Vrae van lesers
Hoe vind die “ander skape” nou reeds baat by die voordele van Christus Jesus se hoëpriesterlike dienste, waarvan Hebreërs 4:15, 16 praat?
Hoewel Jesus se rol as Hoëpriester hoofsaaklik van toepassing is op diegene wat saam met hom in die hemel gaan wees, strek Jesus se priesterlike dienste Christene met ’n aardse hoop nou reeds tot voordeel.
Sedert die tyd van Adam gaan mense onder sonde gebuk. Ons ly weens oorgeërfde sonde, soos dit met die Israeliete die geval was. Hulle het hulle tot ’n lang lyn hoëpriesters en medepriesters gewend, wat offerandes vir hulle eie sondes sowel as vir dié van die volk moes bring. Ná verloop van tyd is Jesus as priester “volgens die orde van Melgisedek” gesalf. Nadat hy opgewek is, het Jesus voor Jehovah verskyn om die waarde van sy volmaakte menseofferande aan te bied.—Psalm 110:1, 4.
Wat beteken dit vir ons vandag? In sy brief aan die Hebreërs het Paulus Jesus se diens as Hoëpriester bespreek. In Hebreërs 5:1 lees ons: “Elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, word ten behoewe van mense oor die dinge in verband met God aangestel, sodat hy gawes en offerandes vir sondes kan bring.” In vers 5 en 6 sê Paulus voorts dat Jesus ’n hoëpriester geword het, en dit kan ons tot voordeel strek.
Hoe so? Paulus het geskryf: “Hoewel hy ’n Seun was, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het; en nadat hy vervolmaak is, het hy verantwoordelik geword vir die ewige redding van almal wat hom gehoorsaam” (Hebreërs 5:8, 9). Hierdie vers laat ons dalk aanvanklik dink aan die voordele wat ons in die nuwe wêreld sal geniet wanneer die sondige toestand van diegene wat lojaal teenoor God en Jesus is, verwyder sal word en hulle die ewige lewe sal verkry. Dit is ’n gegronde vooruitsig wat op die verlossingswaarde van Jesus se offerande en sy diens as Hoëpriester berus.
Maar sy rol of diens as Hoëpriester strek ons in werklikheid nou reeds tot voordeel. Let op wat Hebreërs 4:15, 16 sê: “Want ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde. Laat ons dus met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader, sodat ons barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd.” Wanneer sal dit “die regte tyd” wees? Dit is wanneer ons barmhartigheid en onverdiende goedhartigheid nodig het. Weens ons onvolmaaktheid behoort ons almal nou van hierdie behoefte bewus te wees.
Hebreërs 4:15, 16 vestig die aandag op die feit dat Jesus—wat nou ’n priester in die hemel is—ook ’n mens was, en daarom kan hy medelydend wees. Teenoor wie? Teenoor ons. Wanneer? Nou. Toe hy ’n mens was, het Jesus die spanning en druk ervaar wat oor die algemeen onder mense voorkom. Soms was Jesus honger en dors. En ondanks sy volmaaktheid het hy moeg geword. Dit behoort ons gerus te stel. Waarom? Omdat Jesus natuurlike moegheid ervaar het, weet hy hoe ons dikwels voel. Onthou ook dat Jesus met die jaloerse stryery onder sy dissipels te kampe gehad het (Markus 9:33-37; Lukas 22:24). Ja, hy het teleurstellings gehad. Moet dit ons nie die vertroue gee dat hy verstaan wanneer ons teleurgesteld of ontmoedig voel nie? Beslis.
Wat kan jy doen wanneer jy ontmoedig voel? Het Paulus gesê dat jy maar sal moet wag totdat jou Hoëpriester, Jesus, jou in die nuwe wêreld help om in verstand en liggaam volmaak te word? Nee. Paulus het gesê: ‘Ons kan barmhartigheid verkry en kan onverdiende goedhartigheid vind vir hulp op die regte tyd’, en dit geld ook nou. Toe Jesus ’n mens was, het hy boonop lyding en ontberinge ervaar, en hy is “in alle opsigte soos ons op die proef gestel”. Wanneer ons derhalwe voor sulke dinge te staan kom, is hy gereed om ons te help op grond van sy begrip van wat ons ervaar. Trek dit jou nie tot hom aan nie?
Kyk nou na vers 16. Paulus sê dat ons—en dit sluit die gesalfdes sowel as diegene van die ander skape in—God met vrymoedigheid kan nader (Johannes 10:16). Die apostel het nie bedoel dat ons sommer enigiets wat ons wil, selfs woedende, oneerbiedige dinge, in gebed kan sê nie. Maar op grond van Jesus se offerande en sy rol as Hoëpriester kan ons God nader al is ons nog sondaars.
Nog ’n manier waarop die diens van ons Hoëpriester, Jesus Christus, ons nou al tot voordeel kan strek, hou verband met ons sondes of foute. Ons verwag sekerlik nie dat Jesus in die huidige stelsel die volle waarde van sy offerande vir ons sal aanwend nie. Al sou hy dit doen, sal ons nog steeds nie ewige lewe hê nie. Onthou jy die geval wat in Lukas 5:18-26 opgeteken is aangaande die verlamde man wie se bed deur ’n opening in die dak neergelaat is? Jesus het vir hom gesê: “Man, jou sondes is jou vergewe.” Dit het nie beteken dat sekere sondes die verlamming veroorsaak het nie. Dit moes na die man se sondes in die algemeen verwys het en kon in ’n mate oorgeërfde onvolmaaktheid, wat kwale veroorsaak, ingesluit het.
Jesus kon op grond van die offerande wat hy sou opoffer hierdie man se sondes wegdra, soos die bok vir Asasel die sondes van Israel op die Versoendag weggedra het (Levitikus 16:7-10). Maar die verlamde man was steeds ’n mens. Hy sou weer sondig, en mettertyd het hy gesterf, soos alle sondaars moet (Romeine 5:12; 6:23). Wat Jesus gesê het, het nie beteken dat die man daar en dan die ewige lewe ontvang het nie. Maar die man is op daardie tydstip met ’n mate van vergifnis geseën.
Dink nou aan ons situasie. Weens onvolmaaktheid sondig ons daagliks (Jakobus 3:2). Wat kan ons daaromtrent doen? Wel, in die hemel het ons ’n barmhartige Hoëpriester deur wie ons Jehovah in gebed kan nader. Ja, soos Paulus geskryf het, kan ons almal “met vrymoedigheid van spraak tot [God se] troon van onverdiende goedhartigheid nader, sodat ons barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd”. Gevolglik verkry almal wat vandag ’n deel van die ander skape is beslis wonderlike voordele, onder andere ’n skoon gewete, deur Christus se hoëpriesterlike diens.
Alle Christene wat die aardse hoop het, kan uitsien na groter voordele in die naderende nuwe wêreld. Dan sal ons hemelse Hoëpriester die volle waarde van sy offerande aanwend, wat tot volkome vergifnis van sonde sal lei. Hy sal ook groter voordele bied deur na die fisiese en geestelike gesondheid van mense om te sien. En Jesus sal die opvoeding van God se volk op aarde grootliks uitbrei, aangesien onderrigting in die Wet ’n groot verantwoordelikheid van die priesters in Israel was (Levitikus 10:8-11; Deuteronomium 24:8; 33:8, 10). Terwyl Jesus se priesterlike dienste ons dus nou tot voordeel strek, wag daar baie meer op ons!