Hoe die Christendom ’n deel van hierdie wêreld geword het
METTERTYD het die Romeinse Ryk, waarin die vroeë Christelike godsdiens begin het, ineengestort. Baie geskiedskrywers sê dat daardie ineenstorting ook die tydperk was toe die Christelike godsdiens die uiteindelike oorwinning oor die heidendom behaal het. Die Anglikaanse biskop E. W. Barnes het ’n ander beskouing daarvan gehad toe hy geskryf het: “Namate die klassieke beskawing ineengestort het, het die Christelike godsdiens opgehou om die edele geloof van Jesus die Christus te wees: dit het ’n godsdiens geword wat nuttig was as die maatskaplike bindmiddel van ’n wêreld wat vergaan.”—The Rise of Christianity.
Die geskiedenis toon dat diegene wat gesê het dat hulle Jesus volg hulle voor daardie ineenstorting, gedurende die tweede, derde en vierde eeu G.J., op baie maniere afgeskeie van die Romeinse wêreld gehou het. Maar dit openbaar ook die ontwikkeling van afvalligheid wat leerstellings, gedrag en organisasie betref, net soos Jesus en sy apostels voorspel het (Mattheüs 13:36-43; Handelinge 20:29, 30; 2 Thessalonicense 2:3-12; 2 Timotheüs 2:16-18; 2 Petrus 2:1-3, 10-22). Kompromisse is uiteindelik met die Grieks-Romeinse wêreld aangegaan, en party wat gesê het dat hulle Christene was, het die wêreld se heidense godsdiensgebruike aangeneem (soos sy feeste en sy aanbidding van ’n moeder-godin en ’n drie-enige god), sy filosofie (soos geloof in ’n onsterflike siel) en sy administratiewe organisasie (wat deur die verskyning van ’n geestelikeklas gesien is). Dit was hierdie verdorwe weergawe van die Christelike godsdiens wat menige heiden aangetrek het en ’n krag geword het wat die Romeinse keisers eers probeer uitskakel het, maar later aanvaar en probeer aanwend het tot bevordering van hulle eie sake.
Oorwin deur die wêreld
Die kerkgeskiedskrywer Augustus Neander het getoon watter risiko’s betrokke is in hierdie verhouding tussen “die Christelike godsdiens” en die wêreld. Hy het geskryf indien Christene hulle afgeskeidenheid van die wêreld opoffer “die gevolg ’n verwarring van die kerk met die wêreld sou wees . . . waardeur die kerk haar reinheid sou inboet en, terwyl dit lyk asof sy oorwin, self oorwin sou word”.—General History of the Christian Religion and Church, Deel 2, bladsy 161.
Dit is wat gebeur het. Vroeg in die vierde eeu het die Romeinse keiser Konstantyn probeer om die “Christelike” godsdiens van sy dag te gebruik om sy verbrokkelende ryk bymekaar te hou. Om dit te bereik, het hy aan verklaarde Christene godsdiensvryheid gegee en van die voorregte van die heidense priesterdom aan hulle geestelikeklas oorgedra. The New Encyclopædia Britannica sê: “Konstantyn het die kerk teruggebring uit sy onttrekking aan die wêreld om maatskaplike verantwoordelikheid te aanvaar en het gehelp om die heidense gemeenskap vir die kerk te werf.”
Staatsgodsdiens
Ná Konstantyn het keiser Julianus (361-363 G.J.) probeer om die Christelike godsdiens teë te staan en die heidendom te herstel. Maar hy het nie daarin geslaag nie, en ongeveer 20 jaar later het keiser Theodosius I die heidendom verbied en die Trinitariese “Christelike godsdiens” as die Staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk ingestel. Die Franse geskiedskrywer Henri Marrou het met taktvolle akkuraatheid geskryf: “Teen die einde van Theodosius se heerskappy het die Christelike godsdiens, of om meer presies te wees, ortodokse Katolisisme, die amptelike godsdiens van die hele Romeinse wêreld geword.” Ortodokse Katolisisme het die ware Christelike godsdiens vervang en ’n “deel van die wêreld” geword. Hierdie Staatsgodsdiens het baie verskil van die godsdiens van Jesus se vroeë volgelinge, aan wie hy gesê het: “Julle is geen deel van die wêreld nie.”—Johannes 15:19, NW.
