Ons moet “tere geneentheid vir mekaar hê”
“In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê.”—ROMEINE 12:10.
1, 2. Watter verhouding het ’n hedendaagse sendeling en die apostel Paulus met hulle broers gehad?
GEDURENDE sy 43 jaar van sendingdiens in die Verre-Ooste was Don bekend vir die liefde wat hy gehad het vir diegene wat hy gedien het. Terwyl hy op sy laaste siekbed gelê het, het party van sy voormalige studente duisende kilometers ver gereis om vir hom te kom sê: “Kamsahamnida, kamsahamnida!”—“Dankie, dankie!” in Koreaans. Don se tere geneentheid het hulle hart geraak.
2 Hierdie voorbeeld van Don is nie uniek nie. In die eerste eeu het die apostel Paulus innige geneentheid getoon vir diegene wat hy gedien het. Paulus het van homself gegee. Hoewel hy ’n man met sterk oortuigings was, was hy ook teergevoelig en liefdevol, “soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester”. Hy het aan die gemeente in Tessalonika geskryf: “Omdat ons . . . ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword” (1 Tessalonisense 2:7, 8). Later, toe Paulus vir sy broers in Efese gesê het dat hulle hom nie weer sou sien nie, het “ ’n groot gehuil onder hulle almal ontstaan, en hulle het Paulus om die hals geval en hom teer gesoen” (Handelinge 20:25, 37). Die verhouding wat tussen Paulus en sy broers bestaan het, was ongetwyfeld baie inniger as net ’n band tussen mense met dieselfde oortuigings. Hulle het tere geneentheid vir mekaar gehad.
Tere geneentheid en liefde
3. Hoe hou die Bybelterme vir geneentheid en liefde met mekaar verband?
3 In die Skrif hou tere geneentheid, meegevoel en medelye ten nouste verband met die voortreflikste Christelike eienskap—liefde (1 Tessalonisense 2:8; 2 Petrus 1:7). Soos die fasette van ’n pragtige diamant is al hierdie godvrugtige eienskappe in ewewig met mekaar en vul hulle mekaar aan. Hulle laat Christene nie net nader aan mekaar kom nie, maar ook nader aan hulle hemelse Vader. Die apostel Paulus het sy medegelowiges gevolglik aangespoor: “Laat julle liefde sonder huigelary wees. . . . In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê.”—Romeine 12:9, 10.
4. Wat word bedoel met die uitdrukking “tere geneentheid”?
4 Die Griekse woord wat Paulus vir “tere geneentheid” gebruik het, bestaan uit twee dele: die een beteken vriendskap en die ander, natuurlike geneentheid. Soos een Bybelgeleerde verduidelik, beteken dit dat Christene “uitgeken moet word aan ’n toegewydheid wat kenmerkend is van ’n liefdevolle en hegte gesin wat mekaar ondersteun”. Is dit hoe jy oor jou Christenbroers en -susters voel? ’n Hartlike atmosfeer—’n hegte verwantskap—moet in die Christengemeente aanwesig wees (Galasiërs 6:10). The New Testament in Modern English, deur J. B. Phillips, gee Romeine 12:10 dus as volg weer: “Laat ons opregte innige geneentheid, soos dié tussen broers, vir mekaar hê.” En The Jerusalem Bible lui: “Julle moet mekaar soos broers liefhê.” Ja, liefde onder Christene behels meer as net logika en pligsgevoel. “Met ongeveinsde broederlike geneentheid” moet ons “mekaar intens liefhê uit die hart”.—1 Petrus 1:22.
“Deur God geleer om mekaar lief te hê”
5, 6. (a) Hoe het Jehovah internasionale byeenkomste gebruik om sy knegte aangaande Christelike geneentheid te leer? (b) Hoe word die band tussen broers oor ’n geruime tydperk sterker?
5 Hoewel “die liefde van die meeste” in hierdie wêreld verkoel, leer Jehovah sy hedendaagse knegte “om mekaar lief te hê” (Matteus 24:12; 1 Tessalonisense 4:9). Internasionale byeenkomste van Jehovah se Getuies voorsien uitstekende geleenthede vir hierdie opleiding. By hierdie byeenkomste ontmoet plaaslike Getuies hulle broers uit verre lande, en baie het al afgevaardigdes uit ander lande in hulle huise verwelkom. By ’n onlangse byeenkoms het sommige gekom van lande waar mense geneig is om nie hulle gevoelens maklik te wys nie. “Toe hierdie afgevaardigdes hier aangekom het, was hulle baie senuweeagtig en skugter”, vertel ’n Christen wat huisvesting help reël het. “Maar net ses dae later, toe hulle totsiens moes sê, het hulle en die broers by wie hulle tuisgegaan het, mekaar omhels en gehuil. Hulle sal nooit die Christelike liefde wat hulle ondervind het, vergeet nie.” Die betoning van gasvryheid aan ons broers, ongeag hulle agtergrond, kan die beste in die gas sowel as die gasheer na vore bring.—Romeine 12:13.
