Jou lewe—Wat is die doel daarvan?
“Ek [het] my hart met wysheid gelei . . . totdat ek kon sien wat goed was vir die mensekinders . . . gedurende die getal van hulle lewensdae.”—PREDIKER 2:3, NW.
1, 2. Waarom is dit nie verkeerd om ’n redelike mate van belangstelling in onsself te hê nie?
JY STEL in jouself belang, nie waar nie? Dit is normaal. Daarom eet ons elke dag, slaap ons wanneer ons moeg is en hou ons daarvan om saam met vriende en geliefdes te wees. Soms speel ons, swem ons of doen ons ander dinge wat ons geniet, wat toon dat ons ’n gebalanseerde belangstelling in onsself het.
2 Hierdie belangstelling in onsself kom ooreen met wat God Salomo beweeg het om te skryf: “In die geval van ’n mens is daar niks beters as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk nie.” Uit ondervinding het Salomo bygevoeg: “Ook dit het ek gesien‚ ja ek‚ dat dit uit die hand van die ware God is. Want wie eet en wie drink beter as ek?”—Prediker 2:24, 25, NW.
3. Watter verwarrende vrae vind die meeste mense onbeantwoordbaar?
3 Tog weet jy dat die lewe meer behels as om te eet, te drink, te slaap en om goed te doen. Ons het pyn, teleurstellings en bekommernisse. En dit lyk of ons te besig is om oor die betekenis van ons lewe na te dink. Is dit nie ook met jou die geval nie? Nadat Vermont Royster, voormalige redakteur van The Wall Street Journal, ons uitgebreide kennis en vaardighede in oënskou geneem het, het hy geskryf: “Hier is ’n snaakse ding. Wanneer ons oor die mens self, oor sy dilemmas en oor sy plek in hierdie heelal dink, is ons nie veel verder as toe tyd begin het nie. Ons het steeds vrae oor wie ons is en waarom ons bestaan en waarheen ons gaan.”
4. Waarom behoort elkeen van ons die begeerte te hê om vrae waarby ons betrokke is te kan beantwoord?
4 Hoe sou jy die volgende vrae beantwoord: Wie is ons? Waarom is ons hier? En waarheen gaan ons? Mnr. Royster het in Julie verlede jaar gesterf. Dink jy hy het toe al bevredigende antwoorde gevind? Maar meer tersaaklik: Is daar ’n manier waarop jy dit kan vind? En hoe kan dít jou help om ’n gelukkiger, sinvoller lewe te geniet? Kom ons kyk.
’n Vername bron van insig
5. Waarom moet ons na God kyk wanneer ons insig wil kry in vrae wat met die betekenis van die lewe verband hou?
5 As ons op ons eie na die doel van ons lewe moes soek, sou ons dalk min of geen sukses behaal het, soos dit waar is van die meeste mans en vrouens, selfs van diegene met baie geleerdheid en ondervinding. Maar ons word nie op ons eie gelaat nie. Ons Skepper het hulp voorsien. Dink daaraan: Is hy nie die allerbeste Bron van insig en wysheid, aangesien hy “van ewigheid tot ewigheid” is en sy kennis van die heelal en die geskiedenis volkome is nie? (Psalm 90:1, 2). Hy het die mens geskep en al sy wedervarings waargeneem, daarom is hy die Een na wie ons moet kyk vir insig en nie na onvolmaakte mense, met hulle beperkte kennis en waarnemingsvermoë nie.—Psalm 14:1-3; Romeine 3:10-12.
6. (a) Hoe het die Skepper die nodige insig voorsien? (b) Hoe is Salomo hierby betrokke?
