Volg hulle geloof na
Hy het by sy Heer vergifnis geleer
PETRUS sou nooit daardie verskriklike oomblik vergeet toe hulle oë ontmoet het nie. Het hy enige teleurstelling of verwyt in Jesus se oë gesien? Ons kan nie vir seker sê nie; die geïnspireerde verslag sê net dat “die Here . . . omgedraai en Petrus aangekyk” het (Lukas 22:61). Maar in hierdie vlugtige blik het Petrus gesien hoe droewig hy misluk het. Hy het besef dat hy nou net presies gedoen het wat Jesus voorspel het, die een ding wat Petrus volgehou het hy nooit sou doen nie—hy het sy geliefde Heer verloën. Dit was vir Petrus ’n laagtepunt, moontlik die slegste oomblik van die slegste dag van sy lewe.
Alles was egter nie verlore nie. Omdat Petrus ’n man van groot geloof was, het hy nog die geleentheid gehad om van sy foute te herstel en een van Jesus se grootste lesse te leer. Dit het met vergifnis te doen gehad. Elkeen van ons moet dieselfde les leer; kom ons kyk dus hoe Petrus hierdie moeilike les geleer het.
’n Man wat baie gehad het om te leer
Ongeveer ses maande vroeër in sy tuisdorp Kapernaum het Petrus na Jesus toe gegaan en gevra: “Here, hoeveel keer kan my broer teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe keer?” Petrus het waarskynlik gedink dat hy groothartig is. Die godsdiensleiers van daardie tyd het immers geleer dat ’n mens net drie keer hoef te vergewe! Jesus het geantwoord: “Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’.”—Matteus 18:21, 22.
Het Jesus bedoel dat Petrus van ’n oortreder se dade moet boekhou? Nee; deur Petrus se 7 na 77 te verander, het hy eerder gesê dat daar geen arbitrêre beperking op vergifnis is nie. Jesus het getoon dat Petrus beïnvloed is deur die hardvogtige en onvergewensgesinde gees wat destyds geheers het, waarvolgens vergifnis verleen is asof dit in ’n rekenmeester se kasboek opgeskryf word. God vergewe egter mildelik.
Petrus het nie met Jesus gestry nie. Maar het Jesus se les werklik sy hart bereik? Soms leer ons die meeste omtrent vergifnis wanneer ons besef hoe dringend ons dit self nodig het. Kom ons keer dus terug na die gebeure wat Jesus se dood voorafgegaan het. In daardie moeilike ure het Petrus sy Heer baie dinge gegee om te vergewe.
’n Toenemende behoefte aan vergifnis
Dit was ’n belangrike aand—die laaste nag van Jesus se aardse lewe. Jesus het nog baie gehad om sy apostels te leer—byvoorbeeld oor nederigheid. Jesus het ’n voorbeeld gestel deur nederig hulle voete te was, ’n taak wat gewoonlik aan een van die geringste knegte toegewys is. Eers het Petrus Jesus se optrede bevraagteken. Toe het hy geweier dat Jesus sy voete was. Daarna het hy daarop aangedring dat Jesus nie net sy voete was nie, maar ook sy hande en sy kop! Jesus het nie sy geduld verloor nie, maar het kalm die belangrikheid en betekenis verduidelik van wat hy doen.—Johannes 13:1-17.
Maar kort daarna het die apostels begin stry oor wie van hulle die grootste is. Petrus het sekerlik ’n deel gehad aan hierdie skandelike vertoon van menslike trots. Jesus het hulle nietemin liefdevol reggehelp en hulle selfs geprys vir wat hulle goed gedoen het—hulle was getrou deur altyddeur by hulle Heer te bly. Hy het egter voorspel dat hulle hom almal sou verlaat. Petrus het geantwoord dat hy by Jesus sou bly selfs al sou dit sy dood beteken. Jesus het voorspel dat Petrus egter sy Heer daardie selfde nag drie keer sou verloën voordat ’n haan twee keer gekraai het. Toe het Petrus Jesus nie net weerspreek nie, maar gespog dat hy getrouer as al die ander apostels sou wees!—Matteus 26:31-35; Markus 14:27-31; Lukas 22:24-28.
Was Jesus op die punt om sy geduld met Petrus te verloor? Nee, Jesus het eerder regdeur hierdie moeilike tyd na die goeie in sy onvolmaakte apostels bly soek. Hoewel hy geweet het dat Petrus hom sou teleurstel, het hy gesê: “Ek het ’n smeekbede vir jou gedoen dat jou geloof jou nie begewe nie; en wanneer jy dan teruggekeer het, moet jy jou broers versterk” (Lukas 22:32). Deur dit te sê, het Jesus sy vertroue uitgespreek dat Petrus geestelik sou herstel en weer getroue diens sou verrig. Wat ’n liefdevolle, vergewensgesinde gees!