6 Sulke byeenkomsondervindinge is beslis opwindend, maar wanneer Christene Jehovah oor ’n geruime tydperk saam dien, ontwikkel daar selfs ’n hegter verhouding tussen hulle. Wanneer ons ons broers goed leer ken, bou ons ’n groter waardering op vir hulle innemende eienskappe—hulle liefde vir waarheid, hulle betroubaarheid, lojaliteit, goedhartigheid, vrygewigheid, bedagsaamheid, medelye en onselfsugtigheid (Psalm 15:3-5; Spreuke 19:22). Mark, wat as ’n sendeling in Oos-Afrika gedien het, het gesê: “Wanneer ons skouer aan skouer met ons broers werk, smee dit ’n band wat nie verbreek kan word nie.”
7. Wat word van ons vereis as ons Christelike geneentheid in die gemeente wil geniet?
7 Om so ’n band in ’n gemeente te smee en te behou, moet die lede nader aan mekaar kom. As ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon, versterk ons ons verhouding met ons broers en susters. Deur ons teenwoordigheid en deelname voor, gedurende en ná die vergaderinge, kan ons mekaar aanmoedig en aanspoor “tot liefde en goeie werke” (Hebreërs 10:24, 25). “Ek onthou nog uit my kinderdae”, vertel ’n ouer man in die Verenigde State, “dat ons gesin altyd onder die laastes was om die Koninkryksaal te verlaat omdat ons die vriendelike en sinvolle gesprekke so lank as moontlik wou geniet.”
Moet jy “verruim” word?
8. (a) Wat het Paulus bedoel toe hy die Korintiërs aangespoor het om “verruim” te word? (b) Wat kan ons doen om geneentheid binne die gemeente te bevorder?
8 As ons hierdie geneentheid in volle mate wil betoon, sal ons dalk in ons hart “verruim” moet word. Die apostel Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf: “Ons hart het verruim geword. Julle het nie te min ruimte in ons nie.” Paulus het hulle aangespoor om op húlle beurt “verruim” te word (2 Korintiërs 6:11-13). Kan jy ook in jou geneentheid “verruim” word? Jy hoef nie te wag dat ander die eerste stap neem nie. In sy brief aan die Romeine het Paulus die belangrikheid van tere geneentheid met hierdie raad verbind: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Jy kan eer aan ander betoon deur die inisiatief te neem om hulle by die vergaderinge te groet. Jy kan hulle ook nooi om saam met jou velddiens te doen of vir ’n vergadering voor te berei. Dit sal tere geneentheid laat toeneem.
9. Wat het party gedoen om hegter vriendskapsbande met mede-Christene op te bou? (Sluit plaaslike voorbeelde in.)
9 Gesinne en individue in die gemeente kan “verruim” word deur mekaar te besoek, en dalk ’n eenvoudige maaltyd saam te geniet, of deur saam aan heilsame bedrywighede deel te neem (Lukas 10:42; 14:12-14). Hakop reël van tyd tot tyd dat ’n klein groepie gaan piekniek hou. “Persone van alle ouderdomme, sowel as enkelouers, word genooi”, vertel hy. “Almal gaan terug huis toe met aangename herinneringe, en hulle voel nader aan mekaar.” As Christene moet ons daarna streef om nie net medegelowiges te wees nie, maar ook ware vriende.—3 Johannes 14.
10. Wat kan ons doen wanneer daar gespanne verhoudings is?
10 Soms kan onvolmaakthede dit egter moeilik maak om vriendskap en geneentheid op te bou. Wat kan ons doen? Eerstens kan ons bid vir ’n goeie verhouding met ons broers. Dit is God se wil dat sy knegte goed met mekaar oor die weg kom, en hy sal sulke opregte gebede verhoor (1 Johannes 4:20, 21; 5:14, 15). Ons moet ook in ooreenstemming met ons gebede optree. Ric, ’n reisende opsiener in Oos-Afrika, onthou ’n broer wie se aggressiewe persoonlikheid dit vir ander moeilik gemaak het om met hom oor die weg te kom. “Ek het my voorgeneem om die broer beter te leer ken, eerder as om hom te vermy”, verduidelik Ric. “Ek het uitgevind dat die broer se pa baie streng was. Nadat ek verstaan het hoe hard die broer gestry het om sy agtergrond te bowe te kom en hoe ver hy reeds gevorder het, het ek hom bewonder. Ons het goeie vriende geword.”—1 Petrus 4:8.
Open jou hart!
11. (a) Wat is nodig sodat geneentheid in die gemeente kan toeneem? (b) Waarom kan dit geestelik skadelik wees as ’n mens jou emosioneel van ander afsonder?
