Openbaar ’n gees van selfopoffering!
ROLFa was ’n gewaardeerde werknemer. Toe hy besluit om deeltydse werk te kry sodat hy sy aandeel aan die Christelike bediening kon uitbrei, het sy werkgewer geredelik ingestem. Rolf kon dus jare lank die pionierdiens geniet. Maar eendag het die werksituasie verander. Rolf was so bekwaam in sy werk dat hy die pos as bemarkingsbestuurder van die firma aangebied is. Die werk het ’n aanloklike salaris en ’n goeie kans op toekomstige bevordering ingesluit. Maar hy sou nie meer deeltyds kon werk nie.
Rolf het ’n vrou en twee kinders gehad om voor te sorg, en die ekstra geld sou nuttig wees. Hy het nogtans die aanbod van die hand gewys en om ’n ander werk aansoek gedoen, ’n werk wat dit vir hom moontlik sou maak om sy geestelike sowel as sy finansiële verpligtinge na te kom. Rolf se werkgewer was verbaas oor sy besluit. Toe hy besef dat selfs ’n aanbod van ’n hoër salaris tevergeefs sou wees, het sy baas tot die slotsom gekom: “Ek sien dat ek nie met jou oortuiging kan meeding nie.”
Ja, Rolf het oortuiging gehad. Maar hy het ook ’n ander eienskap gehad—die gees van selfopoffering. So ’n gees is seldsaam in ons gemaksugtige wêreld. Maar dit kan tot ’n leefwyse lei wat voordelig en bevredigend is. Wat is die gees van selfopoffering? Wat behels dit? En wat moet ons doen om dit te behou?
’n Bybelse vereiste
Om ’n opoffering te maak, beteken om iets kosbaars op te gee of af te staan. Opoffering is ’n deel van ware aanbidding sedert die eerste getroue getuie, Abel, “eersgeborenes van sy kleinvee” as offer aan God gebring het (Genesis 4:4). Manne van geloof, soos Noag en Jakob, het hierdie voorbeeld gevolg (Genesis 8:20; 31:54). Diereoffers was ook ’n belangrike aspek van die Mosaïese Wet (Levitikus 1:2-4). Onder daardie Wet is aanbidders egter gemaan om hulle allerbeste diere as offers te bring. Hulle is nie toegelaat om enige gebreklike dier as offer te bring nie (Levitikus 22:19, 20; Deuteronomium 15:21). Toe afvallige Israeliete hierdie wet geskend het, het God hulle tereggewys en gesê: “As julle ’n lam of ’n siek dier bring [om te offer, sê julle] . . . dit [is] geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ’n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? . . . Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem?”—Maleagi 1:8, 13.
Die beginsel van offerandes is ook van toepassing op Christelike aanbidding. Maar aangesien Christus die volle losprys betaal het, is diereoffers nie meer vir God welgevallig nie. Wat kan Christene dus offer wat aanneemlik is? Paulus skryf in Romeine 12:1: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.” Wat ’n verstommende verandering! Pleks van dooie karkasse te offer, moes Christene hulself as ’n lewende offer bring—hulle krag, besittings en vermoëns. En Jehovah sal, soos in die geval van Israel, nie “lam”, of halfhartige, offers aanneem nie. Hy eis dat sy aanbidders hom hulle allerbeste gee, dat hulle hom met hulle hele hart, siel, verstand en krag dien.—Markus 12:30.
’n Selfopofferende gees behels dus baie meer as om bloot gereeld vergaderinge by te woon en aan die Christelike bediening deel te neem. Dit beteken dat jy vasbeslote moet wees om God se wil te doen, wat dit ook al kos. Dit beteken dat jy bereid is om swaar te kry en ongerief te verduur. “As iemand agter My aan wil kom”, het Jesus gesê, “moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Mattheüs 16:24). Persoonlike ambisie of materialistiese doelwitte is nie vir ’n Christen van hoofbelang nie. Die belangrikste ding in sy lewe is om eers God se Koninkryk en Sy geregtigheid te soek (Mattheüs 6:33). Indien nodig is hy bereid om ‘sy kruis op te neem’, vervolging en skande te verduur of selfs doodgemaak te word!
