Hoe om die sleutel tot broederlike geneentheid te vind
“Voeg by julle . . . godvrugtige toegewydheid broederlike geneentheid.”—2 PETRUS 1:5-7, NW.
1. Wat is een van die vernaamste redes waarom samekomste van Jehovah se volk sulke gelukkige geleenthede is?
EENKEER het ’n geneesheer wat nie een van Jehovah se Getuies was nie sy dogter se graduering aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon, waar sy as ’n sendeling opgelei is. Hy was so beïndruk deur die gelukkige skare dat hy gesê het dat daar seker nie baie siektes onder hierdie mense kan wees nie. Wat het daardie skare so gelukkig gemaak? Trouens, wat maak alle samekomste van Jehovah se volk, in gemeentes, by kringbyeenkomste en by streekbyeenkomste, gelukkige geleenthede? Is dit nie die broederlike geneentheid wat hulle teenoor mekaar betoon nie? Broederlike geneentheid is ongetwyfeld een rede waarom daar al gesê is dat geen ander godsdiensgroep soveel vreugde, geluk en bevrediging uit godsdiens put as Jehovah se Getuies nie.
2, 3. Watter twee Griekse woorde handel oor hoe ons oor mekaar moet voel, en wat is hulle kenmerkende eienskappe?
2 Met die oog op die apostel Petrus se woorde in 1 Petrus 1:22 kan ons verwag om sulke broederlike geneentheid te sien: “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde [broederlike geneentheid] gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ’n rein hart” (vgl. NW). Een van die grondelemente van die Griekse woord wat hier met “broederlike geneentheid” weergegee word, is phi·liʹa (geneentheid). Die betekenis daarvan is nou verwant aan die betekenis van a·gaʹpe, die woord wat gewoonlik as “liefde” vertaal word (1 Johannes 4:8). Hoewel broederlike geneentheid en liefde dikwels uitruilbaar gebruik word, het hulle spesifieke eienskappe. Ons moet hulle nie, soos so baie Bybelvertalers, met mekaar verwar nie. (In hierdie en die volgende artikel sal ons elkeen van hierdie woorde bespreek.)
3 Een geleerde het oor die verskil tussen hierdie twee Griekse woorde gesê dat phi·liʹa “beslis ’n woord van hartlikheid en innigheid en geneentheid” is. Daarenteen het a·gaʹpe meer met die verstand te doen. Hoewel daar dus vir ons gesê word om ons vyande lief te hê (a·gaʹpe), voel ons nie geneentheid vir hulle nie. Waarom nie? Omdat ‘slegte omgang nuttige gewoontes bederf’ (1 Korinthiërs 15:33, NW). Die apostel Petrus se woorde toon verder dat daar ’n verskil is: “Voeg by julle . . . broederlike geneentheid liefde.”—2 Petrus 1:5-7, NW; vergelyk Johannes 21:15-17, NW.a
Voorbeelde van baie spesiale broederlike geneentheid
4. Waarom het Jesus en Johannes spesiale geneentheid vir mekaar gevoel?
4 God se Woord gee ons ’n aantal goeie voorbeelde van baie spesiale broederlike geneentheid. Hierdie spesiale geneentheid is nie die gevolg van die een of ander gier nie, maar is gegrond op waardering vir voortreflike eienskappe. Die beste voorbeeld is ongetwyfeld die geneentheid wat Jesus Christus vir die apostel Johannes gehad het. Jesus het beslis broederlike geneentheid vir al sy getroue apostels gevoel, en dit tereg (Lukas 22:28). Een manier waarop hy dit getoon het, was deur hulle voete te was, en daardeur het hy hulle ’n les in nederigheid gegee (Johannes 13:3-16). Maar Jesus het ’n spesiale geneentheid vir Johannes gehad, en Johannes meld dit herhaaldelik (Johannes 13:23; 19:26; 20:2). Net soos Jesus rede gehad het om geneentheid teenoor sy dissipels en apostels te betoon, het Johannes Jesus heel waarskynlik goeie rede gegee om spesiale geneentheid vir hom te hê omdat hy ’n dieper waardering vir Jesus gehad het. Ons kan dit uit Johannes se geskrifte sien; uit sy Evangelie sowel as uit sy geïnspireerde briewe. Hoe dikwels praat hy tog nie van liefde in daardie geskrifte nie! Johannes se groter waardering vir Jesus se geestelike eienskappe kan gesien word uit wat hy in Johannes hoofstukke 1 en 13 tot 17 geskryf het asook uit sy herhaaldelike verwysings na Jesus se voormenslike bestaan.—Johannes 1:1-3; 3:13; 6:38, 42, 58; 17:5; 18:37.
