Geloofsgenesing—Kom dit van God?
DIE man was al 38 jaar lank siek. “Wil jy gesond word?” het Jesus gevra. Sou jy nie, as jy hierdie man was, gretig ja geantwoord het nie? Jesus het vir hom gesê: “Staan op, neem jou bed op en loop.” Wat was die gevolg van daardie woorde? “Dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop.”—Johannes 5:5-9.
Hierdie daad van goddelike genesing was maar een van talle wat Jesus gedurende sy aardse bediening verrig het (Mattheüs 11:4, 5). Hedendaagse geloofsgenesers beweer dat God steeds sulke genesings doen, en hulle word gesteun deur getuigskrifte van duisende wat beweer dat geloofsgenesers hulle genees het.
Belangrike verskille
’n Studie van die Bybel openbaar ’n paar belangrike verskille tussen die genesings wat in die Bybel opgeteken is en dié deur hedendaagse geloofsgenesers. Jesus en sy dissipels het byvoorbeeld nooit geld vir hulle genesings gevra nie. “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee”, het Jesus geleer (Mattheüs 10:8). Hulle het dus Elisa se voorbeeld gevolg, wat ’n geskenk geweier het van ’n man, Naäman, wat deur Elisa van melaatsheid genees is (2 Konings 5:1, 14-16). Wanneer geloofsgenesers geld vra vir hulle dienste skend hulle dus hierdie Skriftuurlike presedent.
Dit is ook opmerkenswaardig dat genesings in Bybelse tye oombliklik was, of binne ’n kort tydjie gedoen is. Toe die apostel Petrus ’n man gesien het “wat van sy geboorte af kreupel was”, het hy vir die man gesê: “In die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, staan op en loop!” Die verslag openbaar: “Onmiddellik het [die kreupel man se] voete en enkels sterk geword. En hy het opgespring en gestaan en rondgeloop” (Handelinge 3:1-8). Lees gerus self ander voorbeelde in Handelinge 5:15, 16 en 14:8-10.
Vandag duur dit egter dikwels dae, weke of selfs maande voordat die geloofsgenesingskure die gewenste uitwerking het! Dit is ook opmerklik dat geloofsgenesers geneig is om te konsentreer op funksionele siektes, soos blindheid, verlamming of doofheid—siektes wat soms ’n psigiese grondslag kan hê. Chirurg Paul Brand sê: “Wanneer ’n organiese feit eers onomstootlik geword het—bene, oë of follikels wat ontbreek—vind wonderwerke selde plaas.” Jesus het egter “elke siekte en elke kwaal” genees, waaronder gebreke soos ’n verdorde hand, wat duidelik organies van aard was.—Mattheüs 9:35; Markus 3:3-5.
‘Jy het nie genoeg geloof niel’
Dit is tragies dat talle ernstig siek mense ‘genesingskruistogte’ bywoon, maar net so siek soos altyd terugkeer huis toe. Geloofsgenesers praat sulke mislukkings weg deur te sê: ‘Hulle het nie genoeg geloof nie!’ Maar dit ruik na bedrog. Soos dr. William Nolen sê: “Anders as die ortodokse geneesheer, hoef ’n psigiese geneser nooit die verantwoordelikheid op hom te neem wanneer sy genesing misluk nie. Ek moet erken dat ek daarvan sou gehou het om so ’n verskoning te kon gebruik wanneer ek ’n pasiënt teëkom wat ek nie kan genees nie.”
Nòg God se profete, nòg Jesus of Jesus se dissipels moes ooit die verskoning maak dat die sieke nie genees is nie weens ’n gebrek aan geloof. ’n Gebrek aan geloof het weliswaar die aantal mense beperk wat gekom het om genees te word. Maar diegene wat wel gekom het, is altyd ten volle genees!—Markus 6:5, 6.
Trouens, in sommige gevalle is mense genees wat klaarblyklik geloof kortgekom het. Naäman, die Siriese leërowerste, het byvoorbeeld nie ten volle geglo dat hy op die manier wat die profeet Elisa beveel het, van sy melaatsheid genees kon word nie. Dit was slegs ná sy genesing dat hy erken het: “Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel” (2 Konings 5:11-13, 15). Die flou verskonings van geloofsgenesers slaan dus nie in nie.
Genesing—’n gawe wat verbygegaan het
Maar is dit nie waar dat wonderdadige gawes van genesing onder vroeë Christene algemeen was nie? (1 Korinthiërs 12:9). Ja, maar daar was ’n goeie rede vir die wonderwerke wat destyds plaasgevind het. Die nasie van vleeslike Israel was een en ’n half millennium lank God se uitverkore volk; maar in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling is Israel verwerp weens hulle gebrek aan geloof en is hulle vervang deur die nuwe Christengemeente. Daardie vroeë Christene het buitengewone hulp nodig gehad om hul geloof te versterk en aan die buitewêreld te bewys dat hulle Jehovah God se steun het.
Wonderdadige gawes, waaronder genesing, is dus aan die pasgestigte Christengemeente gegee. Dit het gedien as “’n teken” vir ongelowiges en as ’n manier om die geloof van gelowiges op te bou (1 Korinthiërs 14:22). Maar die Christelike godsdiens het nou, byna tweeduisend jaar later, sy kinderskoene ontgroei. (Vergelyk 1 Korinthiërs 13:9-13.) Die Bybel is reeds lank gelede voltooi en het ’n sirkulasie van miljoene eksemplare. Ware Christene van vandag kan ongelowiges dus maklik na die bladsye daarvan rig ter stawing van wat hulle leer. Wonderdadige verskynsels is nie meer nodig nie.
