Jehovah—Die een wat sterk in krag is
“Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—JESAJA 40:26, NW.
1, 2. (a) Van watter fisiese kragbron is ons almal afhanklik? (b) Verduidelik waarom Jehovah die uiteindelike Bron van alle krag is.
KRAG is iets wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar. Ons dink byvoorbeeld weinig aan die elektriese krag wat ons van lig en hitte voorsien of aan die gerief om enige elektriese toestel wat ons besit aan te skakel. Eers as daar ’n onverwagte kragonderbreking is, besef ons dat die mens se stede sonder krag feitlik tot stilstand sal kom. Die grootste gedeelte van die elektrisiteit waarvan ons afhanklik is, kom indirek van die aarde se betroubaarste kragbron—die son.a Elke sekonde verbrand hierdie sonreaktor vyfmiljoen ton kernenergie en voorsien dit die aarde van oorgenoeg lewensonderhoudende energie.
2 Waar kom al hierdie sonkrag vandaan? Wie het hierdie kragsentrale in die ruimte gemaak? Jehovah God het. Psalm 74:16 verwys na hom en sê: “Ú het hemelligte en son vasgestel.” Ja, Jehovah is die uiteindelike Bron van alle krag, net soos hy die Bron van alle lewe is (Psalm 36:9, NW). Ons moet nooit sy krag as vanselfsprekend aanvaar nie. Deur die profeet Jesaja herinner Jehovah ons daaraan om na die hemelliggame, soos die son en die sterre, te kyk en oor hulle oorsprong na te dink. “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Hy wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—Jesaja 40:26, NW; Jeremia 32:17.
3. Hoe vind ons baat by die maniere waarop Jehovah sy krag uitoefen?
3 Aangesien Jehovah sterk in krag is, kan ons vol vertroue wees dat die son sal aanhou om ons van die lig en hitte te voorsien waarvan ons lewe afhang. Maar ons maak op God se krag staat vir veel meer as net ons basiese fisiese behoeftes. Ons bevryding van sonde en die dood, ons toekomshoop en ons vertroue in Jehovah is alles onafskeidelik verbonde aan die uitoefening van sy krag (Psalm 28:6-9; Jesaja 50:2). Die Bybel bevat baie voorbeelde wat getuig van Jehovah se krag om te skep en te bevry, om sy volk te red en sy vyande te vernietig.
God se krag kan duidelik gesien word in die skepping
4. (a) Watter uitwerking het dit op Dawid gehad toe hy in die aand na die hemelruim gekyk het? (b) Wat openbaar die hemelliggame omtrent God se krag?
4 Die apostel Paulus het verduidelik dat ons Skepper se ‘ewige krag duidelik waargeneem kan word in die dinge wat hy gemaak het’ (Romeine 1:20). Eeue tevore het die psalmis Dawid, wat as ’n herder seker dikwels in die aand na die hemelruim gekyk het, die grootsheid van die heelal en die mag van sy Maker waargeneem. Hy het geskryf: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4, 5). Al het Dawid maar beperkte kennis van die hemelliggame gehad, het hy besef hoe uiters nietig hy in vergelyking met die Skepper van ons ontsaglike heelal is. Vandag weet sterrekundiges veel meer omtrent die uitgestrektheid van die heelal en die krag waardeur dit onderhou word. Hulle vertel ons byvoorbeeld dat ons son elke sekonde energie gelykstaande aan die ontploffing van 100 000 miljoen megaton TNT uitstraal.b ’n Baie klein deeltjie van daardie energie bereik die aarde, en tog is dit genoeg om alle lewe op ons planeet te onderhou. Maar ons son is hoegenaamd nie die kragtigste ster in die hemel nie. Party sterre straal in net een sekonde die energie uit wat die son in ’n hele dag uitstraal. Dink net watter krag die Een wat hierdie hemelliggame geskep het tot sy beskikking het! Elihu het tereg uitgeroep: “Die Almagtige—ons vind Hom nie; Hy is groot van krag.”—Job 37:23.
5. Watter bewyse van Jehovah se krag vind ons in sy werke?
5 As ons ‘die werke van God naspeur’ soos Dawid gedoen het, sal ons oral bewyse van sy krag sien—in die wind en golwe, in donderweer en weerlig, in magtige riviere en majestueuse berge (Psalm 111:2; Job 26:12-14). Verder getuig diere van Jehovah se krag, soos hy Job herinner het. Een hiervan is die seekoei. Jehovah het vir Job gesê: “Sy krag is in sy kruis . . . Sy bene [is] soos stawe van yster” (Job 40:10-13). Die skrikwekkende krag van die wilde bul was ook bekend in Bybeltye, en Dawid het gebid dat hy gered sal word uit “die bek van die leeu, en van die horings van wilde bulle”.—Psalm 22:21, NW; Job 39:9-11, NW.