6 Hoewel ons nie van die Skepper kan verwag om ’n openbaring in verband met die betekenis van die lewe in ons oor te fluister nie, het hy ’n bron van insig voorsien—sy geïnspireerde Woord (Psalm 32:8, NW; 111:10, NW). Die boek Prediker is veral van groot waarde in hierdie verband. God het die skrywer daarvan geïnspireer sodat “die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste” (1 Konings 3:6-12; 4:30-34). “Die wysheid van Salomo” het ’n besoekende monarg só beïndruk dat sy gesê het dat die helfte haar nie meegedeel is nie en dat diegene wat sy wysheid hoor inderdaad gelukkig sal wees (1 Konings 10:4-8).a Ook ons kan insig en geluk verkry uit die Goddelike wysheid wat ons Skepper deur middel van Salomo voorsien het.
7. (a) Tot watter slotsom het Salomo gekom wat die meeste bedrywighede onder die hemel betref? (b) Wat lig Salomo se realistiese slotsom toe?
7 Prediker weerspieël godgegewe wysheid, wat Salomo se hart en verstand beïnvloed het. Omdat Salomo die tyd, middele en insig gehad het, het hy “alles wat onder die hemel gebeur”, ondersoek. Hy het gesien dat die meeste daarvan “tevergeefs en ’n gejaag na wind” was, wat ’n geïnspireerde slotsom is wat ons in gedagte moet hou wanneer ons oor ons doel in die lewe dink (Prediker 1:13, 14, 16). Salomo was eerlik, realisties. Dink byvoorbeeld na oor sy woorde wat in Prediker 1:15, 18 gevind word. Jy weet dat mense deur die eeue heen verskillende regeringsvorme op die proef gestel het, en soms het hulle opreg probeer om probleme op te los en om mense se lot te verbeter. Maar het enigeen van hulle werklik alle “krom” dinge in hierdie onvolmaakte stelsel uitgestryk? En jy het moontlik al gesien dat hoe groter ’n persoon se kennis is, hoe duideliker besef hy dat dit onmoontlik is om dinge in ’n kort lewensduur heeltemal reg te stel. Hierdie bewustheid is ’n bron van frustrasie vir baie, maar nie noodwendig vir ons nie.
8. Watter kringlope bestaan lank reeds?
8 Nog ’n gedagte wat in ag geneem moet word, is die kringlope wat telkens herhaal word en wat ’n uitwerking op ons het, soos die opkoms en ondergang van die son of die beweging van wind en water. Dit het bestaan in die dae van Moses, Salomo, Napoleon en ons oupagrootjies. En dit gaan steeds voort. Net so ‘gaan die een geslag en kom die ander geslag’ (Prediker 1:4-7). Uit ’n menslike oogpunt het min verander. Mense van die ou tyd en dié wat vandag lewe, het soortgelyke bedrywighede, verwagtinge, ambisies en prestasies gehad. Selfs as iemand vir hom ’n groot naam onder die mense gemaak het of baie mooi was of besondere vermoëns gehad het, waar is daardie persoon nou? Dood en waarskynlik vergete. Dit is nie ’n morbiede beskouing nie. Die meeste mense ken nie eers die name van hulle oupa- en oumagrootjies nie of kan nie eers sê waar hulle gebore of begrawe is nie. Jy kan sien waarom Salomo realisties was toe hy tevergeefsheid in menslike ondernemings en pogings gesien het.—Prediker 1:9-11.
9. Hoe kan dit ons help as ons insig in die mens se situasie kry?
9 Pleks van ons te frustreer, kan hierdie Goddelike insig in die mens se basiese situasie ’n positiewe uitwerking op ons hê, wat ons sal beweeg om nie ongepaste waarde te heg aan doelwitte of strewes wat weldra weg en vergete sal wees nie. Dit behoort ons te help om te bepaal wat ons nóú in die lewe bereik en wat ons probeer bereik. Ter toeligting: Pleks van askete te wees, kan gebalanseerde eet- en drinkgewoontes ons vreugde verskaf (Prediker 2:24, NW). En, soos ons sal sien, kom Salomo tot ’n baie positiewe en optimistiese slotsom. Kortom, dit is dat ons innige waardering moet hê vir ons verhouding met ons Skepper, wat ons kan help om vir ewig ’n gelukkige, doelgerigte toekoms te geniet. Salomo het die volgende beklemtoon: “Die slot van die saak, ná alles gehoor is, is: Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens.”—Prediker 12:13, NW.
