Hou Jehovah se dag goed in gedagte
“Weet . . . dat daar in die laaste dae spotters sal kom.”—2 PETRUS 3:3.
1. Watter gevoel van dringendheid het een hedendaagse Christen gehad?
IEMAND wat al meer as 66 jaar in die voltydse bediening is, het geskryf: “Ek het altyd ’n sterk gevoel van dringendheid gehad. In my gedagte was Armageddon altyd iets wat oormôre gaan kom (Openbaring 16:14, 16). Soos my vader, en sy vader voor hom, het ek my lewe gelei soos die apostel [Petrus] Christene aangespoor het: ‘Hou die dag van Jehovah goed in gedagte.’ Ek het altyd die beloofde nuwe wêreld beskou as ’n ‘werklikheid hoewel dit nie gesien word nie’.”—2 Petrus 3:11, 12; Hebreërs 11:1; Jesaja 11:6-9; Openbaring 21:3, 4.
2. Wat beteken dit om Jehovah se dag goed in gedagte te hou?
2 Petrus se uitdrukking “goed in gedagte hou” met betrekking tot Jehovah se dag beteken dat ons dit nie in ons verstand uitstel nie. Ons moet nie vergeet dat die dag baie naby is wanneer Jehovah hierdie stelsel van dinge gaan vernietig as die eerste stap om sy beloofde nuwe wêreld tot stand te bring nie. Dit moet vir ons so werklik wees dat ons dit duidelik kan sien, asof dit reg voor ons is. Dít is hoe werklik dit vir God se profete van die ou tyd was, en hulle het dikwels gesê dat dit naby is.—Jesaja 13:6; Joël 1:15; 2:1; Obadja 15; Sefanja 1:7, 14.
3. Wat was blykbaar die rede vir Petrus se raad aangaande Jehovah se dag?
3 Waarom het Petrus ons aangespoor om die dag van Jehovah te beskou asof dit as ’t ware “oormôre” kan kom? Omdat party klaarblyklik begin het om die spot te dryf met die idee van Christus se beloofde teenwoordigheid waartydens oortreders gestraf sal word (2 Petrus 3:3, 4). In hoofstuk 3 van sy tweede brief, wat ons nou gaan bespreek, beantwoord Petrus dus die aantygings van hierdie spotters.
’n Hartlike aansporing om te onthou
4. Wat wil Petrus hê moet ons onthou?
4 Petrus se toegeneentheid teenoor sy broers blyk uit die feit dat hy hulle herhaaldelik in hierdie hoofstuk as “geliefdes” aanspreek. Petrus spoor hulle hartlik aan om nie te vergeet wat hulle geleer is nie en sê: ‘Geliefdes, ek wek julle helder denkvermoëns deur herinnering op, sodat julle die woorde sal onthou wat vantevore deur die heilige profete gespreek is en die gebod van die Here en Redder deur middel van julle apostels.’—2 Petrus 3:1, 2, 8, 14, 17; Judas 17.
5. Wat het party profete oor Jehovah se dag gesê?
5 Watter “woorde . . . wat vantevore deur die heilige profete gespreek is”, spoor Petrus lesers aan om te onthou? Dié oor die teenwoordigheid van Christus in Koninkryksmag en oor die oordeel van die goddeloses. Petrus het vroeër die aandag op hierdie woorde gevestig (2 Petrus 1:16-19; 2:3-10). Judas verwys na Henog, wat die eerste profeet was waarvan ons lees wat ’n waarskuwing gerig het oor die ongunstige oordeel van God oor kwaaddoeners (Judas 14, 15). Ander profete het ná Henog gekom, en Petrus wil nie hê dat ons moet vergeet wat hulle geskryf het nie.—Jesaja 66:15, 16; Sefanja 1:15-18; Sagaria 14:6-9.