Die Franse geskiedskrywer en filosoof Louis Rougier het geskryf: “Namate die Christelike godsdiens uitgebrei het, het dit soveel vreemde veranderinge ondergaan dat dit onherkenbaar geword het. . . . Die primitiewe kerk van die armes, wat van aalmoese geleef het, het ’n triomferende kerk geword wat ’n vergelyk getref het met die bestaande owerheid wanneer dit die owerheid nie kon oorheers nie.”
Vroeg in die vyfde eeu G.J. het die Rooms-Katolieke “sint” Augustinus sy groot werk The City of God geskryf. Daarin het hy twee stede beskryf, “God s’n en die wêreld s’n”. Het hierdie werk die skeiding tussen Katolieke en die wêreld beklemtoon? Nie werklik nie. Professor Latourette sê: “Augustinus het openlik erken [dat] die twee stede, die aardse en die hemelse, vermeng is.” Augustinus het geleer dat “die Koninkryk van God reeds in hierdie wêreld met die instelling van die [Katolieke] kerk begin het” (The New Encyclopædia Britannica, Macropædia, Deel 4, bladsy 506). Wat Augustinus se oorspronklike doel dus ook al was, sy teorieë het tot gevolg gehad dat die Katolieke Kerk meer betrokke geraak het by die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld.
’n Verdeelde ryk
In 395 G.J., toe Theodosius I gesterf het, is die Romeinse Ryk amptelik in twee verdeel. Die Oostelike, of Bisantynse, Ryk se hoofstad was Konstantinopel (voorheen Bisantium, nou Istanbul), en die Westelike Ryk se hoofstad was (ná 402 G.J.) Ravenna, Italië. Dit het daartoe gelei dat die Christendom op politieke en ook op godsdienstige gebied verdeeld geraak het. Wat betref die verhouding tussen die Kerk en die Staat het die kerk in die Oostelike Ryk die teorie van Eusebius van Cesarea (’n tydgenoot van Konstantyn die Grote) gevolg. Eusebius het die Christelike beginsel aangaande afgeskeidenheid van die wêreld geïgnoreer en geredeneer as die keiser en die ryk ook Christene word, die Kerk en die Staat ’n enkele Christengemeenskap sou word, met die keiser wat as God se verteenwoordiger op die aarde optree. Hierdie verhouding tussen die Kerk en die Staat is oor die algemeen deur die eeue heen deur die Oos-Ortodokse kerke gevolg. In sy boek The Orthodox Church het Timothy Ware, ’n Ortodokse biskop, die uitwerking daarvan getoon: “Nasionalisme is al die afgelope tien eeue die kruis van Ortodoksie.”
In die Weste is die laaste Romeinse keiser in 476 G.J. deur die invallende Germaanse stamme onttroon. Dit het die einde van die Wes-Romeinse Ryk gekenmerk. The New Encyclopædia Britannica sê aangaande die daaropvolgende politieke vakuum: “’n Nuwe mag is gevorm: die Romeinse Kerk, die kerk van die biskop van Rome. Hierdie kerk het homself beskou as die opvolger van die Romeinse Ryk wat nie meer bestaan het nie.” Hierdie ensiklopedie sê voorts: “Die Romeinse pouse . . . het die sekulêre aanspraak wat die kerk op landsbestuur gemaak het, uitgebrei sodat dit die grense van die kerk-staat oorskry het en het die sogenaamde teorie van die twee swaarde ontwikkel, wat verklaar het dat Christus die pous nie net geestelike mag oor die kerk nie, maar ook sekulêre mag oor die wêreldse koninkryke gegee het.”
