Het die vroeë kerk geleer dat God ’n Drie-eenheid is?
Deel 3—Het die Apologete die Drie-eenheidsleer geleer?
Die Wagtoring van 1 November 1991 en van 1 Februarie 1992 het getoon dat die Drie-eenheidsleer nie deur Jesus en sy dissipels en ook nie deur die Apostoliese Vaders wat laat in die eerste eeu en vroeg in die tweede eeu G.J. geleef het, geleer is nie. Het kerkvaders dit later in die tweede eeu geleer?
VAN ongeveer die middel van die tweede eeu van ons Gewone Jaartelling af tot aan die einde van daardie eeu het daar kerkvaders na vore getree wat vandag die Apologete genoem word. Hulle het geskryf om die Christelike leer wat hulle geken het teen vyandige filosofieë te beskerm wat algemeen in die Romeinse wêreld van daardie tyd voorgekom het. Hulle werke het teen die einde van, en ná, die geskrifte van die Apostoliese Vaders verskyn.
Onder die Apologete wat in Grieks geskryf het, was Justinus die Martelaar, Tatianus, Athenagoras, Theofilus en Clemens van Alexandrië. Tertullianus was ’n Apologeet wat in Latyns geskryf het. Het hulle die hedendaagse Christendom se Drie-eenheid geleer—drie gelyke persone (Vader, Seun en Heilige Gees) in ’n Godheid, waarvan elkeen waarlik God is, tog is daar nie drie Gode nie, maar een God?
“Die Seun is ondergeskik”
Dr. H. R. Boer sê in sy boek A Short History of the Early Church oor die wesenlike betekenis van die Apologete se leer:
“Justinus [die Martelaar] het geleer dat God voor die skepping van die wêreld alleen was en dat daar geen Seun was nie. . . . Toe God die wêreld wou skep, . . . het hy ’n ander goddelike wese verwek om die wêreld vir hom te skep. Hierdie goddelike wese is . . . [die] Seun genoem omdat hy gebore is; hy is Logos genoem omdat hy uit die Rede of Verstand van God geneem is. . . .
“Justinus en die ander Apologete het derhalwe geleer dat die Seun ’n skepsel is. Hy is ’n verhewe skepsel, ’n skepsel wat magtig genoeg was om die wêreld te skep, maar nogtans ’n skepsel. In die teologie word hierdie verhouding tussen die Seun en die Vader subordinasionisme genoem. Die Seun is ondergeskik, dit wil sê, sekondêr tot, afhanklik van, en verwek deur die Vader. Die Apologete was subordinasioniste.”1
In die boek The Formation of Christian Dogma sê dr. Martin Werner die volgende omtrent die vroegste begrip oor die verhouding tussen die Seun en God:
“Daardie verhouding is onmiskenbaar verstaan as een van ‘subordinasie’, dit wil sê, in die sin van die ondergeskiktheid van Christus aan God. Waar die verhouding van Jesus tot God, die Vader, ook al in die Nuwe Testament bespreek word, . . . word dit uitdruklik voorgestel en weergegee as een van subordinasie. En die onwrikbaarste Subordinasionis van die Nuwe Testament was, volgens die Sinoptiese verslag, Jesus self . . . Hierdie oorspronklike beskouing, duidelik en gevestig soos dit was, kon hom lank handhaaf. ‘Al die vername voor-Niceense teoloë het die subordinasie van die Logos aan God voorgestaan.’”2
In ooreenstemming hiermee sê R. P. C. Hanson in The Search for the Christian Doctrine of God:
“Vóór die Ariaanse Geskil [in die vierde eeu] opgevlam het, was daar geen teoloog in die Oosterse of die Westerse Kerk wat nie die Seun in die een of ander sin as ondergeskik aan die Vader beskou het nie.”3
Dr. Alvan Lamson voeg in The Church of the First Three Centuries hierdie getuienis by aangaande die leer van kerkgesaghebbendes vóór die Konsilie van Nicea (325 G.J.):
“Die ondergeskiktheid van die Seun is algemeen, indien nie deurgaans nie, deur die voor-Niceense Vaders gehandhaaf . . . Dat hulle die Seun as afsonderlik van die Vader beskou het, blyk duidelik uit die feit dat hulle sy onderhorigheid onomwonde erken. . . . Hulle het hom as afsonderlik en ondergeskik beskou.”4
In die boek Gods and the One God sê Robert M. Grant eweneens die volgende oor die Apologete:
“Die Christologie van die apologieë is, soos dié van die Nuwe Testament, hoofsaaklik subordinasionisties. Die Seun is altyd ondergeskik aan die Vader, wat die een God van die Ou Testament is. . . . Wat ons by hierdie vroeë skrywers vind, is dus nie ’n leerstelling van die Drie-eenheid nie . . . Christelike teologie was vóór Nicea amper altyd subordinasionisties.”5
Die Christendom se Drie-eenheid leer dat die Seun gelyk is aan God die Vader in ewigheid, mag, posisie en wysheid. Maar die Apologete het gesê dat die Seun nie gelyk aan God die Vader is nie. Hulle het die Seun as ondergeskik beskou. Dit is nie die Drie-eenheidsleer nie.
