Hoe lief is jy vir God se Woord?
“Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.”—PSALM 119:97.
1. Wat is een manier waarop godvresende mense hulle liefde vir God se Woord bewys?
HONDERDMILJOENE mans en vroue besit ’n Bybel. Maar daar is ’n verskil tussen ’n Bybel besit en God se Woord liefhê. Kan iemand werklik sê dat hy God se Woord liefhet as hy dit selde lees? Natuurlik nie! Daarenteen is daar mense wat voorheen nie groot agting vir die Bybel gehad het nie, maar wat dit nou elke dag lees. Hulle het geleer om God se Woord lief te hê en, soos die psalmis, bepeins hulle dit nou “die hele dag”.—Psalm 119:97.
2. Hoe is die geloof van een van Jehovah se Getuies onder moeilike omstandighede versterk?
2 Een van die persone wat geleer het om God se Woord lief te hê, is Nasjo Dori. Saam met medegelowiges het hy dekades lank volhard terwyl hy Jehovah in sy vaderland, Albanië, gedien het. Die werk van Jehovah se Getuies was gedurende ’n groot deel van daardie tyd verbied, en hierdie getroue Christene het maar min Bybellektuur ontvang. Maar broer Dori se geloof het sterk gebly. Waarom? “My doelwit”, het hy gesê, was “om die Bybel ten minste ’n uur elke dag te lees, wat ek omtrent 60 jaar lank gedoen het totdat ek nie meer mooi kon sien nie.” Tot nog onlangs toe was die hele Bybel nie in Albanees beskikbaar nie, maar broer Dori het as kind Grieks geleer, en hy het dus die Bybel in daardie taal gelees. Gereelde Bybellees het broer Dori gedurende verskillende beproewinge versterk, en dit kan ons ook versterk.
‘Ontwikkel ’n verlange’ na God se Woord
3. Watter gesindheid moet Christene teenoor God se Woord ontwikkel?
3 “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort”, het die apostel Petrus geskryf (1 Petrus 2:2). Net soos ’n baba na sy moeder se melk smag, is dit vir Christene wat bewus is van hulle geestelike behoefte werklik aangenaam om God se Woord te lees. Is dit hoe jy voel? Indien nie, moenie moed opgee nie. Jy kan ook ’n verlange na God se Woord ontwikkel.
4. Wat behels dit om Bybellees ’n daaglikse gewoonte te maak?
4 Om dit te doen, moet jy jou eers dissiplineer om Bybellees ’n gewoonte te maak, indien moontlik ’n daaglikse gewoonte (Handelinge 17:11). Jy sal dalk nie elke dag ’n uur aan Bybellees kan wy soos Nasjo Dori nie, maar jy sal heel waarskynlik elke dag ’n tydjie opsy kan sit om God se Woord te lees. Baie Christene staan soggens ’n paar minute vroeër op om oor ’n Skrifgedeelte te peins. Kan daar enige beter manier wees om die dag te begin? Ander verkies om die Bybel te lees net voor hulle gaan slaap en die dag só af te sluit. Nog ander lees die Bybel op ’n ander geleë tyd. Die belangrike saak is om die Bybel gereeld te lees. Neem dan ’n paar minute om te peins oor wat jy gelees het. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van persone wat daarby baat gevind het om God se Woord te lees en te bepeins.
’n Psalmis wat God se wet liefgehad het
5, 6. Al weet ons nie wie die skrywer van die 119de Psalm was nie, wat kan ons omtrent hom leer as ons lees en peins oor wat hy geskryf het?
5 Die skrywer van die 119de Psalm het ongetwyfeld groot waardering vir God se Woord gehad. Wie het daardie psalm geskryf? Die Bybel sê nie wie die skrywer was nie. Maar uit die konteks kry ons ’n paar besonderhede oor hom, en ons weet dat sy lewe nie sonder probleme was nie. Van sy kennisse wat veronderstel was om aanbidders van Jehovah te wees, het nie sy liefde vir Bybelbeginsels gedeel nie. Die psalmis het nietemin nie toegelaat dat hulle gesindheid hom verhinder om te doen wat reg is nie (Psalm 119:23). As jy saam met iemand woon of werk wat nie Bybelstandaarde respekteer nie, sal jy moontlik ooreenkomste tussen die psalmis se situasie en joune sien.
