Justinus—filosoof, apologeet en martelaar
“ONS dring daarop aan dat die aanklagte teen die Christene ondersoek word, en dat, as die aanklagte gestaaf kan word, hulle die verdiende straf kry . . . Maar as niemand ons aan iets skuldig kan bevind nie, word julle deur goeie oordeel verbied om onskuldige mense ter wille van ’n bose gerug te veronreg . . . Want as julle, wanneer julle kennis van die waarheid opgedoen het, nie doen wat reg is nie, sal julle sonder verskoning voor God staan.”
Met hierdie woorde het Justinus die Martelaar, ’n verklaarde Christen van die tweede eeu G.J., ’n beroep gedoen op die Romeinse keiser Antoninus Pius. Justinus het om ’n onbevooroordeelde regterlike ondersoek na die lewens en opvattings van verklaarde Christene gevra. Hierdie eis om geregtigheid het van ’n man gekom met ’n baie interessante agtergrond en filosofie.
Vroeë lewe en opleiding
Justinus was ’n nie-Jood, gebore omstreeks 110 G.J. in Samaria in die stad Flavia Neapolis, die hedendaagse Nablus. Hy het homself ’n Samaritaan genoem, ofskoon sy vader en grootvader waarskynlik Romeins of Grieks was. Sy opvoeding in heidense gebruike, gepaard met ’n dors na die waarheid, het tot ’n ywerige studie van filosofie gelei. Onbevredig in sy soeke onder die Stoïsyne, Peripatetici en Pythagoreërs het hy Plato se opvattings ondersoek.
In een van sy werke vertel Justinus van sy begeerte om met filosowe te gesels en sê: “Ek het my aan ’n sekere Stoïsyn oorgegee; en nadat ek ’n aansienlike tyd saam met hom deurgebring het, toe ek geen verdere kennis van God opgedoen het nie (want hy het self nie veel geweet nie), . . . het ek van hom weggegaan en my tot ’n ander gewend.”—Dialoog van Justinus, Filosoof en Martelaar, met Trypho, ’n Jood.
Justinus het daarna na ’n Peripatetikus gegaan wat meer in geld as in die waarheid belanggestel het. Justinus sê: “Hierdie man het, nadat hy my die eerste paar dae ontvang het, gevra om die vergoeding te betaal sodat ons gedagtewisseling nie vrugteloos sou wees nie. Ek het hom om dié rede verlaat, want volgens my mening was hy glad nie ’n filosoof nie.”
Gretig om die “room van die filosofie” te hoor, het Justinus “na ’n Pythagoreër gegaan, baie beroemd—’n man wat ’n hoë dunk van sy eie wysheid gehad het”. Justinus sê: “Toe ek ’n onderhoud met hom gehad het, gewillig om sy hoorder en dissipel te word, het hy gesê: ‘En nou? Is jy vertroud met musiek, astronomie en geometrie? Kan jy verwag om enige van daardie [goddelike] dinge wat tot ’n gelukkige lewe bydra te begryp, as jy nie eers [hieroor] ingelig is nie?’ . . . Hy het my weggestuur toe ek my onkunde teenoor hom bely het.”
Hoewel hy ontmoedig was, het Justinus aangehou om na die waarheid te soek deur hom tot die beroemde Platoniste te wend. Hy sê: “Ek het vervolgens soveel van my tyd as moontlik deurgebring saam met iemand wat hom onlangs in ons stad gevestig het—’n skerpsinnige man, wat ’n hoë posisie onder die Platoniste beklee—en ek het gevorder en daagliks die grootste verbeterings aangebring . . . , sodat ek in net ’n kort tydjie geglo het dat ek wys geword het; en dit”, sê Justinus, “was my dwaasheid.”
Justinus se soeke na die waarheid deur met filosowe in aanraking te kom, was tevergeefs. Maar terwyl hy langs die see gesit en peins het, het hy ’n bejaarde Christen ontmoet, “’n sekere ou man, hoegenaamd nie veragtelik in voorkoms nie, wat nederige en eerbiedige gedrag aan die dag gelê het”. Die daaropvolgende gesprek het sy aandag op grondleerstellings in die Bybel gevestig wat toon waarom juiste kennis van God nodig is.—Romeine 10:2, 3.
