Lewe ná die dood—Wat sê die Bybel?
“Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—GENESIS 3:19.
1, 2. (a) Watter uiteenlopende idees is daar omtrent die hiernamaals? (b) Wat moet ons ondersoek om vas te stel wat die Bybel omtrent die siel leer?
“DIE teorie van ewige lyding is in stryd met geloof in God se liefde vir geskape dinge. . . . Om te glo aan die ewige straf van die siel vir die foute van ’n paar jaar, sonder om dit ’n kans te gee om te verbeter, is strydig met alle rede”, het die Hindoe-filosoof Nikhilananda gesê.
2 Vandag stem baie, net soos Nikhilananda, nie met die leerstelling van ewige foltering saam nie. Om dieselfde rede vind ander dit moeilik om idees te verstaan soos die verkryging van Nirwana en eenwording met die natuur. Selfs onder diegene wat sê dat hulle hulle opvattings op die Bybel baseer, is daar uiteenlopende idees oor wat die siel is en wat daarmee gebeur wanneer ons sterf. Maar wat leer die Bybel werklik omtrent die siel? Om uit te vind, moet ons die betekenisse van die Hebreeuse en Griekse woorde ondersoek wat in die Bybel met “siel” vertaal word.
Die siel volgens die Bybel
3. (a) Watter woord in die Hebreeuse Geskrifte word met “siel” vertaal, en wat is die basiese betekenis daarvan? (b) Hoe bevestig Genesis 2:7 dat die woord “siel” na ’n persoon in sy geheel kan verwys?
3 Die Hebreeuse woord wat met “siel” vertaal word, is neʹfesj, en dit kom 754 keer in die Hebreeuse Geskrifte voor. Wat beteken neʹfesj? Volgens The Dictionary of Bible and Religion verwys dit “gewoonlik na die hele lewende wese, na die hele individu”. Dit word deur die Bybel se beskrywing van die siel in Genesis 2:7 bevestig: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Let op dat die eerste mens ’n siel “geword” het. Met ander woorde, Adam het nie ’n siel gehad nie; hy was ’n siel—net soos iemand wat ’n dokter word ’n dokter is. Die woord “siel” beskryf hier ’n persoon in sy geheel.
4. Watter woord in die Christelike Griekse Geskrifte word met “siel” vertaal, en wat is die basiese betekenis van hierdie woord?
4 Die woord wat met “siel” (psu·kheʹ) vertaal word, verskyn meer as honderd keer in die Christelike Griekse Geskrifte. Soos neʹfesj verwys hierdie woord dikwels na ’n persoon in sy geheel. Kyk byvoorbeeld na die volgende stellings: “My siel [is] verontrus” (Johannes 12:27). “Vrees het op elke siel begin val” (Handelinge 2:43). “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele” (1 Tessalonisense 5:14). “’n Paar mense, naamlik agt siele, [is] veilig deur die water heen gevoer” (1 Petrus 3:20). Dit is duidelik dat psu·kheʹ, soos neʹfesj, na die persoon in sy geheel verwys. Volgens die geleerde Nigel Turner beteken hierdie woord “dit wat kenmerkend van ’n mens is, jyself, die stoflike liggaam waarin God se roeʹach [gees] geblaas is. . . . Die klem is op die hele persoon.”
5. Is diere siele? Verduidelik.
5 Dit is interessant dat die woord “siel” in die Bybel nie net op mense toegepas word nie, maar ook op diere. In Genesis 1:20 (NW) waar die skepping van seeskepsele beskryf word, sê dit byvoorbeeld dat God beveel het: “Laat die waters ’n gewemel van lewende siele voortbring.” En op die volgende skeppingsdag het God gesê: “Laat die aarde lewende siele voortbring volgens hulle soorte, mak diere en bewegende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte.”—Genesis 1:24, NW; vergelyk Numeri 31:28, NW.