6. Watter woorde van Christus en sy apostels lig ons in oor Jehovah se dag?
6 Daarbenewens sê Petrus vir sy lesers om “die gebod van die Here en Redder” te onthou. Jesus se gebod sluit die vermaning in: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word . . . en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie.” “Bly op die uitkyk, bly wakker, want julle weet nie wanneer dit die vasgestelde tyd is nie” (Lukas 21:34-36; Markus 13:33). Petrus spoor ons ook aan om ag te slaan op die woorde van die apostels. Die apostel Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Jehovah se dag [kom] presies soos ’n dief in die nag. Laat ons dan nie voortslaap soos die res nie, maar laat ons wakker en nugter van verstand bly.”—1 Tessalonisense 5:2, 6.
Die begeertes van spotters
7, 8. (a) Watter soort mense is dié wat met God se waarskuwingsboodskappe spot? (b) Wat beweer die spotters?
7 Soos vroeër genoem is, is die rede vir Petrus se vermaning dat party met sulke waarskuwings begin spot het, soos die Israeliete van vroeër tye met Jehovah se profete gespot het (2 Kronieke 36:16). Petrus verduidelik: “Want dít weet julle allereers, dat daar in die laaste dae spotters sal kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel” (2 Petrus 3:3). Judas sê dat die begeertes van hierdie spotters “na goddelose dinge” is. Hy noem hulle “dierlike mense wat nie geestelikheid het nie”.—Judas 17-19.
8 Die valse leermeesters wat Petrus gesê het “agter vlees aan gaan met die begeerte om dit te verontreinig”, is heel waarskynlik onder hierdie spotters wat geen geestelikheid het nie (2 Petrus 2:1, 10, 14). Hulle vra getroue Christene spottend: “Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan presies soos van die begin van die skepping af.”—2 Petrus 3:4.
9. (a) Waarom probeer spotters om die gevoel van dringendheid wat dwarsdeur die Woord van God gevind word te ondermyn? (b) Hoe is dit vir ons ’n beskerming om Jehovah se dag goed in gedagte te hou?
9 Waarom spot hulle? Waarom sê hulle dat Christus se teenwoordigheid dalk nooit sal kom nie, dat God nog nooit in menseaangeleenthede ingegryp het en dit nooit sal doen nie? Wel, deur die gevoel van dringendheid te ondermyn wat dwarsdeur die Woord van God gevind word, probeer hierdie dierlike spotters om ander in ’n toestand van geestelike onverskilligheid te sus en hulle sodoende ’n maklike prooi te maak vir selfsugtige verleidings. Wat ’n kragtige aansporing is dit tog vir ons vandag om geestelik wakker te bly! Mag ons Jehovah se dag goed in gedagte hou en altyd onthou dat sy oë op ons is! Ons sal sodoende aangedryf word om Jehovah met ywer te dien en ons sedelike reinheid te behou.—Psalm 11:4; Jesaja 29:15; Esegiël 8:12; 12:27; Sefanja 1:12.
Moedswillig en veragtelik
10. Hoe bewys Petrus dat die spotters verkeerd is?
10 Sulke spotters ignoreer ’n belangrike feit. Hulle ignoreer dit opsetlik en probeer om ander dit ook te laat vergeet. Waarom? Sodat hulle die mense makliker kan verlei. “Want ooreenkomstig hulle wens”, skryf Petrus, “ontgaan hierdie feit hulle aandag.” Watter feit? “Dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat kompak bo water uit en te midde van water gestaan het deur die woord van God; en deur dié middele is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is” (2 Petrus 3:5, 6). Ja, Jehovah hét die aarde van goddeloosheid verlos gedurende die Vloed van Noag se dag, ’n feit wat Jesus ook beklemtoon het (Matteus 24:37-39; Lukas 17:26, 27; 2 Petrus 2:5). In teenstelling met wat spotters sê, het alles dus nie “presies soos van die begin van die skepping af” gebly nie.
