Jehovah is vir my ’n God van liefderyke goedhartigheid
SOOS VERTEL DEUR JOHN ANDRONIKOS
Dit was die jaar 1956. Net nege dae ná my troue het ek voor die appèlhof in Komotini, in noordelike Griekeland, verskyn. Ek het gehoop dat die vonnis van 12 maande wat ek opgelê is omdat ek God se Koninkryk verkondig het ter syde gestel sou word. Die beslissing van die appèlhof—ses maande gevangenisstraf—het daardie hoop verpletter, en dit was net die begin van ’n lang reeks hofsake. Maar deur alles heen was Jehovah vir my ’n God van liefderyke goedhartigheid.
TOE ek op 1 Oktober 1931 gebore is, het ons gesin in die stad Kaválla gewoon, die Neapolis van Masedonië waar die apostel Paulus tydens sy tweede sendingreis besoek afgelê het. My ma het een van Jehovah se Getuies geword toe ek vyf jaar oud was, en hoewel sy byna ongeletterd was, het sy haar bes gedoen om liefde vir God en vrees vir hom by my in te boesem. My pa was ’n baie konserwatiewe man wat onversetlik aan die Grieks-Ortodokse tradisies gekleef het. Hy het glad nie in Bybelwaarheid belanggestel nie en my ma teëgestaan, en hy was dikwels gewelddadig.
Ek het dus in ’n verdeelde huisgesin grootgeword, waar my pa my ma geslaan en mishandel het en ons selfs verlaat het. My ma het my en my sussie van kleins af na Christelike vergaderinge toe geneem. Maar toe ek 15 geword het, het ek Jehovah se Getuies verlaat omdat ek my jeugdige begeertes wou bevredig en onafhanklik wou wees. My getroue ma het nietemin baie hard probeer en baie trane gestort om my te help.
Weens armoede en die slegte lewe wat ek gelei het, het ek baie siek geword en moes ek meer as drie maande in die bed bly. Dit was toe dat ’n baie nederige broer, wat my ma gehelp het om die waarheid te leer, ’n opregte liefde vir God in my opgemerk het. Hy het gemeen dat ek gehelp kon word om geestelik te herstel. Ander het vir hom gesê: “Jy mors jou tyd om John te probeer help; hy sal hom nooit kan regruk nie.” Maar die geduld van hierdie broer en sy volgehoue hulp het vrugte afgewerp. Op 15 Augustus 1952, toe ek 21 jaar oud was, het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
Pas getroud en in die tronk
Drie jaar later het ek Martha leer ken, ’n geestelikgesinde suster met baie mooi eienskappe, en kort daarna het ons verloof geraak. Ek was eendag baie verbaas toe Martha vir my gesê het: “Ek is van plan om vandag van huis tot huis te preek. Wil jy saam met my kom?” Tot op daardie stadium het ek nog nooit aan hierdie faset van die werk deelgeneem nie, aangesien ek meestal informeel getuig het. Destyds was daar ’n verbod op die predikingswerk in Griekeland, en ons moes ons predikingswerk ondergronds doen. Gevolglik was daar baie inhegtenisnemings, hofsake en swaar tronkvonnisse. Maar ek kon net nie vir my verloofde nee sê nie!
Martha het in 1956 my vrou geword. Dit was toe, nege dae ná ons troue, dat die appèlhof in Komotini my die vonnis van ses maande opgelê het. Dit het my aan ’n vraag laat dink wat ek vroeër aan ’n Christensuster, ’n vriendin van my ma, gestel het: “Hoe is dit enigsins vir my moontlik om te toon dat ek ’n ware Getuie van Jehovah is? Ek het nog nooit die geleentheid gehad om my geloof te bewys nie.” Toe hierdie suster my in die gevangenis kom besoek het, het sy my aan daardie vraag herinner en gesê: “Nou kan jy vir Jehovah wys hoeveel jy hom liefhet. Hier het jy nou die geleentheid.”
Toe ek hoor dat my prokureur geld bymekaar probeer kry sodat ek op borgtog vrygelaat kon word, het ek vir hom gesê dat ek eerder my vonnis wou uitdien. Hoe bly was ek tog toe ek aan die einde van die ses maande in die tronk sien dat twee van my medegevangenes die waarheid aanneem! Die volgende paar jaar was ek ter wille van die goeie nuus by talle hofsake betrokke.
Keuses waaroor ons nog nooit spyt was nie
In 1959, ’n paar jaar ná my vrylating, het ek as ’n gemeentekneg, of presiderende opsiener, gedien toe ek genooi is om die Koninkryksbedieningskool, ’n opleidingskursus vir gemeentelike ouer manne, by te woon. Maar ek is terselfdertyd ’n permanente pos in ’n staatshospitaal aangebied, ’n werk wat my en my gesin lewenslank finansiële sekuriteit sou gee. Wat moes ek kies? Ek het toe alreeds drie maande tydelik in die hospitaal gewerk, en die administratiewe hoof was baie tevrede met my werk, maar toe ek die uitnodiging na die skool ontvang, wou hy my nie eers toelaat om onbetaalde verlof te neem nie. Nadat ek biddend oor die dilemma nagedink het, het ek besluit om Koninkryksbelange eerste te stel en nie die werksaanbod te aanvaar nie.—Matteus 6:33.