5. Wat kan gesê word van die spesiale geneentheid wat Paulus en Timotheüs vir mekaar gevoel het?
5 Ons moet eweneens nie vergeet van die baie spesiale broederlike geneentheid wat die apostel Paulus en sy Christenmetgesel Timotheüs vir mekaar gevoel het nie, wat beslis gegrond was op die waardering wat hulle vir mekaar se eienskappe gehad het. Paulus se geskrifte bevat voortreflike kommentare oor Timotheüs, soos: “Ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie; . . . Julle ken sy beproefdheid, dat hy, soos ’n kind teenoor sy vader, saam met my in die evangelie gedien het” (Filippense 2:20-22). Daar is talle persoonlike verwysings na Timotheüs in Paulus se briewe wat sy innige geneentheid vir Timotheüs openbaar. Kyk byvoorbeeld na 1 Timotheüs 6:20: “o, Timotheüs, bewaar jou pand.” (Sien ook 1 Timotheüs 4:12-16; 5:23; 2 Timotheüs 1:5; 3:14, 15.) Wanneer ons Paulus se briewe aan Timotheüs met sy brief aan Titus vergelyk, kan ons Paulus se spesiale geneentheid vir hierdie jong man duidelik sien. Timotheüs moes dieselfde oor hulle vriendskap gevoel het, soos gesien kan word uit Paulus se woorde in 2 Timotheüs 1:3, 4: “Ek [dink] onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede . . . terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met blydskap vervul kan word.”
6, 7. Watter gevoel het Dawid en Jonatan vir mekaar gehad, en waarom?
6 Die Hebreeuse Geskrifte voorsien ook goeie voorbeelde, soos dié van Dawid en Jonatan. Ons lees dat nadat Dawid Goliat doodgemaak het, “het die siel van Jonatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel” (1 Samuel 18:1). Waardering vir Dawid se voorbeeld van ywer vir Jehovah se naam en sy onverskrokkenheid toe hy die reus Goliat tegemoetgegaan het, het ongetwyfeld daartoe gelei dat Jonatan spesiale geneentheid vir Dawid gehad het.
7 Jonatan het soveel geneentheid vir Dawid gehad dat hy sy eie lewe gewaag het om Dawid teen koning Saul te beskerm. Jonatan het Dawid dit nooit kwalik geneem dat hy deur Jehovah gekies is om die volgende koning van Israel te wees nie (1 Samuel 23:17). Dawid het net soveel geneentheid vir Jonatan gehad, soos duidelik blyk uit wat hy gesê het toe hy oor Jonatan se dood getreur het: “Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue.” Hulle het waarlik innige waardering vir mekaar gehad.—2 Samuel 1:26.
8. Watter twee vroue het spesiale geneentheid vir mekaar gevoel, en waarom?
8 Ons het ook ’n goeie voorbeeld in die Hebreeuse Geskrifte van die spesiale geneentheid wat twee vroue, Naomi en haar weduwee-skoondogter Rut, vir mekaar gevoel het. Dink aan Rut se woorde aan Naomi: “Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16). Moet ons nie hieruit aflei dat Naomi se gedrag en die feit dat sy oor Jehovah gepraat het, gehelp het om hierdie waarderende reaksie by Rut uit te lok nie?—Vergelyk Lukas 6:40.
Die apostel Paulus se voorbeeld
9. Wat toon dat Paulus ’n goeie voorbeeld ten opsigte van broederlike geneentheid was?
9 Soos ons gesien het, het die apostel Paulus ’n baie spesiale broederlike geneentheid vir Timotheüs gehad. Maar hy het ook ’n wonderlike voorbeeld gestel in die wyse waarop hy broederlike geneentheid teenoor sy broers oor die algemeen betoon het. Hy het vir die ouere manne van Efese gesê dat hy “drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie”. Innige broederlike geneentheid? Ongetwyfeld! En hulle het dieselfde oor Paulus gevoel. Toe hulle gehoor het dat hulle hom nie weer sou sien nie, “het ’n groot geween ontstaan van almal, en hulle het Paulus om die hals geval en hom gesoen” (Handelinge 20:31, 37). Broederlike geneentheid wat op waardering gegrond is? Ja! Sy broederlike geneentheid kan ook gesien word uit sy woorde in 2 Korinthiërs 6:11-13: “Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword. Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou. Maar by wyse van vergoeding—ek praat soos met kinders—moet julle ook verruim word.”