Die seëninge wat selfopoffering meebring
Wanneer jy voor wrede moontlikhede te staan kom, kan jy vanselfsprekend wonder of selfopoffering die moeite werd is. Dit is beslis vir diegene wat Jehovah God liefhet en wat graag wil sien dat sy naam geëer word (Mattheüs 22:37). Beskou die volmaakte voorbeeld wat Jesus Christus gestel het. Voordat hy aarde toe gekom het, het hy ’n verhewe posisie in die hemel as geesskepsel geniet. Maar hy het, soos hy sy dissipels meegedeel het, ‘nie sy wil nie, maar die wil van die Vader wat hom gestuur het’, gesoek (Johannes 5:30). Hy het hom dus gewillig “ontledig en die gedaante van ’n slaaf aangeneem en het aan die mense gelyk geword. Meer nog, toe hy hom in die hoedanigheid van ’n mens bevind, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.”—Filippense 2:7, 8, NW.
Sulke opofferings was nie tevergeefs nie. Omdat Jesus bereid was om ‘sy lewe vir sy vriende te gee’, kon hy die losprys betaal, wat onvolmaakte mense in staat gestel het om óf onsterflikheid in die hemele óf die ewige lewe op die aarde te verkry (Johannes 3:16; 15:13; 1 Johannes 2:2). Omdat hy sy onkreukbaarheid volmaak gehandhaaf het, is Jehovah se naam uitermatig geloof (Spreuke 27:11). Dit is geen wonder nie dat Jehovah hom geseën het vir sy selfopofferende lewenswandel! “God [het] Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is.”—Filippense 2:9.
Jesus was natuurlik God se eniggebore Seun. Beloon God ook ander wat opofferings vir hom maak? Ja, en dit word getoon deur talle voorbeelde in die ou tyd sowel as in ons tyd. Kyk na die Bybelverhaal van Rut die Moabitiese vrou. Sy het blykbaar deur haar Israelitiese man van Jehovah geleer. Na sy dood moes sy ’n besluit neem. Sou sy in haar heidense geboorteland bly of sou sy saam met haar bejaarde skoonmoeder, Naomi, na die Beloofde Land reis? Rut het op laasgenoemde besluit, hoewel dit beteken het dat sy haar bande met haar ouers en miskien selfs die moontlikheid om weer te trou moes opoffer. Maar Rut het Jehovah leer ken, en die begeerte om hom te aanbid saam met sy uitverkore volk het haar beweeg om saam met Naomi te gaan.
Is Rut beloon vir sulke selfopoffering? Sy is beslis! ’n Landheer, Boas, het haar mettertyd as vrou geneem, en Rut het die moeder van ’n seun, Obed, geword, wat haar ’n stammoeder van Jesus Christus gemaak het.—Mattheüs 1:5, 16.
Selfopofferende knegte van God in ons tyd het eweneens seëninge geniet. In 1923 het William R. Brown, beter bekend as “Bible” Brown, byvoorbeeld sy huis in Wes-Indië verlaat en die predikingswerk in Wes-Afrika aangevoor. Sy vrou en dogter het saam met hom gegaan. Hy het uiteindelik na Nigerië gegaan, waar die predikingswerk toe net vrugte begin afwerp het. “Bible” Brown het saam met ’n swart Amerikaner, Vincent Samuels, en ’n ander Getuie van Wes-Indië, Claude Brown, ’n belangrike rol gespeel in die vroeë stadium van die werk in Wes-Afrika.
Vandag dien meer as 187 000 verkondigers in Sierra Leone, Liberië, Ghana en Nigerië, gebiede waar “Bible” Brown en sy metgeselle baanbrekerswerk gedoen het. Voor sy dood in 1967 het “Bible” Brown gesê: “Wat ’n vreugde is dit tog om te sien hoe mans en vroue gehoorsaam word aan die goeie nuus van God se Koninkryk!” Ja, hy is ryklik geseën vir sy selfopofferende lewenswandel.
