Vrae van lesers
◼ Waarom gebruik so min van Jehovah se Getuies die brood en die wyn by die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal?
Dit is omdat Jehovah se Getuies, in teenstelling met die Christendom se kerke, die Bybel se leerstelling aanvaar dat ’n klein getal mense die hemelse lewe sal beërf en die res van God se getroue knegte met die ewige lewe op aarde beloon sal word.
Die kerke leer al lank dat hemelse lewe die beloning is vir almal wat God behaag; die res gaan na ’n helse vuur toe. Die Bybel sê iets anders. Die Skrif toon duidelik dat net party mense, soos die apostels, saam met Christus in die hemel sal heers. Jesus het gesê dat hulle ’n “klein kuddetjie” uitmaak. Die Bybel sê dat hulle 144 000 tel (Lukas 12:32; Openbaring 14:3, 4). Talle wat Jehovah getrou gedien en sy goedkeuring weggedra het, het gesterf voordat Jesus die weg na hemelse lewe geopen het (Mattheüs 11:11; Hebreërs 10:19-21). En nadat die “klein kuddetjie” gekies is, het miljoene ander ware Christene geword. Die Bybel hou die vooruitsig op eindelose lewe in ’n herstelde aardse paradys voor aan al hierdie lojale persone wat nie van die “klein kuddetjie” is nie (Psalm 37:20, 29; Openbaring 21:4, 5). Maar waarom gebruik hulle nie ook die brood en die wyn nie? Jesus het getoon dat alleenlik diegene wat tot die hemelse lewe geroep is, diegene wat in die nuwe verbond is, die embleme by die Here se Aandmaal mag gebruik.
Geloof in Jesus se offerande is natuurlik van die allergrootste belang vir almal wat God se vergifnis en die ewige lewe, hetsy in die hemel of op ’n paradysaarde, wil verkry. Christus het dit in Johannes 6:51-54 getoon: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. . . . Die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld [van die vrykoopbare mensdom] sal gee. . . . Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe.”
Dit is egter merkwaardig dat Jesus daardie woorde nie net tot sy dissipels gerig het nie. ’n Dag nadat Jesus duisende wonderdadig gevoed het, het die skare in die omgewing van Kapernaüm na Jesus toe gekom. Dit is in ’n gesprek met hierdie skare dat hy die woorde in Johannes 6:51-54 geuiter het. Toe Jesus gesê het dat hy die figuurlike “brood [is] wat uit die hemel neergedaal het” en blywender lewensvooruitsigte kan voorsien as die manna wat in die woestyn geëet is, het hy dus nie hoofsaaklik met dissipels gepraat nie.—Johannes 6:24-34.
As ons aan daardie eertydse ondervinding in die woestyn dink, moet ons onthou wie uit Egipte in die woestyn gekom het. Dit was ‘die kinders van Israel, omtrent seshonderdduisend te voet, buiten die kinders, en ’n menigte mense van gemengde bloed’ (Exodus 12:37, 38; 16:13-18). Hierdie “mense van gemengde bloed” het Egiptenare wat met Israeliete getroud was en ander Egiptenare wat hulle lot by Israel ingewerp het, ingesluit. Beide die Israeliete en die “mense van gemengde bloed” het manna nodig gehad om aan die lewe te bly. Maar het die “mense van gemengde bloed” dieselfde vooruitsigte as die Israeliete gehad? Nee, hulle het nie. Ofskoon hulle saam met die Israeliete kon aanbid en die hoop kon hê om die Beloofde Land in te gaan, kon hulle nooit onder die Wetsverbond konings of priesters wees nie. Die feit dat hulle die letterlike manna in die woestyn geëet het, het dus nie aan almal dieselfde vooruitsigte gegee nie.
Hierdie is ’n onderskeid om te onthou wanneer jy nadink oor wat Jesus ongeveer ’n jaar nadat hy die woorde in Johannes 6:51-54 gespreek het vir sy dissipels gesê het. Jesus het by hierdie later geleentheid ’n nuwe gebruik beskryf waarby letterlike brood en wyn—wat sy vlees en bloed sou afbeeld—betrokke was. Toe Jesus die viering van die Here se Aandmaal ingestel het, het hy vir sy getroue volgelinge gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle vergiet sal word.” Hy het vir dieselfde groepie apostels bygevoeg: “Julle is diegene wat in my beproewings steeds by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle in my koninkryk aan my tafel mag eet en drink, en op trone mag sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel.”—Lukas 22:20, 28-30, NW.
Hierdie later woorde toon dat dit die dissipels in “die nuwe verbond” was wat die letterlike brood moes eet en die letterlike wyn moes drink as embleme wat Jesus se liggaam en bloed voorstel. Hulle sou ook in ’n ander verbond wees, ’n verbond wat Jesus met hulle sluit sodat hulle saam met hom ‘in sy koninkryk’ kan regeer. Jesus het duidelik hier van diegene gepraat wat ‘’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak sou word om as konings oor die aarde te regeer’ (Openbaring 5:10, vgl. NW). God het in die eerste eeu begin om die 144 000 wat die hemelse Koninkryk sou beërf te kies. Die Christene in Korinthe was van daardie groep, want hulle is beskryf as “die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges.” (1 Korinthiërs 1:2; vergelyk Romeine 1:7; 8:15-17.) Sulke “heiliges” moes aan die Here se Aandmaal deelneem en die sinnebeeldige brood en ook die wyn wat “die nuwe verbond kragtens [sy] bloed” beteken met waardering gebruik.—1 Korinthiërs 11:23-26.
Daar is vandag net ’n klein oorblyfsel op aarde van diegene wat deur God vir hemelse lewe gekies is. Net diegene wat in “die nuwe verbond” is, het die reg om die embleme, die brood en die wyn, by die jaarlikse Gedenkmaalviering te gebruik.
Alle ware Christene vandag wat daarna uitsien om vir ewig onder Koninkryksheerskappy op aarde te lewe, weet natuurlik dat dit moontlik is deur geloof in Jesus se offerande te beoefen. Soos Jesus vir die skare gesê het, is hy “die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het” (Johannes 6:51). Maar dit beteken nie dat diegene met die aardse hoop die letterlike Gedenkmaalembleme moet gebruik nie, want hulle is nòg in “die nuwe verbond” nòg in die verbond met Jesus om ‘in sy koninkryk te wees en op trone te sit’.
Hierdie groot groep met die aardse hoop gebruik gevolglik nie die embleme, die brood en die wyn, nie. Maar dit weerspieël geensins ’n gebrek aan geloof in of waardering vir Jesus se liggaam en bloed nie. Trouens, weens hulle diepe waardering vir sy offerande en hulle heerlike aardse vooruitsig woon hulle wel elke jaar die viering van die Here se Aandmaal as eerbiedige waarnemers by. Hulle weerspieël sodoende hulle eie geloof en lewer bewys van die hartlike eenheid van die “klein kuddetjie” en die talryke “ander skape”.—Johannes 10:16.