Lig op Christus se teenwoordigheid
“Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, . . . sal hy die mense van mekaar skei.”—MATTHEÜS 25:31, 32, NW.
1. Watter uitleg het die Christendom se geestelikes aan die woorde in Mattheüs 24:3 gegee?
DRIE dae voor Jesus se dood het vier van sy dissipels na hom gekom en hom ernstig gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms [Grieks, pa·rou·siʹa] en van die voleinding van die wêreld?” Die geestelikes en skrywers van die Christendom het eeue lank die uitleg gegee dat hierdie woorde in Mattheüs 24:3 wat tot Jesus gerig is, beteken dat hy weer sigbaar in die vlees sal kom en dat almal hom sal sien. Gevolglik het hulle geleer dat Christus se koms met groot vertoon en sigbare praal gepaard sal gaan. Hulle verwys daarna as Christus se wederkoms. Maar is hulle opvattings juis?
2, 3. (a) Watter onderskeid het Deel 2 van Studies in the Scriptures tussen die woorde “koms” en “teenwoordigheid” getref? (b) Wat het Jehovah se volk mettertyd aangaande die betekenis van die pa·rou·siʹa van Christus besef?
2 Teen 1889 het Jehovah se gesalfdes, as die 19de-eeuse ligdraers, reeds lig ontvang wat hulle begrip van die aangeleentheid van Christus se wederkoms reggestel het. In Deel 2 van Studies in the Scriptures, bladsye 158 tot 161, het Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, geskryf: “Parousia . . . beteken teenwoordigheid, en dit moet nooit as koms vertaal word soos in die gewone Engelse Bybel gedoen is nie . . . Die ‘Emphatic Diaglott’, ’n baie waardevolle vertaling van die Nuwe Testament, gee parousia met juistheid weer as teenwoordigheid . . . , nie as koms, as onderweg wees, nie, maar as teenwoordigheid, as ná die aankoms, want [Jesus] sê: ‘Soos die dae van Noag was, so sal ook die parousia [teenwoordigheid] van die Seun van die mens wees.’ Let wel: die vergelyking word nie gemaak tussen die koms van Noag en die koms van onse Here nie . . . Die vergelyking is derhalwe tussen die tyd van Noag se teenwoordigheid onder die mense ‘voor die vloed’ en die tyd van Christus se teenwoordigheid in die wêreld, nadat hy gekom het, ‘voor die vuur’—die ontsettende benoudheid van die Dag van die Here [Jehovah] waarmee hierdie eeu aan sy einde gaan kom.”—Mattheüs 24:37.
3 Jehovah se volk van die 19de eeu het dus die juiste begrip gehad dat die pa·rou·siʹa van Christus onsigbaar sou wees. Hulle het ook reeds die insig gehad dat die Heidense Tye in die najaar van 1914 sou eindig. Namate die geestelike lig al hoe helderder geskyn het, het hulle mettertyd besef dat Jesus Christus daardie selfde jaar, 1914, in die hemel as die Koning van die Koninkryk op sy troon geplaas is.—Spreuke 4:18; Daniël 7:13, 14; Lukas 21:24; Openbaring 11:15.
“Die teenwoordigheid van onse Here”
4. Waarna verwys die uitdrukking “die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus”?
4 Wat word dan in ons dag bedoel met die Bybelse uitdrukking “die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus”? (1 Thessalonicense 5:23, NW). Een gesaghebbende bron sê die term “teenwoordigheid”, pa·rou·siʹa, “het die amptelike term geword vir ’n besoek van ’n hoogwaardigheidsbekleër, in die besonder van konings en keisers wat ’n provinsie besoek”. Hierdie uitdrukking verwys dus na die koninklike teenwoordigheid van die Here Jesus Christus as Koning sedert 1914 ná sy troonsbestyging in die hemel. Hy is onsigbaar teenwoordig om ‘te midde van sy vyande te onderwerp’ en as Koning te heers ter vervulling van hierdie profetiese opdrag (Psalm 110:2, NW). Mense op die aarde het nou om en by 79 jaar lank al die gevolge ondervind van Christus se onsigbare koninklike teenwoordigheid.
5. Watter gebeure wat gedurende die pa·rou·siʹa plaasvind, sal in die drie studie-artikels van hierdie tydskrif bespreek word?