Paulus het voorts aangedui dat bonatuurlike gawes ‘tot niet sal gaan’ (1 Korinthiërs 13:8). Sulke gawes is net regstreeks deur of in die teenwoordigheid van Christus Jesus se apostels oorgedra (Handelinge 8:18-20; 10:44-46; 19:6). Na die dood van die apostels het wonderdadige verskynsels opgehou.
Die Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature deur McClintock en Strong (Deel VI, bladsy 320) sê dat dit “’n onbetwiste stelling [is] dat ons tydens die eerste honderd jaar ná die dood van die apostels min of niks van die werking van wonders deur die vroeë Christene hoor nie”.
Daar is rede om versigtig te wees
Jesus Christus het gewaarsku dat ’n tyd sou kom wanneer baie vir hom sou sê: “Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?” En nogtans sou Jesus vir hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree!” (Mattheüs 7:22, 23, NAV). Waaraan kan hulle skynbare sukses om “wonders” te doen dus toegeskryf word as God se gees nie daarvoor verantwoordelik is nie?
In sommige gevalle is algehele bedrog skynbaar daarby betrokke. The Herald, ’n koerant van Zimbabwe, het berig oor drie persone wat volgens ’n bekende geloofsgeneser genees is. Die koerant het dit as bedrog oopgevlek: “Een kind kan steeds nie hoor of praat nie; een kind was nooit doof of stom nie; en ’n vrou, wat net doof was, kan steeds nie hoor nie.”
Soms lyk dit asof geloofsgenesing ’n plasebo-effek op die slagoffer het. In ander gevalle—veral waar ’n lang tyd verloop voordat die genesing gesien kan word—is die liggaam se natuurlike geneesmeganisme blykbaar daarby betrokke. In die boek Science and the Paranormal beweer dr. William Nolen dat “ongeveer 80 persent van die pasiënte wat na [’n ortodokse geneesheer] kom selfbeperkte siektes het—dit wil sê, siektes waarvan hulle spontaan sal herstel”. ’n Geloofsgeneser kan derhalwe met verloop van tyd maklik hom die eer vir die genesing toe-eien.
Ten slotte waarsku die Bybel dat ‘Satan self hom in ’n engel van die lig verander’ in ’n poging om te mislei (2 Korinthiërs 11:14). In 2 Thessalonicense 2:9, 10 het Paulus voorts verduidelik: “Hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade [“allerhande wonderwerke”, The Jerusalem Bible] en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan.” Wees dus op jou hoede! Geloofsgenesing sluit dikwels demoniese kragte in! “Ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie”, het Paulus gewaarsku. “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie.”—1 Korinthiërs 10:20, 21.
Wanneer ’n Christen siek is
Wanneer ’n mens siek is, kan ’n wonderdadige genesing weliswaar na ’n aantreklike moontlikheid lyk. Maar let op dat die apostel Paulus se medewerker Epafroditus so siek geword het dat hy by die dood omgedraai het (Filippense 2:25-27, vgl. Die Lewende Bybel). Paulus se intieme metgesel Timotheüs het eweneens aan “herhaalde ongesteldhede” gely (1 Timotheüs 5:23). Maar Paulus het nie een van hierdie mans wonderdadig genees nie. En toe Paulus self mediese behandeling nodig gehad het, het hy moontlik van die dienste gebruik gemaak van Lukas, ‘die geliefde geneesheer’ wat saam met hom gereis het.—Kolossense 4:14.
’n Christen wat siek is, kan vandag eweneens die hulp van ’n bekwame geneesheer of terapeut soek, terwyl hy hom nie bemoei met demoongeïnspireerde genesings of met die kwaksalwery wat vandag in baie lande so algemeen is nie. Hy kan ook, nie om ’n wonderdadige genesing nie, maar om wysheid bid om die siekte te hanteer (Jakobus 1:5). Hy kan ook bid dat Jehovah “hom ondersteun op die siekbed”.—Psalm 41:4.
Dit kan weliswaar uiters ontmoedigend wees wanneer die mediese wetenskap nie ’n sekere siekte kan genees nie. ’n Christen moet nietemin, selfs wanneer hy siek is, daarna streef om hom ‘van die belangrike dinge te vergewis’, en nie toelaat dat besorgdheid oor gesondheid geestelike belange heeltemal oorskadu nie (Filippense 1:10, NW). Hy kan homself bemoedig met die hoop op lewe onder God se Koninkryk wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”.—Jesaja 33:24; 65:17-19.
Hierdie hoop van ’n regverdige nuwe wêreld is werklik van veel meer belang as die leë beloftes van geloofsgenesers. Beskou Peter, ’n blinde wat in Akumadan, Ghana, woon. Hy het altesaam 26 jaar na verskillende geloofsgenesingskerke gegaan in die hoop dat sy blindheid genees sal word. Maar geen geloofsgeneser het sy oë geopen nie. Toe, terwyl hy steeds ’n geloofsgenesingskerk bygewoon het, het Jehovah se Getuies met hom in aanraking gekom.
Die Getuies het uit die Bybel verduidelik dat ’n algehele genesing van alle siektes onder God se Koninkryk sal plaasvind. Dit het Peter se oë van die verstand geopen. Hy het, vol waardering vir die Bybel se wonderlike waarhede, ’n voltydse verkondiger van God se Koninkryk geword en dien al meer as drie jaar as sodanig! Hy sien uit na die tyd wanneer “die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word”, in letterlike sin.—Jesaja 35:5, 6.
Met behulp van God se Woord het duisende ander hulself eweneens bevry van misplaaste vertroue in geloofsgenesers.
[Prent op bladsy 5]
Geloofsgenesers genees selde mense met organiese probleme
[Prente op bladsy 7]
’n Christen wat siek is, bid om krag om te volhard. Hy sien ook uit na die nuwe wêreld, waar “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”