Die oordeelsdag—’n tyd van hoop!
AS DIE gedagte aan die oordeelsdag jou bangmaak, kan jy gerus uitvind wat die Bybel daaroor te sê het. Is dit byvoorbeeld waar dat sondaars in ’n helse vuur gewerp word wanneer God hulle oordeel?
Wel, die eerste opgetekende geval van goddelike oordeel was reg aan die begin van die mens se geskiedenis. Adam en Eva het die geleentheid gehad om vir ewig op ’n paradysaarde te woon (Genesis 1:26-28; 2:7-9, 15-25). Hulle het egter gesondig en onder God se ongunstige oordeel gekom. Met watter gevolg? God het die gawe van lewe van hulle af weggeneem. Met ander woorde, hulle het gesterf. God het vir hulle gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Genesis 3:16-19.
Dit was ’n swaar straf, maar dit was regverdig. En dit het beslis nie ’n helse vuur ingesluit nie. Toe Adam en Eva gesterf het, het hulle tot die stof teruggekeer. Hulle het nie meer bestaan nie. Die Bybel sê nêrens dat ’n deel van Adam of van enige ander mens die dood oorleef het om êrens tot in alle ewigheid gepynig te word nie. Ons lees eerder: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.”—Prediker 9:5.
Het jy geweet dat die Bybel dit sê? Het jy ook geweet dat die Bybel nooit die uitdrukking “onsterflike siel” gebruik nie? Pleks daarvan sê dit: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Dit stem ten volle ooreen met die Bybelbeginsel: “Die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Hierdie beginsel raak ons almal. Ons is almal afstammelinge van sondige Adam, en daarom sondig ons almal en ontvang ons die loon van die sonde, die dood. Soos die Bybel sê: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring’ (Romeine 5:12). Die Oordeelsdag speel ’n belangrike rol in God se reëling om ons uit hierdie situasie te verlos.
Die grondslag vir die Oordeelsdag
Volgens die Bybel het God amper 2 000 jaar gelede die grondslag gelê vir dít wat tydens die Oordeelsdag gaan plaasvind. Dit was toe Jesus na die aarde gekom en sy volmaakte menselewe ten behoewe van ons opgeoffer het. Jesus het self verduidelik: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
As ons in Jesus glo, vind ons nou al in geestelike sin by sy offerande baat. God vergewe ons sondes en laat ons toe om tot hom te nader (Johannes 14:6; 1 Johannes 2:1, 2). Maar ons is steeds onvolmaak, sondaars, en as sodanig word ons steeds fisies siek en sterf ons uiteindelik. Ons het nóg nie die ewige lewe wat Jesus beloof het nie. Dit sal kom as gevolg van die Oordeelsdag.
Die Oordeelsdag
Die apostel Johannes het ’n visioen van die Oordeelsdag gehad, en hy het dit as volg beskryf: “Ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.”—Openbaring 20:11, 12.
Ja, volgens Johannes se visioen sal God self toesig hou oor die Oordeelsdag. Maar iemand anders is hierby betrokke. Die apostel Paulus het verduidelik: “[God het] ’n dag bepaal . . . waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het” (Handelinge 17:31). Wie is daardie man? Jesus, wat self gesê het: “Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee” (Johannes 5:22). Jesus sal dus God se aangestelde Regter tydens die Oordeelsdag wees.
Dit is goeie nuus vir die mensdom. Die Evangelies toon dat Jesus iemand met groot medelye is. Hy is nie trots of veeleisend nie, maar “sagmoedig en nederig van hart” (Mattheüs 11:29; 14:14; 20:34). Ons is bly om onder die sorg van só ’n regter te wees.
Wanneer sal dit plaasvind?
Maar wanneer vind die Oordeelsdag plaas? Openbaring sê dat dit sal wees wanneer “die aarde en die hemel weggevlug het”. Dit herinner ons aan die apostel Petrus se woorde: “Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” (2 Petrus 3:7). Gaan die letterlike aarde verbrand word? Nee, die Bybel stel hierdie punt duidelik. Die letterlike aarde sal nooit vernietig word nie. “Die aarde . . . [sal] vir ewig en altyd nie wankel nie” (Psalm 104:5). Die konteks van Petrus se woorde toon dat dit die huidige goddelose wêreldstelsel van dinge is wat vernietig gaan word. Goddelose mense, nie die planeet Aarde nie, sal vergaan.—Johannes 12:31; 14:30; 1 Johannes 5:19.
Hierdie goddelose mense sal vernietig word by wat die Bybel die slag van Armageddon noem—wat, soos hierdie tydskrif al dikwels getoon het, binnekort gaan plaasvind (Openbaring 16:14, 16). Daarna sal Satan self in die afgrond gewerp word en duisend jaar lank verhoed word om in die mens se aangeleenthede in te meng, en hierdie duisend jaar is die werklike duur van die Oordeelsdag (Openbaring 19:17–20:3). Wat gebeur met die getroues wanneer die goddelose mense by Armageddon omkom? Hulle bly tot in die Oordeelsdag behoue. Ons lees: ‘Die regskapenes sal in die land oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei word.’—Spreuke 2:21, 22.
