Weerspreek die Bybel homself?
“DIT [is] onmoontlik . . . dat God sou lieg”, verklaar die Bybel (Hebreërs 6:18). Hoe kan sy boek dan vol flagrante teenstrydighede en noemenswaardige verskille wees en steeds die Woord van God genoem word? Dit kan nie. ‘Maar waarom is daar dan teenstrydighede?’ vra jy.
Soos verwag kan word van ’n boek wat deur die eeue heen moeisaam met die hand oorgeskryf is en wat in die volkstale van die tyd vertaal moes word, het sekere variasies weens die skrywers ingesluip. Maar nie een daarvan is so groot en belangrik dat dit twyfel oor die inspirasie en gesag van die Bybel as ’n geheel wek nie. ’n Noukeurige ondersoek kan toon dat daar ’n eerlike oplossing vir oënskynlike teenstrydighede is. Alte dikwels het mense wat beweer dat die Bybel homself weerspreek dit self nie deeglik ondersoek nie, maar hulle aanvaar bloot die beskouing wat aan hulle opgedring word deur diegene wat nie in die Bybel wil glo of daardeur gelei wil word nie. “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ’n sotheid en ’n skande wees”, waarsku die Bybel in Spreuke 18:13.
Sommige maak soms beswaar teen die feit dat Bybelskrywers dit skynbaar nie altyd eens is met betrekking tot getalle, die volgorde van gebeure, die bewoording van aanhalings, ensovoorts nie. Maar vra jou af: As jy verskeie ooggetuies van ’n gebeurtenis sou vra om neer te skryf wat hulle gesien het, sou die bewoording en besonderhede in al die verslae volkome ooreenkom? Sou jy nie, as dit die geval was, die skrywers van samespanning verdink nie? God het die Bybelskrywers insgelyks toegelaat om hulle besondere styl en taal te behou, hoewel hy gesorg het dat hulle sy idees en pertinente feite noukeurig oordra.
Aanhalings uit vroeër geskrifte kan effens van die oorspronklike verklarings gewysig word om by die behoeftes en oogmerk van die nuwe skrywer te pas, terwyl dit nog steeds die grondbetekenis en -gedagte behou. Dieselfde geld vir groeperings van gebeure. Een skrywer volg dalk ’n streng tydsorde, terwyl ’n ander die gebeure moontlik volgens hulle verband met gedagtes meld. Weglatings sal eweneens ooreenkomstig die skrywer se oogpunt en sy samevatting van die verslag wees. Mattheüs het byvoorbeeld gepraat van twee blinde mans wat deur Jesus genees is, terwyl Markus en Lukas net van een melding maak (Mattheüs 20:29-34; Markus 10:46; Lukas 18:35). Mattheüs se verslag is nie teenstrydig nie. Hy is eenvoudig meer spesifiek wat die getal betref, terwyl Markus en Lukas die aandag vestig op die een man met wie Jesus gepraat het.
Daar was ook verskillende tydrekeningsmetodes. Die Joodse nasie het twee kalenders gebruik—die godsdienstige kalender en die burgerlike, of landboukalender—wat elk by ’n verskillende tyd van die jaar begin. Skrywers wat ten opsigte van maand of dag verskil wanneer hulle van dieselfde gebeurtenis praat, het dalk bloot verskillende kalenders gebruik. Aangesien Oosterse skrywers selde breuke gebruik het, is gedeeltes van ’n jaar as volle jare getel. Dit is tot die naaste heelgetal afgerond. Let byvoorbeeld hierop in die geslagsregister in Genesis hoofstuk 5.
Hoe om “teenstrydighede” te versoen
Maar is daar nie tekste in die Bybel wat presies die teenoorgestelde van ander tekste sê nie? Kom ons beskou ’n paar wat deur sommige kritici van die Bybel aangehaal is.
In Johannes 3:22 lees ons dat Jesus ‘gedoop het’, terwyl die verslag net ’n bietjie verder, in Johannes 4:2, sê dat “Jesus self nie gedoop het nie”. Maar soos die res van die teks toon, was dit Jesus se dissipels wat in sy naam en onder sy toesig gedoop het. Dit is soos ’n sakeman en sy sekretaresse wat albei daarop aanspraak kan maak dat hulle ’n bepaalde brief geskryf het.
