Laat ons vashou aan ons kosbare geloof!
“Aan dié wat ’n geloof verkry het wat as net so ’n groot voorreg beskou word as ons s’n.”—2 PETRUS 1:1.
1. Watter waarskuwing het Jesus vir sy apostels gegee, maar hoe het Petrus gespog?
DIE aand voor Jesus se dood het hy gesê dat al sy apostels hom sou verlaat. Een van hulle, Petrus, het gespog: “Al word al die ander in verband met u tot struikeling gebring, sal ek nooit tot struikeling gebring word nie!” (Matteus 26:33). Maar Jesus het geweet wat sou gebeur. Daarom het hy by daardie selfde geleentheid vir Petrus gesê: “Ek het ’n smeekbede vir jou gedoen dat jou geloof jou nie begewe nie; en jy moet, wanneer jy eers teruggekeer het, jou broers versterk.”—Lukas 22:32.
2. Watter dade van Petrus het getoon dat sy geloof swak was, ondanks sy selfversekerdheid?
2 Petrus, wat te selfversekerd geraak het met betrekking tot sy geloof, het Jesus daardie selfde nag verloën. Drie keer het hy gesê dat hy Christus nie eers ken nie! (Matteus 26:69-75). Toe hy “teruggekeer” het, het sy Heer se woorde, ‘versterk jou broers’ ongetwyfeld duidelik in sy ore weerklink. Daardie vermaning het ’n groot invloed op die res van Petrus se lewe gehad, soos getoon word deur sy twee briewe, wat in die Bybel bewaar is.
Waarom Petrus sy briewe geskryf het
3. Waarom het Petrus sy eerste brief geskryf?
3 Petrus het sy eerste brief omtrent 30 jaar ná Jesus se dood geskryf en dit gerig aan sy broers in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, gebiede wat nou deel is van noordelike en westelike Turkye (1 Petrus 1:1). Daar was ongetwyfeld ook Jode, van wie party met Pinkster 33 G.J. Christene geword het, onder diegene aan wie Petrus geskryf het (Handelinge 2:1, 7-9). Baie was nie-Jode wat vurige beproewinge deur teenstanders verduur het (1 Petrus 1:6, 7; 2:12, 19, 20; 3:13-17; 4:12-14). Daarom het Petrus aan hierdie broers geskryf om hulle aan te moedig. Sy doel was om hulle te help om ‘die einde van hulle geloof te ontvang, die redding van hulle siele’. In sy afskeidsraad het hy hulle gevolglik aangespoor: “Weerstaan [die Duiwel], vas in die geloof.”—1 Petrus 1:9; 5:8-10.
4. Waarom het Petrus sy tweede brief geskryf?
4 Later het Petrus ’n tweede brief aan hierdie Christene geskryf (2 Petrus 3:1). Waarom? Omdat ’n selfs groter bedreiging bestaan het. Onsedelike persone het hulle verontreinigende gedrag onder gelowiges probeer bevorder en het party verlei! (2 Petrus 2:1-3). Daarbenewens het Petrus gewaarsku dat daar spotters sou wees. Hy het in sy eerste brief geskryf dat ‘die einde van alle dinge naby gekom het’, en nou het party blykbaar die spot gedryf met hierdie idee (1 Petrus 4:7; 2 Petrus 3:3, 4). Kom ons ondersoek Petrus se tweede brief en kyk hoe dit die broers gehelp het om standvastig te bly in die geloof. In hierdie eerste artikel sal ons 2 Petrus hoofstuk 1 bespreek.
Die doel van hoofstuk 1
5. Hoe berei Petrus sy lesers voor op ’n bespreking van probleme?
5 Petrus bespreek nie onmiddellik die ernstige probleme nie. Maar hy berei sy lesers eers op die bespreking van hierdie probleme voor deur hulle waardering op te bou vir wat hulle ontvang het toe hulle Christene geword het. Hy herinner hulle aan die wonderlike beloftes van God en die betroubaarheid van Bybelprofesieë. Hy doen dit deur te vertel van die gedaanteverandering, die visioen wat hy persoonlik van Christus in Koninkryksmag gehad het.—Matteus 17:1-8; 2 Petrus 1:3, 4, 11, 16-21.