Die naamlose Christen het vir Justinus gesê: “Daar het lank voor hierdie tyd sekere manne bestaan wat veel ouer was as die gesiene filosowe, regverdig sowel as bemind by God, wat . . . gebeure voorspel het wat sou plaasvind en wat nou wel plaasvind. Hulle word profete genoem. Alleenlik hulle het die waarheid gesien en dit aan mense verkondig, . . . omdat hulle met die Heilige Gees vervul was.” Die Christen het Justinus se nuuskierigheid verder geprikkel en gesê: “Hulle geskrifte bestaan nog, en hy wat hulle lees, word baie gehelp in sy kennis van die begin en einde van dinge” (Mattheüs 5:6; Handelinge 3:18). Justinus het, soos die goedhartige heer hom aangespoor het, die Skrif ywerig ondersoek en blykbaar ’n mate van waardering daarvoor en vir Bybelprofesie verkry, soos blyk uit sy geskrifte.
Sy werke van naderby beskou
Justinus was beïndruk deur die onverskrokkenheid van Christene in die aangesig van die dood. Hy het ook die waarheidsgetroue leringe van die Hebreeuse Geskrifte waardeer. Om argumente in sy Dialoog met Trypho te ondersteun, het Justinus aangehaal uit Genesis, Exodus, Levitikus, Deuteronomium, 2 Samuel, 1 Konings, Psalms, Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël, Hosea, Joël, Amos, Jona, Miga, Sagaria en Maleagi, asook uit die Evangelies. Sy waardering vir hierdie Bybelboeke word gesien in die dialoog met Trypho, waarin Justinus die Judaïsme behandel het wat geloof in die Messias geopenbaar het.
Daar word gesê dat Justinus ’n evangelis was wat die goeie nuus by elke geleentheid verkondig het. Hy het waarskynlik baie gereis. Hy het van sy tyd in Efese deurgebring, en hy het vermoedelik ’n geruime tyd in Rome gewoon.
Justinus se literêre werke sluit apologieë in, wat geskryf is om die Christelike godsdiens te verdedig. In sy Eerste Apologie streef hy daarna om die groot duisternis van heidense filosofie deur die lig van die Skrif te verdryf. Hy verklaar dat die wysheid van filosowe vals en leeg is in vergelyking met die kragtige woorde en werke van Christus. (Vergelyk Kolossense 2:8.) Justinus maak voorspraak vir die veragte Christene met wie hy hom identifiseer. Na sy bekering het hy voortgegaan om ’n filosoof se gewaad te dra, en gesê dat hy die enigste ware filosofie verkry het.
Omdat tweede-eeuse Christene geweier het om heidense gode te aanbid, is hulle as ateïste beskou. “Ons is nie ateïste nie”, het Justinus geantwoord, “ons wat die Maker van die heelal aanbid . . . Ons leermeester van hierdie dinge is Jesus Christus . . . Hy is die Seun van die ware God.” Aangaande afgodediens het Justinus gesê: “Hulle maak iets wat hulle ’n god noem; wat ons nie net as dwaas beskou nie, maar wat selfs vir God ’n belediging is . . . Watter dwaasheid! dat daar gesê moet word dat tugtelose mense gode vorm en maak om u te aanbid.”—Jesaja 44:14-20.
Met talryke verwysings na die Christelike Griekse Geskrifte spreek Justinus sy geloof uit in die opstanding, Christelike sedes, die doop, Bybelprofesie (veral aangaande Christus) en Jesus se leringe. Aangaande Jesus haal Justinus Jesaja aan, wat sê: “Die heerskappy is op [Christus se] skouer.” Justinus sê ook: “As ons na ’n menslike koninkryk soek, moet ons ook ons Christus verloën.” Hy bespreek die beproewinge en verpligtinge van Christene en hou vol dat behoorlike diens aan God vereis dat ons daders van Sy wil is, en hy sê verder dat “mense deur Hom na elke nasie gestuur moet word om hierdie dinge bekend te maak”.