Later, in die tuin van Getsemane, moes Petrus meer as een keer reggehelp word. Jesus het hom, sowel as Jakobus en Johannes, gevra om aan te hou waak terwyl Hy bid. Jesus was in sielsangs en het ondersteuning nodig gehad, maar Petrus en die ander het herhaaldelik aan die slaap geraak. Die volgende woorde van Jesus het van empatie en vergewensgesindheid getuig: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak.”—Markus 14:32-38.
Kort voor lank het ’n oproerige skare daar aangekom, met fakkels in die hand en gewapen met swaarde en knuppels. Dit was nou ’n tyd om omsigtig en oordeelkundig te werk te gaan. Maar Petrus het roekeloos opgetree deur ’n swaard te swaai na die kop van Malgus, ’n slaaf van die hoëpriester, en een van sy ore af te kap. Jesus het Petrus kalm reggehelp, die wond genees en die beginsel van geweldloosheid verduidelik waardeur sy volgelinge tot vandag toe gerig word (Matteus 26:47-55; Lukas 22:47-51; Johannes 18:10, 11). Petrus het sy Heer alreeds baie gegee om te vergewe. Sy geval herinner ons dalk dat ‘ons almal dikwels struikel’ (Jakobus 3:2). Wie van ons het nie elke dag God se vergifnis nodig nie? Maar vir Petrus was die aand nog lank nie verby nie. Erger dinge het voorgelê.
Petrus se grootste mislukking
Jesus het met die skare geredeneer dat as dit hy is na wie hulle soek, hulle sy apostels moet laat gaan. Petrus het hulpeloos toegekyk terwyl die skare Jesus vasgebind het. Toe het Petrus gevlug, en so ook sy mede-apostels.
Petrus en Johannes het in hulle spore vasgesteek, dalk naby die huis van die voormalige hoëpriester Annas, waarheen Jesus eers geneem is om ondervra te word. Toe Jesus van daar af weggelei is, het Petrus en Johannes hom gevolg, maar “op ’n aansienlike afstand” (Matteus 26:58; Johannes 18:12, 13). Petrus was glad nie ’n lafaard nie. Dit het beslis moed geverg om Jesus enigsins te volg. Die skare was gewapen, en Petrus het reeds een van hulle gewond. Nogtans sien ons nie hier in Petrus se voorbeeld die soort lojale liefde wat hy verklaar het nie—’n gewilligheid om aan sy Heer se sy te sterf indien nodig.—Markus 14:31.
Soos Petrus probeer baie mense vandag om Christus “op ’n aansienlike afstand” te volg—op so ’n manier dat niemand anders sal agterkom nie. Maar soos Petrus self later geskryf het, is die enigste regte manier om Christus te volg, om so na as moontlik aan hom te bly en sy voorbeeld in alles te volg, ongeag die gevolge.—1 Petrus 2:21.
Petrus se versigtige treë het hom uiteindelik geneem tot by die hek van een van Jerusalem se indrukwekkendste herehuise. Dit was die huis van Kajafas, die ryk en magtige hoëpriester. Sulke huise is gewoonlik om ’n binnehof gebou, met ’n hek aan die voorkant. Petrus het die hek bereik en is toegang geweier. Johannes, wat reeds binne was, het gekom en die deurwagter oortuig om Petrus in te laat. Petrus het blykbaar nie naby Johannes gebly nie; hy het ook nie in die huis probeer inkom om aan sy Heer se sy te staan nie. Hy het in die binnehof gebly, waar ’n paar slawe en diensknegte die koue nagtelike ure voor ’n helder vuur deurgebring het en toegekyk het hoe die valse getuies teen Jesus in- en uitgegaan het tydens die verhoor wat binne plaasgevind het.—Markus 14:54-57; Johannes 18:15, 16, 18.
In die lig van die vuur kon die meisie wat Petrus by die hek ingelaat het, hom beter sien. Sy het hom geken. Sy het beskuldigend gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër!” Petrus is onkant gevang en het ontken dat hy Jesus ken—of selfs weet waarvan die meisie praat. Hy het naby die poortdeur gaan staan om onopsigtelik te probeer wees, maar ’n ander meisie het hom opgemerk en dieselfde feit gemeld: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” Petrus het gesweer: “Ek ken die man nie!” (Matteus 26:69-72). Dalk was dit ná hierdie tweede ontkenning dat Petrus ’n haan hoor kraai het, maar hy was te verbouereerd om te dink aan die profesie wat Jesus net ure tevore geuiter het.
