Die verbasende omvang van God se goedheid
GOD is goed! Hoeveel keer het jy nie al daardie uitdrukking gehoor of ook self gebruik nie? Maar het jy al ooit nagedink oor die volle omvang van God se goedheid om jou ontwil? Sulke bepeinsing verdiep ons waardering vir die soort God wat ons aanbid.
Ons moet egter eerstens verstaan wat goedheid is. Goedheid beteken natuurlik dat ’n mens goed in plaas van sleg is. Maar goedheid beteken meer as dit. Dit is ’n aktiewe eienskap. ’n Goeie persoon doen goed. En God, in sy goedheid, doen soveel goeie dinge vir ons dat ons tot hom aangetrek word.
Die groot omvang van God se goedheid kan uit sy woorde aan Moses in die woestyn Sinai gesien word. Daar het hy aan sy getroue kneg belowe: “Ekself sal al my goedheid voor jou aangesig laat verbygaan.” God het daardie belofte vervul, sy eie naam gebruik, en verder gesê: “[Jehovah, Jehovah], barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.”—Exodus 33:19, NW; 34:6, 7.
God se goedheid sluit derhalwe sy barmhartigheid asook sy genade, sy goedertierenheid en sy trou in. Sy goedheid word boonop gesien in die feit dat hy “lankmoedig” is. Dit beteken egter nie dat hy soos ’n alte toegeeflike ouer is wat toelaat dat sonde vir altyd ongehinderd voortduur nie. Hy sal sondaars “nooit ongestraf laat bly nie”. ’n Goeie God kan nie toelaat dat goddeloosheid ongehinderd bestaan nie.
Die oorvloed van God se goedheid
Beskou nou party van die maniere waarop God sy goedheid getoon het. In die eerste plek was hy goed vir die mens toe hy die aarde in die begin geskep het. Hy het nie net die allernodigste vir menselewe voorsien nie. Hy het ons planeet eerder ryklik toegerus om die lewe daarop ’n ware genot te maak. Hy het ons baie soorte voedsel en drank gegee. Hy het ’n fassinerende verskeidenheid diere en voëls gemaak en hy het blomme geskep wat kleur en skoonheid aan ons omgewing verleen. Daarbenewens het hy baie verskillende natuurtonele gemaak wat ’n lus vir die oë is. Elke keer wanneer ons ’n pragtige sonsondergang of ’n manjifieke wolkformasie sien, sien ons immers blyke van God se goedheid!
Toe God die man en vrou geskape het, is sy goedheid weer gesien. Hy het Adam en Eva volmaakte, gesonde liggame gegee en hulle in die tuin van Eden geplaas. Toe het hy hulle ’n opwindende en uitdagende opdrag gegee: ‘Vul die aarde en onderwerp dit.’ Sodoende het hy die ewige lewe op ’n paradysaarde vir hulle in die vooruitsig gestel wat hulle saam met hulle baie nakomelinge kon geniet (Genesis 1:26-28; 2:7-9). Inderdaad ’n wonderlike huweliksgeskenk vir die eerste mensepaar!
Selfs toe Adam en Eva in opstand gekom het, het God hulle nie heeltemal verlaat nie. Indien hy hulle op daardie tydstip onmiddellik met die dood gestraf het, sou hy net gedoen het wat regverdig was. Hy was egter goed teenoor die nou sondige mensepaar. Hy het hulle toegelaat om ’n tyd lank te lewe en kinders te hê.—Genesis 5:1-5.
Boonop het God sedertdien steeds goedheid teenoor die gevalle mensdom betoon. Soos koning Dawid gesê het: “Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Psalm 145:9). Hy voorsien in oorvloed sodat menselewe op sy eiendom, die aarde, kan voortduur. Jesus het aan die Jode van sy dag gesê: “Julle vader wat in die hemele is . . . laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges” (Mattheüs 5:45). Watter honger of ontbering daar ook al bestaan, dit is nie omdat God nie vir die mens gesorg het nie. Dit is as gevolg van die mens se verdorwenheid, wreedheid en onbevoegdheid.