6, 7. (a) Watter les kan ons uit die inleiding tot Petrus se brief leer? (b) Wat sal dit soms nuttig wees om te erken wanneer ons raad gee?
6 Kan ons ’n les uit Petrus se inleiding leer? Is raad nie makliker om aan te neem as ons eers met ons hoorders aspekte van die wonderlike Koninkrykshoop bespreek wat ons gemeen het nie? Kan ons nie dalk ook ’n persoonlike ondervinding gebruik nie? Petrus het waarskynlik dikwels ná Jesus se dood gepraat van die keer toe hy daardie visioen van Christus in Koninkryksheerlikheid gesien het.—Matteus 17:9.
7 Onthou ook dat Matteus se Evangelie en die apostel Paulus se brief aan die Galasiërs na alle waarskynlikheid al wyd versprei was teen die tyd toe Petrus sy tweede brief geskryf het. Petrus se menslike tekortkominge sowel as sy algemene reputasie vir getrouheid was dus moontlik goed bekend onder sy tydgenote (Matteus 16:21-23; Galasiërs 2:11-14). Dit het egter nie sy vrymoedigheid van spraak weggeneem nie. Trouens, dit het sy brief dalk groter weerklank laat vind by dié wat bewus was van hulle eie swakhede. Wanneer ons mense met probleme help, sou dit dan nie ook doeltreffend wees as ons erken dat ons ook dikwels foute maak nie?—Romeine 3:23; Galasiërs 6:1.
’n Bemoedigende groet
8. In watter sin het Petrus waarskynlik die woord “geloof” gebruik?
8 Kyk nou na Petrus se groet. Hy maak onmiddellik melding van geloof en spreek sy lesers aan as “dié wat ’n geloof verkry het wat as net so ’n groot voorreg beskou word as ons s’n” (2 Petrus 1:1). Hier beteken die uitdrukking “’n geloof” waarskynlik “vaste oortuiging” en verwys dit na al die Christelike opvattings of leringe, wat in die Skrif soms “die waarheid” genoem word (Galasiërs 5:7; 2 Petrus 2:2; 2 Johannes 1). Die woord “geloof” word dikwels in hierdie sin gebruik in plaas van in die algemene sin van vertroue wat in iemand of iets gestel word.—Handelinge 6:7; 2 Korintiërs 13:5; Galasiërs 6:10; Efesiërs 4:5; Judas 3.
9. Waarom sou Petrus se groet veral vir nie-Jode hartlik geklink het?
9 Petrus se groet moes veral vir nie-Joodse lesers baie hartlik geklink het. Jode het niks met nie-Jode te doen gehad nie en het hulle selfs verag; vooroordeel teen nie-Jode het nog steeds bestaan, selfs onder Jode wat Christene geword het (Lukas 10:29-37; Johannes 4:9; Handelinge 10:28). Tog het Petrus, ’n gebore Jood en ’n apostel van Jesus Christus, gesê dat sy lesers—Jode en nie-Jode—dieselfde geloof het en net so ’n groot voorreg as hy het.
10. Watter lesse kan ons uit Petrus se groet leer?
10 Dink aan die uitstekende lesse wat Petrus se groet ons vandag leer. God is nie partydig nie; hy begunstig nie een ras of nasionaliteit bo ’n ander nie (Handelinge 10:34, 35; 11:1, 17; 15:3-9). Soos Jesus self geleer het, is alle Christene broers, en nie een van ons moet meerderwaardig voel nie. Verder beklemtoon Petrus se groet dat ons inderdaad ’n wêreldwye broederskap is, waarin “dit as net so ’n groot voorreg beskou word” om die geloof te hê wat Petrus en sy medeapostels gehad het.—Matteus 23:8; 1 Petrus 5:9.