6. Wat stel die bul voor in die Skrif, en waarom? (Sien voetnoot.)
6 Weens sy krag word die bul in die Bybel gebruik om Jehovah se krag voor te stel.c Die apostel Johannes se visioen van Jehovah se troon beeld vier lewende wesens uit, waarvan die een ’n gesig soos ’n bul gehad het (Openbaring 4:6, 7). Krag is klaarblyklik een van die vier hoofeienskappe van Jehovah wat deur hierdie gerubs voorgestel word. Die ander is liefde, wysheid en geregtigheid. Aangesien krag so ’n belangrike faset van God se persoonlikheid is, sal ’n duidelike begrip van sy krag en hoe hy dit gebruik ons nader aan hom laat kom en ons help om sy voorbeeld na te volg deur enige krag wat ons tot ons beskikking het goed te gebruik.—Efesiërs 5:1.
‘Jehovah van die leërskare, die Magtige’
7. Hoe kan ons seker wees dat die goeie die kwaad sal oorwin?
7 In die Skrif word Jehovah “God, die Almagtige” genoem, ’n titel wat ons daaraan herinner dat ons nooit sy krag moet onderskat of moet twyfel aan sy vermoë om sy vyande te verslaan nie (Genesis 17:1; Exodus 6:2). Satan se goddelose stelsel van dinge lyk dalk goed gevestig, maar in Jehovah se oë is “die nasies . . . soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken” (Jesaja 40:15). Danksy God se krag is daar geen twyfel dat die goeie die kwaad sal oorwin nie. In ’n tyd wanneer goddeloosheid hoogty vier, kan ons vertroosting put uit die wete dat ‘Jehovah van die leërskare, die Magtige van Israel’ die kwaad vir ewig uit die weg sal ruim.—Jesaja 1:24; Psalm 37:9, 10.
8. Watter hemelse leërskare het Jehovah tot sy beskikking, en watter bewys het ons van hulle mag?
8 Die uitdrukking ‘Jehovah van die leërskare’, wat 285 keer in die Bybel voorkom, is nog ’n herinnering aan God se krag. Die “leërskare” waarna hier verwys word, is die menigte geesskepsele wat Jehovah tot sy beskikking het (Psalm 103:20, 21; 148:2). In een nag het net een van hierdie engele 185 000 Assiriese soldate verslaan wat ’n bedreiging vir Jerusalem was (2 Konings 19:35). As ons die mag van Jehovah se hemelse leërskare erken, sal ons nie maklik deur teenstanders geïntimideer word nie. Die profeet Elisa was glad nie bekommerd toe hy omsingel is deur ’n hele leër wat na hom gesoek het nie omdat hy, anders as sy dienskneg, met die oë van geloof ’n groot hemelse leërmag kon sien wat hom ondersteun.—2 Konings 6:15-17.
9. Waarom behoort ons, soos Jesus, vertroue in God se beskerming te hê?
9 Jesus was ook bewus van die ondersteuning van engele toe hy in die tuin van Getsemane gestaan het voor ’n skare wat met swaarde en knuppels gewapen was. Nadat hy vir Petrus gesê het om sy swaard in sy plek terug te sit, het Jesus vir hom gesê dat Hy, indien nodig, ’n beroep op sy Vader kon doen vir “meer as twaalf legioene engele” (Matteus 26:47, 52, 53). As ons soortgelyke waardering het vir die hemelse leërskare wat God tot sy beskikking het, sal ons ook ons volle vertroue in God se steun stel. Die apostel Paulus het geskryf: “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie sal teen ons wees?”—Romeine 8:31.
10. Ten behoewe van wie gebruik Jehovah sy krag?
10 Ons het dus alle rede om op Jehovah se beskerming te vertrou. Hy gebruik altyd sy krag ten goede en in ooreenstemming met sy ander eienskappe—geregtigheid, wysheid en liefde (Job 37:23; Jeremia 10:12). Magtige mense vertrap dikwels die armes en nederiges vir selfsugtige gewin, maar Jehovah ‘rig die geringe uit die stof op’ en ‘is magtig om te verlos’ (Psalm 113:5-7; Jesaja 63:1). Soos Maria, die beskeie en nederige moeder van Jesus, besef het, oefen “die Magtige” op onselfsugtige wyse sy krag uit ten behoewe van diegene wat hom vrees, en hy verneder die hoogmoediges maar verhef die geringes.—Lukas 1:46-53.
