Pionierdiens—Is dit vir jou?
1 “Ek kan my nie voorstel hoe dit sou wees om iets anders te doen nie. Ek kan my beslis niks voorstel wat my soveel vreugde sal bring nie.” Wie het dit gesê? Een van honderdduisende Getuies van Jehovah wat die voltydse bediening hulle vreugdevolle loopbaan gemaak het. Het jy dit al biddend oorweeg of die pionierdiens vir jou is? Aangesien ons ons onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy het, behoort ons beslis te kyk of ons nie ’n groter deelname aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk kan hê nie. Met dié doel kan jy gerus ’n paar vrae oorweeg wat baie oor die pionierdiens vra.
VRAAG 1: “Sommige sê dat die pionierdiens nie vir almal is nie. Hoe weet ek of dit vir my is?”
2 Die antwoord hang van jou omstandighede en skriftuurlike verpligtinge af. Daar is baie wie se gesondheid en huidige lewensomstandighede hulle nie toelaat om 90 uur per maand aan die bediening te bestee nie. Neem as een voorbeeld die talle getroue susters wat Christenvrouens en -moeders is. Hulle neem aan die bediening deel so dikwels as wat hulle omstandighede hulle toelaat. Wanneer hulle die geleentheid het, dien hulle ’n maand of meer per jaar as hulppioniers en maai hulle die vreugdes wat uit ’n groter deelname aan die velddiens voortspruit (Gal. 6:9). Hoewel hulle omstandighede hulle dalk nie toelaat om nou as voltydse pioniers te dien nie, bevorder hulle die pioniergees, en as ywerige verkondigers van die goeie nuus is hulle ’n seën vir die gemeente.
3 Aan die ander kant het baie broers en susters wat relatief vry van verpligtinge is, plek gemaak vir die pionierdiens deur hulle prioriteite aan te pas. Wat van jou? Is jy ’n jong persoon wat jou sekulêre skoolopleiding voltooi het? Is jy ’n vrou wie se man voldoende vir die gesin kan sorg? Is jy getroud sonder afhanklike kinders? Is jy afgetree? Om die pionierdiens te betree of nie, is ’n besluit wat elke persoon vir homself moet neem. Die vraag is: Kan jy plek maak in jou lewe vir die pionierdiens?
4 Satan gebruik sy wêreldse stelsel van dinge om ons lewe met afleidings te vul en ons in ’n selfsugtige lewenswyse te dompel. As ons vasbeslote is om geen deel van die wêreld te wees nie, sal Jehovah ons help om Koninkryksbelange eerste te stel en uit te reik na al die teokratiese diensvoorregte wat daar vir ons beskikbaar is en dit aan te neem. Waarom pas jy nie jou omstandighede aan om as ’n pionier te dien as dit vir jou moontlik is nie?
VRAAG 2: “Hoe kan ek seker wees dat ek in die voltydse diens finansieel sal regkom?”
5 In baie lande het die aantal sekulêre werksure per week wat nodig is om dit te bekom wat as lewensbenodigdhede beskou word weliswaar oor die jare toegeneem. Baie is egter al dekades lank in die pionierdiens, en Jehovah hou aan om hulle te ondersteun. Geloof en ’n selfopofferende gees is nodig om as ’n pionier welslae te behaal (Matt. 17:20). Ons het die versekering in Psalm 34:11 dat ‘die wat die HERE soek geen gebrek aan enigiets het nie’. Enigeen wat die pionierdiens betree, moet dit doen met die volle vertroue dat Jehovah vir hom sal sorg. Dit is presies wat Hy oral vir getroue pioniers doen! (Ps. 37:25). In ooreenstemming met die beginsels in 2 Tessalonisense 3:8, 10 en 1 Timoteus 5:8 verwag pioniers natuurlik nie dat ander hulle finansieel moet onderhou nie.
6 Elkeen wat die pionierdiens oorweeg, moet doen wat Jesus gesê het: ‘Gaan sit eers en bereken die koste’ (Luk. 14:28). Deur dit te doen, lê ons praktiese wysheid aan die dag. Praat met diegene wat al etlike jare suksesvolle pioniers is. Vra hulle hoe Jehovah hulle ondersteun het. Julle kringopsiener is ’n ervare pionier wat graag wenke sal gee oor hoe om welslae in die voltydse bediening te behaal.
