hoe reageer jy wanneer iemand by die werk of op skool met jou probeer flankeer, vatterig probeer raak of ’n afspraak met jou probeer maak? Dampe van hierdie wêreld se “lug” trek op hierdie manier in jou rigting. Veroorloof jy jou om die aandag te geniet, om dit aan te moedig? Volgens verslae wat ouere manne ontvang het, begin oortreding dikwels op sulke terloopse maniere. ’n Wêreldse man sê dalk vir ’n Christin: “Jy lyk vandag baie mooi!” Dit is miskien aangenaam om te hoor, veral as die vrou ’n bietjie eensaam is. Ernstiger nog, sommige het nie verstandig opgetree wanneer iemand vatterig geraak het nie. Hulle het die indruk gewek dat hulle daarteen beswaar maak, maar so halfhartig dat die wêreldse persoon aangemoedig is om aan te hou. Gestel ’n man doen herhaaldelik sulke onsedelike voorstelle aan ’n Christin, soos sterk dampe besoedelde lug wat in haar rigting geblaas word. Sy moet op ’n besliste manier vir hom sê dat sy sy attensies nie wil hê en nie sal aanvaar nie. As sy aanhou om hierdie “lug” in te asem, sal haar weerstand waarskynlik verbrokkel. Sy kan tot onsedelikheid, of selfs ’n onverstandige huwelik, gelei word.—Vergelyk Spreuke 5:3-14; 1 Korinthiërs 7:39.
16. Wat is nodig om “’n aangename geur van Christus” te wees?
16 Verwerp dus onmiddellik die onsedelike, dodelike “lug” van hierdie wêreld. In plaas van te swig voor die aanloklike reuk daarvan en Jehovah se naam en organisasie tot oneer te strek, moet ons deur ons godvrugtige gesindheid en gedrag vir God ’n aangename geur word. Paulus het dit so gestel: “Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ’n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ’n reuk van die lewe tot die lewe” (2 Korinthiërs 2:15, 16). Watter saak maak dit as baie hulle neus vir die Christelike weg optrek? (1 Petrus 4:1-5). Laat die wêreld sy gang gaan en sy slegte vrugte maai in die vorm van verbroke gesinne, buite-egtelike geboortes, seksueel oordraagbare siektes, soos Vigs, en ontelbare ander emosionele en liggaamlike ellendes. Jy sal jou nie net baie pyn bespaar nie, maar sal ook God se guns geniet. Daarbenewens sal jou goeie gedrag en die Koninkryksboodskap wat jy verkondig ten minste sommige beïndruk en sal hulle sodoende aangetrek word tot die “reuk van die lewe tot die lewe”.
Die “lug” van wêreldse modes
17. Hoe kan modes van kleredrag en persoonsversorging toon dat die gees van hierdie wêreld jou beïnvloed het?
17 Nog ’n aspek van hierdie wêreld se “lug” het betrekking op modes van kleredrag en persoonsversorging. Baie in die wêreld trek aan om hulself seksueel aanloklik te maak. Selfs kinders jonger as dertien wil hulself ouer laat voorkom, met die klem op seks. Word jy deur hierdie algemene “lug”, of gesindheid, beïnvloed? Trek jy aan om persone van die ander geslag te prikkel, te tantaliseer of hulle belangstelling op onwelvoeglike wyse te wek? Dan speel jy met vuur. Jy sal jou beskeidenheid en jou begeerte om kuis te wees, smoor as jy hierdie “lug” inasem (Miga 6:8). Diegene wat ’n wêreldse gees openbaar, sal tot jou aangetrokke voel. Jou optrede sal hulle tot die gevolgtrekking laat kom dat jy bereid is om jou saam met hulle aan onsedelikheid skuldig te maak. Maar waarom sal jy in hierdie rigting begin beweeg deur toe te laat dat sulke “lug” jou verlok om te doen wat God afkeur?
18. Hoe sal dit ons help in ons keuse van modes van kleredrag en persoonsversorging as ons altyd onthou dat ons Jehovah verteenwoordig?
18 As ons beskeie wil wees, beteken dit nie dat ons kleredrag of persoonsversorging slordig of onaantreklik moet wees nie. Kyk na die kleredrag en persoonsversorging van die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies. Hulle vermy die uitspattige modes van hierdie wêreld, maar sien daar aantreklik uit, omdat hulle in gedagte hou dat hulle bedienaars is wat die Soewerein van die heelal, Jehovah, verteenwoordig. Laat die ou wêreld maar krities wees oor hulle beskeie modes. Hulle durf nie toelaat dat hierdie wêreld se gesindhede hulle hul Christelike standaarde laat verlaag nie. “Dit sê en betuig ek dan in die Here”, het die apostel Paulus geskryf, “dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—mense . . . wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe” (Efesiërs 4:17-19). Die ryp Christen sal beskeie aantrek en nie soos die heidene wandel nie.—1 Timotheüs 2:9, 10.
19. Wat is ná hierdie bespreking van twee vername aspekte van hierdie wêreld se “lug” reeds duidelik omtrent die gevaar wat die inaseming daarvan inhou?
19 Ons het tot dusver net twee aspekte van hierdie wêreld se “lug” bespreek. Maar ons het reeds gesien dat hierdie “lug” geestelik baie nadelig is. In die volgende artikel sal ons ander aspekte van hierdie dodelike “lug” bespreek wat die Duiwel en sy stelsel voortdurend na Christene blaas in die hoop dat hulle daarvoor sal swig. Hoe belangrik is dit tog dat ons sulke “lug” vermy, want om die gees van hierdie wêreld in te neem, is soos om doodsdampe in te asem!
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat is hierdie wêreld se “lug”, en wie beheers dit?
◻ Watter “mag” het die wêreld se “lug” oor mense?
◻ Waarom kan daar gesê word dat Christene in ’n gedeelte is waar “rook verbode” is?
◻ Hoe kan hierdie wêreld se “lug” Jehovah se volk beïnvloed om met onsedelikheid te speel?
◻ Hoe kan beskeidenheid ons help om nie deur hierdie wêreld se “lug” ten opsigte van kleredrag en persoonsversorging beïnvloed te word nie?
[Prente op bladsy 10]
Weier jy om hierdie wêreld se dodelike “lug” in te asem?
[Prent op bladsy 13]
Wat doen jy wanneer dampe van hierdie wêreld se “lug” in jou rigting trek?