Ons doel met die oog op die lewenskringlope
10. Hoe het Salomo diere en mense met mekaar vergelyk?
10 Die Goddelike wysheid wat in Prediker weerspieël word, kan ons ook help om te kyk wat ons doel in die lewe is. Hoe so? Omdat Salomo op realistiese wyse die aandag gevestig het op ander waarhede waaraan ons dalk selde dink. Die een hou verband met ooreenkomste tussen mense en diere. Jesus het sy volgelinge met skape vergelyk, maar mense hou gewoonlik nie daarvan om met diere vergelyk te word nie (Johannes 10:11-16). Salomo het nietemin ’n paar onbetwisbare feite genoem: “Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is. Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, . . . en ’n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. . . . Alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.”—Prediker 3:18-20.
11. (a) Hoe kan die tipiese lewenskringloop van ’n dier beskryf word? (b) Wat is jou mening van so ’n ontleding?
11 Dink aan ’n dier wat jy graag dophou, miskien ’n dassie of ’n haas (Deuteronomium 14:7; Psalm 104:18; Spreuke 30:26). Of jy stel jou dalk ’n eekhorinkie voor; daar is meer as 300 soorte oor die wêreld. Wat is hulle lewenskringloop? Ná sy geboorte voed sy moeder hom ’n paar weke lank. Weldra is hy vol hare en kan hy dit buite waag. Jy sien moontlik hoe hy rondskarrel en leer om kos te vind. Maar dikwels lyk dit of hy net speel, asof hy sy jonkheid geniet. Nadat hy ’n jaar of wat gegroei het, soek hy ’n maat. Dan moet hy ’n nes bou en vir sy kroos sorg. As hy genoeg bessies, neute en sade vind, sal die eekhoringgesinnetjie moontlik spekvet word en tyd hê om hulle huis groter te maak. Maar in net ’n paar jaar word die diertjie oud en is hy meer geneig tot ongelukke en vatbaarder vir siektes. Op ongeveer tienjarige ouderdom sterf hy. Dit is sy lewenskringloop, met geringe verskille tussen eekhoringsoorte.
12. (a) Waarom kan ons realisties sê dat die lewenskringloop van baie mense soos dié van die meeste diere is? (b) Waaraan kan ons dink wanneer ons weer die dier sien wat ons in gedagte gehad het?
12 Die meeste mense sal nie beswaar maak teen die feit dat ’n dier volgens daardie kringloop lewe nie, en hulle verwag beswaarlik dat ’n eekhorinkie ’n deurdagte doelwit in die lewe moet hê. Maar die lewe van baie mense verskil nie veel daarvan nie, of hoe? Hulle word gebore en as babas versorg. Hulle eet, groei en speel as kinders. Kort voor lank is hulle volwassenes, vind hulle ’n maat en soek hulle ’n plek om te bly en ’n manier om voedsel te voorsien. As hulle suksesvol is, raak hulle dalk geset en brei hulle hulle huis (nes) uit waarin hulle hulle kroos kan grootmaak. Maar die dekades gaan gou verby, en hulle word ouer. Hulle sterf dalk ná 70 of 80 jaar, indien nie vroeër nie, en dit is vol “moeite en verdriet” (Psalm 90:9, 10, 12). Wanneer jy weer ’n eekhorinkie (of ander dier wat jy in gedagte gehad het) sien, kan jy oor hierdie nugtere feite dink.
13. Wat is die uiteinde van diere sowel as mense?
13 Jy kan sien waarom Salomo die lewe van mense met dié van diere vergelyk het. Hy het geskryf: “Alles het sy bepaalde uur, . . . ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe.” Daardie laasgenoemde lot, die dood, is dieselfde vir mens en dier, “soos die een sterwe, so sterwe die ander”. Hy het bygevoeg: “Alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.”—Prediker 3:1, 2, 19, 20.