6 Hoewel die psalmis ’n godvresende man was, was hy beslis nie eiegeregtig nie. Hy het sy eie tekortkominge openlik erken (Psalm 119:5, 6, 67). Hy het egter nie toegelaat dat sonde hom beheer nie. “Hoe sal ’n jong man sy pad reinig?” het hy gevra. Sy antwoord: “Deur op sy hoede te bly ooreenkomstig u woord” (Psalm 119:9, NW). Toe het die psalmis beklemtoon dat God se Woord waarlik ’n kragtige aansporing ten goede is deur by te voeg: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Psalm 119:11). Iets wat ons aanspoor om nie teen God te sondig nie, moet inderdaad kragtig wees!
7. Waarom moet jongmense veral bewus wees van die belangrikheid om die Bybel daagliks te lees?
7 Dit sal verstandig wees van Christenjongmense om na te dink oor die psalmis se woorde. Jong Christene word vandag aangeval. Die Duiwel sal baie graag die jonger geslag van Jehovah se aanbidders verdorwe wil maak. Satan se doelwit is om jong Christene in versoeking te bring om aan vleeslike begeertes toe te gee en God se wette te oortree. Rolprente en televisieprogramme weerspieël dikwels die Duiwel se denke. Die sterre van sulke programme lyk na aantreklike en gawe mense; onsedelike verhoudings tussen hulle word as normaal uitgebeeld. Wat is die boodskap? ‘Dit is in orde vir ongetroude persone om geslagsomgang te hê solank hulle mekaar waarlik liefhet.’ Ongelukkig is daar jaarliks talle jong Christene wat voor hierdie denkwyse swig. Party ly skipbreuk wat hulle geloof betref. Groot druk word dus inderdaad uitgeoefen! Maar is die druk so erg dat dit vir jongmense onmoontlik is om dit te weerstaan? Hoegenaamd nie! Jehovah het ’n manier voorsien waarop jong Christene slegte begeertes kan oorkom. Hulle kan enige wapen wat die Duiwel kan ontwerp, weerstaan deur ‘op hulle hoede te bly ooreenkomstig God se Woord en God se woorde in hulle hart te bêre’. Hoeveel tyd bestee jy aan gereelde persoonlike Bybellees en bepeinsing?
8. Hoe kan die voorbeelde wat in hierdie paragraaf genoem word jou help om groter waardering vir die Mosaïese Wet op te bou?
8 Die skrywer van die 119de Psalm het uitgeroep: “Hoe lief het ek u wet”! (Psalm 119:97). Na watter wet het hy verwys? Na Jehovah se geopenbaarde woord, wat die Mosaïese Wet insluit. Party sal dalk hierdie Wet aanvanklik verwerp as verouderd en wonder hoe enigiemand daarvoor lief kan wees. Maar wanneer ons oor die verskillende fasette van die Mosaïese Wet nadink, soos die psalmis gedoen het, kan ons die wysheid agter daardie Wet insien. Benewens al die profetiese aspekte van die Wet, is daar die sanitêre en dieetkundige voorskrifte, wat reinheid en goeie gesondheid bevorder het (Levitikus 7:23, 24, 26; 11:2-8). Die Wet het eerlikheid in sakeaangeleenthede aangemoedig en die Israeliete vermaan om empatie te betoon aan behoeftige medeaanbidders (Exodus 22:26, 27; 23:6; Levitikus 19:35, 36; Deuteronomium 24:17-21). Regterlike beslissings moes onpartydig wees (Deuteronomium 16:19; 19:15). Namate die skrywer van Psalm 119 ondervinding in die lewe opgedoen het, het hy ongetwyfeld gesien hoe goed dinge afloop vir diegene wat God se Wet toepas, en sy liefde daarvoor is versterk. En namate Christene Bybelbeginsels vandag met welslae toepas, word hulle liefde en waardering vir God se Woord eweneens groter.
’n Prins wat die moed gehad het om anders te wees
9. Watter gesindheid het koning Hiskia teenoor God se Woord aangekweek?
9 Die inhoud van die 119de Psalm kom goed ooreen met wat ons omtrent Hiskia weet toe hy nog ’n jong prins was. Party Bybelgeleerdes voer aan dat Hiskia die skrywer van die psalm was. Hoewel daar geen sekerheid hieroor is nie, weet ons wel dat Hiskia groot eerbied vir God se Woord gehad het. Hy het deur sy lewenswandel getoon dat hy heelhartig saamgestem het met die woorde in Psalm 119:97. Die Bybel sê van Hiskia: “Hy het die HERE aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou wat die HERE Moses beveel het.”—2 Konings 18:6.