Omtrent dieselfde tyd het die streek- en kringopsiener ons gemeente besoek. Ons moes ons vergaderinge in die geheim in privaat huise hou vanweë die kwaai teenstand van die Grieks-Ortodokse geestelikes en die owerheid. Ná een van die vergaderinge het die streekopsiener my genader en gevra of ek al daaraan gedink het om die voltydse diens te betree. Sy voorstel het my hart geroer, aangesien dit my droom was sedert ek gedoop is. Ek het geantwoord: “Ek wil baie graag.” Maar ek het alreeds die bykomende verantwoordelikheid gehad om ’n dogter groot te maak. Die broer het vir my gesê: “Vertrou op Jehovah, en hy sal jou help om jou planne te verwesenlik.” Gevolglik kon ek en my vrou, sonder om ons gesinsverantwoordelikhede te verwaarloos, ons omstandighede so aanpas dat ek in Desember 1960 in die oostelike deel van Masedonië as ’n spesiale pionier kon begin dien—een van net vyf spesiale pioniers in die land.
Nadat ek ’n jaar as ’n spesiale pionier gewerk het, het die takkantoor in Atene my genooi om as ’n reisende opsiener te dien. Toe ek terug was by die huis nadat ek ’n maand lank opleiding vir hierdie werk ontvang het, en terwyl ek nog my ondervindinge vir Martha vertel het, het die direkteur van ’n groot mangaanmyn my besoek en my genooi om die bestuurder van die suiweringsaanleg te word, en hy het my ook ’n aantreklike vyfjaarkontrak, ’n mooi huis en ’n motor aangebied. Hy het my twee dae gegee om te besluit. Sonder om enigsins te aarsel, het ek weer eens tot Jehovah gebid: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). My vrou het heelhartig daarmee saamgestem. Ons het op God vertrou en met die reisende werk begin, en in sy liefderyke goedhartigheid het Jehovah ons nooit in die steek gelaat nie.
Ons het deur dik en dun gedien
Hoewel daar ekonomiese probleme was, het ons volhard, en Jehovah het die noodsaaklikhede voorsien. In die begin het ek gemeentes op ’n klein motorfiets besoek en tot 500 kilometer afgelê. Baie kere het ek probleme gehad, asook ’n paar ongelukke. Nadat ek gedurende een winter ’n gemeente besoek het en op pad terug was, het ek deur ’n sterk stroom gery, die enjin het gaan staan, en ek het tot by my knieë nat geword. Die motorfiets het daarna ’n pap wiel gehad. ’n Verbyganger wat ’n pomp gehad het, het my gehelp, en sodoende kon ek na die naaste dorpie gaan waar ek die band reggemaak het. Ek het eers drie-uur die oggend by die huis aangekom, verkluim en uitgeput.
Terwyl ek by ’n ander geleentheid van een gemeente na die ander gegaan het, het die motorfiets gegly en op my knie geval. Gevolglik was my broek geskeur en deurweek met bloed. Ek het nie ’n ander broek gehad nie en moes dus daardie aand die toespraak hou met ’n ander broer se broek aan, wat eintlik te groot vir my was. Geen probleem kon egter my begeerte demp om Jehovah en my geliefde broers te dien nie.
In ’n ander ongeluk het ek baie seergekry toe ek my arm en my voortande gebreek het. Op daardie stadium het my suster, wat nie ’n Getuie is nie en in die Verenigde State woon, my besoek. Wat ’n verligting was dit tog toe sy my gehelp het om ’n motor te koop! Toe die broers in die takkantoor in Atene van my ongeluk te hore kom, het hulle vir my ’n bemoedigende brief gestuur, en onder andere na die woorde van Romeine 8:28 verwys, wat gedeeltelik sê: “God [laat] al sy werke ten goede . . . saamwerk vir dié wat God liefhet.” Hierdie versekering is oor en oor in my lewe waar bewys!
’n Aangename verrassing
In 1963 het ek saam met ’n spesiale pionier gewerk in ’n dorpie waar die mense onontvanklik was. Ons het besluit om op ons eie te werk, elkeen aan ’n kant van die straat. By een huis het ek beswaarlik aan die deur geklop toe ’n vrou my skielik in die huis ingepluk het en die deur agter my gesluit het. Ek was skoon uit die veld geslaan en het gewonder wat aan die gang was. Kort daarna het sy ook die spesiale pionier geroep om gou in die huis in te kom. Toe het die vrou vir ons gesê: “Sjuut! Moenie eers beweeg nie!” Na ’n rukkie het ons vyandige stemme buite gehoor. Mense het ons gesoek. Toe dit stil geword het, het die vrou vir ons gesê: “Ek het dit vir julle eie beskerming gedoen. Ek respekteer julle omdat ek glo dat julle ware Christene is.” Ons het haar opreg bedank en vertrek, nadat ons baie lektuur by haar gelaat het.