Nasionaal-Protestantse Kerke
Deur die Middeleeue heen was beide die Ortodokse en die Rooms-Katolieke godsdienste nou betrokke by die politiek, wêreldse knoeierye en oorloë. Het die Protestantse Hervorming van die 16de eeu ’n terugkeer tot die ware Christelike godsdiens, wat afgeskeie van die wêreld is, beteken?
Nee. Ons lees in The New Encyclopædia Britannica: “Die Protestantse Hervormers van die Lutheraanse, Calvinistiese en Anglikaanse tradisies . . . het steeds nou gebly by die beskouing van Augustinus, van wie se teologie hulle veral gehou het. . . . Elkeen van die drie vername Protestantse tradisies van Europa in die 16de eeu . . . het steun ontvang van die sekulêre owerheid in Sakse [Sentraal-Duitsland], Switserland en Engeland en het in dieselfde posisie teenoor die staat as die middeleeuse kerk gebly.”
Pleks van ’n terugkeer tot die ware Christelike godsdiens mee te bring, het die Hervorming tot ’n menigte nasionale of territoriale kerke aanleiding gegee wat witvoetjie gesoek het by die politieke state en hulle ywerig in hulle oorloë ondersteun het. Trouens, beide die Katolieke en die Protestantse kerke het godsdiensoorloë aangestig. Arnold Toynbee het in sy boek An Historian’s Approach to Religion aangaande sulke oorloë gesê: “Hulle het Katolieke en Protestante in Frankryk, Nederland, Duitsland en Ierland sowel as mededingende sektes Protestante in Engeland en Skotland aan die kaak gestel in die wrede poging om mekaar deur wapenmag te onderdruk.” Die teenswoordige konflikte wat Ierland en die eertydse Joego-Slawië verdeel, toon dat die Rooms-Katolieke, Ortodokse en Protestantse kerke steeds diep betrokke is by die sake van hierdie wêreld.
Beteken al hierdie dinge dat die ware Christelike godsdiens, wat afgeskeie is van die wêreld, nie meer op die aarde bestaan nie? Die volgende artikel sal daardie vraag beantwoord.
[Venster/Prent op bladsy 10, 11]
HOE “DIE CHRISTELIKE GODSDIENS” ’N STAATSGODSDIENS GEWORD HET
DIE Christelike godsdiens moes nooit ’n deel van hierdie wêreld gewees het nie (Mattheüs 24:3, 9; Johannes 17:16, NW). Tog sê geskiedenisboeke vir ons dat “die Christelike godsdiens” in die vierde eeu G.J. die amptelike Staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk geword het. Hoe het dit gebeur?
Van Nero (54-68 G.J.) tot diep in die derde eeu G.J. het alle Romeinse keisers Christene óf daadwerklik vervolg óf toegelaat dat hulle vervolg word. Galliënus (253-268 G.J.) was die eerste Romeinse keiser wat ’n verklaring van verdraagsaamheid teenoor hulle uitgereik het. Die Christelike godsdiens was selfs toe nog ’n verbode godsdiens deur die hele ryk. Ná Galliënus het die vervolging voortgeduur, en onder Diokletianus (284-305 G.J.) en sy onmiddellike opvolgers het dit selfs toegeneem.
Die keerpunt het vroeg in die vierde eeu aangebreek met die sogenaamde bekering van keiser Konstantyn I tot die Christelike godsdiens. Die Franse werk Théo—Nouvelle encyclopédie catholique (Théo—Nuwe Katolieke Ensiklopedie) sê aangaande hierdie bekering: “Konstantyn het gesê dat hy ’n Christenkeiser is. Hy is in werklikheid eers kort voor sy dood gedoop.” In 313 G.J. het Konstantyn en sy medekeiser, Licinius, ’n edik uitgereik wat godsdiensvryheid aan Christene en heidene gegee het. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Konstantyn se verlening van godsdiensvryheid aan Christene, wat beteken het dat die Christelike godsdiens amptelik erken is as ’n religio licita [wettige godsdiens] naas die heidendom, was ’n revolusionêre daad.”