’n Weerspieëling van die eerste-eeuse leer
Die Apologete en ander vroeë Kerkvaders het grotendeels weerspieël wat eerste-eeuse Christene oor die verhouding tussen die Vader en die Seun geleer het. Let op hoe dit in die boek The Formation of Christian Dogma gestel word:
“In die Vroeë Christelike tydperk was daar geen teken van enige Trinitariese probleem of geskil, soos dít wat later intense konflikte in die Kerk laat ontstaan het nie. Die rede hiervoor lê ongetwyfeld opgesluit in die feit dat Christus vir die Vroeë Christelike geloof . . . ’n wese van die hoë hemelse engelewêreld was, wat deur God geskep en gekies is vir die taak om, aan die einde van die tye, . . . God se Koninkryk tot stand te bring.”6
The International Standard Bible Encyclopedia erken verder aangaande die leer van die vroeëre Kerkvaders:
“In die vroegste denke van die Kerk het hulle, wanneer daar van God die Vader gepraat is, hom gewoonlik ten eerste gesien, nie as die Vader van Jesus Christus nie, maar as die bron van alle lewe. Gevolglik is God die Vader as ’t ware God by uitnemendheid. Aan Hom word beskrywings soos: sonder begin, onsterflik, onveranderlik, onbeskryflik, onsigbaar en onverwek toegeskryf. Dit is Hy wat alle dinge gemaak het, met inbegrip van die grondelemente van die skepping, en dit uit niks. . . .
“Dit gee moontlik te kenne dat die Vader alleen waarlik God is en dat die Seun en Gees slegs in ondergeskikte sin God is. Dit lyk of talle vroeë verklarings hierdie gedagte ondersteun.”7
Hoewel hierdie ensiklopedie verderaan min waarde heg aan hierdie waarhede en beweer dat die Drie-eenheidsleer in daardie vroeë tydperk aanvaar is, weerspreek die feite hierdie bewering. Beskou die woorde van die bekende Katolieke teoloog John Henry Kardinaal Newman:
“Laat ons toegee dat al die leerstellings, waarvan ons Heer die onderwerp is, konsekwent en deurgaans deur die Vroeë Kerk bely is . . . Maar met die Katolieke leerstelling van die Drie-eenheid is dit sekerlik nie die geval nie. Ek kan nie begryp hoe daar gesê kan word dat daar ’n eenstemmigheid onder vroeë [kerkgesaghebbendes] ten gunste daarvan was nie . . .
“Die Belydenisse van daardie vroeë tydperk maak geensins melding . . . van die [Drie-eenheid] nie. Hulle maak inderdaad melding van ’n Drietal; maar dat daar enige verborgenheid in die leerstelling is, dat die Drie Een is, dat Hulle gelyk, mede-ewig, almal ongeskape, almal alvermoënd, almal onverstaanbaar is, word nie gesê nie en kan ook nooit daaruit afgelei word nie.”8
Wat Justinus die Martelaar geleer het
Een van die eerste Apologete is Justinus die Martelaar wat van omstreeks 110 tot 165 G.J. geleef het. Nie een van sy bestaande geskrifte meld drie gelyke persone in een God nie.