7 Iemand sal dalk nooit ten volle die waaragtigheid van Jesus se belofte in Matteus 6:33 ondervind voordat hy hom nie in Jehovah se hande geplaas het nie. ’n Getroue pionier het gesê: “Toe ek en my maat in ’n nuwe toewysing as pioniers aangekom het, het ons net ’n bietjie groente en ’n pakkie margarien gehad en niks geld nie. Ons het al die kos met aandete klaargemaak en gesê: ‘Nou het ons niks vir môre nie.’ Ons het daaroor gebid en toe bed toe gegaan. Vroeg die volgende oggend het ’n plaaslike Getuie ons besoek, haarself voorgestel en gesê: ‘Ek het gebid dat Jehovah pioniers stuur. Nou kan ek die grootste deel van die dag saam met julle werk, maar aangesien ek ’n hele ent hiervandaan woon, sal ek middagete saam met julle moet eet, en daarom het ek hierdie kos vir ons almal saamgebring.’ Dit was ’n groot klomp beesvleis en groente.” Dit is geen wonder nie dat Jesus ons verseker het dat ons kan ‘ophou om oor ons siel besorg te wees’! Hy het toe bygevoeg: “Wie van julle kan deur besorg te wees een el by sy lewensduur voeg?”—Matt. 6:25, 27.
8 Die wêreld om ons raak al hoe meer materialisties. Die druk om hierdie neiging te volg, word al hoe groter. As ons egter ’n nederige waardering vir die voltydse bediening het, maak dit ons tevrede met minder materiële dinge (1 Tim. 6:8). Pioniers wat hulle lewe eenvoudig en georganiseerd hou, het meer tyd vir die bediening en put groter vreugde en geestelike krag daaruit om ander die waarheid te leer. Hoewel hulle nie ’n asketiese lewe probeer lei nie, het hulle gebalanseerde benadering van hulle finansiële situasie hulle in staat gestel om die seëninge van die pionierdiens te geniet.
9 As jy werklik voel dat ons in die laaste dae lewe en dat die tyd vir hierdie goddelose wêreld min word, sal jy geestelik gemotiveerd wees om die nodige opofferings te maak om die goeie nuus by elke geleentheid te verkondig. Deur opnuut na jou ekonomiese situasie te kyk en die saak in Jehovah se hande te laat, besef jy dalk dat jy hom voltyds kan dien. Al moet jy sonder sekere materiële dinge klaarkom wat jy graag wil hê, sal jy Jehovah se ryk seëninge geniet.—Ps. 145:16.
VRAAG 3: “Waarom moet ek as ’n tiener die pionierdiens as ’n loopbaankeuse oorweeg?”
10 Terwyl jy jou laaste paar jaar op skool voltooi, dink jy vanselfsprekend oor die toekoms. Jy wil hê dat dit veilig, gelukkig en sinvol moet wees. Skoolvoorligters moedig jou dalk aan om ’n winsgewende loopbaan te volg wat jare lange universiteitsopleiding verg. Jou goed opgeleide Christelike gewete sê vir jou dat jy jou moet voorberei om Jehovah so volkome moontlik te dien (Pred. 12:1). Jy dink dalk ook daaraan om uiteindelik te trou en ’n gesin te hê. Wat gaan jy doen?
11 Die besluite wat jy op hierdie stadium van jou lewe neem, kan jou hele toekoms bepaal. As jy reeds ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah is, het jy jou met jou hele siel aan Jehovah gegee (Heb. 10:7). Probeer om met die eerste geleentheid wat jy kry een of meer maande lank hulppionierdiens te doen. Dit sal jou ’n voorsmakie gee van die vreugdes en verantwoordelikhede wat met gewone pionierdiens gepaardgaan, en dit sal ongetwyfeld vir jou duideliker word wat jy met jou lewe moet doen. Waarom begin jy dan nie eerder met gewone pionierdiens ná jy die skool verlaat het nie as om die vakuum met ’n voltydse sekulêre werk te vul? Sommige wat tot later in hulle lewe gewag het om die pionierdiens te geniet, is spyt dat hulle nie vroeër begin het nie.
12 Maak as ’n jong persoon van jou geleenthede gebruik om ongetroud te bly en die voordele te geniet wat dit jou in die voltydse predikingswerk bied. As dit jou begeerte is om eendag te trou, kan jy geen beter grondslag lê as om eers as ’n gewone pionier te dien nie. Namate jy in volwassenheid en geestelikheid groei, besluit jy dalk om die pionierdiens jou loopbaan te maak saam met ’n huweliksmaat wat net soos jy daaroor voel. Sommige egpare wat saam in die pionierdiens was, het die kringwerk of die sendingwerk betree. ’n Waarlik bevredigende lewenswyse!
