Het die vroeë kerk geleer dat God ’n Drie-eenheid is?
Deel 2—Het die Apostoliese Vaders die Drie-eenheidsleer verkondig?
Deel 1 van hierdie reeks, wat in Die Wagtoring van 1 November 1991 verskyn het, het die vraag bespreek of Jesus en sy dissipels die Drie-eenheidsleer—die gedagte dat die Vader, die Seun en die heilige gees drie gelyke persone maar een God is—verkondig het. Die duidelike bewyse van die Bybel, van geskiedskrywers en selfs van teoloë is dat hulle dit nie gedoen het nie. Maar wat van kerkleiers wat kort ná hulle gevolg het—het hulle ’n Drie-eenheid geleer?
“APOSTOLIESE VADERS” is die benaming vir kerkmanne wat laat in die eerste eeu en vroeg in die tweede eeu van ons Gewone Jaartelling oor die Christelike godsdiens geskryf het. Onder hulle was daar Clemens van Rome, Ignatius, Polycarpus, Hermas en Papias.
Na bewering was hulle tydgenote van sommige van die apostels. Hulle moes dus vertroud gewees het met die apostoliese leringe. Met verwysing na wat daardie manne geskryf het, sê The New Encyclopædia Britannica:
“In die geheel gesien, is die geskrifte van die Apostoliese Vaders, vanuit ’n geskiedkundige oogpunt, waardevoller as enige ander Christelike lektuur buiten die Nuwe Testament.”1
As die apostels die Drie-eenheidsleer verkondig het, sou die Apostoliese Vaders dit ook gedoen het. Dit sou ’n vername deel van hulle leer moes uitmaak aangesien niks belangriker was as om mense te vertel wie God is nie. Het hulle derhalwe die Drie-eenheidsleer verkondig?
’n Vroeë geloofsverklaring
Een van die vroegste nie-Bybelse verklarings van die Christelike geloof word gevind in ’n boek met 16 kort hoofstukke wat bekend is as Die Didache, of Leer van die Twaalf Apostels. Party geskiedkundiges dateer dit voor of omstreeks die jaar 100 G.J. Dit is nie bekend wie die skrywer daarvan was nie.2
Die Didache handel oor sake wat mense sou moes weet as hulle Christene wou word. In die 7de hoofstuk skryf dit doop voor “in die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees”, dieselfde woorde as wat Jesus in Mattheüs 28:19 gebruik het.3 Maar dit sê nêrens dat die drie gelyk is in ewigheid, mag, posisie en wysheid nie. In die 10de hoofstuk sluit Die Didache die volgende geloofsbelydenis in die vorm van ’n gebed in:
“Ons dank u, Heilige Vader, vir u heilige Naam wat u in ons hart laat woon het; en vir die kennis en geloof en onsterflikheid wat u deur Jesus u Dienskneg aan ons bekend gemaak het. Aan u kom die eer toe tot in ewigheid! U, o almagtige Meester, het alles om u Naam ontwil geskep . . . En u het ons goedgunstig geestelike voedsel en drank gegee, en ewige lewe deur Jesus u Dienskneg.”4
Dit bevat geen Drie-eenheid nie. In The Influence of Greek Ideas on Christianity haal Edwin Hatch die voorgaande gedeelte aan en sê:
“In die oorspronklike sfeer van die Christelike godsdiens was daar blykbaar geen noemenswaardige ontwikkeling van hierdie eenvoudige begrippe nie. Die leerstelling wat beklemtoon was, was dat God is, dat Hy een is, dat Hy almagtig en ewig is, dat Hy die wêreld gemaak het, dat sy barmhartigheid oor al sy werke strek. Hulle het geen sinnigheid in metafisiese besprekings gehad nie.”5
Clemens van Rome
Clemens van Rome, wat blykbaar ’n “biskop” in daardie stad was, is nog ’n vroeë bron van geskrifte oor die Christelike godsdiens. Hy is na bewering omstreeks die jaar 100 G.J. oorlede. In die materiaal wat aan hom toegeskryf word, maak hy geen direkte of indirekte melding van ’n Drie-eenheid nie. In die Eerste Brief van Clemens aan die Korinthiërs sê hy:
“Mag barmhartigheid en vrede vir julle vermenigvuldig word van die almagtige God deur Jesus Christus.”