11. Watter voortydige verwagtinge van die vroeë Christene het gemaak dat party hulle gespot het?
11 Spotters het getroue Christene heel moontlik gespot omdat hulle verwagtinge gekoester het wat destyds nog nie verwesenlik is nie. Kort voor Jesus gesterf het, het sy dissipels “gedink dat die koninkryk van God hom oombliklik gaan vertoon”. Toe, ná sy opstanding, het hulle gevra of die Koninkryk dadelik opgerig sou word. Verder was party, omtrent tien jaar voor Petrus sy tweede brief geskryf het, “opgewonde gemaak” deur “’n mondelinge boodskap” of “’n brief”, glo van die apostel Paulus of sy metgeselle, ‘wat te kenne gegee het dat die dag van Jehovah hier is’ (Lukas 19:11; 2 Tessalonisense 2:2; Handelinge 1:6). Sulke verwagtinge van Jesus se dissipels was egter nie vals nie, net te vroeg. Jehovah se dag sal kom!
God se woord is betroubaar
12. Hoe het God se Woord bewys dat dit betroubaar is wat sy profesieë oor ‘die dag van Jehovah’ betref?
12 Soos vroeër genoem is, het voor-Christelike profete dikwels gewaarsku dat Jehovah se dag van wraak naby is. ’n Kleinskaalse ‘dag van Jehovah’ het in 607 v.G.J. gekom toe Jehovah wraak op sy weerspannige volk uitgeoefen het (Sefanja 1:14-18). Later het ander nasies, waaronder Babilon en Egipte, ook so ’n ‘dag van Jehovah’ ervaar (Jesaja 13:6-9; Jeremia 46:1-10; Obadja 15). Die einde van die eerste-eeuse Joodse stelsel van dinge is ook voorspel, en dit het gebeur toe die Romeinse leërs Judea in 70 G.J. vernietig het (Lukas 19:41-44; 1 Petrus 4:7). Maar Petrus wys op ’n toekomstige ‘dag van Jehovah’, wat selfs die aardwye Vloed klein sal laat lyk!
13. Watter geskiedkundige voorbeeld lig toe hoe seker die einde van hierdie stelsel van dinge is?
13 Petrus lei sy beskrywing van daardie komende vernietiging in deur te sê: “Maar deur dieselfde woord.” Hy het so pas gesê dat die aarde voor die Vloed “uit en te midde van water gestaan het deur die woord van God”. Hierdie situasie, wat in die Bybel se skeppingsverslag beskryf word, het die Vloed moontlik gemaak, toe die waters op God se bevel, of woord, neergestort het. Petrus gaan voort: “Deur dieselfde woord [van God] is die hemele en die aarde wat nou is vir die vuur weggelê en word hulle bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Petrus 3:5-7; Genesis 1:6-8). Ons het Jehovah se betroubare woord daarop! Hy sal in die vurige gramskap van sy groot dag ’n einde maak aan “die hemele en die aarde”—hierdie stelsel van dinge! (Sefanja 3:8). Maar wanneer?
Gretigheid dat die einde moet kom
14. Waarom kan ons oortuig wees dat ons nou in “die laaste dae” lewe?
14 Jesus se dissipels wou weet wanneer die einde gaan kom, en daarom het hulle hom gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” Hulle het blykbaar gevra wanneer die Joodse stelsel sou eindig, maar Jesus se antwoord het hoofsaaklik te doen gehad met wanneer die huidige ‘hemel en aarde’ vernietig sou word. Jesus het dinge voorspel soos groot oorloë, voedseltekorte, aardbewings, siekte en misdaad (Matteus 24:3-14; Lukas 21:5-36). Sedert die jaar 1914 sien ons hoe die teken vervul word wat Jesus vir “die voleinding van die stelsel van dinge” gegee het, sowel as die dinge waardeur die apostel Paulus gesê het “die laaste dae” gekenmerk sal word (2 Timoteus 3:1-5). Ja, daar is oorweldigende getuienis dat ons in die tyd van die einde van hierdie stelsel van dinge lewe!