11 Vandag gaan baie mense deur die lewe sonder om ooit ’n hegte vriendskap met iemand aan te knoop. Hoe jammer tog! Dit hoef nie—en behoort nie—die geval in die Christengemeente te wees nie. Opregte broederliefde is nie bloot beleefde gesprekke en goeie maniere nie; ook beteken dit nie dat ’n mens ander oorweldig met ’n groot emosionele vertoon nie. Ons moet eerder gewillig wees om ons hart te open, soos Paulus met die Korintiërs gedoen het, en vir ons medegelowiges wys dat ons werklik besorg is oor hulle welsyn. Hoewel nie almal van nature uitgaande en spraaksaam is nie, kan dit skadelik wees as ’n mens te teruggetrokke is. “Wie hom afsonder, sal sy eie selfsugtige verlange soek”, waarsku die Bybel. “Teen alle praktiese wysheid sal hy losbreek.”—Spreuke 18:1.
12. Waarom is goeie kommunikasie noodsaaklik vir hegte verhoudings in die gemeente?
12 Eerlike kommunikasie vorm die grondslag van ware vriendskap (Johannes 15:15). Ons het almal vriende nodig vir wie ons van ons diepste gedagtes en gevoelens kan vertel. Wat meer is, hoe beter ons mekaar ken, hoe makliker is dit om mekaar se behoeftes in ag te neem. Wanneer ons op hierdie manier mekaar se belange op die hart dra, bevorder ons tere geneentheid, en ons sal ondervind hoe waar Jesus se woorde is: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35; Filippense 2:1-4.
13. Wat kan ons doen om te toon dat ons opregte geneentheid vir ons broers het?
13 Ons geneentheid kan ander slegs tot voordeel strek as ons dit aan hulle betoon (Spreuke 27:5). Wanneer ons geneentheid opreg is, sal ons gesig dit waarskynlik toon, en dit kan ander se hart raak sodat hulle dit sal beantwoord. “Die glans van die oë maak die hart bly”, het die wyse man geskryf (Spreuke 15:30). Bedagsame dade bevorder ook tere geneentheid. Hoewel niemand opregte geneentheid kan koop nie, kan ’n geskenk wat uit die hart gegee word, baie beteken. ’n Kaartjie, ’n brief en “ ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word”—al hierdie dinge kan van innige geneentheid getuig (Spreuke 25:11; 27:9). Wanneer ons die vriendskap van ander gewen het, moet ons dit behou deur voort te gaan om onselfsugtige geneentheid te betoon. Veral in tye van nood moet ons vriende op ons kan staatmaak. Die Bybel sê: “ ’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.
14. Wat kan ons doen as dit lyk of iemand nie op ons geneentheid reageer nie?
14 Dit is onrealisties om te verwag dat ons na aan almal in die gemeente sal wees. Ons sal van nature nader aan party voel as aan ander. As dit dus lyk of iemand nie so vriendelik teenoor jou is as wat jy graag sou wou hê nie, moet jy nie gou tot die slotsom kom dat daar fout is met jou of met daardie persoon nie. En moenie ’n hegte verhouding op daardie persoon probeer afdwing nie. As jy eenvoudig so vriendelik met die persoon is as wat hy sal toelaat, kan jy die deur tot ’n hegter verhouding in die toekoms oophou.
“Ek het jou goedgekeur”
15. Watter uitwerking het lof, of ’n gebrek daaraan, op ander?
15 Jesus was sekerlik verheug toe hy met sy doop hierdie woorde uit die hemel gehoor het: “Ek het jou goedgekeur”! (Markus 1:11). Hierdie uitdrukking van goedkeuring het ongetwyfeld Jesus se oortuiging versterk dat sy Vader geneentheid vir hom het (Johannes 5:20). Ongelukkig ontvang party nooit lof van diegene vir wie hulle respek en liefde het nie. “Daar is baie jongmense wie se gesinslede nie dieselfde Christelike oortuigings as hulle het nie, soos met my die geval is”, sê Ann. “By die huis hoor ons net kritiek. Dit maak ons baie hartseer.” Wanneer hulle egter deel van die gemeente word, ondervind hulle die hartlikheid van ’n ondersteunende en liefdevolle geestelike gesin—vaders en moeders en broers en susters in die geloof.—Markus 10:29, 30; Galasiërs 6:10.
16. Waarom is ’n kritiese gesindheid teenoor ander nie voordelig nie?
16 In party kulture spreek ouers, ouer persone en onderwysers selde hulle heelhartige goedkeuring teenoor jongmense uit omdat hulle dink dat sulke lof hulle selfvoldaan of trots kan maak. Sulke denke kan selfs Christengesinne en die gemeente beïnvloed. Wanneer ouer persone kommentaar lewer oor ’n toespraak of iets anders, sê hulle dalk: “Dit was nie te sleg nie, maar jy kan beter doen!” Of hulle kan op ’n ander manier vir ’n jong persoon wys dat hulle nie tevrede is nie. Baie dink dat hulle jongmense op dié manier aanspoor om hulle volle potensiaal te bereik. Maar hierdie benadering het dikwels die teenoorgestelde uitwerking, aangesien jongmense hulle kan onttrek of kan voel dat hulle nie goed genoeg is nie.