Spreuke 8:22-30 sê byvoorbeeld, volgens die Katolieke Jerusalem Bible, oor die voormenslike Jesus: “Jahwe het my geskep toe sy voorneme aan die begin openbaar gemaak is, voor die oudste van sy werke. . . . Die wêreldvloed was nie daar toe ek gebore is nie . . . Voor die heuwels is ek gebore . . . ek was aan sy [God se] sy, ’n meestervakman.” Justinus het hierdie verse bespreek en in sy Dialoog met Trypho gesê:
“Die Skrif het verklaar dat hierdie Nakomeling deur die Vader verwek is vóór alle dinge geskep is; en enigeen sal erken dat hy wat verwek is numeries afsonderlik is van hom wat verwek.”9
Aangesien die Seun deur God verwek is, gebruik Justinus wel die uitdrukking “God” in verband met die Seun. Hy sê in sy Eerste Apologie: “Die Vader van die heelal het ’n Seun; wat ook, omdat hy die eersgebore Woord van God is, selfs God is.”10 Die Bybel gebruik ook die titel “God” met verwysing na die Seun van God. In Jesaja 9:5 word hy “Sterke God” genoem. Maar in die Bybel word engele, mense, valse gode en Satan ook “gode” genoem. (Engele: Psalm 8:6; vergelyk Hebreërs 2:6, 7. Mense: Psalm 82:6. Valse gode: Exodus 12:12; 1 Korinthiërs 8:5. Satan: 2 Korinthiërs 4:4.) In die Hebreeuse Geskrifte beteken die woord vir “God”, ʼEl, bloot “Magtige Een” of “Sterk Een”. Die ekwivalent in die Griekse Geskrifte is the·osʹ.
Daarbenewens toon die Hebreeuse benaming wat in Jesaja 9:5 gebruik word ’n duidelike verskil tussen die Seun en God. Daar word die Seun “Sterke God”, ʼEl Gib·boorʹ, genoem en nie “Almagtige God” nie. Daardie benaming in Hebreeus is ʼEl Sjad·daiʹ en is uitsluitlik op Jehovah God van toepassing.
Let egter daarop dat hoewel Justinus die Seun “God” noem hy nooit sê dat die Seun een van drie gelyke persone is wat elkeen ’n God is, maar dat die drie slegs een God uitmaak nie. Inteendeel, hy sê in sy Dialoog met Trypho:
“Daar is . . . ’n ander God en Heer [die voormenslike Jesus] wat onderworpe is aan die Maker van alle dinge [almagtige God]; [die Seun] wat ook ’n Engel genoem word, omdat Hy [die Seun] aan mense bekend maak wat die Maker van alle dinge—bo wie daar geen ander God is nie—ook al aan hulle wil bekend maak. . . .
“[Die Seun] is afsonderlik van Hom wat alle dinge gemaak het—ek bedoel numeries [afsonderlik], nie in wil nie.”11
In Justinus se Eerste Apologie, hoofstuk 6, verskyn daar ’n interessante gedeelte waar hy die Christene verdedig teen die heidense beskuldiging dat hulle ateïste is. Hy skryf:
“Ons aanbid en vereer Hom [God], sowel as die Seun (wat van Hom uitgegaan het en ons al hierdie dinge geleer het en die menigte ander goeie engele wat Hom volg en wat soos Hy gemaak is) en die profetiese Gees.”12
’n Vertaler van hierdie gedeelte, Bernhard Lohse, sê hieroor: “Asof dit nie genoeg is dat engele hier genoem word as wesens wat deur Christene geëer en aanbid word nie, huiwer Justinus nie om melding te maak van engele voor hy die Heilige Gees noem nie.”13—Sien ook An Essay on the Development of Christian Doctrine.14
Hoewel dit dus lyk asof Justinus die Martelaar van die ware Bybelse leer afgedwaal het as dit kom by wie die voorwerp van Christene se aanbidding moet wees, is dit duidelik dat hy die Seun nie as gelyk aan die Vader beskou het nie, net so min as wat die engele as Sy gelyke beskou is. Ons haal weer aangaande die opvatting van Justinus aan uit Lamson se Church of the First Three Centuries:
“Justinus het die Seun as afsonderlik van God, en ondergeskik aan hom, beskou: afsonderlik, nie in die hedendaagse sin dat hy ’n deel uitmaak van een van drie hipoteses, of persone, nie, . . . maar afsonderlik in wese en natuur; met ’n werklike, substansiële, individuele bestaan, apart van God, van wie hy al sy mag en titels ontvang het; hy is onder hom gestel en is in alle dinge aan sy wil onderworpe. Die Vader is die allerhoogste; die Seun is ondergeskik: Die Vader is die bron van mag; die Seun die ontvanger: die Vader bring voort; die Seun, as sy dienaar of instrument, volbring. Hulle is twee in getal, maar stem ooreen, of is een, in wil; die Vader se wil seëvier altyd wat die Seun betref.”15
Daarbenewens sê Justinus nêrens dat die heilige gees ’n persoon is wat gelyk aan die Vader en die Seun is nie. Daar kan dus nie in alle eerlikheid gesê word dat Justinus in enige sin die hedendaagse Christendom se Drie-eenheid geleer het nie.