10. Watter gebrek aan broederlike geneentheid het daartoe gelei dat Paulus in 2 Korinthiërs hoofstuk 11 van sy beproewinge vertel het?
10 Dit is duidelik dat die Korinthiërs ’n gebrek aan waarderende broederlike geneentheid vir die apostel Paulus gehad het. Party van hulle het gevolglik gekla: “Die briewe . . . is wel gewigtig en kragtig, maar die persoonlike teenwoordigheid is swak en die woord niks werd nie” (2 Korinthiërs 10:10). Dit is waarom Paulus na hulle “uitnemende apostels” verwys het en beweeg is om te vertel van die beproewinge wat hy verduur het, soos opgeteken in 2 Korinthiërs 11:5, 22–33.
11. Watter getuienis is daar oor Paulus se geneentheid vir die Christene in Thessalonika?
11 Paulus se innige geneentheid vir diegene vir wie hy gepreek het, blyk veral duidelik uit sy woorde in 1 Thessalonicense 2:8: “Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het.” Trouens, hy het soveel geneentheid vir hierdie nuwe broers gevoel dat hy, toe hy eenvoudig nie meer kon wag nie—omdat hy so gretig was om te weet hoe hulle onder verdrukking volhard—Timotheüs daarheen gestuur het, en hy het ’n goeie verslag gelewer wat Paulus grootliks verkwik het (1 Thessalonicense 3:1, 2, 6, 7). Insight on the Scriptures sê tereg: “Daar het ’n hegte band van broederlike geneentheid bestaan tussen Paulus en diegene vir wie hy gepreek het.”
Waardering—die sleutel tot broederlike geneentheid
12. Watter redes het ons om innige geneentheid teenoor ons broers te betoon?
12 Waardering is ongetwyfeld die sleutel tot broederlike geneentheid. Het nie alle toegewyde knegte van Jehovah eienskappe wat ons waardeer, wat ons geneentheid wek en wat ons van hulle laat hou nie? Ons almal soek eers God se Koninkryk en sy geregtigheid. Ons almal stry moedig teen ons drie gemeenskaplike vyande: Satan en sy demone, die goddelose wêreld onder Satan se beheer en die oorgeërfde selfsugtige neigings van die sondige vlees. Moet ons nie altyd van die standpunt uitgaan dat ons broers hulle bes doen onder die omstandighede nie? Almal op aarde is óf aan Jehovah óf aan Satan se kant. Ons toegewyde broers en susters is aan Jehovah se kant, ja, aan ons kant, en daarom verdien hulle ons broederlike geneentheid.
13. Waarom moet ons innige geneentheid vir die ouere manne hê?
13 Wat van waardering vir ons ouere manne? Moet ons nie vir hulle ’n sagte plekkie in ons hart hê omdat hulle hard werk in belang van die gemeente nie? Soos ons almal, moet hulle vir hulleself en hulle gesin sorg. Hulle het soos die res van ons ook dieselfde verpligtinge wat persoonlike studie, die bywoning van gemeentelike vergaderinge en deelname aan die veldbediening betref. Daarbenewens moet hulle programdele vir die vergaderinge voorberei, openbare toesprake hou en na gemeentelike probleme omsien wat soms ure lange regterlike verhore behels. Ons moet beslis ‘sulke manne in eer hou’.—Filippense 2:29.
Toon broederlike geneentheid
14. Watter tekste beveel ons om broederlike geneentheid te toon?
14 As ons Jehovah wil behaag, moet ons die innige gevoel van broederlike geneentheid teenoor ons broers betoon, net soos Jesus Christus en Paulus gedoen het. Ons lees: “Julle moet in [broederlike geneentheid] tere geneentheid vir mekaar hê” (Romeine 12:10, Kingdom Interlinear). “Met betrekking tot [broederlike geneentheid] het julle egter nie nodig dat ons aan julle skryf nie, want julle word self deur God geleer om mekaar lief te hê” (1 Thessalonicense 4:9, Int). “Laat julle [broederlike geneentheid] voortduur” (Hebreërs 13:1, Int). Dit behaag beslis ons hemelse Vader wanneer ons broederlike geneentheid teenoor sy aardse kinders betoon!
15. Wat is sommige maniere waarop broederlike geneentheid getoon kan word?
15 In apostoliese tye het Christene mekaar gewoonlik met “’n heilige kus” of “’n kus van liefde” gegroet (Romeine 16:16; 1 Petrus 5:14). Waarlik ’n betuiging van broederlike geneentheid! Vandag sal ’n gepaster betuiging in die meeste wêrelddele ’n opreg vriendelike glimlag en ’n ferm handdruk wees. In Latynse lande, soos Mexiko, omhels mense mekaar wanneer hulle mekaar groet, waarlik ’n betuiging van geneentheid. Die innige geneentheid wat hierdie broers toon, is moontlik deels rede vir die groot vermeerdering in hulle lande.