14. Hoe probeer party mense die gewone lewenskringloop verander, maar met watter gevolg?
14 Ons moenie dink dat hierdie realistiese beskouing negatief is nie. Party probeer weliswaar die situasie verander, soos om ekstra te werk sodat hulle materiële situasie beter sal wees as dié van hulle ouers. Hulle studeer dalk ’n paar jaar verder om ’n hoër lewenstandaard te bereik, terwyl hulle hulle begrip van die lewe probeer verbreed. Of hulle spits hulle moontlik toe op oefeninge of diëte om beter gesondheid te geniet en ’n bietjie langer te lewe. En hierdie pogings bring dalk sekere voordele mee. Maar wie kan daarvan seker wees dat sulke pogings suksesvol sal wees? Selfs as dit is, hoe lank sal dit suksesvol wees?
15. Watter eerlike beoordeling van die meeste mense se lewe is geldig?
15 Salomo het gevra: “Want hoe meer woorde, des te meer vermeerder hulle die nietigheid; watter voordeel het die mens daarvan? Want wie weet wat goed is vir die mens in die lewe gedurende die getal dae van sy nietige lewe wat hy soos ’n skaduwee deurbring? Want wie kan aan die mens bekend maak wat ná hom sal wees?” (Prediker 6:11, 12). Hou dit werklik veel voordeel in om te swoeg om meer materiële dinge te verkry of om baie jare lank te studeer hoofsaaklik om meer besittings aan te skaf as ’n mens in ag neem dat die dood ’n persoon se pogings redelik vinnig beëindig? En aangesien die lewe so kort is, soos ’n skaduwee wat verbygaan, besef baie dat daar nie tyd is om opnuut ’n ander menslike doelwit na te streef wanneer hulle aanvoel dat hulle gefaal het nie; en ’n mens kan ook nie seker wees wat met sy kinders “ná hom” sal gebeur nie.
Tyd Om ’n Goeie Naam Te Maak
16. (a) Wat moet ons doen wat diere nie kan doen nie? (b) Watter ander waarheid behoort ons denke te beïnvloed?
16 Anders as diere het ons as mense die vermoë om te peins: ‘Wat is die betekenis van my bestaan? Is dit net ’n vasgestelde kringloop, met ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf?’ Dink in hierdie verband terug aan die waarheid in Salomo se woorde aangaande mens en dier: “Alles keer na die stof terug.” Beteken dit dat die dood ’n mens se bestaan geheel en al beëindig? Wel, die Bybel toon dat mense nie ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortlewe nie. Mense is siele, en die siel wat sondig, sterf (Esegiël 18:4, 20). Salomo het daarop uitgebrei: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”—Prediker 9:5, 10.
17. Waaroor behoort Prediker 7:1, 2 ons te laat peins?
17 Neem in die lig van daardie onvermydelike feit hierdie woorde in ag: “’n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag. Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem” (Prediker 7:1, 2). Ons moet saamstem dat die dood “die einde van al die mense” is. Geen mens het al ’n elikser gedrink, ’n vitamienmengsel geëet, ’n dieet gevolg of oefeninge gedoen wat tot ewige lewe gelei het nie. En gewoonlik word “hulle nagedagtenis . . . vergeet” kort ná hulle dood. Waarom is ’n naam dus “beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag”?
18. Waarom kan ons daarvan verseker wees dat Salomo in die opstanding geglo het?
18 Soos genoem is, was Salomo realisties. Hy was bewus van sy voorvaders Abraham, Isak en Jakob, wat beslis ’n goeie naam by ons Skepper gemaak het. Omdat Jehovah Abraham goed geken het, het hy belowe om hom en sy nageslag te seën (Genesis 18:18, 19; 22:17). Ja, Abraham het ’n goeie naam by God gehad en sy vriend geword (2 Kronieke 20:7; Jesaja 41:8; Jakobus 2:23). Abraham het geweet dat sy lewe en die lewe van sy seun nie bloot deel van ’n nimmereindigende kringloop van geboorte en dood was nie. Dit het ongetwyfeld meer as dít behels. Hulle het die versekerde vooruitsig gehad om weer te lewe, nie omdat hulle ’n onsterflike siel gehad het nie, maar omdat hulle opgewek sou word. Abraham was daarvan oortuig dat “God [Isak] selfs uit die dode kon opwek”.—Hebreërs 11:17-19.