“Die apostels het die Evangelie wat hulle van die Here Jesus Christus ontvang het aan ons verkondig; Jesus Christus het verkondig wat hy van God ontvang het. Christus is derhalwe deur God uitgestuur, en die apostels deur Christus.”
“Mag God, wat alle dinge sien, en wat die Heerser van al die geeste en die Here van alle vlees is—wat ons Here Jesus Christus, en ons deur Hom, as ’n uitsluitlike volk gekies het—aan elke siel wat sy glorieryke en heilige Naam aanroep geloof, vrees, vrede, lydsaamheid en lankmoedigheid skenk.”6
Clemens sê nie dat Jesus of die heilige gees aan God gelyk is nie. Hy beeld die almagtige God (nie net die “Vader” nie) uit as onderskeie van die Seun. God word as die meerdere beskryf, aangesien Christus deur God “uitgestuur” is, en aangesien God Christus “gekies” het. Clemens het getoon dat God en Christus twee afsonderlike en ongelyke persoonlikhede is toe hy gesê het:
“Ons sal met ernstige gebed en smeking bid dat die Skepper van die heelal, deur sy geliefde Kind Jesus Christus, die volle getal van sy uitverkorenes wêreldwyd ongeskonde behou. . . . Ons besef dat u [God] alleen ‘die hoogste onder die hoogstes’ is . . . U alleen is die bewaarder van die geeste en die God van alle vlees.”
“Laat al die nasies besef dat u die enigste God is, dat Jesus Christus u Kind is.”7
Clemens noem God (nie net die “Vader” nie) “die hoogste” en verwys na Jesus as God se “Kind”. Hy sê ook van Jesus: “Aangesien hy God se grootsheid weerspieël, is hy hoër as die engele in die mate wat sy naam voortrefliker is as hulle s’n.”8 Jesus weerspieël God se grootsheid, maar hy is nie gelyk daaraan nie, net soos die maan die sonlig weerspieël maar nie gelyk is aan die bron van daardie lig, die son, nie.
As die Seun van God gelyk was aan God, die hemelse Vader, sou Clemens nie nodig gehad het om te sê dat Jesus hoër as die engele is nie, want dit sou vanselfsprekend wees. En sy bewoording toon dat hy besef het dat die Seun, hoewel hy hoër is as die engele, ondergeskik is aan die almagtige God.
Clemens se standpunt is heeltemal duidelik: Die Seun is die Vader se mindere en is ondergeskik aan hom. Clemens het Jesus nooit beskou as ’n deel van ’n godheid met die Vader nie. Hy toon dat die Seun afhanklik is van die Vader, dit wil sê, van God, en sê uitdruklik dat die Vader ‘alleen God is’ en dat Hy sy posisie met niemand deel nie. Clemens skryf ook nêrens aan die heilige gees gelykheid aan God toe nie. Daar is dus hoegenaamd geen sprake van ’n Drie-eenheid in Clemens se geskrifte nie.
Ignatius
Ignatius, ’n biskop van Antiochië, het van omstreeks die middel van die eerste eeu G.J. tot vroeg in die tweede eeu geleef. As ons aanneem dat al die geskrifte wat aan hom toegeskryf word eg is, is daar geen gelykheid van Vader, Seun en heilige gees in enige van hulle te bespeur nie.
Selfs al het Ignatius gesê dat die Seun gelyk is aan die Vader in ewigheid, mag, posisie en wysheid sou dit steeds nie neerkom op ’n Drie-eenheid nie, want hy het nêrens gesê dat die heilige gees in daardie opsigte aan God gelyk is nie. Maar Ignatius het nie gesê dat die Seun op daardie of enige ander wyse aan God die Vader gelyk is nie. Inteendeel, hy het getoon dat die Seun onderdanig is aan die Een wat die meerdere is, die almagtige God.