Ter ondersteuning hiervan praat die Bybel van “’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” wat voor Armageddon op die aarde sal verskyn. Hulle ‘kom uit die groot verdrukking’; met ander woorde, hulle oorleef die einde van hierdie goddelose wêreld net soos Noag die einde van die wêreld van sy dag oorleef het (Openbaring 7:9-17; 2 Petrus 2:5). Het jy geweet dat hierdie internasionale groot menigte bedrywige Christene nóú reeds bestaan? Hulle hoop om die groot verdrukking te oorleef en vir ewig op die aarde te lewe. Hulle bestaan is ’n gewisse bewys van die nabyheid van die Oordeelsdag.
Wie gaan geoordeel word?
Hierdie groot menigte sal tydens die Oordeelsdag geoordeel word. Maar hulle sal nie alleen wees nie. Johannes se verslag gaan voort: “Die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die hel het die dode gegee wat daarin was: en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke” (Openbaring 20:13, King James Version). Hier is verdere bewys dat mense nie vir ewig in die hel ly nie. Hoe kan enigeen tot in alle ewigheid in die hel wees as die hel die dode gee wat daarin is? Trouens, die Bybelse hel is die gemeenskaplike graf van die mensdom, waar die dode in ’n onbewuste toestand bly en op ’n opstanding wag. Tydens die Oordeelsdag word die hel heeltemal leeggemaak van sy dode.—Prediker 9:10.
Wie gaan tydens die Oordeelsdag uit die dood opgewek word? Die apostel Paulus het gesê: “Daar [sal] ’n opstanding . . . wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Getroue knegte van God, die “regverdiges”, sal derhalwe opgewek word. Maar tallose ander, die “onregverdiges”, sal ook opgewek word. Die opstanding sal klaarblyklik almal insluit wat gesterf het en steeds in die graf is—met uitsondering van mense wie se sondes so ernstig was dat God reeds bepaal het dat hulle heeltemal onwaardig is om die ewige lewe te ontvang.—Mattheüs 12:31.
Die Oordeel
Wat gebeur egter tydens die Oordeelsdag met die groot menigte oorlewendes en dié wat opgewek word? Die Bybel sê: “Die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” Dit is ’n tydperk van keuring. Almal wat gewillig is om op te tree volgens wat “in die boeke geskryf is”—blykbaar God se vereistes vir die mensdom op daardie tydstip—sal in “die boek van die lewe” geskryf word (Openbaring 20:12). Hulle sal op die weg wees om die ewige lewe te verkry!
Dan sal Christus se offerdood uiteindelik fisiese voordele meebring! Diegene wat dán in die boek van die lewe opgeskryf is, sal nie meer siek word en doodgaan nie. Hulle sal eerder geleidelik tot menslike volmaaktheid herstel word, met die ewige lewe wat beloof word aan diegene wat geloof in Jesus stel. Wat ’n wonderlike vooruitsig is dit tog! Nietemin sal daar blykbaar mense wees wat weier om ‘dié dinge wat in die boeke geskryf is’ te gehoorsaam. Wat gebeur met hulle? Hulle kry nie die ewige lewe nie. Die Skrif sê eerder: “As dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”—Openbaring 20:15.
Is dit die helse vuur waarvan die Christendom praat? Nee, want in die vorige vers lees ons: “Die dood en die hel is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood” (Openbaring 20:14, KJ). As die hel in die poel van vuur gewerp word, kan die poel self nie die helse vuur wees nie. Daarbenewens is die dood nie iets tasbaars wat opgetel en êrens ingewerp kan word nie. Die poel van vuur moet dus simbolies wees. Waarvan? Die Bybel sê: “Dit is die tweede dood.” Wanneer die dood en die doderyk in die poel van vuur gewerp word, “sterf” hulle, hou hulle op om te bestaan. Net só sal opstandige mense wat daar beland, sterf, of ophou bestaan. Dit is egter die tweede dood, sonder die hoop op ’n opstanding.
Die Oordeelsdag—’n tyd van hoop
Wanneer ons dus aan die Oordeelsdag dink, moet ons nie met vrees of weersin vervul word nie. Die Oordeelsdag is ’n tyd van hoop, ’n tyd om die mensdom tot die ewige lewe te herstel wat Adam verloor het. Luister na die seëninge wat dit vir diegene sal bring wat getrou bevind word: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
Teen die einde van die duisendjarige Oordeelsdag sal getroue mense uit alle dele van die wêreld uiteindelik volmaak wees. Hulle sal in die volste sin van die woord “herlewe” het, en die Oordeelsdag sal in sy doel geslaag het (Openbaring 20:5). Dan, sê die Bybel, sal Satan vir die laaste keer toegang tot die mensdom hê (Openbaring 20:3, 7-10). Diegene wat hom hierdie laaste keer weerstaan, sal die volkome vervulling van die Bybel se belofte geniet: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
Wat ’n wonderlike voorsiening is die Oordeelsdag tog! En hoe merkwaardig is dit tog dat ons selfs nou daarvoor kan voorberei deur die Bybel te bestudeer, uit te vind wat God se wil is en hierdie goddelike wil in ons lewe uit te voer! Dit is geen wonder nie dat die psalmis sy vreugde uitgespreek het by die gedagte aan God se oordeel toe hy geskryf het: “Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis. Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.”—Psalm 96:11-13.