13 Ongeag hoe lank jy in die pionierdiens bly, dit sal jou opvoeding afrond en jou waardevolle opleiding gee wat geen ander beroep op aarde kan voorsien nie. Die pionierdiens leer jou dissipline, persoonlike organisasie, hoe om met mense te werk, om op Jehovah te vertrou en hoe om geduld en goedhartigheid aan te kweek—eienskappe wat jou sal toerus om groter verantwoordelikhede op jou te neem.
14 Die lewe was nog nooit so onseker vir die mensdom nie. Buiten die dinge wat Jehovah belowe het, is daar maar min dinge wat waarlik blywend is. Is daar, met jou hele toekoms voor jou, ’n beter tyd as nou om ernstig te dink aan wat jy met jou lewe gaan doen in die jare wat voorlê? Oorweeg die voorreg om aan die pionierdiens deel te neem versigtig. Jy sal nooit spyt wees dat jy die pionierdiens as jou loopbaan gekies het nie.
VRAAG 4: “Plaas dit ’n mens nie onder voortdurende druk om aan die uurvereiste te voldoen nie? Sê nou ek raak agter met my tyd?”
15 Wanneer jy ’n aansoekvorm vir gewone pionierdiens invul, moet jy die volgende vraag beantwoord: “Het jy jou persoonlike sake so gereël dat jy met redelikheid kan verwag om aan die jaarlikse vereiste van 1 000 uur te voldoen?” Om daaraan te voldoen, moet jy ’n gemiddeld van ongeveer drie uur per dag in die diens bestee. Dit verg natuurlik ’n goeie rooster en selfdissipline. Die meeste pioniers werk binne ’n paar maande ’n praktiese, uitvoerbare rooster uit.
16 Prediker 9:11 (NW) sê egter tereg: ‘Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref ons almal.’ Ernstige siekte of ander onvoorsiene gebeurtenisse kan daartoe lei dat ’n pionier agter raak. As die probleem nie te lank voortduur nie en vroeg in die diensjaar opduik, is ’n aangepaste rooster dalk al wat nodig is om die verlore tyd in te haal. Maar gestel ’n ernstige probleem ontstaan met slegs ’n paar maande in die diensjaar oor, en die pionier kan nie die tyd inhaal nie, wat dan?
17 As jy ’n paar maande lank tydelik siek is of om die een of ander ernstige rede buite jou beheer nie die uurvereiste kan bereik nie, kan jy ’n lid van die Gemeentelike Dienskomitee nader en die probleem verduidelik. As hierdie ouer manne meen dat dit raadsaam sal wees om jou toe te laat om in die pionierdiens te bly sonder dat jy die verlore tyd hoef in te haal, kan hulle so besluit. Die sekretaris sal op die gemeentelike verkondigerverslagkaart aandui dat daar nie van jou verwag word om die verlore tyd in te haal nie. Dit is nie verlof nie, maar eerder ’n spesiale toegewing weens jou omstandighede.—Sien die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Augustus 1986, paragraaf 18.
18 Ervare pioniers bou vroeg in die diensjaar ’n reserwe ure op. Hulle pionierdiens geniet voorkeur en daarom vind hulle dat dit soms nodig is om onbelangrike bedrywighede in te kort. As ’n pionier agter raak weens ’n swak rooster of ’n gebrek aan selfdissipline om daarby te bly, behoort hy te voel dat dit sy verantwoordelikheid is om die verlore tyd in te haal en behoort hy nie spesiale toegewings te verwag nie.
19 Daar is tye wanneer ’n pionier se omstandighede onvermydelik verander. Hy vind dalk dat hy oor ’n lang tydperk nie die uurvereiste kan nakom nie weens ’n voortslepende gesondheidsprobleem, groter gesinsverantwoordelikhede, ensovoorts. In hierdie geval sal dit die verstandige weg wees om weer ’n verkondiger te word en wanneer moontlik aan die hulppionierdiens deel te neem. Gewoonlik is daar geen voorsiening om iemand toe te laat om as ’n pionier te bly dien as sy omstandighede hom nie meer toelaat om die uurvereiste na te kom nie.
20 Ons hoop dat die voorsiening van ’n spesiale toegewing vir diegene wat kwalifiseer, meer sal aanmoedig om die pionierdiens te betree sonder om hulle onnodig te bekommer. Dit behoort ook diegene wat reeds in die voltydse diens is, aan te moedig om in die pionierdiens te bly. Ons wil hê dat pioniers ’n sukses moet maak van hulle voltydse diens.
VRAAG 5: “Ek wil iets bereik en gelukkig wees terwyl ek dit doen. Sal die pionierdiens vir my bevredigend wees?”
