Hulle het Jehovah se wil gedoen
Filippus doop ’n Etiopiese amptenaar
TERWYL ’n Etiopiër in sy wa gery het, het hy sy tyd wyslik gebruik. Hy het hardop gelees—’n algemene gebruik onder eerste-eeuse reisigers. Hierdie spesifieke man was ’n amptenaar, “’n maghebber onder Kandake, die koningin van die Etiopiërs”.a Hy was “oor al haar skatte”—in werklikheid was hy ’n minister van finansies. Hierdie amptenaar het uit God se Woord gelees om kennis te verwerf.—Handelinge 8:27, 28.
Die evangelis Filippus was daar naby. ’n Engel het hom na hierdie plek gelei, en nou is daar vir hom gesê: “Gaan nader en sluit by hierdie wa aan” (Handelinge 8:26, 29). Ons kan ons voorstel dat Filippus homself sou afvra: ‘Wie is hierdie man? Wat lees hy? Waarom is ek na hom gelei?’
Terwyl Filippus langs die wa gehardloop het, het hy die Etiopiër hierdie woorde hoor lees: “Soos ’n skaap is hy gebring om geslag te word, en soos ’n lam wat stom is voor sy skeerder, so open hy nie sy mond nie. Gedurende sy vernedering is die oordeel van hom weggeneem. Wie sal die besonderhede van sy geslag vertel? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.”—Handelinge 8:32, 33.
Filippus het onmiddellik die gedeelte herken. Dit was uit die boek Jesaja (Jesaja 53:7, 8). Die Etiopiër het nie verstaan wat hy gelees het nie. Filippus het ’n gesprek aangeknoop deur te vra: “Verstaan u werklik wat u lees?” Die Etiopiër het geantwoord: “Hoe sou ek tog ooit kon, tensy iemand my lei?” Hy het Filippus toe gesoebat om by hom in sy wa te kom sit.—Handelinge 8:30, 31.
“Wat verhinder my om gedoop te word?”
“Ek smeek u,” het die Etiopiër vir Filippus gesê, “van wie sê die profeet dit? Van homself of van iemand anders?” (Handelinge 8:34). Dit is nie verbasend dat die Etiopiër in die war was nie, want die identiteit van die “skaap”, of “kneg”, van Jesaja se profesie was lank ’n verborgenheid (Jesaja 53:11). Hoe duidelik moes dit tog gewees het toe Filippus “die goeie nuus oor Jesus” aan die Etiopiër bekend gemaak het! ’n Ruk daarna het die Etiopiër gesê: “Kyk! Water; wat verhinder my om gedoop te word?” Filippus het hom gevolglik net daar gedoop.—Handelinge 8:35-38.
Was dit ’n oorhaastige daad? Glad nie! Die Etiopiër was ’n Joodse proseliet.b Hy was dus reeds ’n aanbidder van Jehovah met ’n kennis van die Skrif, met inbegrip van die Messiaanse profesieë. Sy kennis was egter onvolledig. Noudat hy hierdie noodsaaklike inligting aangaande die rol van Jesus Christus ontvang het, het die Etiopiër verstaan wat God van hom vereis het en was hy gereed om daaraan te voldoen. Dit was gepas dat hy hom laat doop.—Matteus 28:18-20; 1 Petrus 3:21.
Daarna “het Jehovah se gees Filippus gou weggelei”. Hy het na ’n ander toewysing gegaan. Die Etiopiër “het sy reis vreugdevol voortgesit”.—Handelinge 8:39, 40.
’n Les vir ons
As Jehovah se hedendaagse knegte is ons onder verpligting om opregtes van hart te help om die waarheid van God se Woord te leer. Baie het al die goeie nuus met sukses aan ander bekend gemaak terwyl hulle op reis of in ander informele omstandighede was. As gevolg van die Koninkrykspredikingswerk simboliseer honderdduisende elke jaar hulle toewyding aan Jehovah God deur hulle te laat doop.
Nuwelinge moet natuurlik nie oorhaastig aangespoor word om hulle te laat doop nie. Hulle moet eers juiste kennis van Jehovah God en van sy Seun, Jesus Christus, opdoen (Johannes 17:3). Dan moet hulle berou toon deur verkeerde gedrag te laat staan en om te draai sodat hulle aan God se standaarde kan voldoen (Handelinge 3:19). Dit neem tyd, veral as verkeerde denke en gedrag diep ingewortel is. Hoewel nuwelinge die koste van Christendissipelskap moet bereken, het dit groot seëninge tot gevolg as hulle in ’n toegewyde verhouding met Jehovah God kom. (Vergelyk Lukas 9:23; 14:25-33.) Diegene wat Getuies van Jehovah is, rig sulke nuwelinge entoesiasties na die organisasie wat God gebruik om sy wil te volbring (Matteus 24:45-47). Soos die Etiopiër sal hierdie nuwelinge hulle verheug wanneer hulle leer wat God van hulle vereis en aan hierdie vereistes voldoen.
[Voetnote]
a “Kandake” is nie ’n naam nie, maar ’n titel (soos “Farao” en “Caesar”) wat op ’n reeks Etiopiese koninginne betrekking gehad het.
b Proseliete was nie-Israeliete wat gekies het om die Mosaïese Wet te onderhou.—Levitikus 24:22.
[Venster op bladsy 8]
Waarom ’n eunug genoem?
In die verslag in Handelinge hoofstuk 8 word daar deurgaans na die Etiopiër as ’n “eunug” verwys. Maar aangesien die Mosaïese Wet nie ontmande persone in die vergadering toegelaat het nie, was hierdie man klaarblyklik nie ’n eunug in die letterlike sin nie (Deuteronomium 23:1). Die Griekse woord vir “eunug” kan na iemand in ’n hoë posisie verwys. Die Etiopiër was dus ’n amptenaar onder die koningin van Etiopië.