Pioniers bring en ontvang seëninge
“DIE pionierdiens is baie meer werd as ’n suksesvolle sekulêre loopbaan. Niks verskaf groter bevrediging as om mense te help om Jehovah en sy waarheid te leer ken nie.” Dit was die woorde van een Christenvrou wat die pionierdiens—die voltydse Koninkrykspredikingswerk—as haar loopbaan gekies het. Hoeveel ander loopbane kan soveel vreugde verskaf?
Die pionierdiens is ’n verhewe doelwit asook ’n kosbare voorreg. Hoe kan iemand so ’n lewenswyse kies? Wat is nodig om lank genoeg in die pionierdiens te bly sodat jy die seëninge wat daaruit voortvloei, kan geniet?
Twee dinge is noodsaaklik. Ten eerste, die regte omstandighede. Party se omstandighede maak dit eenvoudig onmoontlik om die pionierdiens te betree. En ten tweede, die regte geestelike kwalifikasies en gesindheid. Of ons huidige omstandighede ons nou toelaat om pioniers te wees of nie, ons almal kan ons natuurlik inspan om die eienskappe van ’n ryp Christen aan te kweek.
Waarom party pioniers is
Wat is die kwalifikasies vir suksesvolle pionierdiens? Wel, dit is noodsaaklik dat ’n mens bekwaam is in die predikingswerk. Pioniers moet weet hoe om die goeie nuus aan vreemdelinge bekend te maak, herbesoeke by belangstellendes te doen en tuisbybelstudies te hou. ’n Gebrek aan hierdie vaardighede kan ’n pionier ontmoedig. Maar ander dinge is ook belangrik.
Alles wat byvoorbeeld met ons aanbidding te doen het, hou verband met ons verhouding met Jehovah en sy organisasie. Dit sluit die pionierdiens in. ’n Jong pionier genaamd Rado het verduidelik: “Vir ’n jongmens is daar niks beters as om aan Jehovah te dink en in die weg van die waarheid te wandel nie.” Ja, die pionierdiens is ’n goeie manier waarop jongmense hulle liefde vir en gehegtheid aan Jehovah kan toon.—Prediker 12:1.
Kennis en begrip is ook noodsaaklik (Filippense 1:9-11). Hierdie twee dinge is in werklikheid die brandstof wat ons geestelike enjin aan die gang hou. Gereelde persoonlike studie is noodsaaklik om te voorkom dat ons geestelik uitgeput raak en ons geesdrif en onwrikbaarheid verloor. Die kennis wat ons inneem, moet natuurlik nie net die verstand nie, maar ook die hart raak (Spreuke 2:2). Benewens persoonlike studie het ons dus ook tyd vir gebed en bepeinsing nodig sodat die kennis wat ons inneem ons hart kan raak. Dan sal ons, wanneer ons omstandighede dit toelaat, die pionierdiens wil betree.—Vergelyk Esra 7:10.
Die pionierdiens vereis ook dat ’n mens selfopofferend moet wees. ’n Jong man genaamd Ron se reëlings vir die pionierdiens was reeds getref. Hy het net vir die regte omstandighede gewag sodat hy kon begin. Hy wou spesifiek ’n werk gehad het wat hom in staat sou stel om in die pionierdiens te wees en tegelykertyd die beter dinge in die lewe te geniet. Toe hy dit vir ’n ryp suster gesê het, het haar antwoord hom tot aksie aangespoor. Sy het gesê: “Jehovah seën dade, nie beloftes nie.” Die jong man het ’n laer besoldigde werk gekry wat hom in staat gestel het om tyd vir die pionierdiens in te ruim. As ’n mens Mattheüs 6:25-34 toepas, sal dit jou help om met ’n kleiner inkomste uit te kom.
’n Nederige bereidwilligheid om goeie wenke te volg, kan ook daartoe bydra dat ons die pionierdiens betree. Hanna het vroeg in haar lewe as ’n Christen die begeerte aangekweek om ’n pionier te wees. Maar sy het nie pionierdiens gedoen terwyl sy ’n gesin grootgemaak het nie, en sy het later by ’n sakeloopbaan betrokke geraak. Sy het op die goeie raad van op en wakker ouere manne ag gegee, haar interessante sekulêre werk laat vaar en die pionierdiens betree. Dit verskaf Hanna nou groot vreugde om ander te help om tot toewyding te kom en om onbedrywiges te help.
Waardering vir wat die waarheid in ’n mens se lewe beteken, kan ook ’n aansporing wees om die pionierdiens te betree. Neem die geval van ’n vrou wat uiters terneergedruk was en wie se huwelik besig was om te verbrokkel. Die situasie het ingrypend verander toe sy die waarheid van God se Woord geleer en dit begin toepas het. Sy was verheug oor wat die waarheid vir haar gedoen het en het besluit dat die beste manier om haar waardering te toon, sal wees om ’n pionier te word en ander te help. Sy het dit gedoen en sy geniet nou die seëninge van talle Bybelstudies en ’n gelukkige gesinslewe.
