Vrae van lesers
◼ Aanvaar Jehovah se Getuies inspuitings van ’n bloedfraksie, soos immuunglobulien of albumien?
Party aanvaar dit, omdat hulle glo dat die Skrif ons nie verbied om ’n inspuiting van ’n klein fraksie, of komponent, van bloed te aanvaar nie.
Die Skepper het heel aan die begin die vereiste aan die hele mensdom gestel dat hulle nie bloed mag eet nie: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees . . . Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie” (Genesis 9:3, 4). Bloed was heilig en kon dus net in verband met offerandes gebruik word. As dit nie op daardie manier gebruik is nie, moes dit op die grond uitgegooi word.—Levitikus 17:13, 14; Deuteronomium 12:15, 16.
Dit was nie net ’n tydelike beperking vir die Jode nie. Die vereiste om hulle van bloed te onthou, is vir Christene herhaal (Handelinge 21:25). In die Romeinse Ryk rondom hulle is God se wet dikwels verbreek, aangesien mense kos geëet het wat met bloed berei is. Dit is ook om “mediese” redes verbreek; Tertullianus vertel dat party mans bloed gedrink het omdat hulle gedink het dat dit epilepsie sou genees. ‘Hulle het die bloed van misdadigers wat in die arena gedood is met groot teue gesluk.’ Hy het bygevoeg: “Bloos voor die Christene weens julle afskuwelike weë, want hulle eet nie eers die bloed van diere saam met hulle maaltye nie.” Vandag is Jehovah se Getuies net so vasbeslote om nie die wet van God te oortree nie, ongeag hoe algemeen dit vir ander is om kos te eet wat met bloed berei is. In die veertigerjare het bloedoortappings algemeen in gebruik gekom, en die Getuies het gesien dat gehoorsaamheid aan God vereis dat hulle dit moet vermy, al beveel dokters dit ook aan.
Aanvanklik was die meeste oortappings van heelbloed. Later het navorsers bloed se primêre komponente begin skei, want dokters het agtergekom dat ’n sekere pasiënt moontlik nie al die belangrike komponente van bloed nodig het nie. As hulle die pasiënt net een komponent gee, sal dit vir hom ’n kleiner risiko inhou, en die dokters sal groter gebruik uit die beskikbare bloed kan kry.
Mensebloed kan geskei word in donker, sellulêre materiaal en ’n gelerige vloeistof (plasma, of serum). Die sellulêre gedeelte (45 persent per volume) bestaan uit wat algemeen rooi bloedselle, wit bloedselle en bloedplaatjies genoem word. Die ander 55 persent is die plasma. Dit bestaan uit 90 persent water, maar dit bevat klein hoeveelhede van baie proteïene, hormone, soute en ensieme. Vandag word baie van die skenkersbloed in die belangrikste komponente geskei. Een pasiënt kry dalk ’n oortapping van plasma (moontlik VBP, vars bevrore plasma) as ’n behandeling vir skok. Maar ’n pasiënt met bloedarmoede kry dalk gepakte rooi bloedselle, dit wil sê, rooi bloedselle wat geberg is en dan in vloeistof geplaas en oorgetap word. Bloedplaatjies en wit bloedselle word ook oorgetap, maar nie so dikwels nie.
In Bybeltye het mense nog nie sulke tegnieke gehad om hierdie komponente te gebruik nie. God het bloot beveel: ‘Onthou julle van bloed’ (Handelinge 15:28, 29). Maar waarom sou enigiemand dink dat dit ’n verskil sou maak of die bloed heel is en of hierdie komponente geskei is? Hoewel party mense bloed gedrink het, het Christene geweier al het dit hulle dood beteken. Dink jy hulle sou anders opgetree het as iemand bloed bymekaargemaak het, toegelaat het dat dit skei en dit dan as plasma of net as die gestolde gedeelte, moontlik in bloedwors, vir hulle aangebied het? Beslis nie! Jehovah se Getuies aanvaar gevolglik nie oortappings van heelbloed of van sy belangrikste komponente (rooi bloedselle, wit bloedselle, bloedplaatjies of plasma) wat vir ’n soortgelyke doel gebruik word nie.
Maar, soos die vraag toon, het wetenskaplikes geleer van gespesialiseerde bloedfraksies en hoe om dit te gebruik. ’n Algemene geskil het te doen met die plasmaproteïene—globuliene, albumien en fibrinogeen. Die een wat moontlik die algemeenste in behandeling gebruik word, is inspuitings van imuunglobulien. Waarom word dit gedoen?