Maar The New Encyclopædia Britannica sê: “Hy [Konstantyn] het nie die Christelike godsdiens die godsdiens van die ryk gemaak nie.” Die Franse geskiedskrywer Jean-Rémy Palanque, ’n lid van die Instituut van Frankryk, skryf: “Die Romeinse Staat . . . het egter amptelik heidens gebly. En Konstantyn het nie ’n einde aan daardie situasie gemaak toe hy die godsdiens van Christus aangehang het nie.” In die werk The Legacy of Rome het professor Ernest Barker gesê: “[Konstantyn se oorwinning] het nie daartoe gelei dat die Christelike godsdiens onmiddellik as die godsdiens van die Staat ingestel is nie. Konstantyn was tevrede daarmee om die Christelike godsdiens te erken as een van die openbare godsdienste van die ryk. Die ou heidense gebruike is die daaropvolgende sewentig jaar amptelik in Rome beoefen.”
Op hierdie tydstip was “die Christelike godsdiens” dus ’n wettige godsdiens in die Romeinse Ryk. Wanneer het dit ten volle die amptelike Staatsgodsdiens geword? Ons lees in die New Catholic Encyclopedia: “[Konstantyn] se beleid is deur sy opvolgers gehandhaaf met die uitsondering van Julianus [361-363 G.J.], wie se vervolging van die Christelike godsdiens skielik deur sy dood beëindig is. Theodosius die Grote [379-395 G.J.] het uiteindelik in die laaste kwart van die 4de eeu die Christelike godsdiens die amptelike godsdiens van die Ryk gemaak en openbare heidense aanbidding onderdruk.”
Die Bybelkenner en geskiedskrywer F. J. Foakes Jackson het ter bevestiging hiervan die volgende geskryf waardeur hy presies getoon het wat hierdie nuwe Staatsgodsdiens was: “Onder Konstantyn was die Christelike godsdiens en die Romeinse ryk bondgenote. Onder Theodosius was hulle verenig. . . . Van toe af is die titel Katoliek net gebruik vir diegene wat die Vader, die Seun en die Heilige Gees met gelyke eerbied aanbid het. Hierdie keiser se hele godsdiensbeleid het hierom gedraai en het meegebring dat die Katolieke Geloof die een wettige godsdiens van die Romeine geword het.”
Jean-Rémy Palanque het geskryf: “Theodosius het, terwyl hy die heidendom bestry het, ook ten gunste van die ortodokse [Katolieke] Kerk opgetree; sy edik van 380 G.J. het al sy onderdane beveel om die geloof van pous Damasus en die [Trinitariese] biskop van Alexandrië te bely en het andersdenkendes hulle vryheid van aanbidding ontneem. Die groot Konsilie van Konstantinopel (381) het weer alle dwaalleringe veroordeel, en die keiser het gesorg dat geen biskop die dwaalleringe sou ondersteun nie. Die Niceense [Trinitariese] Christelike godsdiens het deur en deur die Staatsgodsdiens geword . . . Die Kerk was nou betrokke by die Staat en het die eksklusiewe ondersteuning daarvan geniet.”
Dit was dus nie die suiwer Christelike godsdiens van die apostels se dae wat die Staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk geword het nie. Dit was vierde-eeuse, Trinitariese Katolisisme wat deur geweld deur keiser Theodosius I ingestel is en deur die Rooms-Katolieke Kerk beoefen is wat in die verlede waarlik ’n deel van hierdie wêreld was en dit in die hede steeds is.
[Erkenning]
Emperor Theodosius I: Real Academia de la Historia, Madrid (Foto Oronoz)
[Foto-erkenning op bladsy 8]
Scala/Art Resource, N.Y.