’n Rukkie later het Petrus nog steeds desperaat probeer om nie opgemerk te word nie. Maar ’n groep mense wat in die binnehof rondgestaan het, het nadergekom. Een van hulle was familie van Malgus, die slaaf wat deur Petrus gewond is. Hy het vir Petrus gesê: “Ek het jou in die tuin saam met hom gesien, nie waar nie?” Petrus het gevoel dat hy hulle eenvoudig moes oortuig dat hulle verkeerd is. Hy het dus oor die saak gesweer, wat klaarblyklik beteken het dat ’n vloek oor hom sou kom as hy lieg. Sy woorde was skaars koud toe ’n haan kraai—die tweede wat Petrus daardie aand gehoor het.—Johannes 18:26, 27; Markus 14:71, 72.
Jesus het pas tevore uitgekom op ’n balkon wat oor die binnehof uitgekyk het. Op daardie oomblik, wat aan die begin beskryf is, het sy oë Petrus s’n ontmoet. Petrus het besef hoe verskriklik hy sy Heer in die steek gelaat het. Petrus het die binnehof verlaat, verpletter deur sy skuldgevoelens. Hy het die strate van die stad ingevaar, sy pad belig deur die dalende volmaan. Hy was verward. Sy oë het vol trane geskiet. Hy het bitterlik begin huil.—Markus 14:72; Lukas 22:61, 62.
Ná so ’n val kan ’n persoon baie maklik aanneem dat sy sonde te erg is om vergewe te word. Petrus het dalk self daaroor gewonder. Was dit die geval?
Was Petrus se sonde onvergeeflik?
Dit is moeilik om ’n mens die diepte van Petrus se pyn voor te stel toe die son opkom en die gebeure van die dag ontvou. Hoe moes hy homself tog nie verwyt het toe Jesus daardie middag ná ure van marteling gesterf het nie! Petrus moes gesidder het om te dink hoe hy tot sy Heer se pyn bygedra het op wat die laaste dag van Sy lewe as ’n mens was. Ten spyte van sy groot droefheid, het Petrus nie in wanhoop verval nie. Ons weet dit, want kort daarna was hy weer by sy broers (Lukas 24:33). Al die apostels was ongetwyfeld spyt oor hoe hulle op daardie donker nag opgetree het, en hulle het mekaar ’n mate van vertroosting gebied.
Hier sien ons dat Petrus seker een van sy verstandigste besluite neem. Wanneer een van God se knegte val, is dit nie hoe ver hy val wat die meeste saak maak nie, maar hoe vasbeslote hy is om weer op te staan, om dinge reg te stel (Spreuke 24:16). Petrus het ware geloof getoon deur saam met sy broers byeen te kom ondanks sy terneergedruktheid. Wanneer ’n mens gebuk gaan onder gevoelens van hartseer of spyt, kan jy in die versoeking kom om jou af te sonder, maar dit is gevaarlik (Spreuke 18:1). Dit is verstandig om na aan medegelowiges te bly en weer geestelik sterk te word.—Hebreërs 10:24, 25.
Aangesien Petrus saam met sy geestelike broers was, het hy die skokkende nuus gehoor dat Jesus se liggaam nie in die graf is nie. Petrus en Johannes het na die graf gehardloop waar Jesus begrawe is en waarvan die ingang verseël was. Johannes, waarskynlik ’n jonger man, het eerste daar aangekom. Toe hy die ingang van die graf oop vind, het hy gehuiwer. Nie Petrus nie. Al was hy uitasem, het hy dadelik ingegaan. Dit was leeg!—Johannes 20:3-9.
Het Petrus geglo dat Jesus opgewek is? Nie aanvanklik nie, selfs al het getroue vroue berig dat engele aan hulle verskyn het om aan te kondig dat Jesus uit die dood opgestaan het (Lukas 23:55–24:11). Maar teen die einde van daardie dag het alle spore van hartseer en twyfel uit Petrus se hart verdwyn. Jesus het gelewe, nou as ’n magtige geesskepsel! Hy het aan al sy apostels verskyn. Maar eers het hy iets anders gedoen, iets privaats. Die apostels het daardie dag gesê: “Die Here is werklik opgewek en het aan Simon verskyn!” (Lukas 24:34). Die apostel Paulus het ook later geskryf oor daardie merkwaardige dag toe Jesus “aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf” (1 Korintiërs 15:5). Sefas en Simon is ander name vir Petrus. Jesus het daardie dag aan hom verskyn—klaarblyklik toe Petrus alleen was.