Jehovah openbaar sy krag aan sy knegte
11. Van watter bewys van God se krag was die Israeliete in die jaar 1513 v.G.J. ooggetuies?
11 Jehovah het by etlike geleenthede sy mag aan sy knegte geopenbaar. Een van hierdie geleenthede was by die berg Sinai in 1513 v.G.J. Gedurende daardie jaar het die Israeliete reeds indrukwekkende bewyse van God se krag gesien. Tien vernietigende plae het die sterk hand van Jehovah en die magteloosheid van Egiptiese gode getoon. Toe die Israeliete kort daarna op wonderdadige wyse deur die Rooi See getrek het en Farao se leër vernietig is, het dit verdere bewys van God se krag gelewer. Drie maande later, aan die voet van die berg Sinai, het Jehovah die Israeliete genooi om sy “eiendom uit al die volke” te word. Hulle het op hulle beurt beloof: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:5, 8). Toe het Jehovah sy krag op aanskoulike wyse geopenbaar. Te midde van donderslae en weerlig en die harde geluid van ’n basuin het die berg Sinai gerook en gebewe. Die volk, wat op ’n afstand gestaan het, het baie bang geword. Maar Moses het vir hulle gesê dat hierdie ondervinding hulle godvrugtige vrees moet leer, ’n vrees wat hulle sou beweeg om hulle almagtige en enigste ware God, Jehovah, te gehoorsaam.—Exodus 19:16-19; 20:18-20.
12, 13. Watter omstandighede het daartoe gelei dat Elia sy toewysing verlaat het, maar hoe het Jehovah hom versterk?
12 Etlike eeue later, gedurende die tyd van Elia, is God se krag weer by die berg Sinai geopenbaar. Die profeet het reeds God se krag in werking gesien. God het drie en ’n half jaar lank ‘die hemel toegesluit’ weens die afvalligheid van die Israelitiese volk (2 Kronieke 7:13). Gedurende die droogte wat daarop gevolg het, het kraaie vir Elia by die spruit Krit voedsel gebring, en later het ’n weduwee se karige voorraad meel en olie weens ’n wonderwerk nie opgeraak nie sodat sy hom van voedsel kon voorsien. Jehovah het Elia selfs die krag gegee om hierdie weduwee se seun op te wek. Ten laaste, in ’n dramatiese toets van Godheid op die berg Karmel, het vuur uit die hemel gekom en Elia se offerande verteer (1 Konings 17:4-24; 18:36-40). Nietemin het Elia kort daarna bang en mismoedig geword toe Isebel gedreig het om hom dood te maak (1 Konings 19:1-4). Hy het uit die land uit gevlug en gedink dat sy werk as profeet klaar was. Om hom te bemoedig en te versterk, het Jehovah hom goedhartig ’n persoonlike openbaring van Goddelike krag gegee.
13 Terwyl Elia in ’n spelonk weggekruip het, het hy ’n ontsagwekkende vertoning gesien van drie van die kragte wat deur Jehovah beheer word: ’n sterk wind, ’n aardbewing en laastens ’n vuur. Maar toe Jehovah met Elia gepraat het, het hy dit met ’n “kalm, sagte stem” gedoen. Hy het hom meer werk gegee om te doen en vir hom gesê dat daar nog 7 000 getroue aanbidders van Jehovah in die land was (1 Konings 19:9-18, NW). As ons, soos Elia, ooit mismoedig voel weens die gebrek aan resultate in ons bediening, kan ons Jehovah smeek om “krag wat bo die normale is”—’n krag wat ons kan versterk om sonder ophou met die verkondiging van die goeie nuus voort te gaan.—2 Korintiërs 4:7.
Jehovah se krag waarborg die vervulling van sy beloftes
14. Wat toon Jehovah se persoonlike naam, en hoe hou sy krag met sy naam verband?
14 Daar is ook ’n noue verband tussen Jehovah se krag en sy naam, asook die uitvoering van sy wil. Die unieke naam Jehovah, wat “Hy laat word” beteken, toon dat hy hom die Vervuller van beloftes laat word. Niks of niemand kan keer dat God sy voornemens vervul nie, ongeag hoe vergesog skeptici dit ook al beskou. Dit is soos Jesus eenkeer vir sy apostels gesê het: “By God is alles moontlik.”—Matteus 19:26.