Wat Clemens geleer het
Clemens van Alexandrië (c. 150 tot 215 G.J.) noem die Seun ook “God”. Hy noem hom selfs “Skepper”, ’n benaming wat nooit in die Bybel met verwysing na Jesus gebruik word nie. Het hy bedoel dat die Seun in alle opsigte aan die almagtige Skepper gelyk is? Nee. Clemens het blykbaar na Johannes 1:3 verwys waar dit van die Seun sê: “Alle dinge het deur Hom ontstaan.”16 God het sy Seun as ’n werktuig in Sy skeppingswerke gebruik.—Kolossense 1:15-17.
Clemens noem die allerhoogste God “die God en Vader van ons Heer Jesus”17 en sê dat “die Heer die Seun van die Skepper is”.18 Hy sê ook: “Die God van alles is slegs een goeie, regverdige Skepper en die Seun [is] in die Vader.”19 Hy het dus geskryf dat die Seun ’n God bo hom het.
Clemens praat van God as die “eerste en enigste beskikker van die ewige lewe, wat die Seun, wat dit van Hom [God] ontvang het, aan ons gee”.20 Die oorspronklike Gewer van die ewige lewe is onteenseglik verhewe bo die een wat dit as ’t ware namens hom uitreik. Clemens sê dus dat God “eerste en die hoogste is”.21 Verder sê hy dat die Seun “naaste aan Hom is wat alleen die Almagtige is” en dat die Seun “alle dinge in ooreenstemming met die Vader se wil laat geskied”.22 Clemens toon herhaaldelik die almagtige God se oppergesag oor die Seun.
Ons lees aangaande Clemens van Alexandrië in The Church of the First Three Centuries:
“Ons kan talle gedeeltes uit Clemens se werke aanhaal waarin die ondergeskiktheid van die Seun duidelik gestel word. . . .
“Ons is verstom dat enigeen Clemens bloot kan lees en vir een oomblik kan dink dat hy die Seun as numeries identies—een—met die Vader beskou het. Sy afhanklike en ondergeskikte karakter word, soos dit vir ons lyk, oral erken. Clemens het geglo dat God en die Seun numeries afsonderlik is; met ander woorde, twee wesens,—die een oppermagtig, die ander ondergeskik.”23
Verder kan dit weer gesê word: Selfs al lyk dit asof Clemens soms verder gaan as dít wat die Bybel oor Jesus sê, praat hy nêrens van ’n Drie-eenheid wat bestaan uit drie gelyke persone in een God nie. Apologete soos Tatianus, Theofilus en Athenagoras, wat tussen Justinus se tyd en dié van Clemens geleef het, het soortgelyke beskouings gehad. Lamson sê dat hulle “nie enigsins beter Trinitariërs was as Justinus self nie; dit wil sê, hulle het nie aan enige onverdeelde, gelyke Drietal geglo nie, maar het ’n leerstelling geleer wat heeltemal onverenigbaar met hierdie opvatting is”.24
Tertullianus se teologie
Tertullianus (c. 160 tot 230 G.J.) het eerste die Latynse woord trinitas gebruik. Soos Henry Chadwick gesê het, het Tertullianus aangevoer dat God ‘een wese is wat uit drie persone bestaan’.25 Dit beteken egter nie dat hy drie gelyke en mede-ewige persone in gedagte gehad het nie. Skrywers wat hulle vir die leerstelling van die Drie-eenheid beywer het, het egter later op sy idees voortgebou.