Dan is daar die teks in Genesis 2:2 wat sê dat God “van al sy werk” gerus het. Jesus sê in teenstelling hiermee in Johannes 5:17 dat God ‘tot nou toe werk’. Maar soos die verband toon, praat die verslag in Genesis spesifiek van God se stoflike skeppingswerke, terwyl Jesus van God se werke met betrekking tot sy goddelike leiding en sorg vir die mensdom gepraat het.
Nog ’n skynbare weerspreking kom voor wanneer ons Exodus 34:7 met Esegiël 18:20 vergelyk. Die eersgenoemde teks sê dat God “die ongeregtigheid van die vader besoek aan die kinders en aan die kleinkinders”, terwyl die laasgenoemde teks sê: “Die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie.” Waarom lyk dit asof hierdie tekste teenstrydig is? Omdat hulle uit verband geruk is. Ondersoek die omliggende materiaal en agtergrond. Dit word dan duidelik dat God, toe hy gesê het dat nie net die vaders nie, maar ook kinders en kleinkinders gestraf sou word, gepraat het van wat met die Israeliete as ’n nasie sou gebeur as hulle teen hom gesondig het en gevange geneem is. Toe hy daarenteen gesê het dat ’n seun nie vir die sonde van sy vader aanspreeklik gehou sou word nie, het hy van persoonlike aanspreeklikheid gepraat.
Verskille kom wel voor, soos blyk uit die verslae oor Jesus se geboorte in Mattheüs 1:18-25 en Lukas 1:26-38. Maar dui hulle teenstrydigheid aan?
Het jy al ooit twee lewensbeskrywings van dieselfde beroemde persoon gelees? Het jy dan gemerk dat hierdie lewensbeskrywings van mekaar verskil sonder om noodwendig teenstrydig te wees? Dit is dikwels vanweë die skrywer se persoonlike indrukke of die bronne wat hy gebruik het. Dit hang ook af van wat die skrywer belangrik ag om oor te dra, die oogpunt wat hy ontwikkel en watter gehoor hy met die werk wil bereik. Verslae wat met nie-Jode in gedagte geskryf is, sal gevolglik verskil van dié vir Joodse lesers, wat reeds sekere feite verstaan en aanvaar het.
Hierdie is net ’n paar voorbeelde van gedeeltes in die Bybel wat, sonder noukeurige ontleding, mekaar oënskynlik weerspreek. As dit egter noukeurig ondersoek word, met die skrywer se oogpunt en die verband in gedagte, weerspreek hulle mekaar geensins nie, maar is bloot gedeeltes wat addisionele ondersoek verg. Die meeste mense wend egter nie hierdie nodige poging aan nie en vind dit baie makliker om eenvoudig te sê: “Die Bybel weerspreek homself.”
Die Bybel is ons vertroue waardig
God se heilige gees het Bybelskrywers baie vryheid toegelaat toe hulle hul verslae geskryf het (Handelinge 3:21). Hulle kon dus ’n kleurvolle en beeldende voorstelling lewer van wat hulle gesien het. Die feit dat hulle beskrywings verskil, bevestig in werklikheid hulle geloofwaardigheid en juistheid, sodat hulle nie van bedrog en samespanning verdink kan word nie (2 Petrus 1:16-21). Hoewel skrywers in hulle styl van mekaar verskil het, het hulle almal dieselfde rigting aangedui en dieselfde oogmerk gehad: om aan mense te toon wat Jehovah God gaan doen om die mensdom gelukkig te maak, en wat mense self moet doen om God se goedkeuring weg te dra.—Spreuke 2:3-6, 9.
Die Bybel is ’n boek wat tot ons redeneervermoë spreek. Dit is geheel en al harmonies. Die Bybel weerspreek homself nie. Al 66 boeke (1 189 hoofstukke of 31 173 verse volgens die King James Version) is ons algehele vertroue waardig. Ja, jy kan die Bybel vertrou!
[Venster op bladsy 6]
As jy ’n “weerspreking” in die Bybel teëkom, kan dit wees dat:
◆ Jy nie met sekere historiese feite of eertydse gewoontes vertroud is nie?
◆ Jy nie die verband in aanmerking geneem het nie?
◆ Jy die skrywer se oogpunt oor die hoof gesien het?
◆ Jy probeer om godsdienstige wanbegrippe te versoen met wat die Bybel werklik sê?
◆ Jy ’n onjuiste of verouderde Bybelvertaling gebruik?
[Prente op bladsy 7]
Mattheüs het gesê dat Jesus twee blinde mans genees het. Markus en Lukas meld net een man. Is dit ’n weerspreking?