5 In hierdie reeks van drie artikels sal ons die merkwaardige bewyse van Christus se Koninkryksprestasies gedurende hierdie tydperk hersien. Eerstens sal ons verskeie Bybelprofesieë bespreek wat gebeure voorspel het wat reeds plaasgevind het of wat tans vervulling ondergaan. Tweedens sal ons die groot werk beskryf wat verrig word deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas wat deur Jesus gedurende hierdie hele tydperk van sy koninklike teenwoordigheid gebruik word (Mattheüs 24:45-47, NW). Die derde artikel sal vir ons die groot voleinding, die tydperk van die “groot verdrukking”, skets. Dit is die tyd wanneer Jesus as Jehovah se Skerpregter kom om die onregverdige mense te vernietig en om die regverdiges te verlos (Mattheüs 24:21, 29-31). Hierdie tyd van vernietiging word deur die apostel Paulus as volg beskryf: “[Om] aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.”—2 Thessalonicense 1:7, 8.
Die teken
6. Watter saamgestelde teken word in Mattheüs hoofstukke 24 en 25 beskryf?
6 Negentienhonderd jaar gelede het Jesus se ligdraende dissipels hom gevra om ’n teken, of bewyse, van sy toekomstige teenwoordigheid in Koninkryksmag. Sy antwoord, wat in die 24ste en 25ste hoofstukke van Mattheüs opgeteken is, voorspel ’n saamgestelde teken wat nou in al sy aspekte op ’n internasionale skaal vervul word. Die vervulling van dié teken dui op ’n tyd van benoudheid en groot beproewing. Jesus het gewaarsku: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie”.—Mattheüs 24:4-6.
7. Watter aspekte van die teken het ons sedert 1914 in vervulling sien gaan?
7 Jesus het ook voorspel dat daar verwoestende oorloë op ’n ongekende skaal sou wees. In die vervulling is twee van hierdie oorloë as wêreldoorloë geklassifiseer, een van 1914 tot 1918 en die tweede van 1939 tot 1945. Jesus het verder gesê dat daar voedseltekorte en aardbewings in een plek na die ander sou wees. Ware Christene sou wreed vervolg word. Soos hierdie profesie voorspel, is Jehovah se Getuies, die hedendaagse ligdraers, die afgelope agt dekades vervolg terwyl hulle die goeie nuus van God se Koninkryk “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” verkondig (Mattheüs 24:7-14). In elke Yearbook of Jehovah’s Witnesses is daar bykomende bewys dat hierdie aspekte van die teken nou vervul word.
8, 9. (a) Wat sluit Jesus se koninklike teenwoordigheid in? (b) Wat toon Jesus se profesie aangaande die valse Christusse oor die plek en wyse van sy teenwoordigheid?
8 Aangesien Jesus se koningskap die hele aarde insluit, brei ware aanbidding in alle dele van die aarde uit. Sy koninklike teenwoordigheid (pa·rou·siʹa) is ’n tyd van wêreldwye inspeksie (1 Petrus 2:12, NW). Maar is daar ’n hoofstad, of sentrum, waar Jesus geraadpleeg kan word? Jesus het die antwoord verstrek toe hy voorspel het dat daar in afwagting van sy teenwoordigheid valse Christusse sou opstaan. Hy het gewaarsku: “As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy [Christus] is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer—moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die [teenwoordigheid, pa·rou·siʹa] van die Seun van die mens wees.”—Mattheüs 24:24, 26, 27, vgl. NW.
9 As “die Seun van die mens” het Jesus beter as enigiemand anders op aarde geweet waar hy hom sou bevind wanneer sy teenwoordigheid begin het. Hy sou hom nie hier of daar of op enige bepaalde plek op aarde vestig nie. Hy sou nie sy verskyning maak in die een of ander afgeleë plek, “in die woestyn”, sodat diegene wat die Messias soek hom daar kon raadpleeg waar die regeringsowerhede van die land hulle nie kon sien nie, ’n plek waar sy volgelinge onder sy leiding opgelei en voorberei kon word om as ’n politieke groep toe te slaan en hom as die Messiaanse Heerser van die wêreld in te huldig nie. Hy sou hom ook nie in die een of ander “binnekamer” versteek met net ’n uitgelese groepie wat weet waar hy hom bevind nie en dít sodat hy daar, onopgemerk en in die geheim, saam met medepligtiges ’n komplot kon smee en geheime planne kon beraam om die regerings van die wêreld omver te werp en hom as die beloofde Messias te laat salf nie. Nee!