15. Wat was Christene dikwels geneig om te doen, ondanks Jesus se waarskuwing?
15 Jehovah se Getuies wil graag weet wanneer die dag van Jehovah gaan kom. In hulle gretigheid het hulle soms probeer skat wanneer dit sal kom. Maar deur dit te doen, het hulle, soos Jesus se vroeë dissipels, nagelaat om ag te slaan op hulle Heer se waarskuwing dat ons ‘nie weet wanneer dit die vasgestelde tyd is nie’ (Markus 13:32, 33). Spotters het die spot gedryf met getroue Christene weens hulle voortydige verwagtinge (2 Petrus 3:3, 4). Maar Petrus verseker ons dat Jehovah se dag sal kom, volgens Sy tydrooster.
Ons moet Jehovah se beskouing hê
16. Op watter vermaning moet ons ag slaan as ons verstandig wil wees?
16 Ons moet Jehovah se beskouing van tyd hê, soos Petrus ons nou herinner: “Laat hierdie een feit egter nie julle aandag ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by Jehovah soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.” Hoe kort is ons leeftyd van 70 of 80 jaar tog in vergelyking hiermee! (2 Petrus 3:8; Psalm 90:4, 10). As dit dan lyk of die vervulling van God se beloftes sloer, moet ons die vermaning van God se profeet aanvaar: “Selfs al sou dit [die vasgestelde tyd] talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie.”—Habakuk 2:3, NW.
17. Waarvan kan ons seker wees, al het die laaste dae langer voortgeduur as wat baie verwag het?
17 Waarom het die laaste dae van hierdie stelsel langer voortgeduur as wat baie verwag het? Met goeie rede, soos Petrus vervolgens verduidelik: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Jehovah neem in ag wat vir die beswil van die hele mensdom is. Hy is besorg oor die lewe van mense, soos hy sê: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe” (Esegiël 33:11). Ons kan dus seker wees dat die einde op presies die regte tyd sal kom om die voorneme van ons alwyse, liefdevolle Skepper te vervul!
Wat sal verbygaan?
18, 19. (a) Waarom is Jehovah vasbeslote om hierdie stelsel van dinge te vernietig? (b) Hoe beskryf Petrus die einde van hierdie stelsel, en wat sal in werklikheid vernietig word?
18 Omdat Jehovah dié wat hom dien werklik liefhet, sal hy almal vernietig wat vir hulle benoudheid veroorsaak (Psalm 37:9-11, 29). Petrus skryf, soos Paulus vroeër gedoen het, dat hierdie vernietiging op ’n onverwagte tyd sal kom en sê: “Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom, waarop die hemele met ’n sissende gedruis sal verbygaan, die elemente, wat intens warm sal wees, tot niet gemaak sal word, en die aarde en die werke daarin ontdek sal word” (2 Petrus 3:10; 1 Tessalonisense 5:2). Die letterlike hemele en aarde is nie met die Vloed vernietig nie, en hulle sal ook nie gedurende Jehovah se dag vernietig word nie. Wat sal dan “verbygaan”, of vernietig word?
19 Menseregerings wat die mensdom soos “hemele” oorheers het, sal eindig, en so ook sal die “aarde”, of die goddelose mensegemeenskap. Die “sissende gedruis” dui moontlik op hoe vinnig die hemele sal verbygaan. “Die elemente” waaruit vandag se verdorwe mensegemeenskap bestaan, sal “tot niet gemaak”, of vernietig word. En die “aarde”, saam met “die werke daarin”, sal “ontdek” word. Jehovah sal die goddelose dade van mense heeltemal blootlê wanneer hy ’n hele wêreldstelsel tot sy welverdiende einde bring.