Ignatius noem die almagtige God “die enigste ware God, die onverwekte en ontoeganklike, die Here van almal, die Vader en Verwekker van die eniggebore Seun”, en tref sodoende ’n onderskeid tussen God en sy Seun.9 Hy praat van “God die Vader, en die Here Jesus Christus”.10 En hy sê: “Daar is een God, die Almagtige, wat Homself deur Jesus Christus sy Seun geopenbaar het.”11
Ignatius toon dat die Seun as persoon nie ewig is nie, maar dat hy geskep is, want hy haal die Seun soos volg aan: “Die Here [die almagtige God] het my geskep, die begin van sy weë.”12 Ignatius het insgelyks gesê: “Daar is een God van die heelal, die Vader van Christus, ‘uit wie alles is’; en een Here Jesus Christus, ons Here, ‘deur wie alles is’.”13 Hy skryf ook:
“Die Heilige Gees spreek nie sy eie dinge nie, maar dié van Christus, . . . net soos die Here ook aan ons die dinge verkondig het wat Hy van die Vader ontvang het. Want, sê Hy [die Seun]: ‘Die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar die Vader s’n wat my gestuur het.’”14
“Daar is een God wat homself geopenbaar het in Jesus Christus sy Seun, wat sy Woord is wat uit stilte voortgekom het en wat Hom [God] wat hom gestuur het in alle opsigte behaag. . . . Jesus Christus was onderdanig aan die Vader.”15
Ignatius noem die Seun weliswaar “God die Woord”. Maar die feit dat hy die woord “God” met betrekking tot die Seun gebruik, beteken nie noodwendig gelykheid aan die almagtige God nie. In Jesaja 9:5 noem die Bybel ook die Seun “God”. Johannes 1:18 noem die Seun “die eniggebore god”. Weens die feit dat Jehovah God, die Vader, mag en gesag aan die Seun gegee het, kan hy tereg ’n “magtige een” genoem word, want dit is wat die woord “god” basies beteken.—Mattheüs 28:18; 1 Korinthiërs 8:6; Hebreërs 1:2.
Word die 15 briewe wat aan Ignatius toegeskryf word egter as eg aanvaar? In The Ante-Nicene Fathers, Deel 1, sê die redakteurs Alexander Roberts en James Donaldson:
“Kritici aanvaar nou allerweë dat die eerste agt briewe wat na bewering deur Ignatius geskryf is oneg is. Die onteenseglike bewys dat hulle die produk van ’n latere eeu is, word in die briewe self gevind . . . en hulle word nou allerweë as vervalsings verwerp.”
“Van die sewe Briewe wat deur Eusebius erken word . . . , het ons twee Griekse hersienings, ’n korter en ’n langer weergawe. . . . Hoewel die korter vorm . . . oor die algemeen bo die langer een verkies word, is geleerdes oor die algemeen van mening dat selfs hierdie weergawe nie as heeltemal vry van invoegings beskou kan word nie, en dat sy egtheid nie bo verdenking staan nie.”16
As ons die korter weergawe van sy geskrifte as eg aanneem, skakel dit wel sekere frases (in die langer weergawe) uit wat toon dat Christus onderdanig is aan God, maar dit wat in die korter weergawe oorbly, dui nogtans nie op ’n Drie-eenheid nie. En ongeag watter van sy geskrifte eg is, hulle toon hoogstens dat Ignatius in ’n tweeheid, bestaande uit God en sy Seun, geglo het. Dit was beslis nie ’n tweeheid van gelykes nie, want die Seun word altyd as God se mindere en as onderdanig aan hom voorgestel. Ongeag hoe ’n mens Ignatius se briewe beskou, daar kan nie ’n Drie-eenheidsleer daarin gevind word nie.
Polycarpus
Polycarpus van Smirna is in die laaste derde van die eerste eeu gebore en het teen die middel van die tweede eeu gesterf. Hy het blykbaar kontak met die apostel Johannes gehad en het na bewering die Brief van Polycarpus aan die Filippense geskryf.