16. Watter geleenthede het ons om broederlike geneentheid by ons Koninkryksaal te toon?
16 Doen ons moeite om broederlike geneentheid te toon wanneer ons in die Koninkryksaal ingaan? Dit sal ons iets bemoedigends laat sê, veral vir die wat terneergedruk lyk. Ons word beveel om ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat’ (1 Thessalonicense 5:14). Dit is beslis een manier waarop ons die innigheid van broederlike geneentheid kan oordra. Nog ’n goeie manier om dit te doen, is om waardering uit te spreek vir ’n goeie openbare toespraak, ’n programdeel wat goed behartig is, die goeie poging van ’n student op die Teokratiese Bedieningskool, ensovoorts.
17. Hoe het een ouere man die geneentheid van die gemeente verkry?
17 Ons kan ook verskillendes na ons huis nooi vir ’n ete of miskien ’n versnapering ná ’n vergadering as dit nie te laat is nie. Moet ons ons nie deur Jesus se raad in Lukas 14:12-14 laat lei nie? Eenkeer is ’n voormalige sendeling as die presiderende opsiener van ’n gemeente aangestel waar al die ander gemeentelede tot ’n ander ras behoort het. Hy het agtergekom dat daar ’n gebrek aan broederlike geneentheid bestaan, en hy het iets aan die situasie begin doen. Hoe? Elke Sondag het hy ’n ander gesin vir ete genooi. Teen die einde van die jaar het almal innige broederlike geneentheid teenoor hom betoon.
18. Hoe kan ons broederlike geneentheid teenoor ons siek broers en susters betoon?
18 Wanneer ’n broer of suster siek is, tuis of in ’n hospitaal, sal broederlike geneentheid ons beweeg om vir daardie een te wys dat ons omgee. Of wat van dié wat in verpleeginrigtings woon? Ons kan hulle gerus persoonlik besoek, hulle bel of ’n kaartjie met ’n bemoedigende gedagte stuur.
19, 20. Hoe kan ons toon dat ons in ons broederlike geneentheid verruim geword het?
19 Wanneer ons ons broederlike geneentheid op hierdie maniere betuig, kan ons ons afvra: ‘Is ek partydig wat my broederlike geneentheid betref? Beïnvloed dinge soos velkleur, opvoeding of materiële besittings my betuigings van broederlike geneentheid? Moet ek verruim word in my broederlike geneentheid, soos die apostel Paulus die Christene in Korinthe aangespoor het om te doen?’ Broederlike geneentheid sal daartoe lei dat ons ons broers op ’n positiewe wyse beskou en hulle vir hulle goeie punte waardeer. Broederlike geneentheid sal ons ook help om ons eerder oor ons broer se vooruitgang te verheug as om afgunstig op hom te wees.
20 Broederlike geneentheid moet ons ook wakker hou om ons broers in die bediening te help. Dit moet wees soos een van ons liedere (Nommer 92) dit stel:
“Help al die swakkes as hul wil preek,
Leer hul om moedig oor God te spreek.
Sien ook die jonges nooit oor die hoof;
Gee aan hul hulp om hul Skepper te loof.”
21. Watter reaksie kan ons verwag wanneer ons broederlike geneentheid toon?
21 Wanneer ons dus aan ons broederlike geneentheid uiting gee, moet ons nie die beginsel vergeet wat daarop van toepassing is en wat Jesus in sy Bergpredikasie gegee het nie: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Lukas 6:38). Ons vind self daarby baat wanneer ons broederlike geneentheid toon en toon dat ons diegene hoogag wat, soos ons, knegte van Jehovah is. Diegene wat genot daaruit put om broederlike geneentheid te toon, is waarlik gelukkig!
[Voetnoot]
a Sien die volgende artikel: “Liefde (Agape)—Wat dit nie is nie en wat dit wel is.”
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter Griekse woorde het met ons emosies te doen, en hoe verskil hulle van mekaar?
◻ Wat is die sleutel tot broederlike geneentheid?
◻ Watter skriftuurlike voorbeelde het ons van spesiale broederlike geneentheid?
◻ Waarom moet ons innige broederlike geneentheid vir ons broers en die ouere manne hê?
[Prent op bladsy 15]
Die apostel Petrus het sy broers aangespoor om broederlike geneentheid by hulle geloof en ander Christelike eienskappe te voeg