19. Watter insig kan ons van Job kry wat die betekenis van Prediker 7:1 betref?
19 Dít is ’n leidraad om ons te help verstaan hoe “’n goeie naam . . . beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag” is. Salomo was, net soos Job voor hom, daarvan oortuig dat die Een wat menselewe geskep het dit kan teruggee. Hy kan mense wat gesterf het weer laat lewe (Job 14:7-14). Die getroue Job het gesê: “U [Jehovah] sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:15). Dink net daaraan! Ons Skepper “verlang” na sy lojale knegte wat gesterf het. (“U sou die werk van u hande weer eens wou sien.”—The Jerusalem Bible.) Die Skepper kan mense opwek deur die waarde van die losprysofferande van Jesus Christus aan te wend (Johannes 3:16; Handelinge 24:15). Dit is duidelik dat mense anders kan wees as blote diere wat sterf.
20. (a) Wanneer is die sterfdag beter as die geboortedag? (b) Hoe het Lasarus se opstanding baie mense ongetwyfeld geraak?
20 Dit beteken dat die sterfdag beter kan wees as ’n mens se geboortedag as jy teen daardie tyd ’n goeie naam opgebou het by Jehovah, die Een wat getroues wat sterf, kan opwek. Die Grotere Salomo, Jesus Christus, het dit bewys. Hy het byvoorbeeld die getroue man Lasarus opgewek (Lukas 11:31; Johannes 11:1-44). Soos jy jou kan voorstel, was baie van dié wat gesien het dat Lasarus lewendig word diep geraak, en hulle het geloof in God se Seun gestel (Johannes 11:45). Dink jy hulle het gevoel dat hulle lewe doelloos was, dat hulle geen idee gehad het wie hulle is en waarheen hulle op pad was nie? Inteendeel, hulle kon sien dat hulle nie bloot diere hoef te wees wat gebore word, ’n rukkie lewe en dan sterf nie. Hulle doel in die lewe het direk en nou verband gehou met kennis van Jesus se Vader en die doen van Sy wil. Wat van jou? Het hierdie bespreking jou gehelp om te sien, of om duideliker te sien, hoe jou lewe ’n ware doel kan en moet hê?
21. Watter manier waarop ons sin in die lewe kan vind, wil ons nog ondersoek?
21 Maar om ’n ware en betekenisvolle doel in die lewe te hê, behels baie meer as om aan die dood en die lewe daarna te dink. Dit sluit ook in wat ons van dag tot dag met ons lewe doen. Salomo het dit ook duidelik in Prediker gestel, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnoot]
a “Die verhaal van die koningin van Skeba vestig die aandag op Salomo se wysheid, en die storie is al dikwels ’n legende genoem (1 K. 10:1-13). Maar die konteks toon dat haar besoek aan Salomo eintlik met handelsake verband gehou het en as sodanig is dit verstaanbaar; die egtheid daarvan hoef nie betwyfel te word nie.”—The International Standard Bible Encyclopedia (1988), Deel IV, bladsy 567.
Onthou jy?
◻ In watter opsigte is diere en mense eenders?
◻ Waarom beklemtoon die dood dat baie van die mens se pogings en bedrywighede tevergeefs is?
◻ Hoe kan die sterfdag beter as die geboortedag wees?
◻ Van watter verhouding hang ’n betekenisvolle doel in die lewe af?
[Prente op bladsy 10]
Hoe verskil jou lewe aansienlik van dié van diere?