6. Wat kan oor die Bybel se gebruik van die woord “siel” gesê word?
6 Die woord “siel” soos dit in die Bybel gebruik word, verwys dus na ’n persoon of ’n dier of na die lewe wat ’n persoon of ’n dier geniet. (Sien venster hierbo.) Die Bybel se definisie van die siel is eenvoudig, konsekwent en vry van die ingewikkelde filosofieë en bygelowe van mense. Aangesien dit die geval is, is die dwingende vraag wat gevra moet word: Wat gebeur volgens die Bybel met die siel by die dood?
Die dooies is in ’n toestand van onbewustheid
7, 8. (a) Wat toon die Skrif oor die toestand van die dooies? (b) Gee voorbeelde uit die Bybel wat toon dat die siel kan sterf.
7 Die toestand van die dooies word in Prediker 9:5, 10 verduidelik, waar ons lees: “Die dooies weet niks nie . . . Daar is geen strewe, geen planne, geen kennis of intelligensie in die graf nie” (Moffatt). Die dood is dus ’n toestand van niebestaan. Wanneer ’n mens sterf, ‘keer hy na sy aarde toe terug; op daardie dag is dit met sy planne gedaan’, het die psalmis geskryf (Psalm 146:4). Die dooies is in ’n toestand van onbewustheid, onbedrywigheid.
8 Toe God oordeel oor Adam uitgespreek het, het hy gesê: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Voordat God Adam uit die stof van die aarde geformeer en aan hom lewe gegee het, het Adam nie bestaan nie. Toe hy gesterf het, het hy na daardie toestand teruggekeer. Sy straf was die dood—nie ’n oorplasing na ’n ander ryk nie. Wat het dan met sy siel gebeur? In die Bybel verwys die woord “siel” dikwels bloot na ’n persoon, en wanneer ons dus sê dat Adam gesterf het, sê ons dat die siel met die naam Adam gesterf het. Dit klink dalk vreemd vir iemand wat aan die onsterflikheid van die siel glo. Maar die Bybel sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Levitikus 21:1 (NW) praat van “’n afgestorwe siel” (’n “lyk”, The Jerusalem Bible). En Nasireërs is aangesê om nie naby “enige dooie siel” (“’n dooie liggaam”, Lamsa) te kom nie.—Numeri 6:6, NW.
9. Wat bedoel die Bybel wanneer dit sê dat Ragel se ‘siel uitgegaan’ het?
9 Maar wat van die woorde in Genesis 35:18 in verband met die tragiese dood van Ragel, terwyl sy aan haar tweede seun geboorte gegee het? Daar lees ons: “Toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe—noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.” Gee hierdie gedeelte te kenne dat Ragel ’n innerlike wese gehad het wat haar by die dood verlaat het? Hoegenaamd nie. Onthou dat die woord “siel” ook kan verwys na die lewe wat ’n persoon het. In hierdie geval het Ragel se “siel” dus bloot haar “lewe” beteken. Daarom vertaal ander Bybelvertalings die frase ‘haar siel gaan uit’ met “haar lewe het uitgevloei” (Knox), “sy het haar laaste asem uitgeblaas” (JB) en “haar lewe het uit haar uitgegaan” (Bible in Basic English). Daar is geen aanduiding dat ’n geheimsinnige deel van Ragel ná haar dood voortgeleef het nie.
10. In watter opsig het die siel van die weduwee se verrese seun “in hom teruggekeer”?
10 Dit is soortgelyk aan die opstanding van ’n weduwee se seun, wat in 1 Konings hoofstuk 17 opgeteken is. Terwyl Elia oor die jong seun gebid het, het “die HERE . . . Elia verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het”, soos ons in vers 22 lees. Weer eens beteken die woord “siel” “lewe”. Daarom sê die New American Standard Bible: “Die lewe van die kind het in hom teruggekeer, en hy het weer begin lewe.” Ja, dit was lewe wat in die seun teruggekeer het, en nie die een of ander skimagtige gedaante nie. Dit is in harmonie met wat Elia vir die seun se moeder gesê het: “Kyk, jou seun [die hele persoon] lewe!”—1 Konings 17:23.
Wat van die gees?