Daar is ’n groot verskil tussen Tertullianus se konsep van Vader, Seun en heilige gees en die Christendom se Drie-eenheid, want hy was ’n subordinasionis. Hy het die Seun as ondergeskik aan die Vader beskou. In Teen Hermogenes het hy geskryf:
“Ons moet nie dink dat daar enige ander wese benewens God alleen is wat onverwek en ongeskep is nie. . . . Hoe is dit moontlik dat enigiets, behalwe die Vader, ouer kan wees, en op grond hiervan inderdaad edeler kan wees, as die Seun van God, die eniggebore en eersgebore Woord? . . . Daardie [God] wat nie ’n Maker nodig gehad het om Hom lewensbestaan te gee nie, sal baie meer verhewe in rang wees as hy [die Seun] wat ’n skepper gehad het om hom in die lewe te roep.”26
Hy toon ook in Teen Praxeas dat die Seun van die almagtige God verskil en ondergeskik aan Hom is deur te sê:
“Die Vader is die hele wese, maar die Seun is afkomstig van en ’n deel van die geheel, soos Hy Self erken: ‘My Vader is groter as Ek.’ . . . Dus is die Vader afsonderlik van die Seun, hy is groter as die Seun, in soverre dat Hy wat verwek een is, en Hy wat verwek word ’n ander is; ook Hy wat stuur, is een, en Hy wat gestuur word, is ’n ander; en weereens is Hy wat skep een, en Hy deur wie dit geskep word, is ’n ander.”27
Tertullianus sê verder in Teen Hermogenes dat daar ’n tyd was toe die Seun nie as persoon bestaan het nie, wat toon dat hy die Seun nie beskou het as ’n ewige wese in dieselfde sin as wat God ewig is nie.28 Kardinaal Newman het gesê: “Tertullianus moet beskou word as heterodoks [’n aanhanger van onortodokse leerstellings] wat die leerstelling van ons Heer se ewige generasie betref.”29 Lamson sê die volgende aangaande Tertullianus:
“Hierdie rede, of Logos, soos dit deur die Grieke genoem is, is later, volgens Tertullianus se opvatting, in die Woord, of Seun, verander, dit wil sê, ’n werklike wese, wat van alle ewigheid af slegs as ’n eienskap van die Vader bestaan het. Tertullianus het egter aan hom ’n rang gegee wat ondergeskik aan die Vader is . . .
“Te oordeel aan enige verduideliking van die Drie-eenheid wat tans aanvaar word, sou die poging om Tertullianus van veroordeling [as ’n ketter] te red hopeloos wees. Hy sou die toets glad nie deurstaan nie.”30
Geen Drie-eenheid nie
As ’n mens al die werke van die Apologete sou lees, sou jy vind dat hoewel hulle in sommige opsigte van die leringe van die Bybel afgedwaal het, nie een van hulle geleer het dat die Vader, die Seun en die heilige gees gelyk is in ewigheid, mag, posisie en wysheid nie.
