Wat sê die Skrif oor “die godheid van Christus”?
JESUS CHRISTUS het ’n diepgaande invloed op die godsdiens van die mensdom gehad. Ons weet dit omdat miljoene mense beweer dat hulle sy volgelinge is. Maar hulle stem nie almal saam oor sy identiteit nie.
Party wat sê dat hulle Jesus se leringe aanvaar, beskou hom as God se Seun, nie as die Skepper self nie. Ander glo aan “die godheid van Christus” en meen dat hy in werklikheid God is. Hulle glo dat Jesus altyd bestaan het en dat hy meer as ’n mens was toe hy hier op aarde was. Het hulle reg? Wat sê die Skrif?
Jesus se voormenslike bestaan
Jesus het getuig dat hy ’n voormenslike bestaan gehad het. Hy het gesê: “Niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens” (Johannes 3:13). Jesus het ook gesê: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.”—Johannes 6:51.
Die feit dat Jesus gelewe het voordat hy aarde toe gekom het, blyk duidelik uit sy woorde: “Voordat Abraham was, is Ek” (Johannes 8:58). Abraham het van 2018 tot 1843 v.G.J. gelewe, terwyl Jesus van 2 v.G.J. tot 33 G.J. as ’n mens gelewe het. Net voor sy dood het Jesus gebid: “Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.”—Johannes 17:5.
Jesus se volgelinge het ’n soortgelyke getuienis gegee. Die apostel Johannes het geskryf: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was [’n god]. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. . . . En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol genade en waarheid” (Johannes 1:1, 3, 14, vgl. NW). Ja, “die Woord het vlees geword” as die mens, Jesus Christus.
Met verwysing na Jesus se voormenslike bestaan het die apostel Paulus geskryf: “Bewaar hierdie geestesgesindheid in julle wat ook in Christus Jesus was. Alhoewel hy in God se gedaante bestaan het, [het hy] geen gewelddadige inbesitneming oorweeg, naamlik om aan God gelyk te wees nie. Nee, maar hy het homself ontledig en die gedaante van ’n slaaf aangeneem en het aan die mense gelyk geword” (Filippense 2:5-7, NW). Paulus het Jesus beskryf as “die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape”.—Kolossense 1:13-16.
Nie goddelik op aarde nie
Die Skrif stel dit duidelik dat Jesus van sy geboorte af tot met sy dood geheel en al menslik was. Johannes het nie gesê dat die Woord bloot met vlees beklee was nie. Hy “het vlees geword” en was nie deels vlees en deels God nie. As Jesus tegelykertyd goddelik en menslik was, kon daar nie gesê word dat hy “minder as die engele gemaak is” nie.—Hebreërs 2:9; Psalm 8:5, 6.
As Jesus God sowel as mens was toe hy op die aarde was, waarom het hy herhaaldelik tot Jehovah gebid? Paulus het geskryf: “Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hom geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs.”—Hebreërs 5:7.
Dat Jesus nie deels ’n gees was toe hy op die aarde was nie, word gestaaf deur Petrus se stelling dat Christus “doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees” (1 Petrus 3:18, NW). Slegs omdat Jesus geheel en al mens was, kon hy ervaar wat onvolmaakte mense ervaar en sodoende ’n medelydende hoëpriester word. Paulus het geskryf: “Ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.”—Hebreërs 4:15.
As “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”, het Jesus “Homself gegee . . . as ’n losprys vir almal” (Johannes 1:29; 1 Timotheüs 2:6). Sodoende het Jesus teruggekoop presies wat Adam verloor het—volmaakte, ewige menslike lewe. Aangesien God se geregtigheid ‘lewe vir lewe’ vereis het, moes Jesus wees wat Adam oorspronklik was—’n volmaakte mens, nie ’n Godmens nie.—Deuteronomium 19:21; 1 Korinthiërs 15:22.
Moenie tussen die reëls lees in Bybeltekste nie
Diegene wat sê dat Jesus ’n Godmens was, gebruik verskeie tekste in ’n poging om te bewys dat hy ’n deel is van die Christendom se Drie-eenheid, gelyk aan God in wese, krag, heerlikheid en ewigheid. Maar wanneer ons hierdie tekste noukeurig ondersoek, blyk dit dat diegene wat ten gunste van “die godheid van Christus” redeneer meer in hierdie verse lees as wat hulle werklik sê.
Party sê dat Bybeltekste waarin God die voornaamwoord “ons” gebruik die voormenslike Jesus (die Woord) aan Jehovah gelykstel. Maar die gebruik van hierdie voornaamwoord beteken nie dat God met ’n gelyke praat nie. Dit kan hoogstens impliseer dat een van die hemelse wesens ’n posisie van voorkeur met betrekking tot God geniet. Die voormenslike Jesus was in werklikheid God se intieme metgesel, Meesterwerker en Woordvoerder.—Genesis 1:26; 11:7; Spreuke 8:30, 31, NW; Johannes 1:3.