Kennis en God se beloftes
11. Watter noodsaaklike dinge beklemtoon Petrus ná sy groet?
11 Ná sy groet skryf Petrus: “Mag onverdiende goedhartigheid en vrede vir julle vermeerder word.” Hoe word onverdiende goedhartigheid en vrede vir ons vermeerder? “Deur ’n juiste kennis van God en van Jesus, ons Here,” antwoord Petrus. Dan sê hy: “Goddelike krag [het] ons al die dinge wat met lewe en godvrugtige toegewydheid verband hou vryelik gegee.” Maar hoe ontvang ons hierdie noodsaaklike dinge? “Deur die juiste kennis van die een wat ons deur heerlikheid en deug geroep het.” Sodoende beklemtoon Petrus twee maal dat ’n juiste kennis van God en sy Seun noodsaaklik is.—2 Petrus 1:2, 3; Johannes 17:3.
12. (a) Waarom beklemtoon Petrus die noodsaaklikheid van juiste kennis? (b) Wat moes ons eers gedoen het om die vervulling van God se beloftes te kan beleef?
12 Die “valse leermeesters” teen wie Petrus in hoofstuk 2 waarsku, maak gebruik van “vals woorde” om Christene te bedrieg. Op hierdie manier probeer hulle hulle verlei om terug te keer na die onsedelikheid waaruit hulle bevry is. Die gevolge vir enigiemand wat gered is deur “’n juiste kennis van die Here en Redder Jesus Christus” en wat later voor sulke versoeking swig, is rampspoedig (2 Petrus 2:1-3, 20). Voordat Petrus later hierdie probleem bespreek, beklemtoon hy heel aan die begin van sy brief die noodsaaklikheid van juiste kennis om ’n rein posisie voor God te behou. Petrus noem dat God “ons die kosbare en uiters grootse beloftes vryelik gegee [het], sodat julle hierdeur deelgenote in die goddelike natuur kan word”. Maar Petrus sê dat ons eers “aan die verdorwenheid [moes] ontvlug het wat deur wellus in die wêreld is” as ons die vervulling van hierdie beloftes, wat ’n integrale deel van ons geloof is, wil beleef.—2 Petrus 1:4.
13. Waaraan is gesalfde Christene sowel as “ander skape” vasbeslote om vas te hou?
13 Hoe beskou jy God se beloftes? Soos die oorblyfsel van gesalfde Christene dit beskou? In 1991 het Frederick Franz, destyds die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, wat meer as 75 jaar in die voltydse bediening was, die gevoelens van dié wat hoop om saam met Christus te regeer soos volg opgesom: “Ons volhard tot nou toe, en ons gaan volhard tot God inderdaad sy ‘grootse en kosbare beloftes’ nakom.” Broer Franz het sy vaste vertroue in God se belofte van ’n hemelse opstanding behou, en hy het aan die geloof vasgehou tot hy op 99-jarige leeftyd gesterf het (1 Korintiërs 15:42-44; Filippense 3:13, 14; 2 Timoteus 2:10-12). Miljoene ander hou eweneens vas aan die geloof en vestig hulle aandag op God se belofte van ’n aardse paradys waarin mense vir ewig in geluk sal woon. Is jy een van hulle?—Lukas 23:43; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.
Reageer op God se beloftes
14. Waarom noem Petrus deug as die eerste eienskap wat by geloof gevoeg moet word?
14 Is ons dankbaar teenoor God vir wat hy belowe het? Indien wel, sê Petrus, moet ons dit wys. “Ja, juis om dié rede” (omdat God ons uiters kosbare beloftes gegee het), moet ons ’n daadwerklike poging aanwend om daarop te reageer. Ons kan nie daarmee tevrede wees om net in die geloof te wees of om net bekend te wees met Bybelwaarheid nie. Dit is nie genoeg nie! Moontlik het party gemeentelede in Petrus se dag baie oor geloof gepraat, maar hulle aan onsedelike gedrag skuldig gemaak. Hulle gedrag moes deugsaam wees, en daarom maan Petrus: ‘Voeg deug by julle geloof.’—2 Petrus 1:5; Jakobus 2:14-17.
15. (a) Waarom word kennis ná deug genoem as ’n eienskap wat by geloof gevoeg moet word? (b) Watter ander eienskappe sal ons toerus om aan die geloof vas te hou?