15. Hoe is Abraham en Sara daaraan herinner dat niks vir Jehovah te wonderbaar is nie?
15 Ter toeligting: Jehovah het eens vir Abraham en Sara beloof dat hy hulle nakomelinge ’n groot nasie sou maak. Maar hulle het jare lank kinderloos gebly. Hulle was albei baie oud toe Jehovah vir hulle gesê het dat die belofte binnekort vervul sou word en Sara het gelag. In antwoord het die engel gesê: “Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees?” (Genesis 12:1-3; 17:4-8; 18:10-14). Vier eeue later, toe Moses uiteindelik Abraham se nakomelinge—wat nou ’n groot nasie was—op die vlaktes van Moab versamel het, het hy hulle daaraan herinner dat God sy belofte vervul het. Moses het gesê: “Tog lewe jy nog, omdat [Jehovah] jou voorvaders liefgehad het sodat hy hulle saad ná hulle uitgekies het en jou voor sy oë met sy groot krag uit Egipte uitgelei het, om nasies, groter en magtiger as jy, voor jou uit te verdryf, ten einde jou in te bring, om jou hulle land as ’n erfdeel te gee soos dit vandag is.”—Deuteronomium 4:37, 38, NW.
16. Waarom het die Sadduseërs die fout begaan om nie aan die opstanding van die dooies te glo nie?
16 Eeue later het Jesus die Sadduseërs, wat nie aan die opstanding geglo het nie, bestraf. Waarom het hulle geweier om te glo in God se belofte dat hy die dooies sal opwek? Jesus het vir hulle gesê: ‘Julle ken nóg die Skrif nóg die krag van God’ (Matteus 22:29). Die Skrif verseker ons dat ‘almal wat in die gedenkgrafte is die Seun van die mens se stem sal hoor en sal uitkom’ (Johannes 5:27-29). As ons weet wat die Bybel omtrent die opstanding sê, sal ons vertroue in die krag van God ons die volle versekerdheid gee dat die dooies opgewek sal word. God “sal die dood vir ewig vernietig, . . . want die HERE het dit gespreek”.—Jesaja 25:8.
17. Wanneer in die toekoms sal ons op ’n besondere manier op Jehovah móét vertrou?
17 In die nabye toekoms sal daar ’n tyd aanbreek wanneer ons almal op ’n besondere manier op God se reddende krag sal moet vertrou. Satan die Duiwel sal ’n aanval loods op God se volk, wat onbeskermd sal lyk (Esegiël 38:14-16). God sal dan sy groot mag ten behoewe van ons openbaar, en almal sal moet weet dat hy Jehovah is (Esegiël 38:21-23, vgl. NW). Dit is nou die tyd om ons geloof en vertroue in God die Almagtige op te bou sodat ons nie op daardie kritieke tyd sal wankel nie.
18. (a) Hoe vind ons daarby baat as ons oor Jehovah se krag peins? (b) Watter vraag sal in die volgende artikel bespreek word?
18 Daar is ongetwyfeld baie redes waarom ons oor Jehovah se krag moet peins. Namate ons oor sy werke nadink, word ons nederig beweeg om ons Grootse Skepper te loof en te dank dat hy sy krag op so ’n wyse en liefdevolle manier gebruik. Ons sal nooit geïntimideer word as ons op Jehovah van die leërskare vertrou nie. Ons geloof in sy beloftes sal onwankelbaar wees. Maar onthou dat ons na die beeld van God geskep is. Daarom het ons ook krag—al is dit in ’n beperkte mate. Hoe kan ons ons Skepper navolg in die manier waarop ons ons krag gebruik? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Die algemene mening is dat fossielbrandstowwe soos olie en steenkool—die hoofbronne van energie vir kragstasies—hulle energie van die son kry.
b In teenstelling hiermee het die kragtigste kernbom wat al getoets is ’n ontploffingskrag gelykstaande aan 57 megaton TNT gehad.
c Die wilde bul waarvan die Bybel praat, was waarskynlik die oer-os (Latyn urus). Tweeduisend jaar gelede is hierdie diere in Gallië (nou Frankryk) gevind, en Julius Caesar het die volgende beskrywing van hulle gegee: “Hierdie uri is nie veel kleiner as olifante nie, maar in hulle geaardheid, kleur en vorm is hulle bulle. Hulle besit groot krag en is baie vinnig; hulle laat nie ’n mens of dier wegkom as hulle hulle eers in die oog gekry het nie.”
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
• Hoe getuig die skepping van Jehovah se krag?
• Watter leërskare kan deur Jehovah gebruik word om sy volk te ondersteun?
• By watter geleenthede het Jehovah sy krag geopenbaar?
• Watter waarborg het ons dat Jehovah sy beloftes sal vervul?
[Prente op bladsy 10]
“Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep?”
[Erkenning]
Foto deur Malin, © IAC/RGO 1991
[Prente op bladsy 13]
Dit bou ons geloof in Jehovah se beloftes op as ons peins oor die maniere waarop hy sy krag openbaar