Jou liggaam kan teenliggaampies teen sekere siektes vervaardig wat jou aktiewe weerstand gee. Dit is die beginsel van inenting met ’n entstof (toksoïed) teen polio, pampoentjies, rubella (Duitse masels), witseerkeel-kaakklem-kinkhoes en tifuskoors. Maar as iemand onlangs aan sekere ernstige siektes blootgestel is, sal geneeshere moontlik ’n inspuiting van ’n serum (teengif) aanbeveel om hom onmiddellike passiewe weerstand te gee. Tot onlangs is sulke inspuitings gemaak deur immuunglobulien, wat teenliggaampies bevat, uit iemand wat reeds weerstand opgebou het, te trek.a Die passiewe weerstand wat die inspuiting meebring, is nie permanent nie, want die teenliggaampies wat ingespuit is, verlaat mettertyd sy gestel.
Met die oog op die gebod om ‘hulle van bloed te onthou’, het party Christene gevoel dat hulle nie ’n inspuiting van imuunglobulien kan aanvaar nie, al is dit net ’n bloedfraksie. Hulle standpunt is duidelik en eenvoudig—geen komponent van bloed in enige vorm of hoeveelheid nie.
Ander het gevoel dat ’n serum (teengif), soos immuunglobulien, wat net ’n klein bietjie van ’n skenker se bloedplasma bevat en gebruik word om hulle weerstand teen siekte op te bou, nie dieselfde as ’n lewensreddende bloedoortapping is nie. Hulle gewete verbied hulle dus nie om immuunglobulien of soortgelyke fraksies te aanvaar nie.b Hulle kom moontlik tot die gevolgtrekking dat die besluit vir hulle hoofsaaklik berus op die vraag of hulle bereid is om die gesondheidsrisiko’s te aanvaar wat ’n inspuiting wat van iemand anders se bloed gemaak is, inhou.
Dit is betekenisvol dat die bloedsomloop van ’n swanger vrou apart van dié van die fetus in haar baarmoeder is; hulle bloedgroepe verskil dikwels. Die moeder se bloed gaan nie in die fetus in nie. Die plasenta laat nie gevormde elemente (selle) van die moeder se bloed na die fetus se bloed deur nie, en ook nie die plasma as sodanig nie. Trouens, as die moeder en die fetus se bloed as gevolg van die een of ander besering meng, kan gesondheidsprobleme later ontwikkel (Rh- of ABO-onaanpasbaarheid). Maar party stowwe in die plasma gaan deur na die fetus se sirkulasie. Doen plasmaproteïene, soos immuunglobulien en albumien, dit? Ja, party van hulle word deurgelaat.
’n Swanger vrou het ’n aktiewe meganisme waardeur van die immuunglobulien uit die moeder se bloed na die fetus se bloed oorgedra word. Aangesien hierdie natuurlike beweging van teenliggaampies na die fetus gedurende alle swangerskappe plaasvind, word babas met ’n mate van normale beskermende weerstand teen sekere infeksies gebore.
Dit is ook die geval met albumien, wat dokters moontlik sal voorskryf as ’n behandeling vir skok of sekere ander toestande.c Navorsers het bewys dat albumien uit die plasma ook van die moeder na haar fetus deur die plasenta beweeg, al gebeur dit nie so maklik nie.
Wanneer ’n Christen besluit of hy immuunglobulien, albumien of inspuitings van soortgelyke plasmafraksies sal aanvaar, is die feit dat party proteïenfraksies in die plasma natuurlik na die bloedstelsel van ’n ander persoon (die fetus) oorgedra kan word nog ’n faktor wat hy kan oorweeg. Een persoon voel dalk dat hy dit met ’n skoon gewete kan doen; iemand anders besluit dalk dat hy dit nie kan doen nie. Elkeen moet die saak persoonlik voor God uitmaak.
[Voetnote]
a Wetenskaplikes vervaardig nou soortgelyke produkte met behulp van rekombinante-DNS-tegnieke, of tegnieke van genetiese manipulasie, wat nie bloed bevat nie.
b Een voorbeeld is Rh-immuunglobulien, wat dokters moontlik sal aanbeveel wanneer daar Rh-onaanpasbaarheid tussen ’n vrou en haar fetus bestaan. ’n Ander een is Faktor VIII wat aan bloeiers toegedien word.
c Bewyse toon dat bloedlose vloeistowwe wat volume aanvul (soos Hetastarch [HES]) goed gebruik kan word om skok en ander toestande te behandel waarvoor ’n albumienoplossing in die verlede gebruik is.