Die omstandighede wat met Jesus se doop gepaardgegaan het, gee nie te kenne dat God, Christus en die heilige gees gelyk is nie. Toe hy ’n mens was, is Jesus gedoop as ’n simbool van die feit dat hy hom by sy Vader aangebied het. By daardie geleentheid het ‘die hemele vir Hom oopgegaan’ en het God se gees soos ’n duif op Jesus neergedaal. Toe het Jehovah se stem ook “uit die hemele” gekom, wat sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.”—Mattheüs 3:13-17.
Wat het Jesus dan bedoel toe hy vir sy volgelinge gesê het om dissipels te doop “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”? (Mattheüs 28:19). Jesus het nie bedoel of gesê dat hy, sy Vader en die heilige gees gelyk is nie. Pleks daarvan erken diegene wat gedoop word Jehovah as die Lewegewer en almagtige God, die een aan wie hulle hul lewe toewy. Hulle neem Jesus aan as die Messias en as die een deur wie God ’n losprys vir die gelowige mensdom voorsien het. En hulle besef dat die heilige gees God se werkende krag is waaraan hulle hul moet onderwerp. Daar word egter nie van sulke doopkandidate verwag om Jehovah, Jesus en die heilige gees as een Trinitariese godheid te beskou nie.
Maar bewys Jesus se wonderwerke nie dat hy ’n Godmens was nie? Nee, want Moses, Elia, Elisa, die apostels Petrus en Paulus en ander het wonderwerke verrig sonder dat hulle Godmense was (Exodus 14:15-31; 1 Konings 18:18-40; 2 Konings 4:17-37; Handelinge 9:36-42; 19:11, 12). Net soos hulle was Jesus ’n mens wat wonderwerke verrig het deur middel van godgegewe krag.—Lukas 11:14-19.
Jesaja het profeties na Jesus die Messias verwys as “Sterke God” (Jesaja 9:5). In Jesaja 10:21 het dieselfde profeet van Jehovah as “die sterke God” gepraat. Party probeer hierdie woordelike ooreenkoms gebruik om te bewys dat Jesus God is. Maar ons moet versigtig wees dat ons nie te veel tussen die reëls lees in hierdie verse nie. Die Hebreeuse uitdrukking wat as “Sterke God” vertaal is, word nie uitsluitlik vir Jehovah gebruik soos in die geval van die uitdrukking “God, die Almagtige” nie (Genesis 17:1). Daar is weliswaar ’n verskil tussen om sterk te wees en om almagtig te wees, met geen meerdere nie.
Volgens Jesaja 43:10 het Jehovah gesê: “Voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie.” Maar daardie woorde bewys nie dat Jesus God is nie. Die punt is dat Jehovah geen voorganger gehad het nie, dat daar geen god voor hom bestaan het nie, want hy is ewig. Daar sal geen god ná Jehovah wees nie, want hy sal altyd bestaan, en as die allerhoogste Soewerein sal hy geen opvolgers hê nie. Maar Jehovah hét ander voortgebring wat hyself gode genoem het, soos die Skrif aandui deur van sekere mense te sê: “Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste—nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val” (Psalm 82:6, 7). Die Woord was insgelyks ’n god wat deur Jehovah geskep is, maar dit het Jesus nooit aan die almagtige God gelykgestel nie.
Jesus se ware posisie
Diegene wat beweer dat God ’n menslike bestaan as ’n Godmens aangeneem het, moet daarop let dat die Bybel nie eers daarop sinspeel dat Jesus homself as sodanig beskou het nie. Inteendeel, dit dui konsekwent daarop dat Jesus altyd sy Vader se mindere was. Toe Jesus op aarde was, het hy nooit beweer dat hy enigiets meer was as die Seun van God nie. Boonop het Christus gesê: “My Vader [is] groter . . . as Ek.”—Johannes 14:28.
Paulus het ’n onderskeid getref tussen Jehovah en Jesus deur te sê: “Daar [is] vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom” (1 Korinthiërs 8:6). Paulus het ook gesê: “Julle behoort aan Christus, en Christus aan God” (1 Korinthiërs 3:23). Ja, net soos Christene aan hulle Meester, Jesus Christus, behoort, so behoort hy aan sy Hoof, Jehovah God.
Paulus het ’n soortgelyke punt gestel toe hy geskryf het: “Christus [is] die hoof . . . van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus” (1 Korinthiërs 11:3). Hierdie verhouding tussen God en Christus sal voortduur, want na Jesus se Duisendjarige Heerskappy gee “Hy die koninkryk aan God die Vader” oor en “dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees”.—1 Korinthiërs 15:24, 28; Openbaring 20:6.