God het die mensdom ook toegelaat om die aarde se mineralerykdom te benut, en hy het hulle ’n mate van begrip van die sterrehemel en die fisiese samestelling van dinge laat kry. Jehovah is voorwaar goed vir die mens, hoewel talle verwaand sê dat daar geen God is nie, en ander sy goedheid vir selfsugtige doeleindes misbruik, in so ’n mate dat hulle hul medemens verdruk.—Psalm 14:1.
God se goedheid teenoor gelowiges
Indien God egter goed was teenoor die mens in die algemeen sal sy handelinge met gelowiges waarlik die hart verbly. Eerstens het God, toe Adam en Eva in die begin in opstand gekom het, voorspel dat ’n “saad” sou verskyn wat uiteindelik die nadelige uitwerking van hulle sonde uit die weg sou ruim (Genesis 3:15). Deur die jare heen het baie van Adam se nakomelinge God getrou aanbid ondanks hulle onvolmaaktheid, en hierdie vroeë profesie het aan hulle die hoop op ’n beter toekoms gegee. Een van hierdie getroue aanbidders, Abraham, is selfs ’n “vriend van God” genoem.—Jakobus 2:23.
God het aan Abraham belowe dat sy nageslag baie nasies sou word en dat die vernaamste lyn van sy nageslag die land Kanaän sou beërwe. In vervulling hiervan is die Israeliete, Abraham se nakomelinge, later tot ’n nasie georganiseer (Genesis 17:3-8; Exodus 19:6). God was weer eens goed vir hierdie nuwe nasie en het hulle uit slawerny in Egipte verlos, hulle in die woestyn beskerm, hulle van wette en ’n priesterdom voorsien en uiteindelik vir hulle die vrugbare land Kanaän as ’n erfenis gegee.
Israel het uiteindelik ’n koninkryk geword, en Jehovah het hulle derde mensekoning, Salomo, opdrag gegee om ’n tempel in Jerusalem as ’n wêreldsentrum vir Sy aanbidding te bou. Toe die tempel voltooi is, is daar ’n luisterryke toewydingseremonie en ’n vreugdevolle fees gehou. Die verslag sê die Israeliete het daarna “die koning geseën en na hul tente gegaan, verheug en opgeruimd oor al die goeie dinge wat die HERE . . . gedoen het” (1 Konings 8:66). Daar was ook ander geleenthede toe die Israeliete hulle verheug het oor God se goedheid teenoor hulle.
Ongelukkig het hulle egter nie altyd hulle voorreg waardeer om ware aanbidders van die een ware God te wees nie. Die Israeliete het uiteindelik in die geheel afvallig geword, en in 607 v.G.J. het Jehovah toegelaat dat hulle as gevangenes na Babilon weggevoer word. Dit is, soos God vir Moses gesê het, as gevolg van Sy goedheid dat hy sonde “nooit ongestraf laat bly nie”.—Exodus 34:7.
God het egter na 70 jaar ’n getroue oorblyfsel Israeliete goedgunstiglik na hulle eie land teruggebring. Wat het hom beweeg om dit te doen? Sy goedheid. Jeremia het profeties oor die Israeliete se terugkeer van Babilon geskryf: “Hulle sal sekerlik kom en ’n vreugdegeroep aanhef op die hoogte van Sion en straal oor die goedheid van Jehovah.” Die profeet het voortgegaan: “‘Met my goedheid sal my eie volk versadig word’, is die uitspraak van Jehovah.”—Jeremia 31:12, 14, NW.