Is daar enigiets in Polycarpus se geskrif wat op ’n Drie-eenheid dui? Nee, daar is geen melding daarvan nie. Wat hy sê, strook inderdaad met wat Jesus en sy dissipels en apostels geleer het. Polycarpus het byvoorbeeld in sy Brief gesê:
“Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus, en Jesus Christus self, wat die Seun van God is, . . . julle opbou in geloof en waarheid.”17
Let daarop dat Polycarpus, net soos Clemens, nie praat van ’n Trinitariese verhouding waarin “Vader” en “Seun” gelykes in ’n godheid is nie. Pleks daarvan praat hy van “die God en Vader” van Jesus, nie net van ‘die Vader van Jesus’ nie. Hy skei God dus van Jesus, net soos die Bybelskrywers herhaaldelik doen. Paulus sê in 2 Korinthiërs 1:3: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus.” Hy sê nie net ‘Geseënd is die Vader van Jesus’ nie, maar “Geseënd is die God en Vader” van Jesus.
Polycarpus sê ook: “Vrede van God die Almagtige, en van die Here Jesus Christus, ons Redder.”18 Hier is Jesus weer eens onderskeie van die almagtige God en nie een van die persone van ’n gelyke drie-enige Godheid nie.
Hermas en Papias
Nog ’n Apostoliese Vader is Hermas, wat in die eerste deel van die tweede eeu geskryf het. Sê hy enigiets in sy werk die Herder, of Pastor, wat ’n mens kan laat dink dat hy God as ’n Drie-eenheid beskou het? Hier is enkele voorbeelde van wat hy gesê het:
“Die Heilige Gees spreek ook nie wanneer die mens wil hê die gees moet spreek nie, maar dit spreek net wanneer God wil hê dit moet spreek. . . . God het die wingerd geplant, dit wil sê, Hy het die mense geskep en het hulle aan sy Seun gegee; en die Seun het sy engele aangestel om oor hulle te waak.”19
“Die Seun van God is ouer as al sy skeppingswerke.”20
Hier sê Hermas dat die gees spreek wanneer God (nie net die Vader nie) wil hê dit moet spreek, wat God se meerderheid oor die gees toon. En hy sê dat God die wingerd aan sy Seun gegee het, wat God se meerderheid oor die Seun toon. Hy sê ook dat die Seun van God ouer is as sy, oftewel die Seun se, skepsele, dit wil sê, ouer as dit wat die Seun as God se Meesterwerker geskep het, “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is” (Kolossense 1:15, 16). Die feit is, die Seun is nie ewig nie. Hy is geskep as ’n geesskepsel van ’n hoë rang voordat ander geesskepsele, soos die engele, deur bemiddeling van hom geskape is.
J. N. D. Kelly skryf die volgende in sy boek Early Christian Doctrines omtrent Hermas se beskouing van die Seun van God:
“Ons lees op ’n aantal plekke van ’n engel wat hoër is as die ses engele wat God se binneraad uitmaak en wat gereeld beskryf word as ‘eerbiedwaardigste’, ‘heilig’ en ‘verhewe’. Hierdie engel word die naam Migael gegee, en ’n mens kan beswaarlik tot ’n ander slotsom kom as dat Hermas die Seun van God in hom gesien het en hom met die aartsengel Migael gelykgestel het.”
“Daar is ook aanduidings . . . van pogings om Christus as ’n soort opperengel te verklaar . . . Daar is natuurlik geen spoor van ’n Drie-eenheidsleer in die streng sin van die woord nie.”21
Papias het ook blykbaar die apostel Johannes geken. Hy het waarskynlik vroeg in die tweede eeu geskryf, maar vandag bestaan daar net fragmente van sy geskrifte. Daarin sê hy niks van ’n Drie-eenheidsleer nie.
Konsekwente leer
Die leer van die Apostoliese Vaders oor die oppermagtigheid van God en sy verhouding met Jesus stem grootliks ooreen met die leer van Jesus, die dissipels en die apostels, soos dit in die Bybel opgeteken is. Hulle praat almal van God, nie as ’n Drie-eenheid nie, maar as ’n afsonderlike, ewige, almagtige, alwetende Wese. En hulle praat van die Seun van God as ’n afsonderlike, mindere, ondergeskikte geesskepsel wat deur God geskep is om Hom in die vervulling van sy wil te dien. En nêrens word die heilige gees hierby ingesluit as God se gelyke nie.