17. Waarom moet ons na geleenthede soek om ander te prys?
17 Lof moet egter nie net gegee word om raad in te lei nie. Opregte lof bevorder tere geneentheid in die gesin en die gemeente en is derhalwe ’n aansporing vir jongmense om ervare broers en susters om raad te vra. Ons moet dus nie toelaat dat ons kultuur bepaal hoe ons ander behandel nie, maar ons moet ons eerder “met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”. Prys ander in navolging van Jehovah.—Efesiërs 4:24.
18. (a) Jongmense, hoe moet julle die raad van ouer persone beskou? (b) Waarom is ouer persone versigtig oor hoe hulle raad gee?
18 Jongmense, julle moet egter nie tot die slotsom kom dat ouer persone nie van julle hou wanneer hulle julle teregwys of raad gee nie (Prediker 7:9). Inteendeel! Hulle word waarskynlik beweeg deur hulle besorgdheid en hulle innige geneentheid vir julle. Waarom sou hulle andersins die moeite doen om met julle oor die saak gesels? En omdat ouer persone—veral gemeentelike ouer manne—weet watter uitwerking woorde kan hê, dink hulle dikwels lank en biddend daaroor na voordat hulle raad gee, want hulle wil hê dat dit nuttig moet wees.—1 Petrus 5:5.
‘Jehovah is baie teer in geneentheid’
19. Waarom kan diegene wat al teleurgestel is, hulle tot Jehovah wend vir ondersteuning?
19 Onaangename ondervindinge het baie al laat voel dat dit net tot verdere teleurstelling sal lei as hulle tere geneentheid betoon. Dit verg moed en sterk geloof van hulle om weer eens hulle hart vir ander te open. Maar hulle moet nooit vergeet dat Jehovah “nie ver van elkeen van ons af is nie”. Hy nooi ons om nader aan hom te kom (Handelinge 17:27; Jakobus 4:8). Hy verstaan ook dat ons bang is om seer te kry, en hy beloof om ons te ondersteun en te help. Die psalmis Dawid verseker ons: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.
20, 21. (a) Hoe weet ons dat ons ’n hegte verhouding met Jehovah kan geniet? (b) Wat is die vereistes om ’n intieme verhouding met Jehovah te geniet?
20 ’n Hegte vriendskap met Jehovah is die belangrikste verhouding wat ons kan aankweek. Maar is so ’n band werklik moontlik? Ja. Die Bybel toon hoe na aan ons hemelse Vader regverdige manne en vroue gevoel het. Hulle hartgrondige uitdrukkings is bewaar om vir ons die versekering te gee dat ons ook nader aan Jehovah kan kom.—Psalm 23, 34, 139; Johannes 16:27; Romeine 15:4.
21 Jehovah se vereistes vir ’n intieme verhouding met hom is binne almal se bereik. “O Jehovah, wie sal ’n gas in u tent wees?” het Dawid gevra. “Hy wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen en in sy hart die waarheid spreek” (Psalm 15:1, 2; 25:14). Wanneer ons sien dat diens aan God goeie vrugte voortbring en vir ons sy leiding en beskerming meebring, sal ons tot die besef kom dat “Jehovah baie teer in geneentheid” is.—Jakobus 5:11.
22. Watter soort verhouding wil Jehovah hê dat sy knegte moet geniet?
22 Hoe geseënd is ons tog dat Jehovah so ’n persoonlike verhouding met onvolmaakte mense wil geniet! Behoort ons dan nie tere geneentheid teenoor mekaar te betoon nie? Met Jehovah se hulp kan elkeen van ons die tere geneentheid wat kenmerkend is van ons Christenbroederskap, bevorder en geniet. Onder God se Koninkryk sal elkeen op aarde tot in ewigheid hierdie geneentheid ondervind.
Kan jy verduidelik?
• Watter soort atmosfeer moet in die Christengemeente heers?
• Hoe kan elkeen van ons bydra tot die tere geneentheid in die gemeente?
• Hoe bevorder opregte lof Christelike geneentheid?
• Hoe ondersteun en onderskraag Jehovah se tere geneentheid ons?
[Prent op bladsy 15]
Christene betoon nie net liefde aan mekaar uit pligsgevoel nie
[Prente op bladsy 16, 17]
Kan jy “verruim” word in jou geneentheid?
[Prent op bladsy 18]
Is jy krities of aanmoedigend?