15 Ná deug noem Petrus ses ander eienskappe wat by ons geloof gevoeg moet word. Hulle is almal nodig as ons ‘in die geloof wil vasstaan’ (1 Korintiërs 16:13). Omdat afvalliges “die Skrif verdraai” en “bedrieglike leringe” verkondig het, sê Petrus verder dat kennis noodsaaklik is: “[Voeg] by julle deug kennis.” Dan gaan hy voort: “[Voeg] by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid, by julle godvrugtige toegewydheid broederlike geneentheid, by julle broederlike geneentheid liefde.”—2 Petrus 1:5-7; 2:12, 13; 3:16.
16. Wat sal gebeur as die eienskappe wat Petrus noem by geloof gevoeg word, maar wat sal gebeur as hulle nie daarby gevoeg word nie?
16 Wat sal gebeur as hierdie sewe dinge by ons geloof gevoeg word? “As hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is”, antwoord Petrus, “sal dit verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar word met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus” (2 Petrus 1:8). Aan die ander kant, sê Petrus: “As hierdie dinge by iemand nie aanwesig is nie, is hy blind en sluit hy sy oë vir die lig, en het hy die reiniging van sy sondes van lank gelede vergeet” (2 Petrus 1:9). Let op dat Petrus hier nie meer van “julle” en “ons” praat nie, maar van “iemand”, “hy” en “sy”. Hoewel party ongelukkig blind, vergeetagtig en onrein is, impliseer Petrus op goedhartige wyse nie dat die leser so iemand is nie.—2 Petrus 2:2.
Hy versterk sy broers
17. Wat was moontlik die rede vir Petrus se liefdevolle aanmoediging om “hierdie dinge” te beoefen?
17 Moontlik omdat Petrus besef het dat veral nuwelinge maklik bedrieg kan word, moedig hy hulle liefdevol aan: “Broers, [julle moet] des te meer julle uiterste bes doen om julle roeping en verkiesing vir julleself te verseker; want as julle aanhou om hierdie dinge te doen, sal julle beslis nooit faal nie” (2 Petrus 1:10; 2:18). Gesalfde Christene wat hierdie sewe dinge by hulle geloof voeg, sal ’n wonderlike beloning ontvang, soos Petrus sê: “Die ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Redder Jesus Christus [sal] ryklik aan julle verskaf word” (2 Petrus 1:11). Die “ander skape” sal eweneens ’n ewige erfenis in die aardse gebied van God se Koninkryk ontvang.—Johannes 10:16; Matteus 25:33, 34.
18. Waarom is Petrus geneig om sy broers ‘altyd te herinner’?
18 Petrus se opregte begeerte is dat sy broers so ’n wonderlike beloning ontvang. “Om dié rede”, skryf hy, “sal ek geneig wees om julle altyd aan hierdie dinge te herinner, hoewel julle hulle ken en vasstaan in die waarheid” (2 Petrus 1:12). Petrus gebruik die Griekse woord ste·riʹzo, wat hier met “vasstaan” vertaal word, maar as “versterk” weergegee word in Jesus se vroeëre aansporing aan Petrus: ‘Versterk jou broers’ (Lukas 22:32). Die gebruik van daardie woord impliseer dalk dat Petrus die kragtige aansporing onthou wat hy van sy Heer ontvang het. Petrus sê nou: “Ek ag dit reg, solank ek in hierdie tabernakel [menslike liggaam] is, om julle deur herinnering op te wek, aangesien ek weet dat die aflegging van my tabernakel op hande is.”—2 Petrus 1:13, 14.
19. Watter hulpmiddele het ons vandag nodig?
19 Hoewel Petrus vriendelik sê dat sy lesers “vasstaan in die waarheid”, besef hy dat hulle geloof skipbreuk kan ly (1 Timoteus 1:19). Aangesien hy weet dat hy binnekort gaan sterf, versterk hy sy broers deur dinge te noem wat hulle later kan herroep om hulle geestelik sterk te hou (2 Petrus 1:15; 3:12, 13). Ons het vandag eweneens voortdurend herinneringe nodig om in die geloof te bly vasstaan. Ongeag wie ons is of hoe lank ons in die waarheid is, ons kan nie gereelde Bybellees, persoonlike studie en bywoning van gemeentelike vergaderinge afskeep nie. Party maak verskonings wanneer hulle dit nie bywoon nie en sê dat hulle te moeg is of dat die vergaderinge eentonig is of nie goed aangebied word nie, maar Petrus het geweet hoe gou enigeen van ons ons geloof kan verloor as ons te selfversekerd raak.—Markus 14:66-72; 1 Korintiërs 10:12; Hebreërs 10:25.