10. Hoe moedig Hiskia se voorbeeld Christene aan wat nie deur godvresende ouers grootgemaak is nie?
10 Hiskia het blykbaar nie in ’n godvrugtige gesin grootgeword nie. Sy vader, koning Agas, was ’n ontroue afgodsaanbidder wat ten minste een van sy seuns—Hiskia se eie broer—lewendig verbrand het as ’n offerande aan ’n valse god! (2 Konings 16:3). Ten spyte van hierdie slegte voorbeeld kon Hiskia “sy pad reinig” van heidense invloed deur God se Woord te leer ken.—2 Kronieke 29:2.
11. Terwyl Hiskia toegekyk het, hoe het sake vir sy ontroue vader afgeloop?
11 Terwyl Hiskia opgegroei het, het hy persoonlik gesien hoe sy afgodaanbiddende vader die land regeer. Juda is deur vyande omring. Daar was Resin, die koning van Sirië (Aram), wat saam met koning Peka van Israel opgetrek en Jerusalem beleër het (2 Konings 16:5, 6). Daar was die Edomiete en die Filistyne, wat geslaagde aanvalle op Juda gedoen het en selfs ’n paar Judese stede ingeneem het (2 Kronieke 28:16-19). Hoe het Agas hierdie krisisse hanteer? In plaas van Jehovah om hulp te smeek teen Sirië, het Agas hom tot die koning van Assirië gewend en hom omgekoop met goud en silwer, insluitende dit wat in die tempelskatkis was. Maar dit het nie blywende vrede vir Juda meegebring nie.—2 Konings 16:6, 8.
12. Wat moes Hiskia doen om nie dieselfde foute as sy vader te begaan nie?
12 Agas het uiteindelik gesterf en Hiskia het op die ouderdom van 25 jaar koning geword (2 Kronieke 29:1). Hy was betreklik jonk, maar dit het nie gekeer dat hy ’n suksesvolle koning word nie. Hy het nie die handelswyse van sy ontroue vader nagevolg nie, maar by Jehovah se Wet gebly. Dit het ’n spesiale opdrag aan konings ingesluit: “As [die koning] op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet . . . te hou” (Deuteronomium 17:18, 19). Deur God se Woord daagliks te lees, sou Hiskia leer om Jehovah te vrees en nie dieselfde foute as sy goddelose vader te begaan nie.
13. Hoe kan ’n Christen daarvan seker wees dat hy, in geestelike sin, alles wat hy doen voorspoedig sal uitvoer?
13 Dit was nie net die konings van Israel wat aangespoor is om voortdurend oor God se Woord na te dink nie, maar alle godvresende Israeliete moes dit doen. Die eerste Psalm beskryf ’n waarlik gelukkige man as iemand wie se ‘behae in die wet van die HERE is, en sy wet dag en nag oordink’ (Psalm 1:1, 2). Die psalmis sê aangaande so ’n man: “Alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Psalm 1:3). In teenstelling hiermee sê die Bybel van iemand wat nie geloof in Jehovah God het nie: “Hy is ’n besluitelose mens, onbestendig in al sy weë” (Jakobus 1:8). Ons almal wil gelukkig en voorspoedig wees. Gereelde, betekenisvolle Bybellees kan tot ons geluk bydra.
God se Woord het Jesus versterk
14. Hoe het Jesus getoon dat hy God se Woord liefhet?
14 By een geleentheid het Jesus se ouers hom in die tempel in Jerusalem gevind waar hy tussen die leermeesters gesit het. Hierdie geleerdes in God se Wet “was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde”! (Lukas 2:46, 47). Dit was toe Jesus 12 jaar oud was. Ja, selfs terwyl hy nog baie jonk was, het hy klaarblyklik ’n liefde vir God se Woord gehad. Later het Jesus die Skrif gebruik om die Duiwel te bestraf toe hy gesê het: “Die mens moet nie van brood alleen lewe nie, maar van elke uiting wat deur Jehovah se mond uitgaan” (Matteus 4:3-10). Kort daarna het Jesus vir die inwoners van sy tuisdorp Nasaret getuig en die Skrif gebruik.—Lukas 4:16-21.
15. Hoe het Jesus ’n voorbeeld gestel toe hy vir ander getuig het?
15 Jesus het dikwels uit God se Woord aangehaal om sy leringe te staaf. Sy luisteraars was “verstom . . . oor sy manier van leer” (Matteus 7:28). En geen wonder nie—Jesus se leringe het van Jehovah God self gekom! Jesus het gesê: “Wat ek leer, is nie myne nie, maar behoort aan hom wat my gestuur het. Hy wat uit homself spreek, soek sy eie heerlikheid; maar hy wat die heerlikheid soek van die een wat hom gestuur het, hy is waaragtig, en daar is geen onregverdigheid in hom nie.”—Johannes 7:16, 18.
