Wie het die Bybel geskryf?
“DIE Bybel is vol teenstrydighede”, beweer skeptici. “Dit bevat buitendien menslike filosofie. Hoe kan iemand die Bybel dus as ’n betroubare lewensgids aanvaar?”
Stem jy saam met die skeptici dat die Bybel bloot ’n boek is wat gebrekkige mensedenke weergee? Party geestelikes stem saam. Die voormalige Switserse Protestantse teoloog Karl Barth het in sy Kirchliche Dogmatik (Kerklike Dogmatiek) geskryf: “Die profete en apostels kon gefouteer het in wat hulle gesê en geskryf het.” Daar is weliswaar verskille in die bewoording van verslae van ’n gebeurtenis wat deur meer as een Bybelskrywer beskryf is. En ons vind verklarings wat oënskynlik heeltemal verskil van verklarings wat elders in die Bybel voorkom. Maar is dit werklik teenstrydighede? Is die Bybel bloot ’n menseproduk? Trouens, wie het die Bybel geskryf?
Die antwoord is eenvoudig: “Mense [het] van God gespreek”. Maar hoe het hulle geweet wat om te sê en te skryf? Die man wat pas aangehaal is, die apostel Simon Petrus, verduidelik voorts dat hulle gespreek het soos hulle “deur die Heilige Gees gedrywe” is.—2 Petrus 1:21.
Feit is dat die Bybel herhaaldelik beklemtoon dat dit “die woord van God” is. In die 176 verse van Psalm 119 alleen word daar 176 keer hierop gesinspeel! Dit is merkwaardig, want gewoonlik maak skrywers graag bekend dat hulle ’n besondere werk geskryf het. Maar dit was nie met die Bybelskrywers die geval nie. Hulle het alle eer aan God gegee. Dit was sy boek, nie hulle s’n nie.—1 Thessalonicense 2:13; 2 Samuel 23:2.
“Deur die Heilige Gees gedrywe”—Hoe?
Hoe is hierdie manne “deur die Heilige Gees gedrywe”? ’n Brief aan die eerste-eeuse Christen Timotheüs gee die antwoord hierop: “Die hele Skrif is deur God ingegee.” “Deur God ingegee” is die vertaling van die Bybel se oorspronklike woord van die Griekse teks the·oʹpneu·stos, wat letterlik “deur God geadem” beteken. God het sy onsigbare werkende krag—sy heilige gees—gebruik om sy idees in die gedagtes van die skrywers in te “adem”. Jehovah God is dus die Bron en Skepper van die Bybel. Sy gedagtes het die skrywe daarvan gerig net soos ’n sakeman ’n sekretaresse gebruik om briewe vir hom te skryf.—2 Timotheüs 3:16.
Hierdie begrip, “deur God geadem”, kom ook ooreen met die Bybelse uitdrukking “deur die Heilige Gees gedrywe”. Hoe so? In Grieks word “gedrywe” gebruik met betrekking tot skepe wat deur die wind in ’n bepaalde rigting voortgedryf word. (Vergelyk Handelinge 27:15, 17.) Soos ’n wind dus waai en ’n seilskip voortdryf, so het die Bybelskrywers onder God se invloed gedink, gepraat en geskryf, en is hulle deur sy heilige gees gedryf terwyl hy op hulle “geadem” het.
Die manne wat deur God gebruik is om te skryf
Ons het maar min outobiografiese besonderhede omtrent die Bybelskrywers. Hulle het hulleself hoegenaamd nie as baie belangrik beskou nie, maar het altyd daarna gestreef om God te eer deur hulleself op die agtergrond te hou. Ons weet egter wel dat daar staatsamptenare, regters, profete, konings, herders, boere en vissers onder hulle was—sowat 40 manne altesaam. Hoewel die Bybel ’n boodskap van God is, het dit gevolglik die hartlikheid, verskeidenheid en trefkrag wat die mens daaraan gegee het.
Baie van die Bybelskrywers het mekaar nie geken nie. Hulle het selfs eeue uit mekaar geleef, en hulle temperamente en ervaringe, asook hulle maatskaplike en opvoedkundige agtergrond, was hoogs uiteenlopend. Maar, hetsy hulle jonk of oud was, hulle geskrifte toon ’n volkome eenheid. Hulle het oor ’n tydperk van sowat 1 600 jaar geskryf, totdat die boek uiteindelik voltooi is. Jy sal na ’n noukeurige ondersoek vind dat die Bybel se verklarings ’n merkwaardige harmonie openbaar. Die Bybel weerspieël dus die gedagte van een Outeur, ofskoon baie skrywers gebruik is.
Behoort dit ons nie aan te spoor om “des te meer ag [te] gee” op hierdie buitengewone boek, die Bybel, nie? Behoort ons nie tot dieselfde slotsom as Petrus te kom nie, wat geskryf het: “En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly”?—Hebreërs 2:1; 2 Petrus 1:19, NAV.
Maar wat van die bewering dat die Bybel homself weerspreek? Is dit so? Wat is jou antwoord?
[Venster op bladsy 4]
“Wat ’n grootse boek! Vir my is die styl daarvan, waar die woord feitlik ’n natuurlike produk soos ’n boom, soos ’n blom, soos die see, soos die sterre, soos die mens self word, vreemder as die inhoud. Dit bot, dit bloei, dit skitter, dit lag, ’n mens weet nie hoe of waarom nie, ’n mens vind alles so volkome ongedwonge. Dit is waarlik God se Woord, in teenstelling met ander boeke wat slegs van mensewysheid getuig.”—Die 19de-eeuse Duitse digter en joernalis Heinrich Heine se kommentare oor die Bybel.
[Prent op bladsy 4]
Soos wind seilskepe voortdryf, is die Bybelskrywers ‘deur God se heilige gees gedrywe’