Keur God geloofsgenesing goed?
“ONS het vandag vreemde dinge gesien!” (NW). Ja, die toeskouers was beïndruk. ’n Verlamde man is voor hulle oë genees. Die geneser het vir die man gesê: “Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.” En dit is presies wat die man gedoen het! Hy was nie meer verlam nie. Geen wonder nie dat dié wat daar teenwoordig was ‘God verheerlik het’! (Lukas 5:18-26). Dit was baie duidelik dat hierdie genesing, wat bykans 2 000 jaar gelede deur Jesus Christus gedoen is, God se goedkeuring weggedra het.
Wat van vandag? Bestaan die moontlikheid dat diegene wat nie deur mediese geneesmiddels genees kan word nie wel op ’n wonderdadige wyse genees kan word? Jesus het mense deur wonderwerke genees. Vandag beweer geloofsgenesers dat hulle hom navolg. Hoe moet ons hulle bewerings beskou?
Geloofsgenesing word gedefinieer as “’n metode om siektes te behandel deur te bid en geloof in God te beoefen”. Die Encyclopædia Britannica sê: “Die geskiedenis van geloofsgenesing in die Christelike godsdiens het begin met Jesus en die apostels se verstommende persoonlike bediening.” Ja, Jesus het buitengewone genesings gedoen. Doen geloofsgenesers vandag wonderwerke soos Jesus gedoen het?
Geloof—’n Vereiste?
Volgens Black’s Bible Dictionary het Jesus “[geloof] as ’n voorvereiste vir sy genesingswonderwerke gestel”. Maar was dit die geval? Het Jesus vereis dat ’n siek persoon geloof moes hê voordat hy hom sou genees het? Die antwoord is nee. Die geneser moes geloof gehad het, maar nie noodwendig die siek persoon nie. By een geleentheid kon Jesus se dissipels nie ’n seun genees wat aan epilepsie gely het nie. Jesus het die seun genees en toe vir die dissipels gesê waarom hulle hom nie kon genees nie. “Hy het vir hulle gesê: ‘As gevolg van julle min geloof.’”—Mattheüs 17:14-20, NW.
Volgens Mattheüs 8:16, 17 het Jesus “almal wat ongesteld was, . . . gesond gemaak”. Hierdie mense het weliswaar ’n mate van geloof in Jesus gehad wat hulle beweeg het om hom te nader (Mattheüs 8:13; 9:22, 29). In die meeste gevalle moes hulle na hom toe kom en hom vra om hulle te genees voordat hy dit gedoen het. Maar hy het nie ’n geloofsbelydenis van hulle verwag voordat hy die wonderwerk verrig het nie. By een geleentheid het Jesus ’n verlamde man genees wat nie eers geweet het wie Jesus was nie (Johannes 5:5-9, 13). Die nag toe Jesus gearresteer is, het hy die afgekapte oor van die hoëpriester se dienskneg genees, hoewel hierdie man een van die groep van Jesus se vyande was wat gekom het om hom te arresteer (Lukas 22:50, 51). Trouens, Jesus het soms selfs dooies opgewek!—Lukas 8:54, 55; Johannes 11:43, 44.
Hoe kon Jesus sulke wonderwerke verrig? Omdat hy op God se heilige gees, of werkende krag, staatgemaak het. Dít is wat die genesing gedoen het, nie die geloof van die siek persoon nie. As jy die verslae in die Evangelies lees, sal jy ook opmerk dat die genesings wat Jesus gedoen het met so min seremonie moontlik gepaardgegaan het. Daar was nie ’n groot vertoon of op mense se emosies gespeel nie. Daarbenewens het Jesus nooit misluk nie, ongeag wat die siekte was. Hy het altyd welslae behaal, en hy het nooit vergoeding gevra nie.—Mattheüs 15:30, 31.
Is moderne genesings soos dié van Jesus?
Siekte is ’n groot probleem, en wanneer ons siek word, soek ons vanselfsprekend verligting. Maar sê nou ons woon in ’n plek waar “mense, veral dié met min geld, deur professionele gesondheidsbeamptes soos goed en nie soos mense behandel word nie”? Dit is die situasie wat ’n dokter in een Latyns-Amerikaanse land gesien het. En sê nou ons woon in ’n plek waar, soos in daardie selfde land, ‘slegs 40 persent van die mediese dokters vir hulle beroep gekwalifiseer is’?
Dit is geen wonder nie dat baie, omdat hulle geen ander uitweg sien nie, meen dat dit die moeite werd is om geloofsgenesing ten minste op die proef te stel. Maar sogenaamde genesings deur geloofsgenesers is betwisbaar. Nagenoeg 70 000 het byvoorbeeld ’n byeenkoms in São Paulo, Brasilië, bygewoon waar twee genesers ‘honderde brille fyngetrap het wat die gehoor na hulle gegooi het, terwyl hulle die liggelowige eienaars belowe het dat hulle hulle weer sal laat sien’. Een van die genesers het eerlik in ’n onderhoud erken: “Ek kan nie sê dat al die siekes vir wie ons bid, genees sal word nie. Dit hang van hulle geloof af. As ’n persoon glo, sal hy genees word.” Hy het gesê dat enige sieke wat nie genees is nie ’n gebrek aan geloof gehad het. Onthou egter dat Jesus gesê het, soos ons vroeër gesien het, dat die geneser ’n gebrek aan geloof gehad het wanneer iemand nie genees is nie!
Nog ’n geneser het belowe om kanker en verlamming te genees. Wat het gebeur? Volgens die tydskrif Veja “is die belofte klaarblyklik nie vervul nie”. En luister hoe die man hom gedra het: “[Die geloofsgeneser] het die gehoor byna twee uur lank vermaak met preke, gebede, krete, sang—hy het selfs die gelowiges geslaan met die doel om die demone in hulle liggame uit te dryf. Toe hy klaar was, het hy sy knoopdas en sy sakdoek vir die meegevoerde gehoor gegooi en ’n kollektebord omgestuur om ‘vrywillige bydraes’ in te samel.” Jesus en sy apostels het nooit geld gevra vir wonderdadige genesings nie, en hulle het nooit aan sulke spektakels deelgeneem nie.
Dit is dus duidelik dat sulke moderne geloofsgenesers nie doen wat Jesus gedoen het nie. En ’n mens kan jou nouliks voorstel dat God sal goedkeur wat hulle doen. Maar keur hy vandag enige wonderdadige genesing goed? Of is daar enige manier waarop ons geloof ons kan help wanneer ons of ons geliefdes siek word?