Die Bybel verstrek geen besonderhede oor daardie hartroerende ontmoeting tussen Jesus en Petrus nie. Ons kan ons net indink hoe diep dit Petrus geraak het om sy geliefde Heer weer lewend te sien en die geleentheid te hê om sy droefheid en berou uit te spreek. Wat hy meer as enigiets in die wêreld wou hê, was vergifnis. Wie kan twyfel dat Jesus dit verleen het, en boonop in oorvloed? Hedendaagse Christene wat in sonde verval, moet Petrus se geval onthou. Ons moet nooit tot die slotsom kom dat ons buite die bereik van God se vergifnis is nie. Jesus het sy Vader, wat ‘ryklik sal vergewe’, volmaak weerspieël.—Jesaja 55:7.
Verdere bewys van vergifnis
Jesus het vir sy dissipels gesê om na Galilea toe te gaan, waar hulle hom weer sou sien. Toe hulle daar aankom, het Petrus besluit om op die See van Galilea te gaan visvang. Van die ander het saam met hom gegaan. Petrus het hom weer eens bevind op die meer waar hy ’n groot deel van sy vroeëre lewe deurgebring het. Die bekende gekreun van die boot, die geklots van die golwe, die gevoel van die growwe nette in sy hande moes sekerlik vir hom vertroostend gewees het. Het hy daardie nag gewonder wat hy met sy lewe moes doen noudat Jesus se aardse bediening verby was? Was die eenvoudige lewe van ’n visserman vir hom aanloklik? Hoe dit ook al sy, hulle het daardie nag niks gevang nie.—Matteus 26:32; Johannes 21:1-3.
Maar met sonsopkoms het iemand van die oewer af geroep en hulle aangespoor om hulle nette aan die ander kant van die boot uit te gooi. Hulle het dit gedoen en ’n yslike vangs van 153 visse ingetrek! Petrus het geweet wie daardie persoon is. Hy het uit die boot gespring en na die oewer geswem. Op die strand het Jesus vir hulle ’n maaltyd van vis gegee wat op ’n houtskoolvuur gaargemaak is. Hy het sy aandag op Petrus gevestig.
Jesus het vir Petrus gevra of hy sy Heer “liewer [het] as hulle”—terwyl hy klaarblyklik na die groot visvangs gewys het. Sou liefde vir die vissersbedryf in Petrus se hart met liefde vir Jesus meeding? Net soos Petrus sy Heer drie keer verloën het, het Jesus hom nou die geleentheid gegee om sy liefde drie keer voor sy vriende te bevestig. Elke keer dat Petrus dit gedoen het, het Jesus vir hom gesê hoe om daardie liefde te toon: deur heilige diens bo alle ander dinge te stel en Christus se kudde, sy getroue volgelinge, te voed en as ’n herder oor hulle toesig te hou.—Johannes 21:4-17.
Jesus het sodoende bevestig dat Petrus nog vir hom en sy Vader van nut was. Petrus sou ’n waardevolle rol in die gemeente onder Christus se leiding vervul. Wat ’n kragtige bewys dat Jesus hom ten volle vergewe het! Hierdie barmhartigheid het Petrus sekerlik diep geraak, en hy het dit ter harte geneem.
Petrus het jare lank sy toewysing getrou uitgevoer. Hy het sy broers versterk, soos Jesus op die aand van Sy dood beveel het. Petrus was liefdevol en geduldig terwyl hy Christus se volgelinge gevoed het en as herder oor hulle toesig gehou het. Die man wat Simon genoem is, het die naam wat Jesus hom gegee het—Petrus, of Rots—gestand gedoen deur ’n bestendige, sterk, betroubare krag ten goede in die gemeente te word. Baie bewyse hiervan word gevind in Petrus se twee hartlike persoonlike briewe wat waardevolle boeke van die Bybel geword het. Hierdie briewe toon ook dat Petrus nooit die les vergeet het wat hy by Jesus oor vergifnis geleer het nie.—1 Petrus 3:8, 9; 4:8.
Mag ons ook daardie les leer. Vra ons daagliks God se vergifnis vir al ons foute? Aanvaar ons dan daardie vergifnis en glo ons in die krag wat dit het om ons te reinig? En vergewe ons ook diegene om ons? Indien wel, sal ons die geloof van Petrus—en die barmhartigheid van sy Heer—navolg.
[Lokteks op bladsy 22]
Petrus het sy Heer baie gegee om te vergewe, maar wie van ons het nie elke dag vergifnis nodig nie?
[Prent op bladsy 23]
“Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk”
[Prent op bladsy 24]
“Die Here . . . het aan Simon verskyn!”