11. Waarom kan die woord “gees” nie na ’n liggaamlose deel van ’n persoon verwys wat ná die dood voortleef nie?
11 Wanneer iemand sterf, sê die Bybel dat sy ‘gees uitgaan en hy na sy aarde toe terugkeer’ (Psalm 146:4). Beteken dit dat ’n liggaamlose gees letterlik die liggaam verlaat en ná ’n persoon se dood voortleef? Dit kan nie wees nie, want die psalmis sê voorts: “Op daardie dag is dit met sy planne gedaan” (“eindig al sy gedagtes”, The New English Bible). Wat is die gees dan, en hoe ‘gaan dit uit’ ’n persoon wanneer hy sterf?
12. Wat impliseer die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel met “gees” vertaal is?
12 In die Bybel beteken die woorde wat met “gees” (Hebreeus, roeʹach; Grieks, pneuʹma) vertaal word basies “asem”. Daarom gebruik die vertaling van R. A. Knox die frase “die asem verlaat sy liggaam”, in plaas van “sy gees gaan uit” (Psalm 145:4). Maar die woord “gees” impliseer baie meer as die asemhalingsproses. Waar die vernietiging van mense- en dierelewe tydens die wêreldvloed beskryf word, sê Genesis 7:22 (NW) byvoorbeeld: “Alles waarin die asem van die lewenskrag [of gees; Hebreeus, roeʹach] in sy neusgate werksaam was, naamlik alles wat op die droë grond was, het gesterf.” “Gees” kan dus na die lewenskrag verwys wat werksaam is in alle lewende skepsele, mense sowel as diere, en wat deur asemhaling onderhou word.
13. Hoe keer die gees na God terug wanneer ’n persoon sterf?
13 Wat beteken dit dus wanneer Prediker 12:7 sê dat “die gees na God terugkeer wat dit gegee het” wanneer ’n persoon sterf? Beteken dit dat die gees letterlik deur die ruimte reis tot in God se teenwoordigheid? Dit is hoegenaamd nie wat geïmpliseer word nie. Aangesien die gees die lewenskrag is, ‘keer dit na God terug’ in die sin dat enige hoop op toekomstige lewe vir daardie persoon nou geheel en al by God berus. Slegs God kan die gees, of lewenskrag, teruggee en die persoon weer laat lewe (Psalm 104:30). Maar is God van voorneme om dit te doen?
‘Hy sal opstaan’
14. Wat het Jesus gesê en gedoen om Lasarus se susters ná die verlies van hulle broer te bemoedig en te vertroos?
14 In die klein dorpie Betanië, ongeveer drie kilometer oos van Jerusalem af, het Maria en Marta oor die ontydige dood van hulle broer, Lasarus, getreur. Jesus het in hulle smart gedeel, want hy was lief vir Lasarus en sy susters. Hoe kon Jesus die susters vertroos? Nie deur hulle die een of ander verdraaide storie te vertel nie, maar deur hulle die waarheid te vertel. Jesus het bloot gesê: “Jou broer sal opstaan.” Jesus het toe na die graf gegaan en Lasarus opgewek—hy het die lewe teruggegee aan ’n man wat al vier dae dood was!—Johannes 11:18-23, 38-44.
15. Hoe het Marta gereageer op wat Jesus gesê en gedoen het?
15 Het Jesus se woorde dat Lasarus sal “opstaan” Marta verbaas? Blykbaar nie, want sy het geantwoord: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.” Sy het alreeds geloof in die belofte van ’n opstanding gehad. Jesus het toe vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Johannes 11:23-25). Die wonderwerk van Lasarus se opwekking het haar geloof versterk en ander met geloof vervul (Johannes 11:45). Maar presies wat word met die woord “opstanding” bedoel?
16. Wat beteken die woord “opstanding”?
16 Die woord “opstanding” is ’n vertaling van die Griekse woord a·naʹsta·sis, wat letterlik beteken “om weer op te staan”. Hebreeuse vertalers van die Grieks het a·naʹsta·sis met ’n uitdrukking vertaal wat “herlewing van die dooies” (Hebreeus, techi·jathʹ ham·me·thimʹ) beteken.a Opstanding behels dus dat die persoon uit die lewelose toestand van die dood opgewek word—dat die lewenspatroon van die individu herstel en gereaktiveer word.