Dit is ook die geval met ander skrywers van die tweede en derde eeu, soos Irenaeus, Hippolitus, Origenes, Cyprianus en Novatianus. Hoewel sommige van hulle die Vader en die Seun in sekere opsigte gelykgestel het, het hulle die Seun in ander opsigte as ondergeskik aan God die Vader beskou. En nie een van hulle het selfs bespiegel dat die heilige gees aan die Vader en die Seun gelyk is nie. Origenes (c. 185 tot 254 G.J.) het byvoorbeeld gesê dat die Seun van God “die Eersgeborene van die hele skepping” is en dat die Skrif “Hom as die oudste van al die skeppingswerke ken”.31
Wanneer hierdie vroeë kerkgesaghebbendes se werke objektief gelees word, toon hulle dat die Christendom se Drie-eenheidsleer nie in hulle tyd bestaan het nie. Soos The Church of the First Three Centuries sê:
“Die hedendaagse gewilde leerstelling van die Drie-eenheid . . . word glad nie deur die geskrifte van Justinus ondersteun nie: en dit kan van al die voor-Niceense Vaders gesê word; dit wil sê, alle Christenskrywers gedurende die drie eeue ná die geboorte van Christus. Hulle praat weliswaar van die Vader, Seun en profetiese of heilige Gees, maar nie as gelyk nie, nie as een numeriese entiteit nie, nie as Drie in Een nie, geensins soos dit nou deur die Trinitariërs bely word nie. Presies die teenoorgestelde is waar. Die leerstelling van die Drie-eenheid, soos dit deur hierdie Vaders verduidelik is, verskil wesenlik van die hedendaagse leerstelling. Ons stel dit as ’n feit wat net so maklik bewys kan word soos enige feit in die geskiedenis van menslike opvattings.”32
Trouens, voor Tertullianus is die Drie-eenheid nie eens genoem nie. En Tertullianus se “heterodokse” Drie-eenheid is baie anders as die leerstelling wat vandag geglo word. Hoe het die Drie-eenheidsleer soos dit vandag verstaan word dan ontwikkel? Was dit by die Konsilie van Nicea in 325 G.J.? Ons sal hierdie vrae in Deel 4 van hierdie reeks in ’n toekomstige nommer van Die Wagtoring ondersoek.
Bronnelys
1. A Short History of the Early Church, deur Harry R. Boer, 1976, bladsy 110.
2. The Formation of Christian Dogma, deur Martin Werner, 1957, bladsy 125.
3. The Search for the Christian Doctrine of God, deur R. P. C. Hanson, 1988, bladsy 64.
4. The Church of the First Three Centuries, deur Alvan Lamson, 1869, bladsye 70-1.
5. Gods and the One God, deur Robert M. Grant, 1986, bladsye 109, 156, 160.
6. The Formation of Christian Dogma, bladsye 122, 125.
7. The International Standard Bible Encyclopedia, 1982, Deel 2, bladsy 513.
8. An Essay on the Development of Christian Doctrine, deur John Henry Kardinaal Newman, Sesde uitgawe, 1989, bladsye 14-18.
9. The Ante-Nicene Fathers, geredigeer deur Alexander Roberts en James Donaldson, Amerikaanse herdruk van die Edinburgh-uitgawe, 1885, Deel I, bladsy 264.
10. Ibid., bladsy 184.
11. The Ante-Nicene Fathers, Deel 1, bladsy 223.
12. Ibid., bladsy 164.
13. A Short History of Christian Doctrine, deur Bernhard Lohse, vertaal deur F. Ernest Stoeffler, 1963, tweede slapband-uitgawe, 1980, bladsy 43.
14. An Essay on the Development of Christian Doctrine, bladsy 20.
15. The Church of the First Three Centuries, bladsye 73-4, 76.
16. The Ante-Nicene Fathers, Deel II, bladsy 234.
17. Ibid., bladsy 227.
18. Ibid., bladsy 228.
19. Ibid.
20. Ibid., bladsy 593.
21. Ibid.
22. Ibid., bladsy 524.
23. The Church of the First Three Centuries, bladsye 124-5.
24. Ibid., bladsy 95.
25. The Early Church, deur Henry Chadwick, 1980-uitgawe, bladsy 89.
26. The Ante-Nicene Fathers, Deel III, bladsy 487.
27. Ibid., bladsye 603-4.
28. Ibid., bladsy 478.
29. An Essay on the Development of Christian Doctrine, bladsye 19, 20.
30. The Church of the First Three Centuries, bladsye 108-9.
31. The Ante-Nicene Fathers, Deel IV, bladsy 560.
32. The Church of the First Three Centuries, bladsye 75-6.
[Prent op bladsy 27]
Clemens
[Erkenning]
Historical Pictures Service
[Prent op bladsy 28]
Tertullianus
[Erkenning]
Historical Pictures Service