Hulle het Jehovah se wil gedoen
Jesus word as Messias en Koning verwelkom!
DIE luidrugtige skare wat Jerusalem op 9 Nisan 33 G.J. binnegegaan het, het baie Judeërs verras. Hoewel dit nie ongewoon was om mense voor die Pasga in die stad te sien instroom nie, was hierdie besoekers anders. Die hooffiguur onder hulle was ’n man wat op die hingsvul van ’n eselin gery het. Die man was Jesus Christus, en die mense het kledingstukke en palmtakke voor hom uitgesprei terwyl hulle uitgeroep het: “Red tog die Seun van Dawid! Geseënd is hy wat in Jehovah se naam kom! Red hom tog in die hoogtes daar bo!” Baie wat reeds in Jerusalem was, is beweeg om by die optog aan te sluit toe hulle die skare sien.—Matteus 21:7-9; Johannes 12:12, 13.
Alhoewel die skare Jesus nou verwelkom het, het hy geweet dat beproewinge vir hom voorlê. Trouens, oor net vyf dae sou hy in hierdie einste stad doodgemaak word! Ja, Jesus het geweet dat Jerusalem vyandelike gebied was, en hy het sy opsigtelike intog in die stad gereël met juis dit in gedagte.
’n Baie ou profesie vervul
In 518 v.G.J. het Sagaria Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem voorspel. Hy het geskryf: “Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ’n esel—op ’n jong esel, die vul van ’n eselin. . . . Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.”—Sagaria 9:9, 10.
Jesus se intog in Jerusalem op 9 Nisan het dus ’n Bybelprofesie vervul. Dit was nie ’n toevallige gebeurtenis nie maar was noukeurig beplan. Jesus het vroeër, terwyl hulle net buite Jerusalem was, vir twee van sy dissipels opdrag gegee: “Gaan in die dorpie in wat julle voor julle sien, en julle sal dadelik ’n eselin vind wat vasgemaak is, en ’n hingsvul by haar; maak hulle los en bring hulle na my toe. En as iemand enigiets vir julle sê, moet julle sê: ‘Die Here het hulle nodig.’ Dan sal hy hulle onmiddellik stuur” (Matteus 21:1-3). Maar waarom wou Jesus op ’n esel in Jerusalem inry, en wat was die betekenis van die skare se reaksie?
’n Boodskap oor koningskap
’n Visuele beeld is dikwels kragtiger as die gesproke woord. Jehovah het sy profete dus met tye hulle boodskap laat uitbeeld om groter krag aan hulle profetiese boodskap te verleen (1 Konings 11:29-32; Jeremia 27:1-6; Esegiël 4:1-17). Hierdie uiters visuele kommunikasiemiddel het ’n onuitwisbare indruk op die verstand van selfs die gevoelloosste waarnemer gelaat. Jesus het op ’n soortgelyke manier ’n kragtige boodskap uitgebeeld deur op ’n esel in die stad Jerusalem in te ry. Hoe?
In Bybelse tye is die esel vir edel doeleindes gebruik. Salomo het byvoorbeeld op sy vader se “muil”, ’n bastervul van ’n eselhings, gery toe hy as koning gesalf sou word (1 Konings 1:33-40). As Jesus op ’n esel in Jerusalem ingery het, sou dit dus beteken dat hy homself as ’n koning aanbied.a Die optrede van die skare het groter krag verleen aan hierdie boodskap. Die groep, wat ongetwyfeld meestal uit Galileërs bestaan het, het hulle kledingstukke voor Jesus uitgesprei—’n gebaar wat ’n mens laat dink aan die openbare aankondiging van Jehu se koningskap (2 Konings 9:13). Die feit dat hulle na Jesus verwys het as “die Seun van Dawid” het sy wettige reg op heerskappy beklemtoon (Lukas 1:31-33). En hulle gebruik van palmtakke het klaarblyklik hulle onderdanigheid aan sy koninklike gesag getoon.—Vergelyk Openbaring 7:9, 10.
Die optog wat Jerusalem op 9 Nisan binnegekom het, het dus die duidelike boodskap uitgestuur dat Jesus God se aangestelde Messias en Koning is. Nie almal was natuurlik bly om te sien dat Jesus op hierdie manier voorgestel word nie. Dit was veral die Fariseërs wat gedink het dat dit uiters ongepas was dat Jesus met sulke koninklike eer oorlaai word. “Leermeester”, het hulle ongetwyfeld woedend aangedring, “bestraf u dissipels.” Jesus het geantwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep” (Lukas 19:39, 40). Ja, God se Koninkryk was die tema van Jesus se prediking. Hy sou hierdie boodskap moedig verkondig, hetsy mense dit aanvaar het of nie.
Les vir ons
Dit het groot moed van Jesus geverg om Jerusalem binne te gaan op die manier waarop die profeet Sagaria voorspel het. Hy het geweet dat hy hom sodoende die toorn van sy vyande op die hals haal. Voordat Jesus in die hemel opgevaar het, het hy sy volgelinge opdrag gegee om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en om “dissipels van mense van al die nasies” te maak (Matteus 24:14; 28:19, 20). Om hierdie werk te doen, verg ook moed. Nie almal is bly om die boodskap te hoor nie. Sommige stel nie daarin belang nie, terwyl ander dit teëstaan. Sommige regerings het beperkings op die predikingswerk geplaas of dit heeltemal verbied.
Jehovah se Getuies besef nietemin dat die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk verkondig moet word, hetsy mense luister of nie (Esegiël 2:7). Terwyl hulle voortgaan om hierdie lewensreddende werk te doen, word hulle gerusgestel deur Jesus se belofte: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge.”—Matteus 28:20.
[Voetnoot]
a Markus se verslag voeg by dat dit ’n hingsvul was “waarop geen mens nog gesit het nie” (Markus 11:2). Klaarblyklik was ’n dier wat nog nie gebruik is nie veral geskik vir heilige doeleindes.—Vergelyk Numeri 19:2; Deuteronomium 21:3; 1 Samuel 6:7.