Daar is derhalwe geen steun vir die Christendom se Drie-eenheid in die Apostoliese Vaders se geskrifte wat laat in die eerste eeu en vroeg in die tweede eeu verskyn het nie. Hulle het op dieselfde wyse as die Bybel van God, Jesus en die heilige gees gepraat. Beskou byvoorbeeld Handelinge 7:55, 56:
“[Stefanus] was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.”
Stefanus het ’n gesig gesien van God in die hemel met Jesus wat langs Hom staan. Die Seun het langs die Een gestaan wat, nie net die “Vader” nie, maar “God” genoem word, een met ’n persoonlikheid wat heeltemal onderskeie is van dié van Jesus. En daar was geen derde persoon betrokke by wat Stefanus gesien het nie. Die heilige gees is nie saam met Jesus en sy Vader in die hemel gesien nie.
Dit stem ooreen met Openbaring 1:1 wat sê: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het.” In die hemel word die verrese Christus weer eens as heeltemal onderskeie van God uitgebeeld, en die heilige gees word nie gemeld nie. As Jesus die tweede persoon van ’n Drie-eenheid was en alles weet, hoe kon hy ’n openbaring “gegee” word?
Tekste soos hierdie toon duidelik dat daar nie so iets soos ’n Drie-eenheid is nie. En geen teks in die hele Bybel praat van God as ’n Drie-eenheid nie. Die geskrifte van die Apostoliese Vaders het hierdie feit weerspieël. Hulle het beslis nie die Christendom se Drie-eenheid verkondig nie.
Die volgende belangrike groep geskrifte oor die Christelike godsdiens het later in die tweede eeu gekom. Dit was die werk van kerkmanne wat die apologete genoem word. Het hulle ’n Drie-eenheid verkondig? Deel 3 van hierdie reeks wat in ’n toekomstige nommer sal verskyn, sal hulle leer bespreek.
Bronnelys:
1. The New Encyclopædia Britannica, 15de uitgawe, 1985, Micropædia, Deel 1, bladsy 488.
2. A Dictionary of Christian Theology, onder redaksie van Alan Richardson, 1969, bladsy 95; The New Encyclopædia Britannica, 15de uitgawe, 1985, Micropædia, Deel 4, bladsy 79.
3. The Apostolic Fathers, Deel 3, deur Robert A. Kraft, 1965, bladsy 163.
4. Ibid., bladsye 166-7.
5. The Influence of Greek Ideas on Christianity, deur Edwin Hatch, 1957, bladsy 252.
6. The Ante-Nicene Fathers, onder redaksie van Alexander Roberts en James Donaldson, Amerikaanse herdruk van die Edinburg-uitgawe, 1885, Deel I, bladsye 5, 16, 21.
7. The Library of Christian Classics, Deel 1, Early Christian Fathers, vertaal en geredigeer deur Cyril C. Richardson, 1953, bladsye 70-1.
8. Ibid., bladsy 60.
9. The Ante-Nicene Fathers, Deel I, bladsy 52.
10. Ibid., bladsy 58.
11. Ibid., bladsy 62.
12. Ibid., bladsy 108.
13. Ibid., bladsy 116.
14. Ibid., bladsy 53.
15. The Apostolic Fathers, Deel 4, deur Robert M. Grant, 1966, bladsy 63.
16. The Ante-Nicene Fathers, Deel I, bladsye 46-7; Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, deur John McClintock en James Strong, herdruk deur Baker Book House Co., 1981, Deel IV, bladsye 490-3; The Catholic Encyclopedia, 1910, Deel VII, bladsye 644-7.
17. The Ante-Nicene Fathers, Deel I, bladsy 35.
18. Ibid., bladsy 33.
19. The Ante-Nicene Fathers, Deel II, bladsye 27, 35.
20. The Apostolic Fathers (Loeb’s Classical Library) met ’n Engelse vertaling deur Kirsopp Lake, 1976, bladsy 249.
21. Early Christian Doctrines, deur J. N. D. Kelly, Tweede uitgawe, 1960, bladsye 94-5.