10. Hoe het strale van Bybelwaarheid soos weerligstrale wêreldwyd uitgeslaan?
10 Inteendeel, daar sou niks wees om weg te steek omtrent die feit dat Jesus aan die begin van sy koninklike teenwoordigheid as Koning gekom het nie. Soos Jesus voorspel het, slaan strale van Bybelwaarheid soos weerligstrale aanhoudend wêreldwyd uit en skyn oor groot gebiede van die ooste tot in die weste. As die hedendaagse ligdraers is Jehovah se Getuies waarlik “’n lig van die nasies, sodat [Jehovah se] redding kan reik tot aan die einde van die aarde”.—Jesaja 49:6, NW.
Engelebedrywighede
11. (a) Hoe word ’n engeleleërskare gebruik om Koninkrykslig uit te stuur? (b) Wanneer en tot watter groep is lede van die koringklas versamel?
11 Ander tekste wat oor Jesus se teenwoordigheid handel, beskryf hoe engeleleërskare hom vergesel of hoe hy hulle “uitstuur” (Mattheüs 16:27; 24:31). In die illustrasie van die koring en die onkruid het Jesus gesê “die saailand is die wêreld” en “die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele”. Dit wil egter nie sê dat hy gedurende sy teenwoordigheid in Koninkryksmag en -heerlikheid net engeleboodskappers of -verteenwoordigers gebruik om opdragte op die aarde uit te voer nie. Dit is in 1919 dat die engele onder Jesus se leiding die skeiding begin het in verband met die koringklas van geesverwekte gesalfdes op aarde, wat deur die Eerste Wêreldoorlog verstrooi is, en hulle is toeberei vir verdere bedrywigheid in die Koning se naam (Mattheüs 13:38-43). Gedurende die 1920’s het nog duisende hulle standpunt vir God se opgerigte Koninkryk ingeneem en is met God se gees gesalf. Hierdie gesalfdes is ingelyf by die geledere van die oorspronklike oorblyfsel. Tesame vorm hulle die hedendaagse “getroue en verstandige slaaf”-klas.
12. Aan watter reinigingswerk het die engele deelgeneem, en met watter gevolg vir die aarde?
12 Nog ’n voorbeeld van engelebedrywighede gedurende Jesus se teenwoordigheid en ná sy troonsbestyging in 1914 word in Openbaring 12:7-9 beskryf: “Migael [Jesus Christus] en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” Die hemele daarbo is dus reeds gereinig, en nou moet die aardse ryk van die Koninkryk nog heeltemal gereinig word sodat Jehovah se naam geheilig kan word. In hierdie jaar 1993 geld die Goddelike waarskuwing steeds: “Wee die bewoners van die aarde . . . want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:12.
Die hemelse opstanding
13, 14. (a) Wat vind volgens die Skrif sedert 1918 plaas? (b) Wat openbaar Paulus en Johannes aangaande die gesalfde oorblyfsel van vandag?
13 Nog ’n merkwaardige gebeurtenis gedurende Christus se teenwoordigheid is die begin van die hemelse opstanding. Die apostel Paulus het getoon dat gesalfde Christene wat lank reeds in die dood ontslaap het eerste opgewek sou word om saam met Christus Jesus in die geesteryk te lewe. Oor die jare heen is bewyse aangevoer om te toon dat dit blykbaar sedert 1918 plaasgevind het. Paulus skryf: “So sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy [teenwoordigheid, pa·rou·siʹa]” (1 Korinthiërs 15:22, 23, vgl. NW). Die opstanding van die gesalfdes gedurende Christus se teenwoordigheid word bevestig in 1 Thessalonicense 4:15-17: “Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die [teenwoordigheid, pa·rou·siʹa] van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie . . . die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug.” (Vergelyk NW.) Daar is 144 000 wat as gesalfdes aan Christus behoort wat uiteindelik hierdie wonderlike beloning gaan ontvang.—Openbaring 14:1.
14 Soos Paulus toon, sal die lede van die gesalfde oorblyfsel wat vandag nog lewe nie voor daardie vroeë getroue gesalfde Christenmartelare en -dissipels in die Koninkryk ingaan nie. Die apostel Johannes beskryf verder die gesalfdes wat vandag te sterwe kom soos volg: “Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle”, dit wil sê, in hulle lewe ná hulle opstanding (Openbaring 14:13). En Paulus voeg by: “Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:51, 52). Wat ’n merkwaardige wonderwerk is dit tog!
15, 16. (a) Watter illustrasie het Jesus in Lukas 19:11-15 gegee, en waarom? (b) Hoe ondergaan hierdie profesie vervulling?