Jesus het uiteindelik na die aarde gekom en was die beloofde “saad” van daardie profesie wat in Eden geuiter is (Genesis 3:15). Die Bybel sê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Jesus se dood het ’n losprys voorsien om mense van sonde los te koop en hulle tot volmaaktheid te herstel. Sodoende kon die slegte gevolge van Adam se sonde uiteindelik uit die weg geruim word. Soos Paulus aan die Romeine geskryf het: “Soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word” (Romeine 5:19). Danksy God se goedheid het mense met die regte harttoestand nou die hoop om ewige lewe te verkry. Hulle kan selfs soos Abraham vriende van God word.
God betoon vandag steeds goedheid teenoor diegene wat hom aanbid. Hy gee deur die Bybel raad sodat hulle hul probleme kan verwerk (Psalm 119:105). Hy bied die gawe van sy gees om hulle te help om aan sy regverdige standaarde te voldoen. En hy maak sy voornemens bekend sodat ware Christene kan uitsien na ’n nuwe wêreld van geregtigheid wat ingelui sal word nadat hierdie ou wêreld verbygegaan het (Spreuke 4:18; 2 Petrus 3:13). Christene is vol vertroue oor sulke dinge omdat God, in sy goedheid, dit in sy onfeilbare Woord geopenbaar het.—2 Timotheüs 3:16.
Ja, dit trek ons beslis tot God aan as ons oor sy goedheid nadink. Maar dit laat ook ’n vraag ontstaan:
In watter mate sal jy by God se goedheid baat vind?
Trouens, wie jy ook al is, jy vind alreeds baat by God se goedheid. Jy haal asem, jy eet, jy drink, jy geniet die lewe—alles gawes van God. Maar vind jy soveel moontlik daarby baat? Onthou, God se goedheid teenoor Adam en Eva is beperk nadat hulle gesondig het. Net so sal hy sy milddadigheid teenoor ons beperk tensy ons sy goedheid op die regte manier beantwoord. Hoe kan ons dit doen?
Die psalmis het gebid: “Leer my ’n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie” (Psalm 119:66). Dit behoort ook ons gebed te wees. Aangesien God goed is, moet ons leer om soos hy goed te wees. Paulus het ons aangespoor: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders.”—Efesiërs 5:1.
Ons doen dit eerstens deur die Bybel te bestudeer en te leer wat goedheid is. Dan bid ons tot God om hulp sodat ons hierdie eienskap kan ontwikkel. Goedheid is ’n vrug van die gees, net soos “liefde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, . . . getrouheid, sagmoedigheid, [en] selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). Ons kan al hierdie eienskappe aankweek deur op God se gees te vertrou, die Bybel wat deur God geïnspireer is te bestudeer, tot hom om hulp te bid en met enersdenkende Christene om te gaan.—Psalm 1:1-3; 1 Thessalonicense 5:17; Hebreërs 10:24, 25.
Die Bybel sê ook: “Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid” (Psalm 145:7). Ja, God verwag dat ons vir ander van sy goedheid vertel. Ons behoort openlik oor ons hemelse Vader te praat.
Laastens behoort ons nie van God se goedheid misbruik te maak nie. Dit is waar, Jehovah vergewe sondaars. Koning Dawid was seker van ’n gunstige antwoord toe hy gebid het: “Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!” (Psalm 25:7). Beteken dit dat ons sondes kan pleeg in die vertroue dat God ons sal vergewe? Hoegenaamd nie. Onthou, God se goedheid beteken dat onboetvaardige sondaars ‘nooit ongestraf sal bly nie’.
Put vreugde uit God se goedheid
Hoe word ons tog nie tot God aangetrek wanneer ons sy goedheid eers ten volle ervaar nie! Ons word aangemoedig om die puik vermaning van die apostel Paulus te volg: “Wandel soos kinders van die lig. Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”—Efesiërs 5:8, 9.
Ons is elke dag bewus van God se liefdevolle besorgdheid oor ons. Ons weet dat hy diegene wat hom liefhet selfs onder die moeilikste omstandighede nie verlaat nie. Ja, ons ervaar die verhewe gemoedsrus van die psalmis: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.”—Psalm 23:6.