17. (a) Waarom sal die opstanding van individue geen probleem vir Jehovah God en Jesus Christus inhou nie? (b) Watter belofte het Jesus aangaande diegene in die gedenkgrafte gemaak?
17 Aangesien Jehovah God oneindige wysheid en ’n volmaakte geheue het, kan hy iemand maklik opwek. Vir hom is dit nie moeilik om die lewenspatroon van dooies—hulle karaktertrekke, hulle persoonlike geskiedenis en al die besonderhede van hulle identiteit—te onthou nie. (Job 12:13; vergelyk Jesaja 40:26.) Daarbenewens wíl en kán Jesus Christus die dooies opwek, soos die ondervinding van Lasarus toon. (Vergelyk Lukas 7:11-17; 8:40-56.) Trouens, Jesus Christus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Ja, Jesus Christus het belowe dat almal in Jehovah se geheue opgewek sal word. Volgens die Bybel is dit duidelik dat die siel sterf en dat die opstanding die gevolge van die dood ongedaan maak. Maar miljarde mense het al gelewe en gesterwe. Wie van hulle is in God se geheue en wag op die opstanding?
18. Wie sal opgewek word?
18 Diegene wat ’n regverdige lewe as Jehovah se knegte gelei het, sal opgewek word. Maar miljoene ander mense het gesterf sonder dat hulle getoon het of hulle hulle aan God se regverdige standaarde sal onderwerp. Hulle was óf onbekend met Jehovah se vereistes óf het nie genoeg tyd gehad om die nodige veranderinge aan te bring nie. Húlle is ook in God se geheue en sal dus opgewek word, want die Bybel belowe: “Daar [gaan] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees.”—Handelinge 24:15.
19. (a) Watter visioen het die apostel Johannes oor die opstanding ontvang? (b) Wat word “in die poel van vuur geslinger”, en wat beteken hierdie uitdrukking?
19 Die apostel Johannes het ’n opwindende visioen gehad van verresenes wat voor die troon van God staan. Hy beskryf dit in dié woorde: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee, en hulle is individueel volgens hulle dade geoordeel. En die dood en Hades is in die poel van vuur geslinger. Dit beteken die tweede dood, die poel van vuur” (Openbaring 20:12-14). Dink net wat dit beteken! Al die dooies wat in God se geheue is, sal bevry word uit Hades, of Sjeool, die mensdom se gemeenskaplike graf (Psalm 16:10, NW; Handelinge 2:31). Dan sal “die dood en Hades” geslinger word in wat “die poel van vuur” genoem word, ’n simbool van algehele vernietiging. Die gemeenskaplike graf van die mensdom sal nie meer bestaan nie.
’n Unieke vooruitsig!
20. In watter soort omgewing sal miljoene wat nou dood is, opgewek word?
20 Wanneer miljoene tydens die opstanding opgewek word, sal hulle nie tot lewe op ’n leë aarde teruggebring word nie (Jesaja 45:18). Hulle sal wakker word in ’n pragtige, verbeterde omgewing, en hulle sal vind dat blyplek, klere en ’n oorvloed voedsel vir hulle voorberei is (Psalm 67:7; 72:16; Jesaja 65:21, 22). Wie sal al hierdie voorbereidsels tref? Dit is duidelik dat mense in die nuwe wêreld sal moet lewe voor die aardse opstanding begin. Maar wie?
21, 22. Watter unieke vooruitsig het diegene wat in “die laaste dae” lewe?
21 Die vervulling van Bybelprofesieë toon dat ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:1).b Jehovah God gaan binnekort in menseaangeleenthede ingryp en goddeloosheid van die aarde af verwyder (Psalm 37:10, 11; Spreuke 2:21, 22). Wat sal in daardie tyd met diegene gebeur wat God getrou dien?