Ander kan help
Pioniers beweeg ander dikwels om die pionierdiens te betree. Rado, wat vroeër hier genoem is, was ses jaar oud toe sy ouers die Bybel saam met twee pioniers begin studeer het. Hy was nog baie jonk toe hy reeds hierdie voltydse predikers gereeld in die veldbediening vergesel het. Rado self het op 17 ’n gewone pionier geword. ’n Ander jong man, Arno, het in ’n Christenhuis grootgeword, maar het geestelik swak geword. Later het hy hom daarop begin toelê om geestelik sterker te word, en hy sê nou: “Die pioniers het my baie aangemoedig. Ek het veral gedurende skoolvakansies met hulle omgegaan, en soms het ek tot 60 uur per maand in die velddiens gerapporteer. Daarna was dit nie moeilik om die gewone pionierdiens [wat 90 uur per maand vereis] te betree nie.” Sulke jongmense is werklik gehelp deur te peins oor die raad in 1 Korinthiërs 7:29-31, wat toon dat ’n mens die wêreld nie ten volle moet gebruik nie.
Die pioniergees kan makliker wortelskiet in ’n huis waar geestelike belange eerste kom en ouers hulle kinders aanspoor om die voltydse bediening te betree. Philo, wat in so ’n huis grootgeword het, sê: “Baie het gesê ek moet verder gaan leer en vir ’n sekulêre toekoms voorberei. Maar my ouers het my gehelp om ’n verstandiger besluit te neem. Hulle het vir my gesê ek moet voorkeur daaraan gee om ’n verhouding met Jehovah op te bou as ek werklik iets vir die toekoms wou opbou.”
’n Jong vrou genaamd Thamar sê ook dat sy die pionierdiens as gevolg van haar ouers se voorbeeld en pogings betree het. Sy sê: “Ek kan nie werklik sê wanneer ek ’n geestelike lewensbeskouing ontwikkel het nie, maar ek weet dat ek nie daarmee gebore is nie. Die feit dat my ouers gereeld velddiens gedoen en vergaderinge bygewoon het, sowel as hulle innige liefde vir die waarheid, het my baie gehelp om my geestelike beskouing te ontwikkel.”
Bly by jou besluit
Nadat iemand die pionierdiens betree het, stel volharding hom of haar daartoe in staat om ten volle by daardie verstandige besluit baat te vind. Baie praktiese raad kan in daardie verband gegee word. Dit sal byvoorbeeld goed wees as pioniers leer hoe om hulle tyd in te deel om dit so produktief moontlik te maak. Maar die belangrikste faktor bly steeds ’n persoon se verhouding met Jehovah en Sy organisasie.
’n Biddende gesindheid hou hiermee verband. “Toe ek in die waarheid gekom het, wou ek baie graag ’n pionier word”, sê Cor. Maar sy pa het geëis dat hy eers ’n kursus aan die Landbou-universiteit volg. Daarna het Cor die pionierdiens betree. Hy het later getrou en sy vrou het by hom in die pionierwerk aangesluit. Toe sy swanger geraak het, het dit gelyk of hy die pionierdiens sou moes verlaat. “Ek het dikwels tot Jehovah gebid en vir hom gesê dat dit my hartsbegeerte is om met die pionierdiens aan te hou”, sê Cor. Cor het eindelik die soort werk gevind wat hom in staat gestel het om ’n pionier te wees en terselfdertyd ’n gesin groot te maak.
Nog ’n faktor wat dikwels help dat iemand in die pionierbediening bly, is om met materiële benodigdhede vergenoeg te wees. Die apostel Paulus het geskryf: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Vergenoegdheid met die huidige dinge het Harry en Irene gehelp om in die pionierdiens te bly. Irene, wat blind is, is al agt jaar ’n pionier. “Ons het nog nooit ons geldelike situasie as ’n probleem beskou nie”, sê sy. “Ons het net gesorg dat ons ons nooit onnodige geldelike laste oplê nie. Ons het altyd die koste bereken. Ons lewe was nog altyd eenvoudig, maar baie aangenaam, en ons het baie seëninge ontvang.”
Baie vreugdes en seëninge
Wanneer Thamar oor nege jaar van pionierdiens terugkyk, sê sy: “Jy kom baie na aan Jehovah, asof hy werklik jou hand gevat het” (Psalm 73:23). Sy kan ook aan ’n paar beproewinge dink. “My eie onvolmaaktheid asook dié van ander was dikwels vir my ’n probleem”, voeg Thamar by. “Dan het ek ook na ander broers en susters gekyk wat op materiële gebied ’n lonender lewenswyse gekies het, en hulle keuse het taamlik aantreklik gelyk wanneer ek in die reën en die koue van deur tot deur gestap het. Maar diep in my hart sal ek nooit plekke wil ruil nie. Wat anders as die pionierdiens kan soveel vreugde, soveel geestelike tevredenheid en soveel seëninge verskaf?” Sal jy soortgelyke vreugdes en seëninge op prys stel?
Omdat pioniers baie tyd in die Christenbediening deurbring, kan hulle verskeie mense help om kennis van Bybelwaarheid op te doen. Harry en Irene, wat vroeër gemeld is, sê: “’n Mens kan baie voorregte in Jehovah se organisasie geniet, maar die wonderlikste voorreg van almal is om ’n belangstellende te help om ’n kneg van Jehovah te word.”
Nog ’n pionier het die spyker op die kop geslaan toe hy gesê het: “Die woorde van Spreuke 10:22 geld in my geval: ‘Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.’ Hierdie teks is keer op keer gedurende die jare wat ek Jehovah dien in my geval bewaarheid.”
Ouers, wek julle in julle kinders die begeerte om die pionierdiens te betree? Pioniers, probeer julle hierdie begeerte in ander wek? Ouere manne, ondersteun julle die pioniers in julle gemeente en help julle om ’n pioniergees in ander te laat posvat? Mag al hoe meer van Jehovah se volk beweeg word om sulke ryk seëninge na te streef terwyl hulle aan die pionierdiens deelneem.