Maniere waarop ons selfopofferend kan wees
Op watter maniere kan ons vandag dieselfde gees openbaar? Een manier is om gereeld elke week aan die bediening van huis tot huis deel te neem (Handelinge 20:20). Dit is nie maklik om dit te doen nie, veral nie ná ’n uitputtende week van sekulêre werk nie. Dit verg dissipline en goeie beplanning. Maar die vreugde is baie groter as enige ongerief wat jy moet verduur. Dink net, jy kan die voorreg hê om iemand te help om “’n brief van Christus” te word wat “geskrywe [is] nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart”.—2 Korinthiërs 3:3.
Party het hulle aandeel aan die predikingswerk vergroot deur miskien van sekulêre werk of ontspanning ‘die tyd uit te koop’ (Efesiërs 5:16). Talle reël hulle roosters so dat hulle ten minste een keer per jaar aan die hulppionierdiens kan deelneem. Ander kan elke maand hulppionierdiens doen of as gewone pioniers dien. Nog ’n opoffering wat oorweeg kan word, is om te verhuis na gebiede waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Dit behels dikwels dat jy drastiese veranderings in jou lewenstyl moet aanbring, ongerief moet verduur en by nuwe kulture en gebruike moet aanpas. Maar die seëninge omdat jy ’n groter aandeel daaraan het om ander te help om die lewe te verkry, maak sulke opofferings die moeite werd.
John Cutforth, wat in Kanada gebore is, het dit persoonlik ondervind. Nadat hy aan die Wagtoring- Bybelskool Gilead gegradueer het, is hy as sendeling na Australië gestuur. “Hoe ver van die huis was dit tog nie!” vertel broer Cutforth. “Sou ek ooit na Kanada terugkeer om my ouers en vriende weer te sien voor Armageddon? Die enigste manier om dit uit te vind, was om te gaan.” Broer Cutforth het gegaan, en hy was nie spyt oor die opofferings wat hy gemaak het nie. In latere jare het hy die getuieniswerk aangevoor in Papoea Nieu-Guinee, waar hy steeds ywerig dien na 50 jaar in voltydse diens. Hy het eenkeer gesê: “As jy altyd daarna streef om Jehovah se leiding te volg en enige toewysing aanvaar wat hy jou na sy goeddunke gee, bring dit vreugde, geluk, tevredenheid en ontelbare vriende mee.”
Omstandighede soos gesondheid, finansies en familieverpligtinge kan natuurlik beperk wat jy kan doen; nie almal kan as pioniers en sendelinge dien nie. Wees nogtans vasbeslote om sover moontlik ’n volle aandeel aan vergaderinge en velddiens te hê, en moenie toelaat dat klein ongerieflikhede, soos slegte weer, jou terughou nie (Hebreërs 10:24, 25). Jy kan dalk ook meer tyd opoffer vir persoonlike studie van God se Woord. Party gesinne doen dit deur die tyd te beperk wat bestee word om na TV-programme te kyk, miskien deur een aand elke week geen TV te kyk nie of deur glad nie ’n TV te hê nie. As jy tyd vir persoonlike studie afstaan, sal die “lofoffer” waarmee jy by vergaderinge en in die velddiens “sy Naam bely” heel waarskynlik ’n offer van hoë gehalte wees.—Hebreërs 13:15.
Onthou, die predikingswerk is nou in sy laaste fase. God sal binnekort sy oordeel aan hierdie hebsugtige en gemaksugtige wêreld voltrek (Sefanja 2:3). As ons God se guns wil behou, kan ons nie laks wees nie. Ons moet ‘ons liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer’ (Romeine 12:1). So ’n gees sal groot geluk en tevredenheid meebring. Dit sal ons help om groter vreugde in ons bediening te verkry. En dit sal Jehovah God se hart verbly!—Spreuke 27:11.
Behou dus ’n selfopofferende gees! Moenie huiwer om ten behoewe van ander en ter ondersteuning van Koninkryksbelange ongerief te verduur nie. Paulus het gemaan: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.”—Hebreërs 13:16.
[Voetnoot]
a Die naam is verander.
[Prent op bladsy 26]
Dit behels opoffering om tyd af te staan vir persoonlike studie en velddiens, maar dit is lonend
[Prent op bladsy 28]
W. R. Brown en John Cutforth is ryklik geseën vir hulle selfopofferende leefwyse