Van volslae armoede tot die grootste rykdom
SOOS VERTEL DEUR MANUEL DE JESUS ALMEIDA
Ek is in Oktober 1916 gebore, die jongste van 17 kinders. Nege van my ouer broers en susters het weens siekte en wanvoeding gesterf; ek het hulle dus nooit geken nie. Die oorblywende agt van ons het saam met ons ouers in ’n klein dorpie naby Porto, Portugal, gewoon.
ONS nederige huisie het bestaan uit ’n klein woonkamer en een slaapkamer. Ons moes drinkwater van ’n put ongeveer ’n halwe kilometer ver aandra, en ons kookgeriewe was primitief.
Toe my ouer broers groot genoeg was, het hulle onmiddellik op die mielielande begin werk. Hulle inkomste het gehelp om die gesin van kos te voorsien. Met hulle hulp het ek die enigste kind geword wat ’n ruk lank skoolgegaan het. Hoewel ons ’n swaar lewe gehad het, was ons uiters getrou aan die Katolieke Kerk, met die hoop dat dit ons lewe op die een of ander manier sou verbeter.
Gedurende Mei het die kerk die noveen gehad. Ons het nege opeenvolgende dae douvoordag na die kerk toe gestap. Daar het ons gebid omdat ons geglo het dat dit ’n seëning van God sou meebring. Ons het ook gedink dat die priester ’n heilige man, God se verteenwoordiger, was. Maar ons beskouing het mettertyd verander.
Op soek na iets beters
Toe ons nie die kerkbelasting betaal het nie, het die priester glad nie simpatie met ons geweldige finansiële verknorsing gehad nie. Dit het ons ontmoedig. My indruk van die kerk het drasties verander en gevolglik het ek, toe ek 18 was, besluit om my gesin te verlaat om uit te vind of daar iets beters in die lewe is as om op die landerye te werk en met die kerk te stry. Ek het in 1936 in Lissabon, Portugal se hoofstad, aangekom.
Daar het ek Edminia ontmoet. Hoewel ek gevoel het dat godsdiens my bedrieg het, het ons volgens die gebruik in die Katolieke Kerk getrou. Toe het die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek. Gedurende die oorlog was ek in beheer van 18 pakhuise, en ons het elke dag tot 125 vragmotors vol oorlogstoerusting en -voorraad uitgestuur.
Die gruwels van die oorlog sowel as die diepe betrokkenheid van die Katolieke Kerk het my werklik getref. Ek het gewonder: ‘Gee God werklik vir die mensdom om? Hoe moet ons hom aanbid?’ Jare later in 1954 het ’n bejaarde man, een van Jehovah se Getuies, met my gepraat oor die vrae wat ek gehad het. Hierdie gesprek het my hele lewe verander.
Die Bybel se hoop verbly my
Hierdie gawe man, Joshua, het aan my verduidelik dat God se Koninkryk die enigste oplossing vir die wêreld se probleme is en dat vrede en veiligheid net deur die heerskappy van die Koninkryk verwesenlik sal word (Matteus 6:9, 10; 24:14). Wat hy gesê het, het my verheug, maar ek wou nie sommer sy verduidelikings aanvaar nie weens my vorige ondervinding met godsdiens. Toe hy aanbied om die Bybel met my te studeer, het ek dit aanvaar op voorwaarde dat hy nie geld vra nie en dat hy nie oor die politiek praat nie. Hy het ingestem en my verseker dat dit wat hy aanbied verniet is.—Openbaring 22:17.
My vertroue in Joshua het gou toegeneem. Ek het hom dus iets gevra wat ek al sedert my jeug baie graag wou hê. “Kan ek my eie Bybel kry?” Nadat ek dit gekry het, het ek dit baie geniet om vir die eerste keer uit ons Skepper se eie Woord beloftes te lees soos: “God self sal by [die mense] wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan”!—Openbaring 21:3, 4.
Die Bybel se beloftes oor die uitwissing van armoede en siekte was veral vir my bemoedigend. Die getroue man Elihu het van God gesê: “Hy [gee] voedsel in oorvloed” (Job 36:31). En onder die regverdige heerskappy van God se Koninkryk, sê die Bybel, sal “geen inwoner . . . sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Watter liefdevolle belangstelling het Jehovah God in die mensdom! Hoe het my belangstelling in sy beloftes tog gegroei!
Ek het op 17 April 1954 vir die eerste keer ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon. Dit was ’n spesiale vergadering—die Gedenkmaalviering van Christus se dood. Van daardie tyd af aan het ek die vergaderinge baie gereeld bygewoon. Ek het gou die goeie dinge wat ek geleer het vir ander begin vertel. In daardie dae in Portugal het ons elke maand ’n piekniek naby die strand gehad, en dan is mense gedoop. Sewe maande nadat Joshua die eerste keer met my gepraat het, het ek my lewe aan Jehovah God toegewy en dit deur middel van waterdoop in die see gesimboliseer.