’n Kykie na ander tekste
Van Jesus se geboorte het Mattheüs geskryf: “Dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet [in Jesaja 7:14] gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons” (Mattheüs 1:22, 23). Jesus is nie die persoonlike naam Emmanuel gegee nie, maar sy rol as mens het die betekenis daarvan vervul. Jesus se teenwoordigheid hier op aarde as die Messiaanse Saad en as Erfgenaam van Dawid se troon het aan Jehovah se aanbidders bewys dat God met hulle was, dat Hy aan hulle kant was en hulle in hulle bedrywighede gesteun het.—Genesis 28:15; Exodus 3:11, 12; Josua 1:5, 9; Psalm 46:6-8; Jeremia 1:19.
Toe hy met die verrese Jesus gepraat het, het die apostel Thomas uitgeroep: “My Here en my God!” (Johannes 20:28). Hierdie en ander gebeure “is beskrywe, dat [ons] kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God”. En Thomas het Jesus, wat hierdie boodskap aan sy dissipels gestuur het, nie weerspreek nie: “Ek vaar op na . . . my God en julle God” (Johannes 20:17, 30, 31). Thomas het dus nie gedink dat Jesus die almagtige God was nie. Thomas het Jesus moontlik as “my God” aangespreek in die sin dat Jesus “’n god” is, hoewel hy nie “die enige waaragtige God” is nie (Johannes 1:1, NW; 17:1-3). Aan die ander kant het Thomas deur “my God” te sê Jesus moontlik as God se Woordvoerder en Verteenwoordiger erken, net soos ander ’n engelboodskapper aangespreek het asof hy Jehovah was.—Vergelyk Genesis 18:1-5, 22-33; 31:11-13; 32:24-30; Rigters 2:1-5; 6:11-15; 13:20-22.
Volgens die Bybel het Jesus dus ’n voormenslike bestaan gehad as die Woord. Toe hy op die aarde was, was hy nie ’n Godmens nie. Hoewel hy volmaak was, was hy in alle opsigte ’n mens, net soos Adam oorspronklik was. Sedert Jesus se opstanding is hy ’n verheerlikte, onsterflike gees, maar altyd ondergeskik aan God. Dit is dus duidelik dat die Skrif nie die idee van “die godheid van Christus” ondersteun nie.
[Venster op bladsy 23]
Aanbid die engele Jesus?
PARTY vertalings van Hebreërs 1:6 sê: “Al die engele van God moet Hom [Jesus] aanbid” (AB; King James Version; The Jerusalem Bible). Die apostel Paulus het klaarblyklik die Septuaginta aangehaal wat in Psalm 97:7 sê: “Aanbid Hom [God] al sy engele.”—C. Thomson.
Die Griekse woord pro·sku·neʹo, wat in Hebreërs 1:6 as “aanbid” vertaal is, word in die Septuaginta in Psalm 97:7 gebruik vir ’n Hebreeuse term sja·chahʹ, wat beteken “om neer te buig”. Dit kan dui op ’n aanvaarde gebaar van respek teenoor mense (Genesis 23:7; 1 Samuel 24:8; 2 Konings 2:15). Of dit kan betrekking hê op die aanbidding van God of op dit wat verkeerdelik tot valse gode gerig word.—Exodus 23:24; 24:1; 34:14; Deuteronomium 8:19.
Gewoonlik stem pro·sku·neʹo, wanneer dit teenoor Jesus betoon word, ooreen met die hulde wat aan konings en ander gebring word. (Vergelyk Mattheüs 2:2, 8; 8:2; 9:18; 15:25; 20:20 met 1 Samuel 25:23, 24; 2 Samuel 14:4-7; 1 Konings 1:16; 2 Konings 4:36, 37.) Dit is dikwels duidelik dat hulde aan Jesus gebring word, nie as God nie, maar as “die Seun van God” of as die Messiaanse “Seun van die mens”.—Mattheüs 14:32, 33; Lukas 24:50-52; Johannes 9:35, 38.
Hebreërs 1:6 het betrekking op Jesus se posisie onder God (Filippense 2:9-11). Party vertalings vertaal pro·sku·neʹo hier as “eer . . . betoon” (The New English Bible), “hulde . . . bring aan” (New World Translation), of “neerbuig voor” (An American Translation). Indien iemand die vertaling “aanbid” verkies, is sulke aanbidding nietemin relatief, want Jesus het vir Satan gesê: “Die Here jou God moet jy aanbid [’n vorm van pro·sku·neʹo] en Hom alleen dien.”—Mattheüs 4:8-10.
Hoewel Psalm 97:7, wat van die aanbidding van God praat, in Hebreërs 1:6 op Christus toegepas word, het Paulus daarop gewys dat die verrese Jesus “die afskynsel is van [God se] heerlikheid en die afdruksel van sy wese” (Hebreërs 1:1-3). Enige ‘aanbidding’ van God se Seun deur die engele is relatief en word deur hom tot Jehovah gerig.