’n Vaste grondslag vir ons geloof
20, 21. Hoe het die gedaanteverandering die geloof van Petrus en dié wat sy briewe gelees het, ook ons vandag, versterk?
20 Rus ons geloof maar net op slim versinde mites? “Nee,” antwoord Petrus nadruklik, “dit was nie deur kunstig versinde valse stories te volg dat ons die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie, maar deurdat ons ooggetuies van sy luisterrykheid geword het.” Petrus, Jakobus en Johannes was by Jesus toe hulle ’n visioen van hom in Koninkryksmag gesien het. Petrus verduidelik: “Hy het eer en heerlikheid van God die Vader ontvang toe woorde soos hierdie deur die luisterryke heerlikheid tot hom gekom het: ‘Dit is my seun, my geliefde, wat ek self goedgekeur het.’ Ja, hierdie woorde het ons uit die hemel hoor kom terwyl ons saam met hom op die heilige berg was.”—2 Petrus 1:16-18.
21 Toe Petrus, Jakobus en Johannes daardie visioen gesien het, het die Koninkryk beslis vir hulle iets werkliks geword. “Gevolglik”, sê Petrus, “is die profetiese woord vir ons vaster gemaak; en julle doen goed deur aandag daaraan te skenk.” Ja, dié wat Petrus se brief gelees het, ook ons vandag, het grondige rede om aandag te skenk aan die profesieë oor God se Koninkryk. Op watter manier moet ons aandag skenk? Petrus antwoord: “Soos aan ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan, in julle harte.”—2 Petrus 1:19; Daniël 7:13, 14; Jesaja 9:5, 6.
22. (a) Waarvoor moet ons ons harte gereed hou? (b) Hoe skenk ons aandag aan die profetiese woord?
22 Ons harte sou donker wees sonder die verligting van die profetiese woord. Maar deur daaraan aandag te skenk, het Christene hulle harte gereed gehou vir die dag wanneer die “dagster”, Jesus Christus, in Koninkryksheerlikheid verrys (Openbaring 22:16). Hoe skenk ons vandag aandag aan die profetiese woord? Deur Bybelstudie, deur voorbereiding vir die vergaderinge en deelname daaraan en deur ‘hierdie dinge te bepeins en daarin verdiep te wees’ (1 Timoteus 4:15). As die profetiese woord soos ’n lamp moet wees wat in ’n “donker plek” (ons hart) skyn, moet ons dit toelaat om ’n groot invloed op ons te hê—op ons begeertes, emosies, beweegredes en doelwitte. Ons moet Bybelstudente wees, want Petrus sluit hoofstuk 1 af: “Geen profesie van die Skrif [spruit] uit enige eie uitlegging [voort] nie. Want profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 Petrus 1:20, 21.
23. Waarop het die eerste hoofstuk van 2 Petrus lesers voorberei?
23 In die eerste hoofstuk van sy tweede brief het Petrus kragtige redes voorsien waarom ons aan ons kosbare geloof moet vashou. Ons is nou voorbereid op ’n bespreking van die ernstige sake wat volg. Die volgende artikel sal hoofstuk 2 van 2 Petrus bespreek, waarin die apostel aandag gee aan die uitdaging van onsedelike invloede wat in die gemeentes ingedring het.
Onthou jy?
◻ Waarom beklemtoon Petrus die noodsaaklikheid van juiste kennis?
◻ Wat is moontlik die rede waarom deug as die eerste eienskap genoem word wat by geloof gevoeg moet word?
◻ Waarom is Petrus geneig om sy broers altyd te herinner?
◻ Watter vaste grondslag voorsien Petrus vir ons geloof?
[Prent op bladsy 9]
Petrus se tekortkominge het hom nie sy geloof laat prysgee nie