Hou die aandag gevestig op jou hoop
20. Watter uitwerking moet ons kennis van die gebeure wat voorlê op ons lewe hê?
20 Aangesien hierdie dramatiese gebeure op hande is, sê Petrus dat ons met “heilige gedragshandelinge en dade van godvrugtige toegewydheid” besig moet wees, “terwyl [ons] die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou”. Dit ly geen twyfel nie! “Die hemele, wat aan die brand sal wees, [sal] tot niet gemaak . . . word en die elemente, wat intens warm sal wees, sal smelt!” (2 Petrus 3:11, 12). Die feit dat hierdie dramatiese gebeure môre kan begin plaasvind, behoort ’n uitwerking te hê op alles wat ons doen of beplan.
21. Waardeur sal die huidige hemele en aarde vervang word?
21 Petrus vertel ons nou waardeur die ou stelsel vervang gaan word en sê: “Maar daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon” (2 Petrus 3:13; Jesaja 65:17). A, wat ’n verligting! Christus en sy 144 000 medeheersers sal ’n “nuwe” goewermentele “hemele” uitmaak, en die “nuwe aarde” sal bestaan uit die mense wat die einde van hierdie wêreld oorleef.—1 Johannes 2:17; Openbaring 5:9, 10; 14:1, 3.
Behou jou gevoel van dringendheid en sedelike reinheid
22. (a) Wat sal ons help om enige geestelike vlek of smet te vermy? (b) Teen watter gevaar waarsku Petrus?
22 Petrus gaan voort: “Daarom moet julle, geliefdes, aangesien julle hierdie dinge verwag, julle uiterste bes doen om uiteindelik deur hom vlekkeloos en smetloos en in vrede bevind te word. Beskou daarbenewens die geduld van ons Here as redding.” As ons met gretige afwagting na Jehovah se dag uitsien en enige skynbare vertraging as ’n blyk van Goddelike geduld beskou, sal dit ons help om enige geestelike vlek of smet te vermy. Maar daar bestaan ’n gevaar! Petrus waarsku dat daar in die geskrifte van “ons geliefde broer Paulus . . . sommige dinge [is] wat moeilik is om te verstaan, wat die ongeleerdes en onbestendiges verdraai, soos hulle ook die res van die Skrif verdraai, tot hulle eie vernietiging.”—2 Petrus 3:14-16.
23. Wat is Petrus se afskeidsraad?
23 Valse leermeesters het klaarblyklik Paulus se geskrifte oor God se onverdiende goedhartigheid verdraai en dit as ’n verskoning vir losbandigheid gebruik. Moontlik het Petrus dit in gedagte wanneer hy in sy afskeidsraad skryf: “Daarom moet julle, geliefdes, aangesien julle hierdie voorkennis het, op julle hoede wees dat julle nie saam met hulle deur die dwaling van die wettrotserende mense weggelei word en van julle eie standvastigheid wegval nie.” Dan sluit hy sy brief af met die aansporing: “Hou aan om te groei in die onverdiende goedhartigheid en kennis van ons Here en Redder Jesus Christus.”—2 Petrus 3:17, 18.
24. Watter gesindheid moet al Jehovah se knegte aanneem?
24 Dit is duidelik dat Petrus sy broers wil versterk. Hy wil hê dat almal die gesindheid moet hê van die getroue 82-jarige Getuie wat aan die begin aangehaal is: “Ek [het] my lewe gelei soos die apostel Christene aangespoor het: ‘Hou die dag van Jehovah goed in gedagte.’ Ek het altyd die beloofde nuwe wêreld beskou as ’n ‘werklikheid hoewel dit nie gesien word nie’.” Mag ons almal ook so ’n lewe lei.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat beteken dit om Jehovah se dag ‘goed in gedagte te hou’?
◻ Wat ignoreer spotters opsetlik, en waarom?
◻ Om watter rede het spotters met getroue Christene gespot?
◻ Watter sienswyse moet ons handhaaf?
[Prent op bladsy 23]
Hou Jehovah se dag goed in gedagte . . .
[Prent op bladsy 24]
. . . sowel as die nuwe wêreld wat daarop gaan volg