16. Tot watter mate het Jesus sy liefde vir God se Woord bewys?
16 Anders as die skrywer van Psalm 119 was daar “geen onregverdigheid” in Jesus nie. Hy was sonder sonde, die Seun van God, wat “homself verneder en gehoorsaam geword [het] tot in die dood” (Filippense 2:8; Hebreërs 7:26). Maar al was hy volmaak, het Jesus God se Wet bestudeer en gehoorsaam. Dit was ’n vername rede waarom hy sy onkreukbaarheid gehandhaaf het. Toe Petrus ’n swaard gebruik het om te probeer keer dat sy Heer in hegtenis geneem word, het Jesus die apostel berispe en gevra: “Dink jy dat ek nie ’n beroep op my Vader kan doen om op hierdie oomblik meer as twaalf legioene engele aan my beskikbaar te stel nie? Hoe sou die Skrif in daardie geval vervul word dat dit so moet plaasvind?” (Matteus 26:53, 54). Ja, dit was vir Jesus belangriker om die Skrif te vervul as om ’n wrede en vernederende dood vry te spring. Watter groot liefde vir God se Woord tog!
Ander navolgers van Christus
17. Hoe belangrik was God se Woord vir die apostel Paulus?
17 Die apostel Paulus het aan mede-Christene geskryf: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). Soos sy Heer, het Paulus ’n liefde vir die Skrif aangekweek. Hy het erken: “In my binneste is ek werklik lief vir God se Wet” (Romeine 7:22, The Jerusalem Bible). Paulus het God se Woord dikwels aangehaal (Handelinge 13:32-41; 17:2, 3; 28:23). Toe hy sy laaste instruksies aan Timoteus, ’n geliefde medebedienaar, gegee het, het Paulus beklemtoon watter belangrike rol God se Woord in die daaglikse lewe van elke “mens van God” moet speel.—2 Timoteus 3:15-17.
18. Noem ’n voorbeeld van iemand wat, in hedendaagse tye, eerbied vir God se Woord getoon het.
18 Talle getroue knegte van Jehovah in hedendaagse tye het eweneens Jesus se liefde vir God se Woord nagevolg. Vroeg in hierdie eeu het ’n jong man ’n Bybel by ’n vriend gekry. Hy het beskryf watter uitwerking hierdie kosbare geskenk op hom gehad het: “Ek het my voorgeneem om dit ’n noodsaaklike deel van my lewe te maak om elke dag ’n gedeelte in die Bybel te lees.” Daardie jong man was Frederick Franz, en sy liefde vir die Bybel het daartoe gelei dat hy ’n lang, suksesvolle lewe in Jehovah se diens geniet het. Hy word met geneentheid onthou vir sy vermoë om hele hoofstukke van die Bybel uit die hoof aan te haal.
19. Hoe doen party die weeklikse Skriflesing vir die Teokratiese Bedieningskool?
19 Jehovah se Getuies lê groot klem daarop om die Bybel gereeld te lees. Hulle lees elke week ’n paar hoofstukke van die Bybel ter voorbereiding vir een van hulle Christelike vergaderinge, die Teokratiese Bedieningskool. Glanspunte van die toegewese Skrifgedeelte word gedurende die vergadering bespreek. Party Getuies vind dit makliker om die week se Skriflesing in sewe kleiner gedeeltes te verdeel en elke dag een gedeelte te lees. Terwyl hulle lees, peins hulle oor die materiaal. Wanneer moontlik doen hulle bykomende navorsing met behulp van Bybelpublikasies.
20. Wat is nodig om tyd in te ruim vir gereelde Bybellees?
20 Jy sal dalk ‘tyd moet uitkoop’ van ander bedrywighede om die Bybel gereeld te lees (Efesiërs 5:16). Maar die voordele sal enige opofferinge ver oortref. Namate jy die gewoonte aankweek om die Bybel daagliks te lees, sal jou liefde vir God se Woord toeneem. Kort voor lank sal jy ook voel om soos die psalmis te sê: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). Hierdie gesindheid sal nou en in die toekoms groot voordele meebring, soos die volgende artikel sal toon.
Onthou jy?
◻ Hoe het die skrywer van Psalm 119 innige liefde vir God se Woord geopenbaar?
◻ Watter lesse kan ons leer uit die voorbeelde van Jesus en Paulus?
◻ Hoe kan ons eie liefde vir God se Woord toeneem?
[Prente op bladsy 10]
Getroue konings moes God se Woord gereeld lees. Doen jy dit?
[Prent op bladsy 12]
Selfs as ’n jong seun het Jesus ’n liefde vir God se Woord gehad