Vroeg in 1954 was daar net ongeveer honderd Getuies in die hele Portugal. Daar was dus ’n groot behoefte aan manne wat die leiding in die predikingswerk kon neem. Ek het vinnig geestelike vooruitgang gemaak, en ek is gou verantwoordelikhede in die gemeente gegee. In 1956 is ek in die tweede gemeente van Jehovah se Getuies in Lissabon aangestel as gemeentekneg, soos die presiderende opsiener toe genoem is. Vandag is daar meer as honderd gemeentes in hierdie stad en sy voorstede.
Die betoning van gasvryheid bring seëninge
Selfs al het ek en Edminia baie min geld gehad, het ons huis altyd oopgestaan vir ons Christenbroers. In 1955 het ’n pionier, soos voltydse evangeliedienaars van Jehovah se Getuies genoem word, in Portugal oorgebly terwyl hy van sy huis in Brasilië op pad was na die “Triomfantelike Koninkryk”- internasionale byeenkoms in Duitsland. Weens vervoerprobleme het hy ’n maand lank by ons tuisgegaan, en hoe het ons tog geestelik baat gevind by sy besoek!
Ander wat ons huis gedurende daardie tyd besoek het, het lede van die hoofkwartiergesin van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, ingesluit, soos Hugo Riemer en sy kamermaat Charles Eicher. Hulle het aandete by ons geëet en toesprake vir die Portugese broers gehou. Ons het soos pas uitgebroeide kuikens met oop bekkies die sappige geestelike brokkies verslind wat daardie broers voorsien het.
Reisende opsieners van Jehovah se Getuies het ook gedurende hulle besoeke by ons tuisgegaan. ’n Onvergeetlike besoeker in 1957 was Álvaro Berecochea, die takopsiener van Marokko, wat toegewys is om Portugal te besoek om die broers aan te moedig. Hy het die boekstudie in ons huis bygewoon, en ons het daarop aangedring dat hy vir die res van sy tyd in Portugal by ons bly. Gedurende sy maand lange besoek is ons baie geseën en het ons ’n geestelike fees geniet, terwyl Álvaro gewig aangesit het as gevolg van die lekker kos wat my liewe Edminia gemaak het.
Volslae armoede, soos wat ek gedurende my kinderjare ondervind het, kan ’n diep merk op ’n mens laat. En tog het ek tot die besef gekom dat ons des te meer geseën word hoe meer ons aan Jehovah en sy getroue knegte gee. Hierdie feit het my elke keer getref wanneer ons gasvryheid betoon het teenoor almal aan wie ons kon.
By ons streekbyeenkoms in Porto in 1955 is ’n aankondiging gedoen oor die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies wat in 1958 by die Yankee-stadion in die stad New York gehou sou word. In elkeen van die land se Koninkryksale—waarvan daar toe baie min was—is daar ’n bydraebus gesit om Portugese afgevaardigdes te help om na die byeenkoms te gaan. Kan jy jou ons vreugde voorstel toe ek en my vrou gekies is om afgevaardigdes te wees? Wat ’n vreugde was dit tog om die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn te besoek terwyl ons vir die byeenkoms in die Verenigde State was!
Ons verduur vervolging
In 1962 is daar ’n verbod geplaas op die predikingswerk van Jehovah se Getuies in Portugal, en die sendelinge—waaronder Eric Britten, Domenick Piccone, Eric Beveridge en hulle vrouens—is uit die land gesit. Daarna is ons nie toegelaat om ons vergaderinge in Koninkryksale te hou nie en het ons dit dus in die geheim in huise gehou; dit was ook nie meer moontlik om groot byeenkomste in Portugal te hê nie. Gevolglik het dit my verantwoordelikheid geword om vervoer vir ons Christenbroers en -susters te reël sodat hulle hierdie byeenkomste in ander lande kon bywoon.
Dit was nie maklik om te reël dat groot getalle Getuies na ander lande reis nie. Maar dit was beslis die moeite werd as ’n mens die wonderlike geestelike voordele in ag neem wat die Portugese broers ontvang het. Wat ’n opbouende ondervinding was dit tog vir hulle om byeenkomste in Switserland, Engeland, Italië en Frankryk by te woon! Sulke byeenkomste het hulle ook die geleentheid gebied om lektuur in die land in te bring. Gedurende daardie jare het ons verskeie kere aansoek gedoen om as ’n godsdiensorganisasie in Portugal geregistreer te word, maar al hierdie aansoeke is geweier.