21 Ware geluk hang grootliks af van ’n hegte, persoonlike verhouding met Jehovah en die oortuiging dat ons hom getrou dien. Jesus het ’n folterpaal verduur “vir die vreugde wat hom voorgehou is” (Heb. 12:2). Sy geluk het gespruit uit die doen van God se wil (Ps. 40:9). In die huidige stelsel van dinge kan ons ware geluk geniet as die meeste van ons lewensbedrywighede met ons aanbidding van Jehovah verband hou. Geestelike strewes gee ons doelgerigtheid omdat ons in ons diepste wese weet dat ons doen wat reg is. Wanneer ons gee, maak dit ons gelukkig, en ons weet van geen beter manier om van onsself te gee as om ander te leer hoe om die ewige lewe in God se nuwe wêreld te verkry nie.—Hand. 20:35.
22 Die pionier wat in die inleidingsparagraaf aangehaal word, het dit soos volg verduidelik: “Kan daar enige groter vreugde wees as om te sien hoe iemand met wie jy studeer ’n bedrywige lower van Jehovah word? Dit is opwindend en geloofversterkend as ’n mens sien hoe kragtig God se Woord is om mense te motiveer om veranderinge in hulle lewe aan te bring sodat hulle Jehovah kan behaag.” (Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1997, bladsye 18-23.) Wat maak jou dus gelukkig? As jy eerder waarde aan blywende, nuttige strewes heg as aan die tydelike genietinge wat die wêreld aanbied, sal die pionierdiens jou ’n wonderlike gevoel gee dat jy iets bereik het, wat jou werklik gelukkig sal maak.
VRAAG 6: “As dit nie ’n vereiste vir die ewige lewe is nie, kan ek seker self besluit of ek ’n pionier wil wees, nie waar nie?”
23 Dit is waar, dit moet jóú besluit wees om ’n pionier te word. Slegs Jehovah kan jou persoonlike lewensomstandighede oordeel (Rom. 14:4). Hy verwag tereg van jou om hom met jou hele hart, siel, verstand en krag te dien (Mark. 12:30; Gal. 6:4, 5). Hy het ’n blymoedige gewer lief, iemand wat hom met vreugde dien, nie teësinnig of onder dwang nie (2 Kor. 9:7; Kol. 3:23). Die rede vir jou voltydse diens moet jou liefde vir Jehovah en vir die mense in die gebied wees (Matt. 9:36-38; Mark. 12:30, 31). As dit is hoe jy voel, kan jy gerus die pionierdiens ernstig oorweeg.
24 Ons hoop dat dit wat hier uiteengesit is jou sal help in jou besluit om moontlik die pionierdiens te betree. Kan jy jou omstandighede aanpas om ’n gewone pionier te word? Hieronder is ’n kalender met die titel “My weeklikse pionierdiensrooster”. Kyk of jy ’n praktiese rooster vir jouself kan invul wat jou in staat sal stel om elke week gemiddeld 23 uur in die bediening te bestee. Plaas dan jou volle geloof in Jehovah en vertrou op hom. Met sy hulp kan jy welslae behaal! Hy het belowe: “Ek sal . . . waarlik ’n seën uitgiet totdat daar geen gebrek meer [is] nie.”—Mal. 3:10, NW.
25 Daarom vra ons: “Pionierdiens—Is dit vir jou?” As jy “Ja” kan antwoord, moet jy op ’n datum besluit waarop jy binnekort met gewone pionierdiens kan begin, en wees verseker dat Jehovah jou met ’n vreugdevolle lewe sal seën!
[Tabel op bladsy 6]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
My weeklikse pionierdiensrooster
MAANDAG: Oggend-velddiens
DINSDAG: Oggend-velddiens
WOENSDAG: Oggend-velddiens
DONDERDAG: Oggend-velddiens
VRYDAG: Oggend-velddiens
SATERDAG: Oggend-velddiens
SONDAG: Oggend-velddiens
MAANDAG: Middag-velddiens
DINSDAG: Middag-velddiens
WOENSDAG: Middag-velddiens
DONDERDAG: Middag-velddiens
VRYDAG: Middag-velddiens
SATERDAG: Middag-velddiens
SONDAG: Middag-velddiens
MAANDAG: Aand-velddiens
DINSDAG: Aand-velddiens
WOENSDAG: Aand-velddiens
DONDERDAG: Aand-velddiens
VRYDAG: Aand-velddiens
SATERDAG: Aand-velddiens
SONDAG: Aand-velddiens
Gebruik ’n potlood om jou rooster vir elke dag van die week neer te skryf.
Beplan altesaam ongeveer 23 uur velddiens per week.
Aantal ure per week volgens rooster ․․․․․․․․․․․․․․․․․․․․