15 Terwyl Jesus eenkeer met ’n groep van sy volgelinge oor God se Koninkryk gepraat het, het hy ’n illustrasie gebruik om hulle te help om hulle wanbegrippe reg te stel. Die verhaal lui: “Hulle [het] gedink . . . dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte [of slawe, NW] geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. . . . En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.”—Lukas 19:11-15.
16 Jesus was daardie “man” wat hemel toe gegaan het, na die “ver land” waar hy ’n koninkryk sou ontvang. Daardie Koninkryk het hy in 1914 ontvang. Kort daarna het Christus as Koning geëis dat sy verklaarde volgelinge rekenskap moes gee sodat hy kon vasstel wat hulle gedoen het om na die Koninkryksbelange om te sien wat hy aan hulle toevertrou het. Die keuse het op ’n getroue minderheid geval om deur die heer geprys te word met die woorde: “Mooi so, goeie dienskneg [of slaaf, NW]; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:17). Gedurende hierdie tydperk van Christus se teenwoordigheid moes verskerpte Koninkrykspredikingswerk voortgesit word, wat die bekendmaking van God se strafgerigte teen die goddelose ingesluit het, en die gesag wat aan die “goeie slaaf” toevertrou is, het toesig oor hierdie werk ingesluit.
Wêreldwye prediking
17. Watter blydskap kenmerk die pa·rou·siʹa?
17 Watter ander dinge sou gedurende hierdie pa·rou·siʹa plaasvind? Dit sou ’n tyd van groot blydskap wees in die predikingswerk en in die werk om nuwes vir oorlewing tydens die komende groot verdrukking te help voorberei. Hierdie lede van die “groot menigte”, wat met die oorblyfsel saamwerk, word “aanbevelingsbriewe” (Openbaring 7:9; 2 Korinthiërs 3:1-3). Paulus maak melding van die blydskap wat met hierdie oeswerk gepaardgaan wanneer hy sê: “Wat is ons hoop of blydskap of kroon van gejuig—ja, is dit nie in werklikheid julle nie?—voor die aangesig van onse Here Jesus Christus by sy teenwoordigheid [pa·rou·siʹa]?”—1 Thessalonicense 2:19, NW.
Bly rein en onberispelik
18. (a) Watter gebed van Paulus verwys na die pa·rou·siʹa? (b) Watter gees moet ons almal gedurende hierdie tyd aan die dag lê, en in watter opsigte?
18 Paulus het ook gebid om die heiligmaking van diegene wat gedurende hierdie tydperk van Christus se teenwoordigheid lewe: “Mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die [teenwoordigheid, pa·rou·siʹa] van onse Here Jesus Christus!” (1 Thessalonicense 5:23, vgl. NW). Ja, of ons vandag van die gesalfde oorblyfsel of van die groot aantal ander skape is, die gees van samewerking snoer ons lojaal saam sodat ons in hierdie unieke tyd rein en onberispelik kan bly. Ons moet insgelyks geduld aan die dag lê. Jakobus het geskryf: “Wees dan geduldig, broeders, tot op die [teenwoordigheid, pa·rou·siʹa] van die Here. . . . Versterk julle harte, want die [teenwoordigheid, pa·rou·siʹa] van die Here is naby.”—Jakobus 5:7, 8, vgl. NW.
19. Watter waarskuwing het Petrus aangaande die pa·rou·siʹa gegee, en hoe moet ons daarop reageer?
19 Die apostel Petrus het ook iets te sê gehad vir ons wat in die huidige tydperk lewe. Hy het ons teen spotters gewaarsku, van wie daar baie in alle dele van die aarde is. Petrus sê: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy [teenwoordigheid, pa·rou·siʹa]? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3, 4, vgl. NW). Ondanks die feit dat daar so baie spotters gedurende Christus se teenwoordigheid is, gaan Jehovah se volk voort om as die lig van die wêreld te skyn, tot die redding van baie.
Hersieningsvrae
◻ Hoe is Jehovah se volk geleidelik aangaande die pa·rou·siʹa ingelig?
◻ Hoe het Mattheüs 24:4-8 vervulling ondergaan?
◻ Hoe het die engele hulle samewerking aan die gekroonde Christus gegee?
◻ Watter merkwaardige wonderwerk gaan blykbaar met die pa·rou·siʹa gepaard?
◻ Watter blydskap word gedurende hierdie tyd ondervind, en wie deel in hierdie blydskap?