Nadat die sendelinge vroeg in 1962 uit die land gesit is, het die geheime polisie ’n verskerpte poging aangewend om ons predikingswerk stop te sit. Talle van ons broers en susters is in hegtenis geneem en voor die hof gesleep. Gedokumenteerde verslae oor ’n hele paar van hierdie gebeure is in hierdie tydskrif en in sy medetydskrif, die Ontwaak!, gepubliseer.a
Een van dié wat in die tronk gesit is weens die predikingswerk was ’n pionier vir wie ek van die goeie nuus van God se Koninkryk getuig het. Aangesien die polisie my adres by sy besittings gevind het, is ek ontbied en ondervra.
Later het twee polisiemanne my huis besoek. Hulle het beslag gelê op my Bybelstudiehulpe sowel as 13 Bybels. Hulle het ons aanhoudend lastig geval en sewe keer teruggekom om ons huis te deursoek. Elke keer het hulle ons met vrae bestook.
Ek is verskeie kere gevra om vir mede-Getuies in hofsake te getuig. Hoewel ek nie baie skoolopleiding gehad het nie, het Jehovah my die ‘wysheid gegee wat alle teenstanders tesame nie kon weerstaan of betwis nie’ (Lukas 21:15). By een geleentheid was die regter so verbaas oor my getuienis dat hy my gevra het watter soort opleiding ek gehad het. Almal in die hofsaal het gelag toe ek gesê het dat ek net tot by graad vier skoolgegaan het.
Namate die vervolging vererger het, het al hoe meer mense gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer. Die aantal Getuies in Portugal het dus van minder as 1 300 in 1962 tot meer as 13 000 in 1974 toegeneem! Intussen is ek in Mei 1967 genooi om as ’n reisende opsiener te dien. In hierdie werk het ek gemeentes van Jehovah se Getuies besoek om hulle geestelik te versterk.
Ons geniet die grootste rykdom
In Desember 1974 het ek die voorreg gehad om betrokke te wees by die registrasieproses waardeur die werk van Jehovah se Getuies in Portugal wettig gemaak is. Die volgende jaar het ek en my vrou lede geword van die Bethelgesin van Jehovah se Getuies in Estoril. Ek is ook aangestel om as ’n lid van die takkomitee in Portugal te dien.
Watter vreugde was dit tog om te sien hoe die predikingswerk bloei in Portugal en in die gebiede onder die toesig van ons tak! Dit sluit Angola, die Asore-eilande, Kaap Verde, Madeira en Sao Tomé en Principe in. Deur die jare heen was dit opwindend om te sien hoe sendelinge van Portugal gestuur is om in hierdie lande te dien waar mense besonderse belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het. Stel jou ons blydskap voor om nou meer as 88 000 Koninkryksverkondigers op hierdie plekke te hê, waaronder die meer as 47 000 in Portugal! In 1998 was die Gedenkmaalbywoning in hierdie lande oor die 245 000, in vergelyking met minder as 200 toe ek in 1954 ’n Getuie geword het.
Ek en Edminia stem heelhartig met die Bybelpsalmis saam wat gesê het dat ‘’n dag in Jehovah se voorhowe beter is as ’n duisend elders’ (Psalm 84:10, NW). Wanneer ek terugdink aan my eenvoudige begin en dit vergelyk met die geestelike rykdom wat ek sedertdien geniet het, voel ek soos die profeet Jesaja: “HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen . . . Want U was ’n vesting vir die arme, ’n vesting vir die behoeftige.”—Jesaja 25:1, 4.
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 Augustus 1964, bladsye 9-17, en Die Wagtoring van 15 Desember 1966, bladsye 555-62, en 1 Januarie 1967, bladsye 21-4.
[Prente op bladsy 24]
Bo: Broer Almeida in Lissabon toe hy die reëling aankondig dat afgevaardigdes na die streekbyeenkoms in 1958 in New York gestuur gaan word
Middel: Demonstrasie by die “Vrede op aarde”- internasionale byeenkoms in Parys van hoe ’n knegtevergadering gehou moet word
Onder: Gehuurde busse op die punt om na ’n streekbyeenkoms in Frankryk te vertrek
[Prent op bladsy 25]
Ek hou die oggendaanbidding in die Portugal-takkantoor
[Prent op bladsy 25]
Portugal-takkantoor, wat in 1988 toegewy is
[Prent op bladsy 26]
Broer Hugo Riemer se toesprake het ons aangemoedig toe hy ons van die Brooklynse Bethel af besoek het
[Prent op bladsy 26]
Saam met my vrou