22 Jehovah sal nie die regverdiges saam met die goddelose vernietig nie (Psalm 145:20). Hy het nog nooit so iets gedoen nie, en hy sal dit nie doen wanneer hy die aarde van alle goddeloosheid reinig nie. (Vergelyk Genesis 18:22, 23, 26.) Trouens, die laaste boek van die Bybel praat van “’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” wat uit “die groot verdrukking” kom (Openbaring 7:9-14). Ja, ’n groot menigte sal die groot verdrukking oorleef waartydens die huidige goddelose wêreld eindig, en hulle sal in God se nuwe wêreld ingaan. Daar kan die gehoorsame mensdom ten volle baat vind by God se wonderlike voorsiening om die mensdom van sonde en die dood te bevry (Openbaring 22:1, 2). Die “groot skare” hoef dus nooit te sterf nie. Wat ’n unieke vooruitsig tog!
Lewe sonder die dood
23, 24. Wat moet jy doen as jy lewe sonder die dood in die Paradys op aarde wil geniet?
23 Kan ons vertroue in hierdie wonderlike hoop stel? Absoluut! Jesus Christus het self getoon dat daar ’n tyd sal wees wanneer mense sal lewe sonder om ooit te sterf. Net voordat Jesus sy vriend Lasarus opgewek het, het hy vir Marta gesê: “Elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie.”—Johannes 11:26.
24 Wil jy graag vir ewig in die Paradys op aarde lewe? Is dit jou begeerte om jou geliefdes weer te sien? “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”, sê die apostel Johannes (1 Johannes 2:17). Dit is nóú die tyd om te leer wat God se wil is en vasbeslote te wees om in ooreenstemming daarmee te lewe. Dan kan jy, saam met miljoene ander wat reeds God se wil doen, vir ewig in die Paradys op aarde lewe.
[Voetnote]
a Hoewel die woord “opstanding” nie in die Hebreeuse Geskrifte verskyn nie, kom die opstandingshoop duidelik voor in Job 14:13, Daniël 12:13 en Hosea 13:14.
b Sien Kennis wat tot die ewige lewe lei, bladsye 98-107, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Onthou jy?
◻ Wat is die basiese betekenis van die woorde in die oorspronklike tale wat met “siel” vertaal word?
◻ Wat gebeur met die siel wanneer iemand sterf?
◻ Wat sal volgens die Bybel die gevolge van die dood ongedaan maak?
◻ Watter unieke vooruitsig het getroues vandag?
[Venster op bladsy 15]
“Siel” as die lewe van ’n skepsel
Soms verwys die woord “siel” na die lewe wat ’n persoon of ’n dier geniet. Dit verander nie die Bybel se definisie van die siel as ’n persoon of ’n dier nie. Ter toeligting: Ons sê dat iemand lewend is, wat beteken dat hy ’n lewende persoon is. Ons kan ook sê dat hy lewe besit. ’n Lewende persoon is insgelyks ’n siel. Maar terwyl hy lewe, kan daar van die “siel” gepraat word as iets wat hy besit.
God het byvoorbeeld vir Moses gesê: “Al die manne wat jou siel gesoek het, is dood.” Moses se vyande wou hom ongetwyfeld om die lewe bring. (Exodus 4:19, NW; vergelyk Josua 9:24; Spreuke 12:10, NW.) Jesus het die woord op ’n soortgelyke wyse gebruik toe hy gesê het: ‘Die Seun van die mens het gekom om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie.’ (Matteus 20:28; vergelyk 10:28.) In elke geval beteken die woord “siel” “lewe van ’n wese”.
[Prente op bladsy 15]
Hulle is almal siele
[Erkenning]
Kolibrie: U.S. Fish and Wildlife Service, Washington, D.C./Dean Biggins
[Prent op bladsy 17]
Jesus het getoon dat die opstanding die gevolge van die dood ongedaan sal maak
[Prent op bladsy 18]
“Elkeen wat lewe en geloof in my beoefen, sal nóóit sterf nie.”—Johannes 11:26