Die Tweede Apologie van Justinus (wat vermoedelik bloot ’n voortsetting van die eerste is), word aan die Romeinse Senaat gerig. Justinus doen ’n beroep op die Romeine deur die ondervindinge te vertel van Christene wat vervolg is nadat hulle tot ’n juiste kennis van Jesus Christus gekom het. Die morele voortreflikheid van Jesus se leringe, wat in die gedrag van Christenburgers weerspieël is, het blykbaar vir die Romeinse owerheid min beteken. Trouens, dit kon noodlottige gevolge gehad het as hulle bloot bely het dat hulle dissipels is. Justinus het aangaande ’n voormalige leraar van die Christelike leerstellings Lucianus aangehaal, wat gevra het: “Waarom het julle hierdie man gestraf, nie omdat hy ’n egbreker, ook nie ’n hoereerder, moordenaar, dief, rower of aan hoegenaamd enige misdaad skuldig is nie, maar net omdat hy bely het dat hy ’n Christen is?”
Die omvang van vooroordeel teen verklaarde Christene van daardie tyd word aangedui deur Justinus se woorde: “Ek verwag derhalwe ook ’n sameswering teen my en dat ek aan die paal genael sal word deur sommige van dié wat ek genoem het, of miskien deur Crescens, daardie liefhebber van bravade en grootpratery; want die man, wat in die openbaar teen ons getuig oor sake wat hy nie verstaan nie en sê dat die Christene ateïste en goddeloos is en dit doen om die misleide skare se guns te verkry en hulle te plesier, is die naam filosoof nie werd nie. Want as hy ons aanval sonder dat hy die leringe van Christus gelees het, is hy geheel en al verdorwe, en veel erger as die ongeleerdes, wat dikwels nalaat om dinge te bespreek of valse getuienis te lewer oor sake wat hulle nie verstaan nie.”
Sy dood
Hetsy deur die toedoen van Crescens of ander Sinici, Justinus is by die Romeinse prefektuur as ’n revolusionêr aangekla en tot die dood veroordeel. Omstreeks 165 G.J. is hy in Rome onthoof en het hy ’n “martelaar” geword (wat “getuie” beteken). Hy word gevolglik Justinus die Martelaar genoem.
Justinus se skryfstyl het dalk nie die luister en takt van ander geleerde mense van sy dag nie, maar sy ywer vir die waarheid en geregtigheid was klaarblyklik eg. Daar kan nie met sekerheid gesê word in watter mate hy in ooreenstemming met die Skrif en Jesus se leringe geleef het nie. Justinus se werke word nogtans hoog aangeslaan vir hulle historiese inhoud en baie skriftuurlike verwysings. Hulle gee insig in die lewe en ondervindinge van verklaarde Christene van die tweede eeu.
Noemenswaardig is Justinus se pogings om aan die keisers die onregverdigheid te toon van vervolging wat teen die Christene gerig was. Sy verwerping van heidense godsdiens en filosofie ten gunste van juiste kennis van God se Woord herinner ons daaraan dat die apostel Paulus in Athene met vrymoedigheid met die Epikureïese en die Stoïsynse filosowe gespreek het oor die ware God en die verrese Jesus Christus.—Handelinge 17:18-34.
Justinus het self ’n bietjie kennis gehad van ’n opstanding van die dode gedurende die Millennium. En hoe geloofversterkend is die Bybel se ware opstandingshoop tog nie! Dit het Christene krag gegee tydens vervolging en het hulle in staat gestel om groot beproewinge te verduur, selfs tot in die dood.—Johannes 5:28, 29; 1 Korinthiërs 15:16-19; Openbaring 2:10; 20:4, 12, 13; 21:2-4.
So het Justinus dan na die waarheid gesoek en die Griekse filosofie verwerp. As ’n apologeet het hy die leringe en gebruike van verklaarde Christene verdedig. En omdat hy self die Christelike godsdiens bely het, het hy ’n martelaar geword. Veral opmerklik was Justinus se waardering vir die waarheid en sy vrymoedige getuienis te midde van vervolging, want hierdie eienskappe word vandag in die lewe van Jesus se ware volgelinge gevind.—Spreuke 2:4-6; Johannes 10:1-4; Handelinge 4:29; 3 Johannes 4.