Veertien jaar later, terwyl ek ’n streekbyeenkoms in Griekeland bygewoon het, het ’n vrou na my toe gekom en gesê: “Broer, onthou jy my nog? Ek is die vrou wat gekeer het dat teenstanders julle opspoor toe julle in ons dorpie kom getuig het.” Sy het na Duitsland geïmmigreer, die Bybel bestudeer en met Jehovah se volk begin assosieer. Nou was haar hele gesin in die waarheid.
Gedurende al hierdie jare is ons werklik met baie “aanbevelingsbriewe” geseën (2 Korintiërs 3:1). ’n Hele paar van dié wat ons die voorreg gehad het om te help om kennis van Bybelwaarheid op te doen, dien nou as ouer manne, bedieningsknegte en pioniers. Hoe opwindend is dit tog om te sien dat die handjie vol verkondigers in die kringe wat ek in die vroeë sestigerjare gedien het tot meer as 10 000 aanbidders van Jehovah toegeneem het! Alle eer kom ons God van liefderyke goedhartigheid toe, wat ons op sy eie manier gebruik.
“Op ’n divan van siekte”
Gedurende ons jare in die reisende werk was Martha ’n uitstekende hulp, en sy het nog altyd ’n vreugdevolle gesindheid geopenbaar. Maar in Oktober 1976 het sy baie siek geword en ’n pynlike operasie ondergaan. Die uiteinde was dat sy ’n parapleeg in ’n rolstoel geword het. Hoe kon ons die onkoste dek en die emosionele angs die hoof bied? Ons het weer eens op Jehovah vertrou en sy liefde en vrygewigheid ervaar. Toe ek vertrek het om in Masedonië te dien, het Martha by die huis van ’n broer in Atene gebly om fisioterapie te kry. Sy het my gebel en met die woorde bemoedig: “Dit gaan goed. Gaan jy voort, en wanneer ek weer kan beweeg, sal ek in my rolstoel saam met jou gaan.” En dit is presies wat sy gedoen het. Ons geliefde broers van Bethel het talle bemoedigende briewe aan ons gestuur. Martha is herhaaldelik herinner aan die woorde in Psalm 41:3 (NW): “Jehovah sal hom op ’n divan van siekte onderskraag; sy hele bed sal u beslis gedurende sy siekte verander.”
Vanweë hierdie ernstige gesondheidsprobleme is daar in 1986 besluit dat dit vir my beter sal wees om as ’n spesiale pionier in Kaválla te dien, waar ek naby ons liewe dogter en haar gesin woon. Verlede Maart het my dierbare Martha gesterf; sy was getrou tot die einde toe. Voor sy gesterf het, het broers haar soms gevra: “Hoe gaan dit met jou?” dan het sy gewoonlik geantwoord: “Aangesien ek na aan Jehovah is, gaan dit baie goed met my!” Wanneer ons vir die vergaderinge voorberei het of aanloklike uitnodigings ontvang het om in gebiede te dien waar die oes groot is, het Martha gewoonlik gesê: “John, kom ons gaan dien waar daar meer hulp nodig is.” Sy het nooit haar ywer verloor nie.
’n Paar jaar gelede het ek ook ernstige gesondheidsprobleme gehad. In Maart 1994 is ek gediagnoseer met ’n lewensgevaarlike hartprobleem, en ek moes ’n operasie ondergaan. Ek het weer eens gevoel hoe Jehovah se liefdevolle hand my deur ’n kritieke tyd onderskraag het. Ek sal nooit die gebed vergeet wat ’n kringopsiener langs my bed gedoen het toe ek uit die waakeenheid gekom het nie, en ook nie die Gedenkmaal wat ek daar in my hospitaalkamer saam met vier pasiënte gevier het wat bietjie belangstelling in die waarheid getoon het nie.
Jehovah is ons Helper
Die tyd vlieg, en ons vlees verswak, maar ons gees word vernuwe deur studie en diens (2 Korintiërs 4:16). Dit is nou al 39 jaar sedert ek gesê het: “Hier is ek, stuur my.” Ek het ’n vol, gelukkige en lonende lewe gelei. Ja, soms voel ek “ellendig en behoeftig”, maar dan kan ek met vertroue vir Jehovah sê: “U is my hulp en my redder” (Psalm 40:18). Hy is beslis vir my ’n God van liefderyke goedhartigheid.
[Prent op bladsy 25]
Saam met Martha in 1956
[Prent op bladsy 26]
Die hawe in Kaválla
[Prent op bladsy 26]
Saam met Martha in 1997